1 SAMUEL 15:34-16:13

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 SAMUEL 15:34-16:13

15:34 Samuel het na Rama gegaan, terwyl Saul opgegaan het na sy huis in Gibea van Saul. 35 Samuel het tot die dag van sy dood nie weer vir Saul gesien nie, alhoewel Samuel oor Saul getreur het. Die Here was spyt dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.

Salwing van Dawid as koning 

16:1 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ‘n koning gesien.” 2 Maar Samuel het gesê: “Hoe kan ek gaan? As Saul daarvan hoor, sal hy my doodmaak.” Toe sê die Here: “’n Verskalf moet jy saam met jou neem en dan moet jy sê, ‘Om aan die Here ‘n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het.’ 3 Nooi jy dan vir Isai na die offer en Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Jy moet vir My die een salf wat Ek vir jou sal sê.” 4 Samuel het gedoen wat die Here gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, kom die oudstes van die stad hom bewend tegemoet en vra: “Beteken u koms vrede?” 5 Hy het gesê: “Ja, vrede! Om aan die Here ‘n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het. Heilig julleself en kom saam met my na die maaltydoffer.” Hy het Isai en sy seuns toe geheilig en hulle na die maaltydoffer genooi. 6 Toe hulle inkom en hy vir Eliab sien, het hy gedink: “Sekerlik, hier staan, voor die Here, sy gesalfde!” 7 Maar die Here het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.” 8 Isai roep toe vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.” 9 Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.” 10 So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die Here het hulle nie gekies nie.” 11 Samuel vra toe vir Isai: “Is dit al die jong manne?” Hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar kyk, hy is besig om die kleinvee op te pas.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons gaan nie eet voordat hy hier aankom nie.” 12 Hy het dit gedoen en hom toe laat inkom. Die seun was rooierig, met mooi oë en ‘n goeie voorkoms. Die Here sê toe: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” 13 Samuel het die horing met olie geneem en hom daar tussen sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem. Samuel het toe opgestaan en na Rama gegaan. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Saul se verhaal is, soos Eli s’n, ‘n verhaal van verspeelde kanse. In die verhaal net hiervoor gee die Here vir Saul ‘n manier om reg te maak wat hy tevore verbrou het, maar hy verkwis die geleentheid, deur op ‘n eiegeregtige manier koning Agag se lewe te spaar en van die beste buit te neem, ten spyte van die Here se duidelike bevel daarteen.

Die Here kom daarom na Samuel en deel hom mee dat Hy Saul verwerp het. Dit lei daartoe dat Samuel en Saul se paaie skei. Die Here was spyt dat Hy Saul koning gemaak het, want Saul was deur en deur ongehoorsaam. Samuel was hartseer dat Saul die kanse wat hy gehad het, nie aangegryp het nie.

Maar, die Here word nie deur menslike mislukking van stryk gebring nie. Hy kommandeer Samuel op om nie langer hartseer te wees nie, en die volgende stap te neem in God se plan met die volk van Israel. Die Here sit immers hieragter. Saul se herhalende ongehoorsaamheid het vir Hom gewys wat in sy hart is. Daarom het die Here vir Saul verwerp.

Samuel moet op die Here se bevel een van Isai se seuns gaan salf vir koning, want die Here het tussen sy seuns ‘n koning vir Hom gesien. Die Here gee vir Samuel ‘n plan om die moontlike hindernisse op sy weg te hanteer. Samuel nooi die oudstes van die stad saam na die geleentheid wat op die regte tyd in ‘n salwingsgeleentheid verander.

Die hele episode kontrasteer God se intieme kennis van die mens se hart met die oppervlakkige manier waarop ons na mense kyk. Nie dat Dawid onaansienlik is nie, maar sy hart is die ding waarom dit vir die Here gaan.

Met die salwing het die Gees van die Here van daardie dag af en verder van Dawid besit geneem. En al sou dit ‘n lang pad wees voor Dawid inderdaad koning sou raak, was die proses van God se kant af beslissend aan die gang gesit.

Boodskap en betekenis

Let op dat die verandering van koningskap ook met die Gees te make het. Met die salwing van Dawid is dit die Gees wat van daardie dag af kragtig in hom werk, en juis die Gees wat Saul verlaat en deur ‘n bose gees vervang word, interessant genoeg ook deur die Here gestuur.

Let ook op dat Dawid se verkiesing eers lank hierna lei tot die erkenning van sy koningskap. Dis iets soortgelyks as wat met Samuel gebeur het. Sy roeping kom ook eers 20 jaar na die ark geroof is tot volle ontplooiing, soos ons vroeër in sy boek lees. Verandering neem soms lank, maar daarop moet met geduld en gehoorsaamheid gewag word, totdat die Here dit laat gebeur.

Dit is ook so dat mense geneig is om te kyk na uiterlike dinge: voorkoms, lengte, dapperheid, welsprekendheid. God kyk egter na die innerlike. Selfs Samuel het nodig dat die Here hom begelei om die verskil te kan raaksien om daarvolgens op te tree.

Dit dra die boodskap vir ons dat dit die Here se keuses is wat altyd die deurslag moet gee, en nie ons eie insigte nie (Spr 3:5-6). Die twee stories van Dawid se groeiende en Saul se kwynende mag sal deurlopend van hier af in die res van 1 Samuel in mekaar gevleg word.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: