Skip to main content

MARKUS 14:1-15:47

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 14:1-15:47

Teks en konteks

Ons lees vandag die hele verhaal van die kruisiging van die Here Jesus soos Markus dit vir ons vertel. Dit is ‘n langer gedeelte as normaalweg. Neem dus ‘n bietjie meer tyd as gewoonlik om die hele verhaal in een sitting deur te lees. Ek hou my kommentaar ook ‘n bietjie korter as gewoonlik. Ek plaas telkens die teks uit die ASV en daartussen my kommentaar. Volgende week gaan ons dieselfde doen met Johannes se kruisigingsverhaal.

MARKUS 14:1-2

1 En na twee dae was dit die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood, en die leier-priesters en die skrifkenners het ’n manier gesoek hoe hulle Hom op listige wyse gevange kon neem en doodmaak.

2 Want hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk sal wees nie.”

Kommentaar

Markus begin sy verhaal met die Joodse Raad wat beplan om Jesus dood te maak. Hulle  wou dit nie op die Paasfees doen wat oor 2 dae sou begin nie, weens die steun van die skare.

MARKUS 14:3-9

3 En Hy was in die huis van Simon in Betanië, die een wat die ernstige velsiekte gehad het. Terwyl Hy aangelê het aan tafel het daar ’n vrou met ’n albaste fles met baie duur, egte nardusparfuum gekom. Sy het die albaste fles gebreek en dit op sy kop uitgegooi.

4 Daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was: “Waarvoor was hierdie verkwisting van die parfuum?

5 Want hierdie parfuum kon verkoop word vir meer as driehonderd denarii (‘n Denarius was ‘n silwergeldstuk wat ongeveer 4 gram geweeg het, min of meer gelyk aan ‘n dag se loon) en vir die armes gegee word.” En hulle het met haar geraas.

6 Maar Jesus het gesê: “Laat haar staan. Waarom veroorsaak julle vir haar moeilikheid? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen.

7 Want julle het die armes altyd by julle en wanneer julle ook al wil, kan julle aan hulle goeddoen, maar vir My het julle nie altyd nie.

8 Sy het gedoen wat sy kon. Sy het vooruit my liggaam gesalf ter voorbereiding vir my begrafnis.

9 Amen, Ek sê vir julle: Waar die evangelie ook al in die hele wêreld verkondig word, sal ook vertel word wat hierdie vrou gedoen het ter herinnering aan haar.”

Kommentaar

Markus skep ’n skerp kontras tussen die vrou met die albaste fles wat Jesus salf met duur nardusolie (die nardusolie het ‘n jaar se salaris van ‘n gewone arbeider gekos) en Judas wat Jesus net hierna verraai by die Joodse Raad. Sy bederf Jesus met ‘n duur geskenk. Judas verraai Jesus vir eie gewin.

Teenoor die mense wat weerstand bied teen hierdie verkwisting, loof Jesus haar aksies, omdat dit ‘n goeie (kan ook vertaal word met “pragtige”) daad met die oog op sy begrafnis is, waarvoor sy altyd onthou sou word.  Jesus gebruik dus die geleentheid om verdere lering oor sy naderende dood aan sy dissipels te gee.

Dit tref my hoe selfloos en vrygewig sy in die oortreffende trap is (die nardusolie het ‘n jaar se salaris van ‘n gewone arbeider gekos) en dat sy daarmee haar toewyding en geloof in Hom illustreer.  Sy doen dit ook in die publiek waar almal dit kan sien, teenoor Judas en die Joodse Raad wat hulle gekonkel in die geheim doen.  Sy raak hiermee eintlik dié voorbeeld in die evangelies van hoe ‘n dissipel teenoor sy Meester en Rabbi moet optree.

Geen wonder dat Jesus van haar sê – en onthou dit is in die konteks van die dissipels wat haar probeer keer en ander wat sy dood beplan:

“Wat sy kon, het sy gedoen.”

Dit laat my diep nadink oor my lewe as ‘n gawe aan God. Daar is niks wat in my pad moet staan om die beste en mooiste vir Jesus te doen nie.  Dit is die gedagte waarmee ek vandag gaan leef om vannaand te kan sê: “Wat ek kon, het ek gedoen”.

MARKUS 14:10-11

10 En Judas Iskariot, een van die twaalf, het vertrek na die leierpriesters toe om Hom aan hulle uit te lewer.

11 Toe hulle dit hoor, was hulle bly en hulle het beloof om aan hom silwer te gee. Hy het toe na ’n geskikte geleentheid gesoek om Hom uit te lewer.

Kommentaar

Judas Iskariot sou die Joodse leiers egter die gulde geleentheid gee, wat hulle van plan laat verander om te wag tot ná die Paasfees, deurdat hy aanbied om Jesus te verraai (oorhandig).  Hulle onderneem om hom te betaal daarvoor (Matteus praat van 30 silwerstukke).

In die Grieks word Judas in vers 10 letterlik beskryf as: “dié een van die twaalf” waarmee sy verraaierskap onderstreep word.  Gaan kyk weer in Mark 3:13-19 hoe Judas in die lysie van name aan die einde geaksentueer word met “en Judas Iskariot wat Jesus verraai het.”

MARKUS 14:12-17

12 En op die eerste dag van die ongesuurde brood, wanneer hulle altyd die paaslam geslag het, sê sy dissipels vir Hom: “Waar wil U hê dat ons gaan en gereedmaak sodat U die paasete kan eet?”

13 En Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe en ’n man sal julle tegemoetkom. Hy dra ’n kruik met water. Volg hom.

14 En waar hy ook al ingaan, sê vir die huiseienaar: ‘Die Leermeester sê: Waar is die kamer vir My waar Ek die paasete saam met my dissipels kan eet?’

15 En hy sal vir julle ’n groot bovertrek wys wat ingerig en gereed is, en berei daar vir ons voor.”

16 Die dissipels het toe uitgegaan en in die stad gekom en dit gekry net soos Hy vir hulle gesê het, en hulle het die paasete voorberei.

17 Toe dit aand geword het, kom Hy saam met die twaalf daar aan.

Kommentaar

Dit tref my hoe anders hierdie Paasfees vir Jesus moes gewees het.  Jesus het saam met sy ouers elke jaar vir die Paasfees Jerusalem toe gekom (Luk  2:41).  Hierdie keer sou egter nou ‘n heel ander ervaring vir hom en vir hulle wees.  Waar hulle vroeër ‘n lam sou slag vir die paasmaaltyd, word Hy nou die Paaslam.  Maar let op hoe dit uiteindelik op sy eie terme is wat Hy die maaltyd hou en Homself beskikbaar stel om God se wil uit te voer.  Hy kan Homself uit die voete maak, of ‘n legioen van engele gebruik om Hom te beveilig, maar Hy kies om Hom aan die kwaad wat mense beplan, te onderwerp.

Die voorbereidings: Jesus stuur 2 van sy dissipels om die paasmaaltyd gereed te kry.  Die reëling is heel moontlik vooraf getref sodat Judas nie sou weet waar dit sou wees nie, en Jesus die paasmaaltyd onverhinderd kon vier – ‘n man sou hulle ontmoet, nogal met ‘n kruik water in die hand, wat normaalweg deur vrouens gedra is; hy sou hulle na die eienaar neem, waar die kamer reeds ingerig was.

Ek kan my regtig inleef in Jesus se ervaring wat waarskynlik saam met die dissipels na die tempel met die lam gaan, soos al die ander Jode, die lam se keel afsny op die voorgeskrewe manier waar die bloed gedreineer word in ‘n bak wat deur ‘n priester vasgehou word, en daarna by die voet van die altaar gesprinkel word.  Dit terwyl Hy die hele tyd weet dít is wat ook op soortgelyke wyse met Hom die volgende dag gaan gebeur.

Vir ‘n bietjie agtergrond oor die feeste: Vanaf die vroegste tyd is die Joodse jaar gekenmerk deur groot feeste. Sommige feeste is gereël om saam te val met die wisseling van die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle ‘n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon. Op ander feeste is die groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk, die geleenthede toe God op ‘n onmiskenbare wyse ingetree het om sy volk te verlos. Al die feeste was geleenthede van vreugde en die genieting van God se goeie gawes, en terselfdertyd plegtige byeenkomste om sy vergewing en reiniging te vra.

Die doel van die feeste was geestelik: ‘n groot en heerlike ontmoeting tussen God en sy volk, en die profete het hulle skerp uitgespreek teen diegene wat die feeste tot blote formaliteit en leë ritueel verlaag het.

Daar was waarskynlik baie plaaslike feeste (Rigters 21:21), maar al die mans moes die drie groot nasionale feesvierings bywoon:

  1. Paasfees en die fees van die ongesuurde brood (Eks 12:1-20; 23:15). Hierdie twee feeste is saam gevier om die uittog uit Egipte te herdenk (kyk Eks 11-12). Dit het op die 14de dag van die eerste maand begin en ‘n week geduur.
  2. Die fees van die weke (oesfees) (Num 28:26; Eks 23:16; Lev 23:15-21). Die fees – later’ bekend as pinkster – is 50 dae na die begin van die paasfees gevier. Dit was in wese ‘n landboufees waar die eerstelinge van die oes aan God gewy is.
  3. Die fees van die insameling (huttefees) (Eks 23:16; Lev 23:33-43). ‘n Herfsfees aan die einde van die insameling van die vrugteoes. Die volk het sewe dae lank in hutte wat van takke gemaak is, gewoon – uit dank vir die oes, maar ook as ‘n herinnering aan die dae toe hulle in die woestyn in tente gewoon het (Lev 23:43). Al hierdie feeste is beskou as “heilige” geleenthede waarop die gewone werk gestaak is. Daar was ook ander feesvierings. (Philip Budd – Handboek by die Bybel)

MARKUS 14:18-21

18 En terwyl hulle aangelê en geëet het, het Jesus gesê: “Amen, Ek sê vir julle: Een van julle, die een wat saam met My eet, sal My uitlewer.”

19 Hulle het begin om hartseer te word en om een vir een vir Hom te sê: “Sekerlik nie ek nie?”

20 Hy het toe vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, wat saam met My in die skottel indoop. 21 Die Seun van die mens gaan inderdaad heen net soos dit oor Hom geskryf staan, maar wee daardie mens deur wie die Seun van die mens uitgelewer word. Vir hom sou dit beter gewees het as daardie man nie gebore was nie.”

Kommentaar

Die paasmaaltyd begin met Jesus se stelling dat een van julle Hom sal verraai.  Op hulle ontsteltenis oor wie dit kan wees, antwoord Jesus dat dit die een sal wees wat sy brood saam met Jesus in die skottel (óf die een met gedroogte vrugte: dadels, vye en rosyne in ‘n wyn-asyn sous óf die een met die bitter kruie) insteek, sonder om dit nader te verduidelik (Johannes identifiseer dit as Judas, en sê verder dat Jesus vir hom die stukkie brood gegee het, hoewel hy ook sê dat niemand geweet het wat Jesus bedoel nie).

Jesus se opmerking dat Sy dood wel ‘n vervulling van die Skrifte is, maar dat dit beter sou gewees het dat sy verraaier nooit gebore was nie, wys op die misterieuse manier waarop God se werk en dié van mense in tyd saamval.

MARKUS 14:22-25

22 En terwyl hulle besig was om te eet, het Hy brood geneem en gedank. Hy het dit gebreek en vir hulle gegee en gesê: “Neem, dit is my liggaam.”

23 En Hy het ’n beker geneem, gedank en vir hulle gegee en hulle almal het daaruit gedrink.

24 En Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed van die verbond, wat ter wille van baie uitgegiet word.

25 Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer drink van die vrug van die druiwestok nie tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut drink in die koninkryk van God.”

Kommentaar

Markus bring ons al hoe nader aan die hoogtepunt van die evangelie, Jesus wat aan die kruis op Golgota vir ons sondes sterf. Jesus stel die nagmaal as nuwe testament in (ooreenkoms, verbond) gewaarborg en verseël met sy bloed, terwyl Hy weet dat almal Hom sal verlaat en Petrus Hom sal verloën.

Jesus neem die brood en die beker (die derde beker van vier wat deur die loop van die paasmaaltyd gebruik is) en verbind die betekenis daarvan aan sy liggaam en bloed wat die verbond beseël, wat vir baie mense bedoel is.  Daarby voeg Hy die voorneme om nie weer wyn te dring totdat Hy die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink nie.

MARKUS 14:26-31

26 En nadat hulle ’n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg toe.

27 En Jesus sê vir hulle: “Julle almal sal aanstoot neem, want daar staan geskryf:

‘Ek sal die herder doodslaan

en die skape sal verstrooi word.’ (Sag 13:7)

28 Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

29 Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal aanstoot neem, beslis nie ek nie.”

30 Maar Jesus sê vir hom: “Amen, Ek sê vir jou: Jy sal vandag nog – in hierdie nag – voordat die haan twee maal gekraai het My drie keer verloën.”

31 Maar Petrus het meer uitdruklik bly sê: “Selfs as dit nodig is dat ek saam met U sterf, sal ek U beslis nie verloën nie.” En al die ander het net so gesê.

Kommentaar

Na die lofsang (deel van die pasgaritueel – heel moontlik Ps 116-118) is hulle uit na die Olyfberg, waar Jesus onder andere die profetiese rede gelewer het.  Jesus verklaar dat almal van Hom afvallig sal word met ‘n aanhaling uit Sagaria 13:7.  Hy sal hulle egter na sy opstanding in Galilea gaan ontmoet, dws weg van Jerusalem af.  Petrus se dapper verbintenis aan Jesus lok die bekende uitspraak van Jesus uit, dat Petrus Jesus voor die haan ‘n tweede keer gekraai het, dws voor die oggend aangebreek het, 3 keer sal verloën.  Let op dat die ander ook soos Petrus dieselfde verbintenis gemaak het.

MARKUS 14:32-42

32 Toe kom hulle by ’n plek waarvan die naam Getsemane was en Hy sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek bid.”

33 En Hy neem Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom en Hy het begin om hewig ontsteld en beangs te wees.

34 En Hy sê vir hulle: “My siel is diep bedroef tot die dood toe. Bly hier en waak!”

35 Hy het ’n bietjie verder gegaan en op die grond neergeval. En Hy het gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom sou verbygaan.

36 En Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg, maar nie wat Ek wil hê nie, maar wat U wil.”

37 Hy kom toe en vind hulle aan die slaap en Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy? Was jy nie sterk genoeg om vir een uur wakker te bly nie?

38 Wees waaksaam en bid dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is inderdaad gewillig, maar die vlees swak.”

39 Hy het weer weggegaan en het dieselfde woorde gebid.

40 En Hy het weer gekom en hulle aan die slaap gevind, want hulle oë was swaar van die slaap en hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41 Hy kom toe die derde keer en sê vir hulle: “Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg. Die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word in die hande van die sondaars uitgelewer.

42 Staan op, laat ons gaan. Kyk, hy wat My uitlewer, is naby.”

Kommentaar

Jesus se gebed in Getsemane (die naam beteken “oliepers”) wys vir ons die amperse “doods”-worsteling om uiteindelik te kan sê: “Nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Hy gaan daarom die moeilikste toets van sy lewe tegemoet met gebed.  Hy probeer dit doen saam met die drietal dissipels wat saam met Hom op die berg van verheerliking was, maar dié kan ironies genoeg om die dood toe nie wakker bly nie.  Jesus is ontsteld en beangs en doodsbenoud.  Hierdie angs is natuurlik nie net vir die dood self nie, maar ook vir die oordeel van God wat vir Hom wag.  Hy bid dat die lydensuur nie vir Hom aanbreek nie, en dat die lydensbeker van Hom af weggeneem word.  Hy  gee Hom egter ook oor aan sy Vader se besluit en wil.  Na die derde tyd van gebed was dit genoeg: “Die tyd het gekom.”  Jesus is gereed vir die pad wat Hy moet loop.

MARKUS 14:43-52

43 En dadelik, terwyl Hy nog aan die praat is, kom Judas, een van die twaalf, daar aan en saam met hom ’n skare met swaarde en stokke vanaf die leierpriesters en die skrifkenners en die oudstes.

44 Hy wat Hom uitgelewer het, het ’n teken vir hulle gegee en gesê: “Die een wat ek ook al soen, dit is Hy, gryp Hom en vat Hom onder bewaking weg.”

45 Hy het toe gekom en onmiddellik nadergegaan en sê toe vir Hom: “Rabbi” en hy het Hom gesoen.

46 En hulle het hulle hande aan Hom geslaan en Hom gegryp.

47 Een van dié wat daarby gestaan het, het egter die swaard getrek en geslaan na die slaaf van die hoëpriester en sy oor afgekap.

48 En Jesus het in reaksie vir hulle gesê: “Het julle soos teen ’n rower uitgekom met swaarde en stokke, om My gevange te neem?

49 Dag na dag was Ek by julle in die tempel besig om onderrig te gee, maar julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrif moes vervul word.”

50 En almal het Hom verlaat en gevlug.

51 ’n Sekere jong man, wat ’n linnedoek gedra het op sy naakte liggaam, het Hom bly volg. Hulle gryp hom toe.

52 Maar hy het die linnedoek agtergelaat en naak weggehardloop.

Kommentaar

As die gebed van Jesus aan jou hart geruk het in die vorige perikoop, gaan die verdere verloop van die verhaal jou met afgryse vervul.  Wat in die duister beplan is, begin nou sy ware kleure wys.  Judas kom met ‘n klomp mense (soldate en tempelwagte – Johannes) met swaarde en stokke daar aan om Jesus gevange te neem.  Hy verraai Jesus met die voorafgespreekte teken, die kus van ‘n leerling vir sy leermeester.

Een van Jesus se dissipels (Petrus – volgens Johannes – moontlik omdat hy wou wys dat hy by Jesus sal staan, hoewel dié bravade nie lank hou nie) slaan met ‘n kort swaard na een van hulle, ‘n slaaf van die hoëpriester (Malgus – volgens Johannes), en kry dit reg om sy (regter)-oor af te kap.  Jesus keer die res van hulle om in ‘n geveg betrokke te raak.  Markus en Matteus vertel nie dat Jesus die oor weer genees het nie, wat Lukas en Johannes wel in hulle verhale insluit.

Jesus tree wel met die mense in gesprek deur die agterbaksheid van hulle handelinge uit te wys, maar interpreteer dit steeds as die vervulling van die Skrif.  Die dissipels laat Hom hierna egter liederlik in die steek.

Markus voeg aan die einde ‘n mededeling by, dat ‘n sekere jongman wel agter Jesus aan is, soos ons later ook sal agterkom Petrus ook gedoen het.  Volgens oorlewering is dit heel moontlik dat dié jongman Johannes Markus, die skrywer van hierdie Evangelie was. Nie een van die ander Evangelieskrywers noem egter hierdie insident nie. Moontlik het Markus net uit die bed opgestaan net met sy bokleed om, om saam met Jesus-hulle Getsemane toe te gaan en het daarom nie nog onderklere aangehad nie. Dié verloor hy in die proses en vlug kaal weg.  Later sou die dissipels soms in sy ma se huis bymekaar kom (Hand 12:12).  Dit kan ook wees dat dit in dié huis is waar die bovertrek was waar Jesus saam met sy dissipels bymekaar gekom het (Hand 1:13).

Jesus stap dapper sy verraaier tegemoet om God toe te laat om die Skrif te vervul met die kruisdood van Hom as die Messias.

MARKUS 14:53-54

53 Hulle het Jesus toe weggelei na die hoëpriester toe. En al die leierpriesters en die oudstes en die skrifkenners kom toe almal saam.

54 En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die binneplein van die hoëpriester. Hy het saam met die wagte gesit en homself warm gemaak by die vuur.

Kommentaar

Darem ironies dat die hemelse Hoëpriester, die Alfa en die Omega, na die aardse hoëpriester weggelei word.  Dat ‘n mens só die plot kan mis, jou met die tyd, die kairos kan misreken.  Die hoëpriester is Kajafas (Matteus).

Petrus volg op ‘n afstand tot in die binnehof van die hoëpriester se huis (Johannes vertel in sy evangelie dat dit hy is dit reggekry het om hom binne te laat, omdat die hoëpriester hom geken het).

MARKUS 14:55-65

55 En die leierpriesters en die hele Sanhedrin het getuienis teen Jesus probeer kry met die doel om Hom dood te maak, maar hulle het dit nie gevind nie.

56 Want baie het vals teen Hom getuig, maar hulle getuienis het nie ooreengestem nie.

57 En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê:

58 “Ons het Hom hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel, deur hande gemaak, afbreek en binne drie dae ’n ander bou wat nie deur hande gemaak is nie.’”

59 Maar ook so het hulle getuienis nie ooreengestem nie.

60 Toe het die hoëpriester in hulle midde opgestaan en Jesus ondervra en gesê: “Antwoord jy niks op wat hulle teen jou getuig nie?”

61 Maar Hy het geswyg en niks geantwoord nie. Weer het die hoëpriester Hom ondervra en vir Hom gesê: “Is jy die Christus, die Seun van die Geseënde?”

62 En Jesus het gesê: “Ek is en julle sal die Seun van die mens sien sit aan die regterkant van die Krag en kom op die wolke van die hemel.” (Ps 110:1; Dan 7:13)

63 En die hoëpriester het sy klere geskeur en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig?

64 Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?” Hulle almal het Hom veroordeel, dat Hy die dood waardig is.

65 Sommige het toe begin om op Hom te spoeg en om sy gesig toe te bind en Hom te slaan en vir Hom te sê: “Profeteer!” Ook die wagte het Hom te midde van klappe weggeneem.

Kommentaar

Die Joodse Raad probeer met valse getuies ‘n aanklag teen Jesus formuleer, maar die getuienis stem nie ooreen nie.  Dan tree die hoëpriester tot die proses toe, maar Jesus weier om op die vals getuienis te reageer. Dit is eers as die hoëpriester vra of Hy die Christus, die Seun van God is, dat Jesus daaroor getuienis aflê: “Ek is” en daarop uitbrei met ‘n aanhaling uit Ps 110 en Dan 7.

Met teatrale vertoon skeur die hoëpriester sy klere oor die godslastering, ten spyte daarvan dat die wet dit verbied het (Lev 10:6), en na die Raad Hom veroordeel het, word Jesus verneder met spoeg, en vuisslanery, terwyl hulle met sy profetiese vermoë spot.

MARKUS 14:66-72

66 En terwyl Petrus onder in die binneplein was, kom een van die diensmeisies van die hoëpriester.

67 En toe sy Petrus sien, besig om homself warm te maak, het sy hom aangekyk en sy sê vir hom: “Jy was ook saam met Jesus, die Nasarener.”

68 Hy het dit egter ontken en gesê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” En hy het uitgegaan buitentoe na die voorhof en ’n haan het gekraai.

69 Toe het die diensmeisie hom gesien en sy het weer begin om vir dié wat daar staan te sê: “Hierdie man is een van hulle.”

70 Maar hy het dit weer ontken. En na ’n kort tydjie het dié wat daar gestaan het vir Petrus gesê: “Jy is beslis een van hulle, want jy is ook ’n Galileër.”

71 Hy het toe begin om te vloek en te sweer: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie.”

72 En onmiddellik het die haan ’n tweede keer gekraai. Toe het Petrus die woord onthou soos Jesus vir hom gesê het: “Voor die haan twee keer kraai, sal jy My drie keer verloën.” En toe hy daaraan dink, het hy gehuil.

Kommentaar

Petrus word hier drie keer gevra of Hy nie saam met Jesus van Nasaret was nie, twee keer deur een van die hoëpriester se diensmeisies, en een keer deur die ander wat by die vuur gestaan het.  Na die eerste ontkenning kraai ‘n haan, en weer na die derde ontkenning, nogal met ‘n gevloek en gesweer, val die woorde van Jesus Petrus by dat hy Hom sou verraai.  Dit laat Petrus in trane uitbars.

Hierdie hoofstuk roer my met twee perspektiewe. 1) Die absolute onreg van die valse verhoor deur die Joodse Raad en die tragiese verloëning van Petrus. 2) Die absolute kalmte van Jesus wat in die leeukuil van verguising en verwerping getrou bly aan wie Hy is: “die Christus (Messias), die Seun van die Lofwaardige Een (Geseënde Een / Blessed One).”

Let ook op die verskil tussen Petrus se gehuil (klaiō) en Judas se spyt (metamelomai – Matt 27:3). Petrus stort inmekaar van smart en word uiteindelik deur Jesus opgerig in vergifnis en herstel (Joh 21). Judas hang homself op wat enige vergifnis en herstel onmoontlik maak. Jou verhouding met Jesus is ’n saak van lewe en dood.

MARKUS 15:1-5

1 En dadelik, vroegoggend, het die leierpriesters saam met die oudstes en skrifkenners en die volle Sanhedrin saam raad gehou. Hulle het Jesus geboei en weggeneem en aan Pilatus uitgelewer.

2 Toe het Pilatus Hom ondervra: “Is jy die koning van die Jode?” En Hy antwoord hom en sê: “U sê dit.”

3 En die leierpriesters het Hom van baie dinge bly beskuldig.

4 Pilatus het Hom egter weer ondervra en gesê: “Antwoord jy niks nie? Kyk van hoeveel dinge beskuldig hulle jou.”

5 Jesus het egter niks meer geantwoord nie, met die gevolg dat Pilatus verbaas was.

Markus 15 sit die tema van die verwerping van die Koning van die Jode voort. Dit is nie net Judas wat Jesus verraai nie. Dit is nie net Petrus wat Jesus verloën. Dit is nie net die dissipels wat Hom verlaat nie. Dit is die hele godsdienstige, politieke en regstelsel wat teen Jesus draai.

Die Joodse Raad verraai Hom met valse beskuldigings. Hoekom? Uit afguns, want Hy troef hulle op elke vlak! Hy is wie Hy sê Hy is, en hulle kruisig Hom daarvoor! Pilatus lewer Hom ook oor om gekruisig te word, al weet hy Jesus is onskuldig. So verkrag hy die regstelsel, want hy wil die mense hulle sin gee deur eerder Barabbas as Jesus los te laat. Selfs die soldate behandel Hom met minagting.

Die môre vroeg word Jesus na Pilatus gestuur, nadat die volle Joodse Raad Hom uitgelewer het.  Pilatus se vraag oor sy koningskap word positief deur Jesus beantwoord, maar die beskuldigings lok geen verweer by Jesus uit nie.  Dit het Pilatus verbaas.

MARKUS 15:6-15

6 Tydens die fees het hy gewoonlik vir hulle een gevangene, wat hulle gevra het, losgelaat.

7 Daar was een, Barabbas genoem, wat in die tronk was saam met die oproermakers. Hulle het in die opstand moord gepleeg.

8 En die skare het na vore gekom en begin vra dat hy doen net soos hy dit gewoonlik vir hulle gedoen het.

9 Pilatus het hulle egter geantwoord en gesê: “Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?”

10 Want hy het geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns uitgelewer het.

11 Die leierpriesters het egter die skare opgesweep dat hy eerder Barabbas vir hulle moes vrylaat.

12 Maar Pilatus het weer geantwoord en vir hulle gesê: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met hom wat julle die koning van die Jode noem?”

13 Daarop het hulle egter geskreeu: “Kruisig hom!”

14 Maar Pilatus het vir hulle gesê: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle het al hoe meer geskreeu: “Kruisig hom!”

15 Omdat Pilatus egter die skare tevrede wou stel, het hy vir hulle Barabbas vrygelaat en Jesus laat gésel en oorgelewer om gekruisig te word.

Kommentaar

Dit bly vir my interessant hoe Pilatus die waarheid skerp kan insien, maar nie daarvolgens kan handel nie.  Hy is die eerste wat die rede vir Jesus se verwerping deur die Joodse Raad insien en verwoord: afguns.  Jesus kan dinge doen wat hulle nie kan nie, en eerder as om Hom daarvoor te erken, verwerp hulle Hom.

Maar om die mense hulle sin te gee, laat los hy eerder Barabbas (Jesus Barabbas [seun van Abbas] – volgens Matteus se weergawe) as Jesus van Nasaret.  Hy is bang vir nog ‘n opstand, aangesien Rome hom vir vorige opstande al voor stok gekry het, soos ons uit die Romeinse geskiedenis kan agterkom.  Jesus word met ’n kats geslaan wat uit ’n aantal smal riempies bestaan waaraan stukkies yster en been vasgebind is. So gaan Jesaja 53:5 in vervulling.

MARKUS 15:16-20

16 Die soldate het Hom weggelei na die binneplein, dit is die hoofkwartier, en hulle roep toe die hele afdeling byeen.

17 Toe trek hulle vir Hom ’n purperkleed aan, vleg ’n doringkroon en sit dit vir Hom op.

18 En hulle het begin om Hom te begroet: “Wees gegroet, koning van die Jode!”

19 Hulle het aangehou om Hom op die kop te slaan met ’n rietstok en op Hom bly spoeg en hulle het neergekniel en Hom aanhoudend hulde bewys.

20 En toe hulle Hom bespot het, het hulle Hom die purperkleed uitgetrek en vir Hom sy klere aangetrek. En hulle lei Hom uit om Hom te kruisig.

Kommentaar

Voor sy kruisiging loop Jesus deur onder die soldate waar Hy met ‘n pers (koninklike) mantel en doringkroon bespotlik gemaak word.  Markus (en Matteus en Johannes) vertel nie die gebeure by Herodes nie, soos Lukas wel doen.

MARKUS 15:21-32

21 Hulle kommandeer toe ’n sekere Simon van Sirene op, wat verbygekom het en besig was om van die platteland te kom, om sy kruis te dra; hy was die vader van Aleksander en Rufus.

22 Hulle bring Hom toe by ’n plek, Golgota, wat as dit vertaal word, Skedelplek beteken.

23 En hulle het probeer om vir Hom wyn, wat met kruie gemeng is, te gee, maar Hy het dit nie geneem nie.

24 Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur die lot daaroor te werp oor wie wat kon wegneem. (Ps 22:19)

25 Dit was die derde uur (Ongeveer nege-uur die oggend) toe hulle Hom gekruisig het.

26 En die inskripsie van die aanklag teen Hom wat opgeskryf is, was: “Die koning van die Jode.”

27 En saam met Hom kruisig hulle twee rowers, een aan die regterkant en een aan die linkerkant van Hom. (Sommige manuskripte het ook nog ‘n vers 28 En die Skrifte is vervul wat sê: “Hy was onder die misdadigers gereken.” Vgl Jes 53:12)

29 En dié wat verbygeloop het, het Hom beledig. Hulle het hulle koppe geskud en gesê: “Ha, jy wat die tempel afbreek en in drie dae bou,

30 red jouself deur van die kruis af te kom.”

31 Net so het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners onder mekaar gespot en gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie!

32 Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis afkom sodat ons kan sien en glo.” Ook dié wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

Kommentaar

Die breë trekke van die kruisverhaal is vir ons bekend: Simon van Sirene in Noord-Afrika (pa van Aleksander en Rufus – ons tref ‘n Rufus in die gemeente van Rome aan – Rom 16:13) dra die dwarsbalk van Jesus se kruis; Jesus word op Golgota (die heuwel he soos ‘n skedel gelyk) gekruisig, waar die regoppaal geplant is; sy klere word onder die soldate met die lot verdeel; die bordjie aan die kruis kondig sy misdaad aan, dat Hy die koning van die Jode is (waarmee die Jode ook eintlik beledig word), ironies genoeg presies wat Hy is; die mense laster Hom met aanhalings wat Hy vroeër gemaak het oor die tempel.  Interessant is egter dat Markus wel noem dat daar twee ander rowers saam met Hom gekruisig is, wat Hom ook beledig, maar nie dat Hy met hulle in gesprek tree nie.

MARKUS 15:33-41

33 Toe dit die sesde uur (Ongeveer twaalfuur die middag) was, het daar duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur (Ongeveer drie-uur die middag) toe.

34 Teen die negende uur het Jesus met ’n harde stem uitgeroep: “Eloï, Eloï, lema sabagtani.” Dit is as dit vertaal word: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Ps 22:2)

35 En sommige van dié wat daar gestaan het, het gehoor en gesê: “Kyk, hy roep Elia.”

36 En iemand het gehardloop en ’n spons gevul met suur wyn, dit op ’n riet geplaas en Hom laat drink, en gesê: “Wag, laat ons sien of Elia hom kom afhaal.”

37 Maar Jesus het toe met ’n harde stem uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38 En die voorhangsel van die tempel is van bo tot onder in twee geskeur.

39 Toe die centurion (Romeinse offisier wat ‘n groep van honderd soldate onder sy bevel gehad het) wat daar teenoor Hom gestaan het, sien dat Hy só sterf, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40 Daar was ook vroue wat van ver af toegekyk het. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria, die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome.

41 Toe Hy nog in Galilea was, het hulle Hom gevolg en Hom versorg. Daar was ook baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem opgegaan het.

Kommentaar

Na die 3 ure lange duister, roep Jesus na God met daardie beroemde Aramese woorde uit Psalm 22:2: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (My God, My God, waarom het U my verlaat?) en blaas die laaste asem uit.  Twee goed gebeur dan:

  1. Die voorhangsel van die tempel (waarskynlik die een tussen die Allerheiligste en die Heilige) skeur van bo na onder oop – wat die boodskap dra a) dat die tempel se einde begin het en b) dat die toegang tot God nou vir alle mense oop is (Hebr 9);
  2. Die offisier by die kruis bely dat Jesus werklik die Seun van God was – wat die boodskap dra Jesus se dood reeds vir almal betekenis het. 

Dit ontroer my dat dit Jesus se dood is, wat dié offisier oortuig dat dit God is. En daarmee is die klimaks van Markus se verhaal bereik.  Hy het begin skryf dat Jesus die Seun van God is (1:1), en hier bely ‘n heidense Romeinse offisier dit (15:39).

Markus brei dan uit oor al die vroue wat Jesus ondersteun het by die kruis, trouens deur sy hele lewe: Maria Magdalena (van Magdala waaruit Jesus 7 duiwels gedryf is– Luk 8:2), Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses (ons weet niks meer van haar af nie) en nog Salome ook (vrou van Sebedeus – Matt 27:56 en die ma van die 2 dissipel-broers, Jakobus en Johannes), moontlik ook nog die suster van Maria (Joh 19:25).  Indien laasgenoemde waar is, was Jesus en Johannes en Jakobus neefs.  Hierdie 3 vroue is dan ook op die opstandingsmôre by.

Terloops, hier is die sewe kruiswoorde uit al vier Evangelies in hulle waarskynlike volgorde:

  • “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”: Lukas 23:34.
  • “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”: Lukas 23:43.
  • “Daar is u seun” … “Daar is jou moeder”: Johannes 19:25-27.
  • “`Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”: Matteus 27:46.
  • “Ek is dors”: Johannes 19:28.
  • “Dit is volbring!”: Johannes 19:30.
  • “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”: Lukas 23:46.

MARKUS 15:42-47

42 En dit het reeds aand geword, en aangesien dit die voorbereiding was, wat die dag voor die Sabbat is,

43 het Josef van Arimatea, ’n vername Raadslid, wat self gewag het vir die koninkryk van God, nadat hy daar aangekom en die moed bymekaargeskraap het, ingegaan na Pilatus toe en die liggaam van Jesus gevra.

44 Pilatus was egter verbaas dat Hy alreeds dood is. En hy het die centurion (Romeinse offisier wat ‘n groep van honderd soldate onder sy bevel gehad het) geroep en hom gevra of Hy lank reeds gesterf het.

45 Toe hy dit van die centurion verneem, het hy die lyk vir Josef geskenk.

46 En hy het linnedoek gaan koop, Hom afgehaal en toegedraai in die linnedoek. En hy het Hom neergelê in ’n graf wat uit rots gekap was. Hy het toe ’n klip voor die opening van die graf gerol.

47 Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê is.

Kommentaar

Josef van Arimatea (30 km noordwes van Jerusalem) wat ‘n geheime (Johannes) volgeling van Jesus was sorg dat die voorbereidings vir Jesus se begrafnis getref word en voorsien ook die graf.

Boodskap en betekenis

Die enigste ligpunt in die verhaal is Jesus self wat die lyding aanvaar, juis as Koning van die Jode, want Hy weet Hy gaan die wêreld hierdeur verlos. En Hy begin alreeds hier met sy dood daarmee. Simon van Sirene sal later ’n leraar word in Antiogië (Hand 13:1) en Rufus sy seun ’n rol speel in Rome (Rom 16:13). Die hoofman oor honderd kom tot bekering met die belydenis: “Waarlik, Hy was die Seun van God.” ’n Klomp vroue bly darem aan sy sy en selfs van die Raadslede, Josef en Nikodemus (Joh 19:39) raak betrokke by sy begrafnis. Die hele heelal hou asem op vir wat nou gaan gebeur. Die opstanding wat die krag van God se koninkryk eksponensieel aan die brand sou steek in hierdie sondige wêreld!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar