PSALM 130

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 130

1‘n Pelgrimslied.

Uit die dieptes roep ek na U, Here.

2My Heer, hoor tog my stem,

laat u ore aandagtig luister

na my smeekbedes.

3As U sondeskuld toereken, Here –

my Heer, wie kan dan staande bly?

4Maar by U is daar vergifnis,

sodat U ontsag afdwing.

5Ek wag op die Here;

my hele wese wag,

en op sy woord vestig ek my hoop.

6My hele wese wag op my Heer,

meer as wagte op die môre,

ja, wagte op die môre.

7Israel, vestig jou hoop op die Here;

want by die Here is troue liefde,

by Hom is volkome bevryding.

8Dit is Hy wat Israel bevry

van al sy sondeskuld.

Teks en konteks

Ek onthou só goed die woorde waarmee Totius dié Psalm geskryf het:

“Uit dieptes, gans verlore,

van redding ver vandaan,

waar hoop se laaste spore

in wanhoop my vergaan;

uit diep van donker nagte

roep ek, o Here, hoor,

en laat my jammerklagte

tog opklim in u oor.”

As kind het dié woorde sowel as die melodie my hart geroer en geïnspireer om selfs in die moeilikste omstandighede – “waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan” – tóg die Here aan te roep en op Hom te vertrou.  Dit is juis wanneer dit voel asof die diep waters jou insluk en jy dreig om weg te sink dat hierdie gebed uit ‘n mens geskeur word in die hoop dat Iemand sal hoor.

En dít is presies wat die pelgrims met dié lied bely en gesmeek het.  Soos Psalm 119 bely het dat God se Woord ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet is – dat ons na Sy stem luister – só maak Psalm 130 staat op die feit dat God ook na ons stem luister, dat ons woord aan Hom vir ons vergifnis, ‘n antwoord en bevryding sal inhou.

VERGIFNIS: Want, inderdaad, wie kan staande bly as die Here nie met sy vergifnis ons sondeskuld uitwis nie?  Die Psalmis bely dat ons nie ‘n intrinsieke aanspraak op die Here het, asof ons Hom kan dwing nie.  Ons kan immers nie ons goeie dade teen ons bose dade laat opweeg en ongeskonde ander kant uitkom nie.  Ons het nodig dat die Here eenvoudig ons skuld uitwis, soos Hy in Jesus aan die kruis gedoen het. Ons kan ons net verlaat op die genade van die Here.

ANTWOORD: Soms is ons behoefte nie aan vergifnis nie, maar aan ‘n woord van hoop, ‘n woord wat klaarheid in ons binneste sal bring, wat vir ons die pad vorentoe sal aandui.  Die Psalmis wag met sy hele wese daarna, soos wat die wagte uitsien na die môre, ja, soos wagte na die môre.

BEVRYDING: Die fokus skuif weg van die persoonlike behoefte aan vergifnis en ‘n antwoord na die gemeenskap se behoefte aan bevryding.  Die Psalmis vestig die pelgrims se aandag op die Here se troue liefde en nooi hulle uit om hulle hoop op Hom te vestig vir bevryding, selfs al gaan hulle gebuk onder sondeskuld.  Die Here het die vermoë – en die liefde! – om in oorvloed te bevry.

Hierdie Psalm laat dus die behoefte van die gelowige en die geloofsgemeenskap oor mekaar skuif, want die een kan eintlik nie sonder die ander nie.  Verandering kom wanneer God sentraal staan in beide jou eie lewe as in dié van jou geloofsgemeenskap.  Bid dus vandag met volle oorgawe vir jouself sowel as vir die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is.  En vestig jou vertroue volledig op die troue liefde van die Here.  Hy sal vergewe.  Hy sal ‘n antwoord gee.  Hy sal bevry.

Boodskap en betekenis

Martin Luther het dié Psalm in 1523 berym: “Aus tiefer Noth schrei ich zu dir“.  Hy het dit ‘n Pauliniese Psalm genoem weens die wyse waarop oor die inhoud van vergifnis daarin gepraat word.  Hy het dit baie keer self gesing in situasies van aanvegting en by sy begrafnis in 1546 is dié Psalm ook gesing.

Dit is deur Catherine Winkworth as volg in 1863 vertaal:

“Out of the depths I cry to Thee;

Lord, hear me, I implore Thee!

Bend down Thy gracious ear to me;

I lay my sins before Thee.

If Thou rememberest each misdeed,

If each should have its rightful meed,

Who may abide Thy presence?

Thou grantest pardon through Thy love;

Thy grace alone availeth;

Our works could ne’er our guilt remove;

Yea, e’en the best life faileth.

For none may boast himself of aught,

But must confess Thy grace hath wrought

Whate’er in him is worthy.

And thus my hope is in the Lord,

And not in my own merit;

I rest upon His faithful Word

To them of contrite spirit.

That He is merciful and just,

Here is my comfort and my trust;

His help I wait with patience.”

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: