HANDELINGE 2:1-21

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HANDELINGE 2:1-21

Uitstorting van die Heilige Gees 

1 Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2 Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3 Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4 En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. 5 Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6 Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7 Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8 Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9 Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11 Jode en proseliete,  mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” 12 Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” 13 Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.” 

Petrus se toespraak 

14 Daarop staan Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15 Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16 Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: 

17 “‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: 

‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – 

julle seuns en julle dogters sal profeteer, 

en julle jongmense sal visioene sien, 

en julle ou mense sal drome droom. 

18 Ja, ook oor my slawe en slavinne 

sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, 

en hulle sal profeteer. 

19 En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk 

en tekens onder op die aarde: 

bloed en vuur en rookwolke. 

20 Die son sal verander in duisternis 

en die maan in bloed, 

voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. 

21 Dan sal elkeen wat die Naam 

van die Here aanroep, verlos word.’ (2020-vertaling).

Teks en konteks

Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na sy hemelvaart. Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier in sy toespraak aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede.

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus. Dit is wat Joël lank tevore alreeds voorspel het.

Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor.

Die belangrikste boodskap van hierdie vervulling van Joël se profesie is dat die Here die geestelike gemeenskap met Hom deur sy Heilige Gees herstel. Op ‘n hele paar plekke in die OT was die Gees vaardig oor individue. Vgl die volgende:

  • Kunstenaars – Eks 31:3: Besaleël;
  • Leiers – Num 11:16-29: Moses as profeet en leier van die volk, sowel as ‘n deel daarvan op die sewentig leiers van die volk waaronder Eldad en Medad wat as profete opgetree het, wat Moses laat opmerk het: “Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” – dit gebeur later ook met Josua (Num 27:18);
  • Rigters – Otniël (Rigt 3:10); Gideon (Rigt 6:34); Jefta (Rigt 29); Simson (Rigt 13:25; 14:6, 19; 15:14);
  • Konings – Saul (1 Sam 10:10; 19:23- die Gees het ook gewyk van Saul – 1 Sam 16:14); Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam 23:2 – Hy bid dat die “Heilige Gees” nié van hom sal wyk nie – Ps 51:13)
  • Boodskappers – Saul s’n (1 Sam 19:20)
  • Leiersoldaat – 1 Kron 12:18: Amasai as aanvoerder van Dawid se voorkeur soldate.
  • Profete – bv. Asarja (2 Kron 15:1) – Nehemia dink terug aan die verlede en sê: “U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete …” (Neh 9:30)
  • Priesters – bv. die Leviet Jagasiël (2 Kron 20:14) en die priester-profeet Sagaria (2 Kron. 24:20);

Hier is egter die eerste aanduiding dat die Gees op alle mense wat die Naam van die Here aanroep, uitgestort word, ‘n antwoord op die wens van Moses (Num 27:18)! Met die Pinkster uitstorting van die Heilige Gees gaan Joël se visie op die Gees op ‘n radikale wyse in vervulling.

Let op dat die Gees op jonk en oud – dws multigenerasioneel – manlik en vroulik – dws multigeslag – op alle sosiale klasse van die samelewing – “slawe en slavinne”– en op alle mense – “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep” – uitgestort word.

Die Gees se werking sluit inderdaad niemand uit nie, wat ook beteken dat ons niemand mag uitsluit wat die Here se Naam aanroep nie.

Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens.

Wat veral treffend is, is dat Lukas in die res van Handelinge die werk van die apostels in dieselfde woorde beskryf as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van die uitstorting van die Heilige Gees op almal wat die Naam van die Here aanroep, is ‘n aanduiding van die radikaal nuwe manier waarop God met mense werk. Oral waar die boodskap van Jesus verkondig gaan word, kan sy mense dus staatmaak daarop dat God dieselfde sal doen as wat hier met ‘n drieduisend mense gebeur het.

Let ook op dat die dissipels Jesus se bediening voortsit in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het. Die wonders deur hulle hand het daarby soos in Jesus se geval ’n teken-funksie. Dit wys heen na God en verheerlik Hom.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: