Skip to main content

1 SAMUEL 15:34-16:13

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 SAMUEL 15:34-16:13

15:34 Samuel het na Rama gegaan, terwyl Saul opgegaan het na sy huis in Gibea van Saul. 35 Samuel het tot die dag van sy dood nie weer vir Saul gesien nie, alhoewel Samuel oor Saul getreur het. Die Here was spyt dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.

Salwing van Dawid as koning 

16:1 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ‘n koning gesien.” 2 Maar Samuel het gesê: “Hoe kan ek gaan? As Saul daarvan hoor, sal hy my doodmaak.” Toe sê die Here: “’n Verskalf moet jy saam met jou neem en dan moet jy sê, ‘Om aan die Here ‘n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het.’ 3 Nooi jy dan vir Isai na die offer en Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Jy moet vir My die een salf wat Ek vir jou sal sê.” 4 Samuel het gedoen wat die Here gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, kom die oudstes van die stad hom bewend tegemoet en vra: “Beteken u koms vrede?” 5 Hy het gesê: “Ja, vrede! Om aan die Here ‘n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het. Heilig julleself en kom saam met my na die maaltydoffer.” Hy het Isai en sy seuns toe geheilig en hulle na die maaltydoffer genooi. 6 Toe hulle inkom en hy vir Eliab sien, het hy gedink: “Sekerlik, hier staan, voor die Here, sy gesalfde!” 7 Maar die Here het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.” 8 Isai roep toe vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.” 9 Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.” 10 So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die Here het hulle nie gekies nie.” 11 Samuel vra toe vir Isai: “Is dit al die jong manne?” Hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar kyk, hy is besig om die kleinvee op te pas.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons gaan nie eet voordat hy hier aankom nie.” 12 Hy het dit gedoen en hom toe laat inkom. Die seun was rooierig, met mooi oë en ‘n goeie voorkoms. Die Here sê toe: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” 13 Samuel het die horing met olie geneem en hom daar tussen sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem. Samuel het toe opgestaan en na Rama gegaan. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Saul se verhaal is, soos Eli s’n, ‘n verhaal van verspeelde kanse. In die verhaal net hiervoor gee die Here vir Saul ‘n manier om reg te maak wat hy tevore verbrou het, maar hy verkwis die geleentheid, deur op ‘n eiegeregtige manier koning Agag se lewe te spaar en van die beste buit te neem, ten spyte van die Here se duidelike bevel daarteen.

Die Here kom daarom na Samuel en deel hom mee dat Hy Saul verwerp het. Dit lei daartoe dat Samuel en Saul se paaie skei. Die Here was spyt dat Hy Saul koning gemaak het, want Saul was deur en deur ongehoorsaam. Samuel was hartseer dat Saul die kanse wat hy gehad het, nie aangegryp het nie.

Maar, die Here word nie deur menslike mislukking van stryk gebring nie. Hy kommandeer Samuel op om nie langer hartseer te wees nie, en die volgende stap te neem in God se plan met die volk van Israel. Die Here sit immers hieragter. Saul se herhalende ongehoorsaamheid het vir Hom gewys wat in sy hart is. Daarom het die Here vir Saul verwerp.

Samuel moet op die Here se bevel een van Isai se seuns gaan salf vir koning, want die Here het tussen sy seuns ‘n koning vir Hom gesien. Die Here gee vir Samuel ‘n plan om die moontlike hindernisse op sy weg te hanteer. Samuel nooi die oudstes van die stad saam na die geleentheid wat op die regte tyd in ‘n salwingsgeleentheid verander.

Die hele episode kontrasteer God se intieme kennis van die mens se hart met die oppervlakkige manier waarop ons na mense kyk. Nie dat Dawid onaansienlik is nie, maar sy hart is die ding waarom dit vir die Here gaan.

Met die salwing het die Gees van die Here van daardie dag af en verder van Dawid besit geneem. En al sou dit ‘n lang pad wees voor Dawid inderdaad koning sou raak, was die proses van God se kant af beslissend aan die gang gesit.

Boodskap en betekenis

Let op dat die verandering van koningskap ook met die Gees te make het. Met die salwing van Dawid is dit die Gees wat van daardie dag af kragtig in hom werk, en juis die Gees wat Saul verlaat en deur ‘n bose gees vervang word, interessant genoeg ook deur die Here gestuur.

Let ook op dat Dawid se verkiesing eers lank hierna lei tot die erkenning van sy koningskap. Dis iets soortgelyks as wat met Samuel gebeur het. Sy roeping kom ook eers 20 jaar na die ark geroof is tot volle ontplooiing, soos ons vroeër in sy boek lees. Verandering neem soms lank, maar daarop moet met geduld en gehoorsaamheid gewag word, totdat die Here dit laat gebeur.

Dit is ook so dat mense geneig is om te kyk na uiterlike dinge: voorkoms, lengte, dapperheid, welsprekendheid. God kyk egter na die innerlike. Selfs Samuel het nodig dat die Here hom begelei om die verskil te kan raaksien om daarvolgens op te tree.

Dit dra die boodskap vir ons dat dit die Here se keuses is wat altyd die deurslag moet gee, en nie ons eie insigte nie (Spr 3:5-6). Die twee stories van Dawid se groeiende en Saul se kwynende mag sal deurlopend van hier af in die res van 1 Samuel in mekaar gevleg word.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda