LUKAS 24:36b-48

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

LUKAS 24:36b-48

36 En terwyl hulle hierdie dinge meedeel,

het Hy tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle.”

37 En hulle was verskrik en vreesbevange, en het gedink dat hulle ’n gees sien.

38 En Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle verskrik en hoekom kom daar twyfel op in julle hart?

39 Kyk na my hande en my voete, dat dit Ek self is; raak aan My en kyk, want ’n gees het nie vleis en bene soos julle sien Ek het nie.”

40 En nadat Hy dit gesê het, het Hy vir hulle sy hande en voete gewys.

41 Maar aangesien hulle van vreugde steeds nie kon glo nie en verwonderd was, het Hy vir hulle gesê: “Het julle iets hier om te eet?”

42 En hulle het vir Hom ’n stuk gebraaide vis gegee;

43 en Hy het dit gevat en voor hulle geëet.

44 En Hy het vir hulle gesê: “Hierdie is my woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog saam met julle was, dat alles vervul moet word wat oor My geskryf staan in die wet van Moses en in die profete en psalms.”

45 Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan;

46 en Hy het vir hulle gesê: “So staan dit geskrywe dat die Christus moet ly en op die derde dag opstaan uit die dood,

47 en dat in sy Naam bekering tot vergifnis van sondes verkondig moet word aan al die nasies. Deur te begin vanaf Jerusalem

48 is julle getuies van hierdie dinge.

49 En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader oor julle. Maar julle moet in die stad bly totdat julle beklee is met krag uit die hoogte.”

50 En Hy het hulle na buite uitgelei tot by Betanië, en nadat Hy sy hande opgelig het, het Hy hulle geseën.

51 En dit het gebeur terwyl Hy hulle seën dat Hy van hulle af vertrek het en opgeneem is in die hemel.

52 En hulle het Hom aanbid en met groot blydskap teruggekeer na Jerusalem,

53 en hulle was deurentyd in die tempel besig om God te prys. (ASV)

Teks en konteks

Lukas vertel die opstandingsverhaal in vier dele:

  • Die leë graf – Lukas 24:1-12
  • Die Emmausgangers – Lukas 24:13-35
  • Jesus se verskyning aan die dissipels – Lukas 24:36-49
  • Jesus se hemelvaart – Lukas 24:50-53

Lukas lê eers, in die eerste deel, sterk klem op die leë graf wat deur die vroue en Petrus besoek is. Net soos dit vir hom belangrik was om Jesus se onskuld voor die verskillende howe in Jerusalem, die godsdienstige (Joodse Raad), die koninklike (Herodes) en die politieke (Pilatus) howe, te beklemtoon, só beklemtoon hy die onweerlegbare werklikheid van die leë graf. Die twee engele bevestig daarby Jesus se opstanding en noem Hom die Lewende. Jesus het liggaamlik opgestaan, sê Lukas, soos Hyself dit vele kere vir die dissipels herhaal het, hoewel hulle dit moeilik kon glo.

Hy bevestig dan, in die tweede deel, die opstanding van Jesus ook deur die verhaal van die Emmausgangers, Kleopas en moontlik sy vrou Maria (Joh 19:25), wie se oë oopgaan met Jesus se seënbede aan tafel en die breek van die brood.

Hierdie twee kon natuurlik nie alles vir hulleself hou nie, en gaan direk terug na Jerusalem – 12 km van Emmaus af – en getuig van Jesus se werklike fisiese opstanding tot almal se groot blydskap.

Maar die verhaal oor Jesus se verskyning word dan in die derde deel, ons teksgedeelte, opgevolg deur ’n egte ervaring van sy opstanding deur die dissipels.  Met sy vredesgroet bevestig Jesus sy werklike fisiese opstanding deur hulle uit te nooi om aan Hom te vat en saam met hulle te eet.

Let op hoe Jesus hulle vrees, verskrikking en twyfel beantwoord met sy groet van vrede en die werklikheid van sy fisiese teenwoordigheid. Hulle vrees gaan oor in vreugde, maar tog kon hulle steeds nie hulle oë glo nie van verwondering. Daarop reageer Jesus deur ‘n stuk gebraaide vis by hulle te neem en voor hulle te eet.

Maar, dit is nie al nie. Die skuif van vrees na vreugde, omdat Jesus werklik in hulle midde is, neem hulle ook net so ver. Hulle moet van vreugde na vertroue skuif, en dié skuif kom wanneer Jesus hulle ervaring van sy opstanding begrond in sy eie vroeëre woorde, en nog verder terug, in die Skrifte self, die woorde wat oor Jesus geskryf staan in die wet van Moses en in die profete en psalms.

Dit is wanneer ‘n mens ‘n verband kan trek tussen jou ervaring en God se openbaring in die Skrif dat die vertroue in God ‘n vaste werklikheid raak in jou binnekant. En let op dat Jesus van die hele Ou Testament praat, “die Skrifte”.

Jesus noem die bekende drie-deling van die OT, die TeNaK, soos die Jode dit genoem het: die Tôrah, die Nevi’îm, en die Ketivîm, of te wel: die wet van Moses (die eerste vyf boeke, die Pentateug), die profete (wat die historiese boeke soos Josua, Samuel, Konings, en Kronieke insluit), en die Geskrifte (waarvan Jesus hier die Psalms as verteenwoordiger noem, maar wat ook die wysheidsliteratuur insluit).

Dit is waarom Jesus hulle verstand open om die Skrifte te verstaan. Soos Hy dit met die Emmausgangers gedoen het. Dit is wanneer jy die verband kan lê tussen die Skrifte se voorspelling van die Christus wat moet ly en op die derde dag moet opstaan uit die dood, wat jy die werklikheid van die leë graf en sy verskyning na waarde kan skat. En jy van vrees na vreugde en uiteindelik na vertroue kan beweeg.

Die oomblik toe hulle dié verband snap, gee Jesus vir hulle die boodskap om in sy Naam bekering tot vergifnis van sondes te gaan verkondig aan al die nasies. En hulle moet dit nie net in Jerusalem doen nie, maar tot aan die einde van die wêreld, soos Lukas vir ons in Handelinge verder sal vertel.

Die dissipels is nou getuies van hierdie dinge – die vervulling van die Skrifte in die dood en opstanding van die Here Jesus Christus. Hulle het nou die opdrag om vir almal te gaan vertel.

Want, dit is net mense wat dít van die Skrif glo, wat die boodskap van Jesus ook sal gaan vertel vir ander, soos Hy inderdaad die opdrag gee. Daarvoor het hulle egter die Heilige Gees nodig, van wie se uitstorting Handelinge ons sal vertel.

In die laaste en vierde deel van Lukas se opstandingsverhaal, lei Jesus die dissipels uit die stad uit – 40 dae na sy opstanding (Hand 1:3) – en word in die hemel opgeneem.  Die dissipels gaan vol blydskap terug na Jerusalem in afwagting van die uitstorting van die Heilige Gees.

Interessant, soos Lukas die evangelie in die tempel begin het, so eindig hy dit met die dissipels wat God in die tempel prys. Handelinge sal ook met die tempel begin, maar eindig in die huise van gelowiges, want dit is waarheen die Heilige Gees hierna die kerk begelei.

Boodskap en betekenis

Dit is helder en duidelik uit hierdie gedeelte dat die boodskap van die opstanding net betekenis sal hê vir iemand wie se verstand geopen is om die verband te lê tussen wat God skriftelik aan ons geopenbaar het en wat in die lewe van Jesus gebeur het. Dit is net wanneer ons die bril van die Skrif opsit dat ons die leë graf, die fisiese opstanding van Jesus, die werklikheid van sy teenwoordigheid, en sy opdrag om getuies te wees, regtig kan verstaan.

Dit is ook net diegene wat die Skrif na waarde skat wat uiteindelik gehoorsaam kan wees aan die boodskap daarvan. Geen wonder dat die leiers van die Hervorming soveel klem gelê het op ‘n leer en lewe wat op die Skrif alleen gebaseer is nie. Dit is nodig dat ons vandag ook weer hierdie woorde van Jesus oor die Skrif na waarde skat en besluit om net aan die Woord gehoorsaam te wees, kom wat wil.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: