Skip to main content

MARKUS 10:46-52

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 10:46-52

GENESING VAN DIE BLINDE BARTIMEUS

(Matt 20:29-34; Luk 18:35-43)

46Hulle het in Jerigo aangekom. En toe Hy met sy dissipels en ‘n groot skare uit Jerigo vertrek, het ‘n blinde bedelaar, Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, begin hy uitroep: “Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” 48Baie mense het hom berispend aangesê om stil te bly, maar hy het net al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” 49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” 50Hy gooi toe sy bokleed af, spring op en kom na Jesus toe. 51Jesus vra hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man antwoord Hom: “Rabboeni, dat ek kan sien.” 52Jesus sê toe vir hom: “Gaan! Jou geloof het jou gered.” En dadelik kon hy sien, en hy het Hom op sy pad gevolg. (2020-vertaling)

Teks en konteks

10:46 Jesus se reis na Jerusalem neem Hom deur Jerigo waar Hy net buitekant die stad die aandag van ‘n blinde bedelaar – Bartimeus, seun van Timeus – vang langs die pad.

10:47 Toe Bartimeus hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy onmiddellik die konneksie gemaak dat Jesus die Seun van Dawid is en Hom gesmeek om Hom oor hom te ontferm.

10:48 Hy word ook nie afgesit deur die mense wat hom wou stilmaak, en hom selfs berispe het nie, en het net met nog meer passie na Jesus geroep.

10:49-50 Toe Jesus gaan staan en die skare vra om die blinde na Hom toe te roep, het hulle Bartimeus moed ingepraat om op te staan en na Jesus toe te gaan. Die man het dit onmiddellik gedoen, selfs sy bokleed afgegooi wat hom miskien kon pooitjie, opgespring en na Jesus toe gekom.

10:51 Jesus het natuurlik besef dat die titel – Seun van Dawid – hom polities in die moeilikheid kon bring, want dit was ‘n baie duidelike Messiaanse uitspraak (Jer 33:17). Die tyd vir sy volledige publieke bekendmaking het egter aangebreek. Hy sou selfs net hierna met die Fariseërs in gesprek tree oor dié titel (Joh 12:35). Daarom vra Hy Bartimeus wat hy wil hê dat Jesus, die Seun van Dawid, vir hom moet doen. Uiteraard was genesing voorop in die blinde se gedagtes en hy vra dit toe van Jesus. Let op die titel Rabboeni, ‘n aanspreekvorm van groot respek.

10:52 Jesus het aan sy versoek voldoen, maar die verwysing na sy geloof wat hom gered het, wys dat dit vir Jesus nie net om die genesing gegaan het nie, maar oor die redding van die blinde Bartimeus. Geen wonder dat Bartimeus Jesus op die pad verder gevolg het nie.

Boodskap en betekenis

Dit tref my hoe Bartimeus as blinde alreeds ‘n gespitste fokus het op Jesus as die Messias en nadat die Messias hom genees het, hy onmiddellik ‘n volgeling van Hom word.

Daarby het hierdie laaste wonder van Jesus, soos Markus dit vertel, ‘n simboliese betekenis net voor sy Intog in Jerusalem. Jesus het gekom om die volk van hulle blindheid te verlos. Hy illustreer dit met die genesing van Bartimeus. Maar, soos ons sal sien, sal hulle die Een verwerp wat hulle geestelike blindheid wou genees.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…