Skip to main content

HANDELINGE 2:1-21

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HANDELINGE 2:1-21

Uitstorting van die Heilige Gees 

1 Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2 Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3 Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4 En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. 5 Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6 Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7 Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8 Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9 Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11 Jode en proseliete,  mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” 12 Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” 13 Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.” 

Petrus se toespraak 

14 Daarop staan Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15 Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16 Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: 

17 “‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: 

‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – 

julle seuns en julle dogters sal profeteer, 

en julle jongmense sal visioene sien, 

en julle ou mense sal drome droom. 

18 Ja, ook oor my slawe en slavinne 

sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, 

en hulle sal profeteer. 

19 En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk 

en tekens onder op die aarde: 

bloed en vuur en rookwolke. 

20 Die son sal verander in duisternis 

en die maan in bloed, 

voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. 

21 Dan sal elkeen wat die Naam 

van die Here aanroep, verlos word.’ (2020-vertaling).

Teks en konteks

Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na sy hemelvaart. Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier in sy toespraak aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede.

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus. Dit is wat Joël lank tevore alreeds voorspel het.

Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor.

Die belangrikste boodskap van hierdie vervulling van Joël se profesie is dat die Here die geestelike gemeenskap met Hom deur sy Heilige Gees herstel. Op ‘n hele paar plekke in die OT was die Gees vaardig oor individue. Vgl die volgende:

  • Kunstenaars – Eks 31:3: Besaleël;
  • Leiers – Num 11:16-29: Moses as profeet en leier van die volk, sowel as ‘n deel daarvan op die sewentig leiers van die volk waaronder Eldad en Medad wat as profete opgetree het, wat Moses laat opmerk het: “Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” – dit gebeur later ook met Josua (Num 27:18);
  • Rigters – Otniël (Rigt 3:10); Gideon (Rigt 6:34); Jefta (Rigt 29); Simson (Rigt 13:25; 14:6, 19; 15:14);
  • Konings – Saul (1 Sam 10:10; 19:23- die Gees het ook gewyk van Saul – 1 Sam 16:14); Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam 23:2 – Hy bid dat die “Heilige Gees” nié van hom sal wyk nie – Ps 51:13)
  • Boodskappers – Saul s’n (1 Sam 19:20)
  • Leiersoldaat – 1 Kron 12:18: Amasai as aanvoerder van Dawid se voorkeur soldate.
  • Profete – bv. Asarja (2 Kron 15:1) – Nehemia dink terug aan die verlede en sê: “U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete …” (Neh 9:30)
  • Priesters – bv. die Leviet Jagasiël (2 Kron 20:14) en die priester-profeet Sagaria (2 Kron. 24:20);

Hier is egter die eerste aanduiding dat die Gees op alle mense wat die Naam van die Here aanroep, uitgestort word, ‘n antwoord op die wens van Moses (Num 27:18)! Met die Pinkster uitstorting van die Heilige Gees gaan Joël se visie op die Gees op ‘n radikale wyse in vervulling.

Let op dat die Gees op jonk en oud – dws multigenerasioneel – manlik en vroulik – dws multigeslag – op alle sosiale klasse van die samelewing – “slawe en slavinne”– en op alle mense – “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep” – uitgestort word.

Die Gees se werking sluit inderdaad niemand uit nie, wat ook beteken dat ons niemand mag uitsluit wat die Here se Naam aanroep nie.

Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens.

Wat veral treffend is, is dat Lukas in die res van Handelinge die werk van die apostels in dieselfde woorde beskryf as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van die uitstorting van die Heilige Gees op almal wat die Naam van die Here aanroep, is ‘n aanduiding van die radikaal nuwe manier waarop God met mense werk. Oral waar die boodskap van Jesus verkondig gaan word, kan sy mense dus staatmaak daarop dat God dieselfde sal doen as wat hier met ‘n drieduisend mense gebeur het.

Let ook op dat die dissipels Jesus se bediening voortsit in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het. Die wonders deur hulle hand het daarby soos in Jesus se geval ’n teken-funksie. Dit wys heen na God en verheerlik Hom.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda