Skip to main content

PSALM 11

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

PSALM 11

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 Vir die musiekleier . Van Dawid. 

By die Here skuil ek; 

hoe kan julle dan vir my sê: 

“Vlug soos ‘n voël na die berge,

2 want kyk, die goddeloses 

span ‘n boog, 

hulle sit hulle pyle op die boogsnaar 

om in die donker 

op die opregtes van hart te skiet. 

3 As die fondamente afgebreek word, 

wat kan ‘n regverdige dan doen?” 

4 Die Here is in sy heilige paleis, 

die Here – 

in die hemel is sy troon. 

Sy oë sien; 

sy blik toets die mensekinders. 

5 Die Here – 

‘n regverdige toets Hy, 

maar in ‘n goddelose en iemand 

wat geweld liefhet, 

het Hy ‘n weersin. 

6 Hy laat gloeiende kole op goddeloses neerreën – 

vuur en swael 

en ‘n verskroeiende wind; 

dit is wat hulle toekom, 

dit is hulle beker.

7 Want regverdig is die Here, Hy het geregtigheid lief, 

opregtes sal sy teenwoordigheid ervaar. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Psalm 11 – om God te vertrou in ’n krisis

Psalm 11 is eintlik streng gesproke nie ’n gebed nie, maar ’n geloofsbelydenis, waarin die Psalmis sy vertroue op God bevestig.  En hy doen hierdie belydenis as ’n reaksie op die bedreiging van sy vyande wat nie net sy geloof in God bevraagteken nie, maar strukture (van die samelewing/geloofsgemeenskap) afbreek en Dawid se dood (of val) beplan.  Craigie gee hierdie Psalm daarom die titel Confidence in Crisis

Dawid het waarskynlik by die tempel kom skuil vir sy vyande – waar hy op beskerming sou kon aanspraak maak – hoewel die vyande nou ook sulke strukture in gevaar stel.  Daar is dus die gevaar dat die vyande hom in die tempel sal kom kry, maar boonop ook die versoeking vir hom om te vlug na die berge, soos hy deur die goddeloses aangeraai word.  Die versoeking is: om nie vas te staan in die Here nie, maar te vlug na waar dit menslik gesproke veiliger sou wees. Wanneer ‘n mens immers vasstaan, gee jy jou teenstanders ook meer van ‘n teiken om aan te val.  Dit neem dus ‘n besondere moedige optrede van Dawid om nie terug te deins en te vlug nie.

Wat Dawid moed gee, is 2 fundamentele sake:

  • Die Here is in sy tempel.  Dit is nie net Dawid wat daar is nie!  Dit is die gedagte wat die vlam van hoop in hom aansteek.  Maar ook nie net dit nie:
  • God is op sy troon in die hemelDie God van die liturgie is ook die God van die wêreld.  Hy is immanent en transendent, en op Hom kan ’n mens jou lewe bou en op Hom kan jy jou verlaat.

Sy geloofsbelydenis sluit verder in dat dié God verder en dieper sien as almal.  Hy onderskei tussen goddeloses en regverdiges, deurdat hy albei toets, soos ‘n mens metaal deur vuur suiwer.  En die gevolg of uitkoms van die toetsing verander Sy houding teenoor die goddeloses. Letterlik staan daar “Sy siel haat dié wat geweld liefhet.”

In sy nabye teenwoordigheid verskroei die goddeloses (Sodom en Gomorra as agtergrond), maar ervaar die regverdiges Sy liefde.  Let op dat die fokus val op dié wat regverdig en opreg HANDEL.  En die regverdiges sal God se aangesig sien, dws, sal ‘n Godsverskyning ervaar (vgl Ps 9:17).

In my nadenke hieroor het ek besef, vertroue in ‘n krisis is beide ‘n noodsaaklikheid as ‘n deug, maar dit moet ook deur wysheid aangevul word. Dit is verseker nie menslike wysheid nie – vlug uit gevaar – maar Goddelike wysheid. Paulus is bv in die NT aangeraai om te vlug toe hy op pad was Jerusalem toe, maar die wyse optrede was toe om juis te gaan waar hy gevange geneem sou word, soos wat die Here reg aan die begin van sy roeping vir hom uitgespel het. Dit was ook die basis van Jesus se vasstaan in versoeking, om nie die uitdaging van honger te ontwyk deur self te voorsien nie, maar van God afhanklik te bly.

Deur te bly vertrou in só ‘n krisis, bring ‘n mens by ‘n beter verstaan van hoe God werk, trouens van Wie Hy is, en leer jou om Hom met nuwe oë raak te sien.

Boodskap en betekenis

Versterk jou geloof en skep moed deur Psalm 11 te bid. Die fondamente van ons samelewing word ondermyn, maar God se oë is oop! Hy onderskei tussen regverdige en goddelose. Hy laat vuur reën op die goddelose (onthou Gen 19 – Sodom en Gomorra), maar is by die mense wat regverdig en opreg handel.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

 

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda