JOHANNES 6:1-21

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 6:1-21

1 Hierna het Jesus weggegaan na die oorkant van die See van Galilea, dit is, van Tiberias. 2 En ’n groot skare het Hom gevolg omdat hulle die wondertekens wat Hy vir die siekes gedoen het, gesien het. 3 En Jesus het opgegaan na die berg en het daar met sy dissipels gaan sit. 4 En die Pasga, die fees van die Jode, was naby. 5 Toe Jesus opkyk en sien dat ’n groot skare na Hom toe kom, sê Hy vir Filippus: “Waar sou ons brode kon koop sodat hulle kan eet?” 6 Maar dit het Hy gesê omdat Hy hom getoets het, want Hy het self geweet wat Hy wou doen. 7 Filippus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarii (‘n Denarius was ‘n silwergeldstuk wat ongeveer 4 gram geweeg het, min of meer gelyk aan ‘n dag se loon) se brood is nie genoeg vir hulle sodat elkeen ’n bietjie kry nie.” 8 Een van sy dissipels, naamlik Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Hom: 9 “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat help dit vir so baie?” 10 Jesus het gesê: “Laat die mense sit vir ete.” En daar was baie gras op die plek. Die mans het toe gaan sit vir ete, in getal so vyfduisend. 11 Jesus het toe die brode gevat en nadat Hy gedank het, het Hy vir die mense wat gesit het vir ete, uitgedeel, en net so ook van die visse, soveel as wat hulle wou. 12 Toe hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke wat oorgebly het, bymekaar, sodat niks verlore gaan nie.” 13 Hulle het toe bymekaargemaak en twaalf mandjies vol gemaak van die stukke van die vyf garsbrode wat van die eters oorgebly het. 14 Toe die mense die wonderteken gesien het wat Hy gedoen het, het hulle gesê: “Hierdie man is waarlik die profeet wat na die wêreld toe kom.” 15 Aangesien Jesus geweet het dat hulle wil kom en Hom gryp sodat hulle Hom koning kon maak, het Hy weer alleen na die berg toe weggegaan.

16 En toe dit aand geword het, het sy dissipels afgegaan na die see toe 17 en nadat hulle in ’n skuit geklim het, is hulle op pad na die ander kant van die see na Kapernaum toe. En dit was al donker en Jesus het nog nie na hulle toe gekom nie. 18 Die see het rof geword omdat daar ’n sterk wind gewaai het. 19 Nadat hulle toe sowat vyf en twintig of dertig stadia (Een stadios was ongeveer 190 meter) geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. 20 Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.” 21 Hulle wou Hom toe in die skuit inneem, maar dadelik was die skuit by die land waarheen hulle besig was om te gaan. (ASV)

Teks en konteks

Die verwysing in Johannes 6 na Tiberias is waarskynlik na die hawe Tiberias aan die westekant van die See van Galilea, hoewel die See van Galilea ook die See van Tiberias genoem is. Dit word gerugsteun deur die verwysing na skuitjies van Tiberias (Joh 6:22). Die dorpie is kort voor hierdie gebeure in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword van die See van Galilea: See van Tiberias.

Jesus se vierde wonderteken by die berg: die voeding van vyfduisend

Onthou dat vir die evangelis Johannes is wonderwerke tekens van God se werk wat in Jesus sigbaar raak. Johannes verbind daarom telkens hierdie wonderwerke, of meer korrek hierdie wondertekens, aan toesprake van Jesus waarin die betekenis daarvan dieper uitgespel word.

Hierdie vierde wonderteken, volgens Johannes, die vermeerdering van die brood (Joh 6:1-15), hou verband met Jesus se gesprek net hierna oor Homself as die Brood van die lewe (Joh 6:22-65).

Johannes vertel die verhaal van die broodvermeerdering met die meeste detail, hoewel dit in al vier evangelies voorkom (Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17).

6:1 Volgens Johannes is Jesus op pad na die westekant van die See van Galilea toe, waarskynlik die hawe van Tiberias. Dit was ná Hy die terugvoer van die sending van die twaalf ontvang het en eers op pad was na Betsaida (Mark 6:31; Luk 9:10). Dit lyk egter nie asof hulle daar uitgekom het voordat hulle die vaart suidwes na Tiberias aangedurf het nie. Dit was ook ná Hy die nuus oor Johannes die Doper se dood ontvang en Jesus die gebeure wou oordink. Dit lyk ook volgens Matteus se verhaal asof Jesus eers alleen was en die dissipels later by hom aangesluit het (vgl Matt 14:13 in die volgende perikoop).

6:2 ‘n Groot skare het Hom gevolg veral weens die wondertekens van genesing wat hulle gesien het. Onthou egter wat in Joh 2:23-25 al gesê is:  Jesus “verlaat” Hom nie op mense wat in Hom glo, omdat hulle die wondertekens gesien het nie.  Later in vers 66 sal ons sien dat hierdie selfde volgelinge Hom verlaat omdat volgelingskap te veel van hulle vra.  Jesus verlaat Hom dus nie op hulle nie, want Hy weet dat hulle ’n geloof het wat uit hulleself kom, iets wat altyd die potensiaal het om tot niet te gaan.  Dit is net die geloof wat God gee, wat vir altyd hou, soos reeds in die gesprek met Nikodemus aangeroer is (Joh 3).

6:3-4 Jesus stap teen ‘n berg uit by Tiberias en gaan sit met sy dissipels (wat moontlik nou eers by Hom aansluit) om vir die skare te wag. Dit was net voor die tweede Paasfees waarvan Johannes ons vertel.

6:5-7 Let op die verskillende reaksies van die dissipels op Jesus se versoek dat hulle die menigte kos gee.  Filippus, een van die eerste geroepe dissipels, gooi hande in die lug, toe Jesus hom toets met sy vraag na waar hulle brode sou kon koop sodat die skare kan eet, al het Jesus goed geweet wat Hy self wou doen. Filippus deins terug vir die uitdaging, want volgens sy berekeninge sou selfs tweehonderd denarii se brood nog nie genoeg wees vir hulle sodat elkeen ’n bietjie kry nie, al was dit ‘n groot som geld, tweehonderd mense se dagloon.

6:8-9 Andreas, die broer van Simon Petrus, ook een van die eerste geroepe dissipels, en boonop van dieselfde dorp as Filippus, Betsaida, is self onseker of sy vonds gaan help vir so baie mense, maar bring ten minste die seuntjie met vyf garsbrode en twee visse na Jesus.

6:10-11 Dit is egter presies waarmee Jesus dan werk om die wonder van die broodvermeerdering te laat gebeur. Hy kom waarskynlik ‘n entjie af van die berg af en laat die mense sit vir die ete op die gras. Hy dank God, en deel dan dié brood en vis uit – normaalweg net genoeg vir twee mense – vir elkeen om te eet: “soveel as wat hulle wou”! Die mans was so vyfduisend in getal. Matteus vermeld dat daar ook vroue en kinders by was, ‘n beduidende groot skare dus. In die proses van die uitdeel het die brood en vis op ‘n wonderbaarlike manier meer geword.

Let op dat Jesus hier aan die menigte kos voorsien, soos wat God dit in die woestyn gedoen het vir die volk met die manna (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40 – vgl vers 30 vv) en die kwartels (Eks 16:13). Die ooreenkoms tussen hulle is duidelik en bewys onteenseglik Jesus se Goddelikheid.

6:12-13 Toe almal versadig was, laat Jesus die dissipels die stukke bymekaar maak wat oorgebly het, sodat niks verlore gaan nie. Heel betekenisvol het hulle twaalf mandjies vol gemaak van die oorblyfsel, een mandjie vir elke dissipel. ‘n Kragtige getuienis van die vermoë van die Here Jesus om vir hulle te sorg.

6:14 Die skare begryp nou nog dieper dat Jesus regtig besonders is en verbind Hom aan die Profeet (soos Moses) wat na die wêreld toe moet kom (Deut 18:15-20; vgl Hand 3:22-23 waar Petrus dit onomwonde aan die Jode verklaar).  Daarom noem hulle die broodwonder ook ’n wonderteken.

6:15 Jesus het besef dat die skare nou sou aandring daarop om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak. Hulle herken die Messias, maar dink dat dit vir hulle politiese betekenis het. Dit wou Jesus verhoed. Daarom het Jesus weer verder teen die berg opgeklim, sodat hulle ideologiese passie kan afkoel. Hy wou waarskynlik ook die afgelope gebeure deurdink – alleen. Sy dissipels is daarom vir eers per skuit na die oorkant toe gestuur het, na Betsaida toe, soos ons in die ander evangelies lees.

Jesus se vyfde wonderteken: Hy loop oor die see na Kapernaum

Ná die broodvermeerdering vertrek die dissipels terug na Kapernaum (en Betsaida) aan die noorde van die See van Galilea. Weereens loop Jesus op die see, maar ‘n ekstra wonderwerk gebeur, dat toe hulle Hom in die skuit wou inneem, was hulle “dadelik” by die land waarheen hulle besig was om te gaan.

6:16-18 Dit het nou al laat geword, en met Jesus wat die berg op is om te bid, het die dissipels teruggekeer na Kapernaum met die skuit. Dit was donker met ‘n sterk wind. Die see was rof. Let op dat die verhaal uit die perspektief van die dissipels vertel word, en nie uit dié van Jesus nie, soos die ander evangelies dit vertel nie. Dit help ‘n mens om die verskille tussen die verhale te kan verstaan.

6:19-20 Toe die dissipels so 4,7-5,7 km ver geroei het, het hulle Jesus op die see sien loop en baie bang geword. Johannes vertel nie vir ons van Petrus se versoek om op die water te loop nie, wel van Jesus wat hulle moed inpraat om nie bang te wees nie met die woorde “Ek is.” Dit sou hulle in die konteks van die Goddelike wonder om op die water te loop herinner het aan God se openbaring van Homself in die doringbos aan Moses (Eks 3:14).

Hierdie wonder word as die vyfde wonderteken van Johannes gereken, hoewel die woord wonderteken nie voorkom nie.  Net om jou te herinner aan die sewe wat Johannes vertel: 1) die water wat in wyn verander (Joh 2:1-11), 2) die genesing van die koninklike beampte se seun (Joh 4:43-54), 3) die genesing van die siek man by die bad van Betsata (Joh 5:1-17), 4) die vermeerdering van die brood (Joh 6:1-15), 5) Jesus wat op die water loop (Joh 6:16-21), 6) die genesing van die man wat blind gebore is (Joh 9:1-12), en 7) die opwekking van Lasarus uit die dood (Joh 11:1-44).

6:21 Hulle was toe gereed om Hom in die boot in te neem, en terselfdertyd was hulle reeds by die kus van Kapernaum waarheen hulle besig was om te roei. In die Grieks word die woord “kai” gebruik as verbinding tussen die twee gedagtes in vers 21. Dit word normaalweg met “en” vertaal en is moontlik ‘n beter keuse as die vertaling met “maar”. Dit wil ook voorkom asof Johannes dit as nog ‘n wonderwerk beskou.

Boodskap en betekenis

Die betekenis van die vierde wonderteken lê op verskillende vlakke.

Dit wys hoe geloof werk. Aan die een kant die feit dat selfs die kleinste bietjie – Andreas wat die vis en brood na Jesus toe bring – genoeg is vir Jesus om mee te werk. Aan die ander kant die feit dat ‘n geloof gebaseer op wonderwerke eintlik geen substansie het nie.

Dit wys hoe Jesus werk. Hy is God en seën sy dissipels en dié wat hulle bedien net so radikaal en oorvloedig soos God in die woestyn met Moses en die volk gemaak het. Die ooreenkomste tussen die Jahwe van die OT en die Jesus van die NT is net só helder en duidelik.

Die vyfde wonderteken wys onteenseglik op die dubbele natuur van Jesus. Aan die eenkant is Hy die herkenbare werklike mens wat saam met hulle in die boot kan vaar. Aan die anderkant is Hy die enigmatiese Goddelike wese wat ook op die water kan loop. Albei kante van Hom is noodsaaklik vir ons. As mens kan ons Hom as een van ons aanvaar. As God kan ons Hom as Een met God aanbid.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: