JAKOBUS 3:1-12

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JAKOBUS 3:1-12

BEHEERSING VAN DIE TONG

1Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. 2Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou. 3Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. 4Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met ‘n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. 5So is die tong ook ‘n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek ‘n groot hoop hout aan die brand! 6Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. 7Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. 8Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.9Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.10Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. 11‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? 12‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of ‘n druiwestok vye nie? ‘n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie.

Teks en konteks

Die feit dat ‘n mens flink moet wees om te luister en stadig om te praat, beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan nie. Inteendeel.  Daarom wy Jakobus uit oor hoe belangrik dit is om op die regte wyse die tong te gebruik – om te seën eerder as te vervloek.  Só werk die tipe sagmoedige wysheid wat Jakobus voorstel.

3:1-12 – Die krag van woorde

‘n Mens sou met Jakobus kon saamstem dat almal van ons dikwels struikel met woorde.  En dink dat dit ‘n algemeen menslike kwaal is, iets wat verstaanbaar en daarom verskoonbaar is.  Jakobus herinner ons egter daaraan hoe ‘n groot invloed die tong kan hê.  Met twee metafore dui hy die positiewe rigtinggewende krag van woorde aan – soos ‘n stang in die bek van ‘n perd en soos die roer van ‘n boot – asook met ‘n derde negatiewe metafoor die destruktiewe krag van woorde – soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek.

Hy is eintlik meer bekommerd oor die laaste negatiewe tekening van die krag van woorde, omdat die tong “’n wêreld van ongeregtigheid” is.  Dit steek die hele lewensloop aan, soos “’n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.” Dit kom veral na vore in die dubbelsinnige karakter van ons woorde: “Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.”  Dít, sê Jakobus, kan tog nie.  Dít hoort tog nie só nie.

Met vier verdere metafore wys hy die onhoudbaarheid van só ‘n manier van praat uit: ‘n fontein kan nie vars én bitter water gee nie, ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie, ‘n druiwestok kan nie vye dra nie, en ‘n  brak fontein kan nie soet water gee nie.  Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat.  Daar moet koherensie wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen.

Dié vermaning is uiteraard op al die gelowiges van toepassing, maar veral op die leermeesters.  Hulle sal nie net strenger geoordeel word in terme van die ooreenkoms tussen hulle woorde en dade nie, maar spesifiek ook aan die rigtinggewende of destruktiewe krag van hulle woorde.  Daarom is só ‘n roeping nie iets wat ‘n mens aanvaar sonder om goed daaroor na te dink nie.  Dit is nie almal beskore nie.

Boodskap en betekenis

Woorde het ongelooflike krag.  Dit kan rigting gee.  Dit kan ook vernietig.  Die geheim lê in die gebed om wysheid wat van bó af kom, van dié God wat vrygewig en genadig voorsien (Jak. 1:5).  Waar God se wysheid die deurslag gee, kom daar vrede en geskied reg en geregtigheid.  Waar dit nie die deurslag gee nie, daar heers wanorde en allerlei gemene dade.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: