HEBREËRS 9:11-14

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HEBREËRS 9:11-14

UITNEMENDER HEILIGDOM EN OFFERDIENS

91Die eerste verbond het bepalings vir aanbidding gehad, asook ‘n heiligdom wat aards was. 2Die voorste tent was toegerus met die kandelaar, en die tafel met die •vertoonbrode, en is die “Heilige” genoem. 3En agter die tweede tempelgordyn was ‘n tent, wat die Allerheiligste genoem is; 4dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die •verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond; 5en bo-op was die gerubs van heerlikheid, wat die versoendeksel oorskadu het. Hieroor kan ons egter nie nou in besonderhede praat nie.

6Met hierdie dinge dan so ingerig, gaan die priesters gereeld die voorste tent binne om hulle rituele diens te verrig. 7Maar by die tweede tent gaan net die hoëpriester in, en dit slegs een keer per jaar, en nie sonder bloed wat hy vir homself offer, en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het nie. 8Daarmee dui die Heilige Gees aan dat die weg na die heiligdom nog nie oopgestaan het solank die voorste tent nog bestaan het nie. 9Dit versinnebeeld tot op hede hoe gawes en offers gebring is wat nie in staat was om die gewete van die een wat die offer bring, volkome te reinig nie. 10Dit het net gegaan oor kos en drank, en verskillende reinigingsrituele – bepalings vir die liggaam, wat opgelê is tot op die bestemde tyd van regstelling.

11Christus egter het gekom as Hoëpriester van die goeie dinge wat nou verwesenlik is, en Hy het deur ‘n uitnemender en meer volmaakte tabernakel beweeg wat nie deur mensehande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie van hierdie skepping is nie. 12Hy het ook nie met die bloed van bokramme en bulkalwers nie, maar eens en vir altyd, met sy eie bloed, die heiligdom binnegegaan, en ‘n ewige verlossing bewerkstellig. 13Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van ‘n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam, 14hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien?

15Aangesien daar ‘n dood was, as losprys vir die oortredings, ten tyde van die eerste testament, is Hy juis daarom Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. 16Waar ‘n testament ter sprake is, is dit nodig om die dood van die een wat dit gemaak het, te bevestig. 17‘n Testament tree tog deur die dood in werking, aangesien dit nooit van krag is solank die een wat dit gemaak het, nog leef nie. 18Daarom is ook die eerste verbond nie sonder bloed ingewy nie. 19Immers, nadat elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk bekend gemaak is, het hy die bloed van die bulkalwers en die bokramme saam met water geneem, en met helderrooi wol en marjoleinhet hy die boekrol self, en ook die hele volk besprinkel, 20terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle bepaal het.” 21En op dieselfde wyse het Hy die tabernakel en al die godsdienstige voorwerpe met die bloed besprinkel. 22Feitlik alles is volgens die wet met bloed gereinig; ja, sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie.

Teks en konteks

Hoofstuk 9 brei uit op die tweede gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap, nl., dat Jesus Christus ons gewete reinig sodat ons die lewende God kan dien (vers 14).  Hy doen dit in twee dele:

  • Jesus het Homself as vlekkelose offer aan God geoffer – 9:1-14;
  • Jesus is nou ’n Middelaar van ’n nuwe verbond – 9:15-22.

9:1-14 – Jesus het Homself as vlekkelose offer aan God geoffer

Die skrywer begin sy verduideliking deur te fokus op die funksies van die tabernakel in die eerste verbond: aanbidding en reiniging (versoening).  Hy beskryf veral die reiniging in terme van die voorste tent, die heiligdom, en die binneste tweede tent, die Allerheiligste. 

In die eerste tent kon al die priesters hulle dienswerk verrig.  In die tweede tent kon net die hoëpriester verskyn voor God, en dit net een keer ’n jaar.  Daar het hy by die verbondsark versoening deur die bloed van offers gedoen in die teenwoordigheid van God self – gesimboliseer deur die gerubs op die versoendeksel – waar ook die kruik met die manna, die staf van Aäron, en die twee tafels van die Tien Gebooie was – tekens van God se voorsiening vir hulle hele lewe.

Die aardse heiligdom kon egter nie die weg na God volledig oopmaak nie, omdat dit eintlik net uiterlike reiniging gebring het, al was dit nie sonder sy waarde nie.  Daarom het Jesus Christus die uitnemender en meer volmaakte tabernakel  betree met sy eie bloed as offer om God se hemelse heiligdom binne te gaan – sy liggaam was die tempelgordyn van dié tent (Hebr. 10:20) – en ’n ewige verlossing bewerkstellig.  Daarmee het Hy Homself “as vlekkelose offer aan God geoffer om ons gewete te reinig van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien”.

Ons gewete is nou gereinig van dooie werke om die lewende God te dien

Hierdie gawe van ’n rein gewete is van onskatbare waarde vir ons diens aan God.  Dit is die basis vir ons vertroue in God, ons verbintenis aan Hom en die vrymoedigheid waarmee ons met Hom ’n pad kan stap in ons geestelike lewe.  Die skrywer sal in hfst. 10:19 verder daarop uitbrei.

Hier volg nou ietsie meer oor die rol van die gewete

Ons lees op verskeie plekke dat ’n mens se gewete ’n rol speel in jou onderskeiding van wat God se wil is of wat die regte ding is om te doen.  Die gewete kan jou aankla of verontskuldig , soos Paulus in sy brief aan die Romeine skryf (Rom. 2:15).  Hy leer daar dat die gewete, in samewerking met die hart en die gedagtes, sy krag kry uit die ingebore wet van God wat selfs in ongelowiges sy rol speel (Rom. 2:12-16). 

Wanneer jy in ooreenstemming met God se wil optree, bevestig jou gewete dit.  Wanneer jy dit nie doen nie, kla jou gewete jou aan, en het jy, by wyse van spreke, ’n slegte gewete.  Met die gewete kan jy dus God se wil onderskei al dan nie (Rom. 2:17-24).  Saam met jou hart en gedagtes, is die gewete ’n uitstekende instrument van onderskeiding.

Dit is iets waarvan ons reeds in die OT van kennis neem, hoewel daar nie ’n spesifieke woord daarvoor gebruik is nie.  Ons lees bv. van Dawid wat Saul se mantelpunt afsny in die grot, maar dan deur sy hart (in die betekenis van gewete) gepla word (1 Sam. 24:6), sy manskappe keer om teen Saul op te tree, en besluit om sy hand nie aan die gesalfde van die Here te slaan nie.  Sy gewete lei hom dus om reg teenoor sy medemens op te tree.  Dieselfde gebeur met Dawid in terme van sy verhouding met die Here wanneer hy die volk laat tel, maar dan weer deur sy hart (gewete) gepla word (2 Sam 24:10).  Dit lei hom tot ’n belydenis teenoor die Here waarna hy ook die oordeel van die Here kan aanvaar.

Ons lees op verskeie plekke in die NT nog dieper van die rol wat die gewete in die onderskeiding van wat belangrik is, speel.  Paulus maak in sy gesprek met die Sanhedrin, die Joodse Raad, aanspraak daarop dat hy met ’n absoluut skoon gewete voor God leef (Hand. 23:1; vgl. 2 Tim. 1:3 en ook Hebr. 13:18).  Hy herhaal dit in sy antwoord op die Joodse klagtes voor die prokurator Festus dat hy sy uiterste bes doen om sy gewete in alle opsigte skoon te hou voor God en voor die mense (Hand. 24:16). 

En hy raai die gemeente in Rome aan om onderdanig te wees aan die reëls van die owerheid (belastings, tolgeld) sowel as om aan hulle die respek wat hulle toekom, te betoon (ontsag, eer) ter wille van die gewete (Rom. 13:1-7; vgl. ook 1 Pet. 3:16).  Trouens, dit is wat die liefde van ons vra, om aan niemand iets verskuldig te wees nie, en die riglyne van die wet na te kom teenoor mekaar, want die liefde is die vervulling van die wet (Rom. 13:8-14).  Só beklee jy jouself al meer met Christus sodat jy nie meer voorsiening maak vir jou sondige natuur om sy drange te bevredig nie.

Daarom skryf Paulus in sy tweede brief aan die Korintiërs dat die getuienis van hulle gewete is dat hulle teenoor die Korintiërs in opregtheid en met die eerlikheid opgetree het wat van God af kom (2 Kor. 1:12-2:4).  Hulle het sorg gedra dat hulle nie maar deur menslike wysheid optree nie, maar deur die genade van God, sodat hulle lewens op die fondament van Christus gebou sou wees.  Daarvan getuig hulle gewetens as hulle oor hulle bediening in die gemeente nadink.  En hy wil hê dat dieselfde waarheid ook in hulle gewetens geëggo word (2 Kor. 5:11).

Trouens, Paulus maak staat daarop dat mense deur Paulus-hulle se bediening in hulle gewetens aangespreek word deur die waarheid van die evangelie (2 Kor. 4:1-7).  Die hoop is dat die waarheid van Christus ’n impak op die gewete van elke mens sal maak sodat die lig van die evangelie mense se oë vir Hom sal oopmaak.

Dit is egter nodig dat die gewete van die gelowige deur die Heilige Gees gelei word (Rom. 9:1).  Dit doen die Gees onder andere op twee maniere, soos Paulus dit in sy brief aan die Korinte uitspel.  Hy doen dit deur die regte kennis van God se wil sowel as deur die liefde (1 Kor. 8:1-13).  Die regte kennis maak die gewete sterk, anders bly dit swak en vatbaar vir besoedeling. Die deernis van die liefde dien weer die belange van dié wie se gewete swak is en keer dat ’n mens verwaand raak deur al jou kennis.

Paulus illustreer dit aan die Korintiërs met die eet van afgodsoffers al dan nie.  Aan die eenkant, sê Paulus, is dit só dat daar eintlik geen afgod in die wêreld is nie, want daar is net Een God.  Selfs al is daar sogenaamde gode in die oë van mense, is daar vir ons eintlik net Een, as ’n mens regtig diep daaroor nadink.  Ons kan ons gewete dus gerusstel en vry van enige vrees vir afgode leef.  Hulle hoef ons op geen manier aan bande te lê nie.  Ons kan enigiets eet.

Maar, aan die ander kant, omdat almal nie dié kennis het nie, sê Paulus, besoedel hulle hul gewete as hulle afgodsvleis eet.  Daarom kan die eet van afgodsvleis vir hulle ’n struikelblok word as hulle dié wat sterk in hulle gewete is, gevoed deur die regte kennis, sien afgodsvleis eet.  Dan moet die liefde egter inskop en raai Paulus die gelowiges met ’n sterk gewete aan om nie afgodsvleis te eet nie sodat hulle nie sondig teen die swakkes, hulle swak gewetens gekrenk word en hulle struikel nie.  Die regte kennis moet ons dus nie verwaand maak en onsensitief laat optree teenoor die swakkes nie. 

Paulus gaan verder om dié tipe Christelike vryheid te beskryf (1 Kor. 10:23-11:1).  Aan die eenkant hoef ’n mens jou nie te steur aan afgodsvleis nie en dit eet sonder om vrae te vra ter wille van die gewete.  Alles behoort immers aan die Here, ook dié vleis.  Maar, aan die ander kant, as ’n ander gelowige beswaard is daaroor, moet jy die vleis nie eet nie, ter wille van die ander se gewete.  Jou vryheid moet nie ’n struikelblok word vir ander nie.  Dit is hoe die Here dit gedoen het, en ons moet sy navolgers wees, sê Paulus.

Dit beteken egter nou weer nie dat die regte leerstellings oor dié dinge verdoesel of geïgnoreer mag word nie.  Daarom gee Paulus aan Timoteus die opdrag om mense wat verkeerde leringe versprei, te beveel om dit nie te doen nie, omdat dit God se plan met hulle en die wêreld in die wiele kan ry.  “Die doel van die opdrag is liefde uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en ’n ongeveinsde geloof.” (1 Tim. 1:3-7).  Só kan Timoteus sorg dat hy die goeie stryd kan stry: “met geloof en ’n goeie gewete”, iets wat sommige mense versaak het, en waardeur hulle geloof skipbreuk gely het (1 Tim. 1:18-20). 

Aan die geheimenis van die geloof moet dus met ’n skoon gewete vasgehou word (1 Tim. 3:9) sonder om toe te gee aan vreemde leerstellings wat onder andere mense verbied om te trou en allerlei dieetreëls as evangelie aan mense voorhou.  Sulke mense is vals en word deur Paulus as mense met toegeskroeide gewetens  beskryf (1 Tim. 4:1-4; vgl. Tit. 2:15).

Ook die apostel Johannes skryf oor die rol van die gewete en verbind dit baie spesifiek aan die feit dat ons met die daad moet liefhê, nie net met woord nie, d.w.s. “ten volle”!  In 1 Joh. 3:18-24 gebruik hy eintlik die Griekse woord hart, maar dit is uit die konteks duidelik dat dit hier om daardie aspek van ons innerlike gaan wat ons van skuld of onskuld oortuig, naamlik ons gewete.  Dit dra dieselfde betekenis as in die Psalms waar onder andere die Hebreeuse woorde hart (vgl. Ps. 51:12: “Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste”) en niere in dieselfde betekenis gebruik word (vgl. Ps. 16:7: “Ek sal die Here prys wat my raad gegee het, ja, snags spoor my niere [gewete] my aan.”). 

Wanneer ons dus inderdaad ander met die daad liefhet: “sal ons weet dat ons uit die waarheid kom en met ’n geruste gewete voor God kan staan.”  Dan kan ons met vrymoedigheid van God vra en ontvang, “omdat ons sy opdragte gehoorsaam en doen wat vir Hom aangenaam is.”  En selfs as ons steeds bewus bly van ons swakhede, “wanneer ons gewete ons aankla,” kan ons troos vind in die feit dat God groter is as ons gewete en alles weet.

’n Skoon gewete help ons om God met vrymoedigheid te dien

Die skrywer aan die Hebreërs leer ons dus in dié gedeelte – en dit is goed om die res van die Bybel se getuienis oor die rol van die gewete in gedagte te hou – dat die gewete nie deur offers gereinig kan  word nie.  Dit kan net deur die bloed van Christus gereinig word (Hebr. 10:22). 

As ons ’n skoon gewete het voor God, sê Hebreërs, help dit ons om ’n vrymoedige verhouding met Hom te handhaaf.  In ons verhouding met God is dit ’n onontbeerlike aspek van ons geestelike lewe, want vrymoedigheid teenoor God stel ons in staat om “met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete en ons liggame gewas met skoon water,” voor God in die heiligdom te verskyn en Hom te dien (Hebr. 10:19-25).  ’n Skoon gewete stel ons dus in staat om God se teenwoordigheid te geniet en met vertroue op sy beloftes staat te maak.

Dit is egter ook belangrik om te onthou dat die gewete nie volledig op sy eie kan funksioneer nie.  Dit moet deur ervaring geoefen word, soos die skrywer aan die Hebreërs al in hfst. 5:14 geskryf het: “vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te onderskei tussen goed en kwaad.

9:15-22 – Jesus is nou ’n Middelaar van ’n nuwe verbond

Daarom kan Jesus dié wat geroep is die belofte van die ewige erfenis gee.  Sy dood het dié testamentêre bemaking bekragtig.  Soos Moses die wetboek met bloed besprinkel het om die bepalinge daarin van krag vir die volk te maak, só het Christus die beloftes van God bekragtig deur die offer van sy eie bloed.  Hy het dus die onvervreembare reg om vir elkeen van ons wat in Hom glo, die ewige lewe te gee.  Hy kán tussen ons en God staan en ons aan mekaar verbind, presies wat ’n Middelaar doen.

Boodskap en betekenis

Dit is interessant dat die apostel Petrus die reiniging van die gewete aan die doop verbind in 1 Pet. 3:21 en die doop “as ’n gebedsversoek tot God om ’n skoon gewete op grond van die opstanding van Jesus Christus”, beskryf.  Soos Maarten Luther gesê het:

There is no greater weapon for the troubled conscience than one’s Baptism.  We must humbly admit, ‘I know full well I cannot do a single thing that is pure, But I am baptized and through my Baptism God, who cannot lie, has bound Himself in a covenant with me. He will not count my sin against me, but will blot it out’” (Luther’s Works, Vol 29, bl. 36).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: