Skip to main content

MARKUS 4:26-34

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 4:26-34

26 Hy het ook gesê: “Die koninkryk van God is soos wanneer ’n man die saad op die grond sou saai, 27 en gaan slaap en opstaan, dag en nag, en die saad sou ontkiem en groei, hoe weet hy self nie. 28 Die grond dra vanself vrug, eers ’n halm, daarna ’n aar, daarna volle koring in die aar. 29 En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy onmiddellik die sekel in omdat die oes daar is.”

30 En Hy het gesê: “Hoe kan ons die koninkryk van God vergelyk of met watter gelykenis kan ons dit voorstel? 31 Dit is soos ’n mosterdsaad wat, wanneer dit op die grond gesaai word, die kleinste is van al die sade op die land. 32 Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die tuinplante. En dit maak groot takke sodat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nes maak.”

33 En deur baie sulke gelykenisse het Hy vir hulle die boodskap vertel vir sover hulle dit kon verstaan. 34 Sonder ’n gelykenis het Hy egter nie met hulle gepraat nie. Maar wanneer hulle alleen was, het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.

Teks en konteks

Jesus sluit aan by die gelykenis van die Saaier en verduidelik verder hoe die koninkryk van God groei en vrug dra in mense se lewens. Dit is net Markus wat hierdie gelykenis vertel, maar die boodskap daarvan kan vergelyk word met Matteus se gelykenis van die onkruid tussen die koring wat op sy beurt weer uniek aan Matteus is.

4:26-27 Jesus vertel hiermee die verhaal van die koninkryk van God van die Saaier se kant af. Dit is soos ‘n man wat die saad op die grond sou saai en dan sy normale gang gaan, dag na dag, terwyl die saad ontkiem en groei, hoe weet hy self nie. Dit is dus nie die grond wat in die eerste plek die groei veroorsaak nie, hoe belangrik dit nou ook al is. Dit is die saad self.

4:28 Dit is die saad self wat inherent die krag tot ontkieming en groei besit, soos God dit bepaal het. Waar die saad vertrou word om sy werk te doen – weliswaar in grond wat doelbewus goed voorberei word soos die gelykenis van die Saaier beklemtoon – daar sal dit vrug dra. Eers ‘n klein getuienis daarvan, die halm. Daarna iets groters, die aar. En dan die volle koring in die aar.

4:29 Jesus sluit die gelykenis af met die verdere beskrywing van die oes deur dieselfde Saaier. Wanneer die vrug volwasse is – dit toelaat – steek hy onmiddellik die sekel in, omdat die oes daar is. Die fokus hier is net op wat met die saad self gebeur, nie met die kompeterende saad van die onkruid soos dit die geval is in die gelykenis van die onkruid tussen die koring in Matteus nie.

4:30 Jesus beskryf die koninkryk van God met nog ‘n gelykenis.

4:31 Hierdie keer vergelyk Hy dit met ‘n mosterdsaad wat wanneer dit gesaai word die kleinste is van al die sade op die land.

‘n Mosterdsaad is ‘n kwart sentimeter in deursnee, 25 mm.  Dit is uiteraard nie die kleinste van alle sade in die wêreld nie. Die sade van orgideë is bv kleiner. Dit is egter wel die kleinste van die sade wat Joodse boere gebruik het vir hulle kruie- en groente-plante, dit waarmee die mosterdsaad in die volgende vers vergelyk word.

4:32 Wanneer die mosterdsaad egter volgroeid is, is dit groter as al die tuinplante (kruie- en groente-plante). Een soort groei drie meter hoog, en ‘n ander soort selfs tot meer as sewe meter hoog. Die mosterdplant het uiteindelik groot takke wat skaduwee verskaf vir die voëls van die hemel om in nes te kan maak.

Sommige geleerdes sien in die beeld van die voëls van die hemel wat in die boom se skaduwee kan nes maak ‘n verwysing na die profeet Daniël se twee beskrywings in sy boek van God se beheer oor die koninkryke van die wêreld wat telkens ook met verwysing na die voëls van die hemel ingekleur word.

In Daniël 2 word ‘n opeenvolging van die koninkryke van die wêreld beskryf wat uitmond in die ewige koninkryk van God self. In Daniël 4 word Nebukadnesar se erkenning van God se totale mag oor die koninkryke van die wêreld beskryf.

‘n Soortgelyke beeld word ook in Esegiël 17:22-24 gebruik – van ‘n sederboom wat God plant waarin die voëls ook in die skaduwee van sy takke kan nes maak – om God se beheer oor koninkryke te bevestig: “Ek maak groot bome klein en klein boompies groot.”

4:33 Markus verduidelik soos Matteus die strategie van Jesus met al sy gelykenisse. Hy het die boodskap (logos) van die koninkryk daardeur vir hulle vertel: “vir sover hulle dit kon verstaan.” Dit wil sê, Hy het aangepas by hulle vermoë om die boodskap te internaliseer en daarop te reageer. Vir dié wat nie bereid was om te doen wat Hy sê nie, sou dit ‘n raaisel bly. Vir dié wat bereid was om te doen wat Hy sê, sou dit die raad van God word.

4:34 Vir diegene wat nooit sover sou kom om te doen wat Hy sê nie, het Hy dus volstaan met die lewering van die gelykenis. Vir diegene wat die boodskap omarm het en gedoen het wat Hy sê, sy dissipels, het Hy verder gegaan om hulle die dieper geheime van die gelykenisse uit te lê.

Boodskap en betekenis

Die eerste gelykenis verduidelik hoe geestelike groei plaasvind. Die krag kom van God self af. Dit is ingebou in die boodskap van die evangelie self, die boodskap van die koninkryk van God wat Jesus aan hierdie wêreld gebring het. Dit is waarom die boodskap van Jesus die sentrum van ons lewens moet bly.

As Petrus oor geestelike groei nadink in sy tweede brief dan is dit ook die punt wat hy beklemtoon. Hy skryf: “Sy goddelike krag het ons immers alles gegee wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe, deurdat ons Hom ken” (2 Pet 1:3). Toewyding is dus die direkte gevolg van ‘n intiemer wordende kennis van die Here Jesus Christus.

Ons kan sorg soos goeie grond dat ons diep luister, die versoekings en vervolgings van die lewe trotseer, en die sorge, gierigheid en rykdom van die lewe op hulle plek hou. Trouens, ons moet ons daarop toelê.

Maar, die krag om vrug te dra kom van God af. Ons moet ons vertroue op sy werk stel in ons en ander se lewens. Dit is immers deurdat ons Hom ken – deurdat ons in sy teenwoordigheid lewe en elke woord wat uit sy mond kom, koester – wat ons lewens vrug dra.

Die fokus in die tweede gelykenis is op die krag van God wat sy koninkryk vestig soos met ‘n mosterdsaad. Jesus bemoedig sy dissipels met die feit dat die boodskap van die koninkryk ‘n inherente krag het wat buite verhouding eksponensieel groter groei en ‘n groter invloed uitoefen as enige ander krag wat bestaan.

Dit beteken dat Jesus die dissipels hiermee aanspoor om geduld te hê met die wyse waarop die koninkryk kom. Dit begin klein en ontwikkel stadig. Dit lyk by tye onbelangrik en amper onbenullig. Maar, weens die krag van God dra dit uiteindelik groot vrug en bereik die hele wêreld weens die deurdringende aard daarvan.

Soos die profeet Sagaria vir Serubbabel bemoedig om voort te gaan om die tempel te bou, al het die werk stadig gevorder, en het hy gewonder of dit ooit sal klaar kom. Die Here versterk Serubbabel met die boodskap: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.” (Sag 4:10) Alles begrond op die diep waarheid: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.” (Sag 4:6)

Markus help ons in die motivering vir gelykenis aan die einde van die gelese gedeelte om die hele konsep van gradering in dissipelskap te verstaan. Jy kan nie dieper beweeg in dissipelskap – die skool van Christus, soos Andrew Murray dit beskryf het – as jy die elementêre beginsels nie gesnap en begin doen het nie. Die boodskap van Christus bly vir jou ‘n raaisel.

Vir die skares was die gelykenisse as sodanig dus ‘n struikelblok wat eers vir hulle oop sou gaan as hulle begin het om te doen wat die gelykenisse aan hulle openbaar. Byvoorbeeld, om toe te laat dat die boodskap grondvat in die praktyk van hulle lewe; om te sorg dat die boodskap nie deur eksterne druk van die samelewing óf interne druk van hulle eie hartsbegeertes verdring word nie.

Vir die dissipels – dié wat nie net nalopers van Christus was nie, maar navolgers, soos Deist dit eenmaal beskryf het – het Jesus egter dieper geneem en die volle betekenis van die gelykenisse uitgelê. Hoe ‘n mens dertigvoudig, sestigvoudig en honderdvoudig vrug kan dra, by wyse van spreke. Die boodskap van Christus het vir hulle die raad van God self geword.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar