Skip to main content

PSALM 22:1-15

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 22:1-15

1Vir die musiekleier. Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. ‘n Psalm. Van Dawid.

2My God, my God,

waarom het U my verlaat?

Waarom is U ver daarvan

om my te verlos,

ver van die woorde

wat ek uitskreeu?

3My God, ek roep bedags,

maar U antwoord nie,

ook snags,

maar daar is geen rus vir my nie.

4U is tog die •Heilige,

U heers waar die lofliedere

van Israel opklink.

5Op U het ons voorouers vertrou,

hulle het vertrou

en U het hulle bevry.

6Tot U het hulle om hulp geroep

en hulle het ontvlug;

op U het hulle vertrou

en hulle het nie beskaamd gestaan nie.

7Maar ek is ‘n wurm en nie ‘n mens nie,

bespot deur die mense,

verag deur die volk.

8Almal wat my sien,

dryf met my die spot;

hulle gryns en skud die kop:

9“Wend jou tot die Here!” en

“Laat Hy hom bevry,

laat Hy hom red

as Hy hom goedgesind is!”

10U is immers die Een wat my

uit die baarmoeder gehaal het,

my op die borste

van my moeder laat vertrou het.

11Op U is ek aangewese

van die moederskoot af;

van my geboorte af is U my God.

12Moenie ver van my bly nie,

want die nood is naby;

daar is immers niemand wat help nie!

13Baie bulle het my omsingel;

die sterkes van Basan het my vasgekeer.

14Hulle het hulle monde

teen my oopgesper

soos ‘n leeu wat verskeur en brul.

15Soos water is ek uitgestort,

my hele gebeente val uitmekaar;

my hart het geword soos was,

dit het in my liggaam gesmelt.

16My krag het uitgedroog

soos ‘n potskerf,

en my tong kleef

aan my verhemelte;

in die stof van die dood laat U my lê.

17Inderdaad, honde het my omsingel.

‘n Bende kwaaddoeners het my omring;

hulle het my hande en my voete

deurboor.

18Ek kan al my bene tel.

Hulle staar my aan met leedvermaak.

19Hulle verdeel my klere

onder mekaar,

en hulle loot oor my boklere.

20U, Here, moet tog nie

ver van my bly nie;

my bron van krag,

kom my gou te hulp.

21Red tog my lewe van die swaard,

my enigste lewe uit die mag

van die honde.

22Red my uit die bek van die leeu,

en van die horings van buffels.

U het my geantwoord.

23Ek wil u Naam verkondig

aan my •broers;

in die byeenkoms wil ek U loof:

24“Julle wat vir die Here

ontsag het, loof Hom!

Julle, die ganse nageslag

van Jakob, vereer Hom!

Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!

25Want Hy het die lyding

van die magtelose

nie geminag of misken nie;

Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie;

maar toe hy Hom om hulp gesmeek het,

het Hy gehoor.”

26U is die rede vir my lofprysing

in ‘n groot byeenkoms;

my geloftes sal ek nakom

in die teenwoordigheid

van dié wat vir Hom ontsag het.

27Die verdruktes kan dan eet

en versadig word;

wie Hom raadpleeg,

kan die Here loof.

Mag julle harte vir altyd leef!

28Almal tot aan die uithoeke

van die aarde

moet daaraan dink

en hulle tot die Here bekeer.

Al die familiegroepe van die nasies

moet voor U in aanbidding buig;

29want aan die Here

behoort die koningskap,

en Hy heers oor die nasies.

30Ja, voor Hom sal almal

wat oordadig leef,

in aanbidding neerbuig;

voor Hom sal alle sterflinge kniel,

elkeen wat nie die lewe kan behou nie.

31‘n Nageslag sal Hom dien;

hulle sal van my Heer vertel

aan die volgende geslag.

32Hulle sal kom en sy geregtigheid

bekend maak aan mense

wat nog gebore moet word:

Hy het dit gedoen.

Teks en konteks

Psalm 22 – My God, my God, waarom het U my verlaat?

Dit is moeilik om dié Psalm te lees, sonder om die lyding, kruisiging en opstanding van Jesus so duidelik hierin te hoor. En natuurlik is dit ‘n Messiaanse Psalm wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar dan vergeet ons te maklik dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het.

Dit is ook ’n lied wat in die liturgie van die geloofsgemeenskap gebruik is (vers 23), spesifiek by die offermaaltyd (vers 26-27) waartydens ook na die armes omgesien is (vgl 1 Kor 11 waar dieselfde sentimente gegeld het vir die nagmaal, dat vir die armes omgegee is).

Die Psalm begin met die diep en donker klag van Dawid dat hy deur God self verlaat voel (vers 2–3). Hy kan dit nie klein kry dat hy bid, en daar is geen antwoord nie, selfs nie as hy dag en nag daarmee volhard nie.

Dié klag word opgevolg deur ’n belydenis van vertroue, gebou op sy ervarings van die verlede, dat God teenwoordig is waar Sy lof besing word, en dat Hy Hom op soveel wyses al in die verlede bewys het vir die verbondsvolk (vers 4–6).

Daarna beskryf Dawid sy lyding, nie net in sy eie ervaring van minderwaardigheid nie: “ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie”, maar ook in terme van hoe mense hom laat voel met hulle spot en venyn (vers 7–9).

Maar sy diepste krisis is eintlik dat sy verhouding met God só anders was in die verlede. Van sy geboorte af was hy in God se sorg (vers 10–11) en hy kan nie anders as om sy lot te bekla voor dié God en om hulp te smeek nie (vers 12).

In pynlike metafore beskryf hy sy smart en lyding, waarin ‘n mens natuurlik nie anders kan as om die kruisigingstoneel van Jesus te herken nie … maar probeer om dit eers net met Dawid te verbind (vers 13-19). Die vyande is soos ‘n trop beeste wat hom toestaan. Soos ‘n trop oop-bek leeus storm hulle op hom af. Hy is soos uitgestorte water wat in die sand verdwyn, sy bene val uitmekaar, sy hart smelt weg uit sy binneste, sy tong kleef aan sy verhemelte … hy is soos iemand wat dood is. Soos ‘n trop honde omsingel hulle hom, en soos ‘n trop misdadigers sak hulle op hom toe.

Maar weereens is sy grootste klag dat in hierdie onhoudbare lyding, hy die ervaring van God se teenwoordigheid verloor het, en vra hy dat God hom sal red, van die honde, die leeus en die wilde beeste (vers 20–22a). Uitnemende digwerk!

En dan kom die wending in die Psalm met die belydenis dat die Here sy gebed verhoor het (22b). En is Dawid se eerste reaksie om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het (vers 23).

Maar dié oproep slaan gou oor in ‘n oproep tot die geloofsgemeenskap om saam met hom die Here te loof (vers 24–27). Wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is. Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie; Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie.

En dan breek die universele boodskap hiervan deur, dat dié God regoor die wêreld geëer sal word, gerugsteun deur die getuienis van sy mense van geslag tot geslag. En in eskatologiese taal word uitgesien na dié dag wat selfs die rykes sal aansit by God se maaltyd, trouens alle mense, selfs al is hulle sterflik en verganklik (vers 28-32).

Boodskap en betekenis

Mensig! Dit is ’n Psalm dié! Van die beste digkuns ooit! En die vergesigte van Dawid, wat die grense van sy eie beperktheid en dié van sy geloofsgemeenskap, trouens van sy volk en tyd oorspoel … Joe, dit maak my opgewonde!

Maar, terug by die Psalm, Messiaans is die Psalm wel. En dit is verstommend om in die verloop van die Psalm eintlik die hele evangelie van Jesus Christus te hoor, selfs die verwagting van die universele impak van Sy boodskap. Lees weer vers 13-19 asof dit deur Jesus aan die kruis gesê is, en aanbid Hom vir die pyn wat Hy bereid was om vir ons te vat …

Terloops: die keuse om die Psalm op die wysie: “Die wildsbok van die daeraad” te sing, wys waarskynlik daarop dat geestelike liedere soms op gewone wysies gesing is.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar