Skip to main content

PSALM 14

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 14

1 Vir die musiekleier . Van Dawid. 

Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. 

Hulle tree gruwelik en afstootlik op. 

Daar is nie een wat goed doen nie. 

2 Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek. 

3 Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard; daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.

4 Is almal wat onreg pleeg dan sonder insig, 

hulle wat my volk eet soos ‘n mens brood eet? 

Hulle roep die Here nie aan nie. 

5 Dan oorweldig skrik hulle, 

want God is met die regverdige geslag. 

6 Julle wil die planne van die magtelose bespotlik maak, 

maar die Here is sy skuilplek. 

7 Mag daar uit Sion redding kom vir Israel! 

Wanneer die Here die lot van sy volk omkeer, 

moet Jakob juig, moet Israel bly wees. 

Teks en konteks

Psalm 14 en Psalm 53 het basies dieselfde inhoud, met net ’n paar woorde en die opskrifte wat verskil. Die hoofverskil lê in die gebruik van God se naam. Psalm 14 gebruik 4 keer God se persoonsnaam, Jahwe, en Psalm 53 net die algemene naam vir God, Êlôhîm. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan verskillende redakteurs wat afsonderlik gewerk het met ‘n gedig en toe dit elkeen op sy eie manier aangepas het. Albei Psalms was in gebruik in die liturgie en is dus ingesluit in die uiteindelike Psalmboek.

Die kontras in die Psalm is nie tussen ryk en arm nie, maar tussen goddeloses en regverdiges, hoewel dit wel wil lyk asof die regverdiges hier ook arm is (hulpeloos) – vers 5. Dis ‘n kontras tussen dwases en wyses, tussen onverstandiges en verstandiges. Tussen mense wat niks van God begryp nie, en die wat wel iets van God begryp.

En let op dat hierdie kontras nie tussen intellektuele dwases en wyses is nie, maar tussen geestelike dwases en wyses. Intellek en verstandelike vermoëns is nie in die Psalmis se visier nie, wel hulle verhouding met God en begrip vir wat Hy doen, al dan nie.

Om dwaas te wees

Om dwaas te wees, is ook nie ‘n beskrywing uit ‘n menslike perspektief nie, maar uit God se perspektief. Dit is Hy wat hulle as dwaas beskou. Uit ons hoek kan iemand ryk en suksesvol en magtig voorkom. Uit God se hoek kan so iemand arm, ‘n mislukking en swak voorkom.

‘n Dwaas is dus iemand wat lewe sonder om na God te luister om van Hom leiding te ontvang om sy of haar lewe te kan rig en laat begelei. ‘n Wyse is iemand wie se lewe juis draai om die luister na God en die vertroue op die pad waarop Hy sy of haar lewe begelei.

Dwases se lewens word daarom gekenmerk deur liefdeloosheid – pleeg onreg, eet ander op asof hulle brood is! Dwases kan die wyses ook nie uitstaan nie, en vat hulle op allerhande maniere aan. Wyses boet dus onder die aanslag van dwases, net omdat die dwases nie die geloof en vertroue in God, wat wyses se lewens kenmerk, kan vat nie!

Om wys te wees

Wyses se lewens word daarenteen gekenmerk deur ‘n toevlug neem tot God en ‘n vertroue op Sy redding en lotsverandering. Hulle sal juig en bly wees – en in God se teenwoordigheid tot hulle reg kom (dit loop Psalm 15 en 24 vooruit wat hieroor verder nadink).

Ons moet egter nie te gou die dwase in ons omgewing soek nie. Die Psalm is duidelik daaroor dat dwaasheid eintlik ‘n algemene kenmerk van die mensdom is, en dat dit ook vir ons insluit. Dit is waarom Paulus uit hierdie verse aanhaal in Romeine 3 en die evangelie van Jesus Christus as ‘n weg uit die dwaasheid verkondig en spesifiek sê dat God deur sy Gees sy liefde in ons harte uitgestort het (Rom 5), om ons dwaasheid in liefde te verander. Kragtig!

Die Psalmis se nadenke oor die mens het hom aanvanklik dus na ‘n klaaglied gelei, maar dit mond uiteindelik uit in ‘n bede tot God om verlos te word (van dwase en om self nie dwaas te wees nie), en die verwagting om God se aktiewe teenwoordigheid in sy of haar gemeenskap te ervaar. Dit is waarom Craigie voorstel dat ons die Psalm moet lees as ons geestelike pelgrimstog, waar onsself van dwaasheid tot begrip en liefde beweeg word.

Terloops – die vertaling in vers 6 “God is aan die kant van die regverdiges” lees eintlik letterlik “ God is in die vergadering van die regverdiges” . Dws God is teenwoordig in die gemeenskap van die wat Hom dien, as ‘n beskerming teen die wat teen hulle planne beraam.

Boodskap en betekenis

Gebruik die Psalm om te reflekteer oor jou eie geestelike pelgrimstog met God. Ook ons word van die dwaasheid van ons sonde en opstand teen God gered om in God se teenwoordigheid te groei in wysheid en vreugde.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar