JOHANNES 6:24-35

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 6:24-35

22 Die volgende dag het die skare wat oorkant die see gestaan het, gesien dat daar nie ’n ander skuitjie was behalwe die een nie en dat Jesus nie saam met sy dissipels aan boord die skuit gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen vertrek het. 23 Maar skuitjies uit Tiberias het naby die plek gekom waar hulle die brood geëet het, nadat die Here gedank het.

24 Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar is nie en ook nie sy dissipels nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum gegaan, op soek na Jesus. 25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, het hulle vir Hom gesê: “Rabbi, wanneer het U hier gekom?” 26 Jesus het hulle geantwoord en gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle soek My nie omdat julle wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet het en versadig geword het. 27 Moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir die kos wat bly tot die ewige lewe, dit wat die Seun van die mens vir julle sal gee; want op Hóm het die Vader, God, sy merk van goedkeuring geplaas.” 28 Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen sodat ons die werke van God kan doen?” 29 Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: “Dít is die werk van God, dat julle glo in Hom wat Hy gestuur het.” 30 Hulle het toe vir Hom gesê: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en u kan glo? Wat doen u? 31 Ons vaders het manna in die woestyn geëet, soos geskryf is: ‘Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’ (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40)” 32 Jesus het toe vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Nie Moses het vir julle die brood uit die hemel gegee nie, maar my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel; 33 want die brood van God is Hy wat afkom uit die hemel en lewe aan die wêreld gee.” 34 Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.” 35 Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe; hy wat na My toe kom, sal nooit honger kry nie, en hy wat in My glo, sal nooit ooit dors kry nie.

36 Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, maar tog glo julle nie. 37 Alles wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom en hy wat na My toe kom, sal Ek nooit buitentoe uitwerp nie 38 omdat Ek uit die hemel afgekom het, nie sodat Ek my wil kan doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39 En dít is die wil van Hom wat My gestuur het, dat alles wat Hy vir My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit op die laaste dag sal opwek. 40 Want dít is die wil van my Vader, dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom opwek op die laaste dag.”

Teks en konteks

6:22-24 Die skare is die volgende dag verwonderd dat Jesus nie meer daar is nie, terwyl die dissipels alleen weggevaar het, en daar ook nie ‘n ander skuit was waarin Jesus hulle kon volg nie. Ondertussen het daar ook mense met skuitjies van die hawe Tiberias aangekom wat die broodvermeerdering beleef het. Dit noop die skare om na Kapernaum te gaan, op soek na Jesus. Hulle kry Hom in die sinagoge (Joh 6:59).

6:25-27 Let op dat hulle Hom nie vra hoe Hy daar gekom het nie, maar wanneer. Hulle het aanvaar Hy het moontlik te voet rondom die meer geloop. Hulle het immers nie die wonderteken van die loop op die water beleef nie. Jesus antwoord nie die vraag nie, maar ontbloot hulle eintlike motivering. Dit gaan nie oor die wonderteken nie, maar oor die blote feit dat Hy vir hulle kos gegee het om te eet. Hy wil egter nie soseer in daardie behoefte van hulle voorsien nie, maar hulle ware behoefte bevredig. Die behoefte aan Homself.

Hulle soek en werk vir gewone kos, maar hulle het die kos nodig wat bly tot in die ewige lewe. Hulle moet dus raaksien dat God die Vader sy merk van goedkeuring op Hom geplaas het, Hy die Seun van die mens. Dit is immers waarvan die wondertekens getuig. Hulle moet daarom die ewige lewe uit sy hand aanvaar. Dit is hulle ware behoefte.

Interessant, dié vraag is die eerste van ses vrae en versoeke wat die res van die gesprek tussen Jesus en die skare struktureer in vers 25-58. Ter wille van die vloei van die gesprek, plaas ek hier ‘n kort opsomming:

  1. Vers 25 – wanneer het U hier gekom? Jesus antwoord nie die vraag nie, maar ontbloot hulle ware behoefte. Hulle soek en werk vir gewone kos, maar hulle het die kos nodig wat bly tot in die ewige lewe.
  2. Vers 28 – wat moet ons doen sodat ons die werke van God kan doen? Jesus antwoord dat hulle God moet toelaat om sy werk in hulle te doen om in Jesus te glo.
  3. Vers 30 – watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en u kan glo? Wat doen u? Hulle verwys na God se gawe van die manna in die woestyn. Jesus antwoord hulle dat die Vader hulle nou iets beter gee, die ware brood uit die hemel.
  4. Vers 34 – gee altyd vir ons hierdie brood. Jesus verklaar dat Hy die Brood van die lewe is, maar dat dit duidelik is dat hulle nie in Hom glo nie.
  5. Vers 42 – is hy nie Jesus, die seun van Josef, van wie ons die vader en die moeder ken nie? Hoe sê hy nou: ‘Ek het uit die hemel afgekom’? Dit is die Joodse leiers wat toetree tot die gesprek. Jesus verklaar weer dat Hy die Brood van die lewe is, maar dat ‘n mens net in Hom kan glo as die Vader dit aan jou openbaar. Dié wat egter van hierdie brood eet, sal tot in ewigheid leef.
  6. Vers 52 – hoe kan hy vir ons sy vlees gee om te eet? Jesus onderstreep die boodskap aan die leiers dat Hy die Brood van die lewe is, en voeg daarby dat sy bloed die ware drank is. Dié wat sy vlees eet en sy bloed drink, beleef ‘n intieme gemeenskap met Hom, ‘n duidelike verwysing na die instelling van die nagmaal en ‘n voorspelling van sy dood aan die kruis.

6:28-29 Op die vraag na wat hulle dan moet doen sodat hulle die werke van God kan doen, antwoord Jesus dat die enigste “werk” wat hulle moet doen, is om God moet toelaat om “sy werk” in hulle te doen, dit is om in Jesus te glo, die Een wat God gestuur het om hulle met Hom te versoen.

6:30-33 Op die vraag na watter wonderteken Hy doen sodat hulle kan sien en in Hom kan glo – iets soos die manna wat hulle vaders in die woestyn ontvang het, in woorde wat herinner aan ten minste drie verwysings uit die OT – antwoord Jesus hulle dat die Vader hulle nou iets beter gee, die ware brood uit die hemel. Dit is soortgelyk aan die brood wat Moses hulle gegee het, maar tegelykertyd ook op ‘n ander vlak, want Hyself is nou die brood van God wat uit die hemel afkom en lewe aan die wêreld gee.

6:34-40 Op die versoek dat Jesus altyd vir hulle hierdie brood gee, verklaar Jesus weer dat Hy inderdaad die Brood van die lewe is. As hulle na Hom toe kom, sal hulle geestelike honger en dors gestil word. Maar, terselfdertyd is dit vir Hom duidelik dat hulle nie in Hom glo nie, want Hy het nou al verskeie kere vir hulle gewys dat Hy die Een is wat God gestuur het, sonder sukses.

Jesus verklaar dan weereens dat almal wat na Hom toe kom die lewe sal vind, want dit is waarom Hy gestuur is. Hy sal nooit iemand wat na Hom toe kom buitentoe uitwerp nie, want Hy gehoorsaam die wil van die Vader en sal vir seker sorg dat nie een van diesulkes verlore sal gaan nie. Dit is die wil van sy Vader, dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê. Jesus sal elkeen van hulle opwek op die laaste dag.

Boodskap en betekenis

Jesus wys die skare daarop dat hulle die gevaar loop om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie.

Hulle moet eerder fokus op die Wonderdoener, Jesus, en in Hom glo, want Hy kan vir hulle ewige lewe gee. Hy is die Brood wat lewe gee.  Hy is die Drank wat hulle dors les. Daardeur sal hulle met Hom gemeenskap hê. En Hy sal hulle die ewige lewe gee by die laaste dag se opstanding uit die dode.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: