MARKUS 1:21-28

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

MARKUS 1:21-28

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

21 Hulle kom toe by Kapernaum. En op die Sabbat het Hy dadelik in die sinagoge ingegaan en onderrig gegee.

22 Hulle was verwonderd oor sy onderrig, want Hy het hulle onderrig soos iemand wat gesag het en nie soos die skrifkenners nie.

23 En net toe was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees en hy het geskree:

24 “Wat het U met ons te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is; U is die Heilige van God.”

25 Maar Jesus het hom tereggewys en gesê: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26 En die onrein gees het hom stuiptrekkings laat kry en het met ’n harde stem geskree en uit hom uitgegaan.

27 En almal was verbaas sodat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat is dit hierdie? ’n Nuwe onderrig met gesag? Hy gebied selfs die onrein geeste en hulle gehoorsaam Hom.”

28 Onmiddellik het die gerug oor Hom oraloor in die hele omgewing van Galilea versprei. (ASV)

Teks en konteks

1:21 Let op hoe vinnig en doelgerig die verloop van die verhaal steeds deur Markus vertel word. Jesus gaan dadelik na die sinagoge toe en onderrig die mense.

1:22 Jesus se onderrig (didagé – lering) is vir Markus baie belangrik. Hy noem Jesus ‘n hele paar keer ‘n Leermeester of Leraar (Mark 4:38; 5:35; 9:17,38; 10:17,20,35; 12:14,19,32; 14:14). Jesus is ook die enigste wat dié titel in Markus het. Hy praat ook gereeld van Jesus se onderrig (Mark 1:27; 4:1; 6:2,34; 7:7; 8:31; 11:18; 12:14,35; 13:28; 14:49).

Jesus se onderrig het die mense verstom. Dit was gesagvol. Hy het nie gesteun op ander se menings nie. Hy het die Skrif geneem en dit uitgelê, anders as die skrifkenners wat normaalweg mense probeer beïndruk het met hulle belesenheid en kennis van wat ander oor die teks gesê het.

Let ook op hoe Jesus se onderrig sy bevryding voorafgaan. Bevryding is ‘n uitvloeisel van sy onderrig en bewys die krag en gesag daarvan.

1:23. Hierdie is die eerste van vier bevrydings waarvan Markus ons vertel: hierdie man (Mark 1:21-28), Legio (Mark 5:1-20), die ma met haar dogter (Mark 7:24-30), die pa met die stom seun (Mark 9:14-29),

Die bevryding van die onrein gees volg die klassieke patroon. Daar is eerstens die ontmoeting (vers 23) waartydens die man in opstand kom teen Jesus, besete deur die onrein gees.

Dit bly natuurlik verstommend dat iemand met ‘n onrein gees in ‘n gemeente kan aanbid sonder enige probleme … totdat Jesus opdaag!

Dit wys ook vir ons dat Jesus se onderrig nie harmonie of eenheid bring nie, maar verdeling en stryd. Want sy onderrig ontbloot die onreinheid van mense en dié dinge wat hulle bind.

1:24 Daar is tweedens die verdediging van die onrein gees, soos ons reeds by Lukas kennis geneem het.

1:25 Daar is derdens Jesus se teregwysing van die onrein gees waarin Hy hom die opdrag gee om stil te bly en uit te gaan. “Bly stil” het die krag van die Engelse “Shut up.” Jesus se gesag oor die onrein geeste is totaal. Hy beveel hulle sonder enige besweringsformule of ander ritueel om stil te bly en uit die man te gaan.

Dit wys ons ook dat Jesus geen geduld het met onreinheid nie. Hy stop onreinheid in sy spore en verwyder dit uit ons lewens. Soos Johannes in sy eerste brief skryf: “Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Joh 1:9).

1:26 Die bevryding vind in die vierde plek plaas deurdat die onrein gees uit die man gaan met fisiese tekens – stuiptrekkings en ‘n harde geskreeu.

1:27 Die reaksie in die vyfde plek van die mense is verbasing en waardering. Dit is: “‘n nuwe onderrig (leer),” sê hulle. Dit kom: “met gesag.” “Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom.”

1:28 Let ook op hoe ‘die gerug oor Hom onmiddellik oraloor in die hele omgewing van Galilea versprei. ‘n Skare mense sou Jesus hierna begin volg, sodat Hy gou hierna nie meer openlik in ‘n dorp kon kom nie en soms buite in die veld moes bly (Mark 1:45).

Betekenis en boodskap

Die gemeenskap waarin ons leef, gee hoog op oor verdraagsaamheid. Die grootste fout wat jy kan begaan, is dat jy iemand anders aanstoot sal gee, of iemand sleg sal laat voel, of sy of haar gevoelens sal seermaak deur byvoorbeeld die waarheid van die Skrif aan hulle te verkondig.

Dit is heel anders as die optrede wat Jesus vir ons modelleer. Sy onderrig bring verdeling, want Hy verkondig die waarheid van God self. Daardie waarheid was in stryd met die heersende moraal van sy tyd. Dit is daarom ook in stryd met die moraliteit van ons tyd.

Jesus ontbloot hier ‘n gemeente wat só verdraagsaam geword het teenoor onreinheid dat hierdie man met ‘n onrein gees ongehinderd saam met die res van die gemeente kon aanbid. In plaas daarvan om hom te help uit sy verlorenheid, het hulle hom daarin bevestig deur hulle aanvaarding.

Maar belangrik, Jesus dryf nie die man uit nie, maar die onrein gees. Dit is ‘n belangrike onderskeid wat ons moet onthou. Daardeur bring Hy bevryding vir die man, maar berispe Hy uiteindelik nie net die onrein gees nie, maar ook by implikasie die gemeente dat hulle deur hulle verdraagsaamheid die waarheid van verlossing van hierdie man weerhou het. Dit het hom amper die ewigheid gekos!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

 

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: