Skip to main content

PSALM 89:20-38

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 89:20-37

20 U het destyds in ‘n visioen 

‘n belofte gemaak 

aan u getroue volgelinge.

U het gesê: 

“Ek het hulp verleen aan ‘n held, 

Ek het ‘n jong man uit die volk verhoog. 

21 Ek het Dawid, my dienskneg, gevind; 

met my heilige olie het Ek hom gesalf, 

22 hom by wie my hand 

bestendig sal wees; 

ja, my arm sal hom sterk maak. 

23 Vyande sal hom nie onverhoeds 

betrap o nie, 

en skurke sal hom nie verdruk nie. 

24 Sy teenstanders sal Ek 

voor hom verpletter, 

en sy haters sal Ek platslaan. 

25 My getrouheid en troue liefde 

sal met hom wees, 

en in my Naam sal hy sterk word.

26 Ek sal sy hand op die see lê, 

op die riviere sy regterhand. 

27 Hy, hy sal my aanroep, 

‘U is my Vader, my God, 

en die rots wat my verlos.’ 

28 Ek sal hom dan eersgeborene maak, 

die hoogste van die konings 

van die aarde. 

29 Vir altyd sal Ek vir hom 

my troue liefde handhaaf; 

en my verbond sal bestendig 

wees vir hom. 

30 Ek sal sy nageslag vir altyd vestig, 

en sy troon, 

solank as die hemel bestaan. 

31 “As sy seuns van my wet afwyk, 

volgens my beslissings nie leef nie; 

32 as hulle my vaste voorskrifte 

ontheilig, 

my bevele nie nakom nie, 

33 sal Ek hulle oortreding 

met slae straf 

en hulle sondeskuld met houe. 

34 Maar my troue liefde 

sal Ek nie aan hom onttrek nie, 

en Ek sal nie my trou verloën nie. 

35 Ek sal my verbond nie skend nie 

en wat oor my lippe gegaan het, 

nie verander nie. 

36 Vir eens en vir altyd het Ek 

by my heiligheid gesweer; 

Ek sal nie vir Dawid lieg nie: 

37 Sy nageslag sal altyd daar wees 

en sy troon soos die son voor My, 

38 soos die maan wat altyd standhou – 

‘n betroubare getuie 

aan die hemelruim.” Sela (2020-vertaling).

Teks en konteks

Die laaste Psalm in die 3de Psalmboek, Psalm 89,  begin met die wonderlike uitkoms wat God gee, wat eintlik ’n noodsaaklike boodskap is ná die donkerte van Psalm 88. Tog vra die Psalm ook of ’n mens altyd kan staatmaak daarop, veral wanneer dit lyk asof God in sy toorn sy verbond nie in ag neem nie (vers 39 en verder). ’n Situasie waarmee menige van ons kan identifiseer.

Die Psalm word toegeskryf aan Etan, soos Heman, ‘n Esragiet.  Hy was ook een van vier bekende wyses in Israel wie se wysheid egter deur Salomo oortref is (1 Kon. 4:31). Etan en Heman was nakomelinge van Serag uit die stam van Juda (1 Kron. 2:6), vandaar die naam Esragiet (nakomeling van Serag).  Hy moet onderskei word van die ander Etan, wat ook Jedutan genoem word, en saam met Asaf en Heman in die tyd van Dawid as tempelsangers opgetree het (1 Kron. 6:33).

In die eerste deel van die Psalm – vers 2-19 – God word geloof vir sy liefde en trou wat vir altyd standhou beide in die hemel as op die aarde (vgl. die Ons Vader gebed oor God se wil)

Die Psalmis wy daarna uit – vers 20-38 – oor al die beloftes wat die Here aan Dawid gemaak het, van die bystand aan ’n dapper jong man wat gelei het tot die salwing as koning tot die ondersteuning in die talle oorloë waarin hy betrokke was.  Daarin was God se trou en liefde by hom.  Deur God se krag het hy oorwin.

God se verbond met hom staan vas.  Dawid sal God aanroep as Vader en God sal hom eerste stel (vers 28).  Vir altyd sal God sy trou handhaaf teenoor hom, want God se verbond met hom staan vas (vers 29).  Dit sluit in dat hy altyd nakomelinge sal hê en dat sy troon sal vasstaan solank as wat daar ’n hemel is (vers 30).

Tog beteken dit nie dat die nasate van Dawid hiermee ’n blanko tjek kry tot seën onafhanklik van hulle gehoorsaamheid aan die Here nie. Nee die Psalmis is duidelik daaroor dat as die volk nie handel volgens God se woord nie, nie lewe volgens sy bepalinge nie, sy voorskrifte verontagsaam, sy gebooie nie nakom nie, sal Hy hulle straf (vers 31-33).

Maar, my liefde sal Ek van hom nie terughou nie, my trou nie verbreek nie.” (vers 34).  God se verbond sal nie verbreek word nie. God se beloftes sal nie teruggehou word nie – spesifiek die beloftes van ’n nageslag om op sy troon te sit (vers 36-37).  En die permanensie daarvan word aan die bestaan van die son en die maan sowel as die hemel gekoppel (vers 38-39).

In die laaste deel van die Psalm – vers 39-53 – vra die Psalmis: “Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here?” (vers 47).  Daarom bid die Psalmis dat God aan hulle sal dink, verpersoonlik in die gestalte van sy gesalfde en nie vyande die oorhand laat kry nie: “Die mense … is u vyande, Here.” (vers 52)

Boodskap en betekenis

God se liefdesdade is ’n sterk getuienis daarvan dat Hy sy beloftes waar maak.  Die vraag is egter of dié beloftes in alle omstandighede waar gemaak kan of sal word.  Wat gebeur as die nageslag nie meer die Here dien nie?  Kan God dan ook nog sy beloftes waarmaak, dié beloftes wat hy aan die voorgeslagte gegee het?  Meer spesifiek, kan Israel staatmaak op voorkeur behandeling omdat God ’n verbond met hulle stamvader Dawid gesluit het?  En wat van ons?

Ons is geneig om ’n meer wit-swart oordeel te fel – reg of weg.  Die Psalmis weet egter dat só ’n aanpak altyd sal lei tot ’n verwerping.  Daarom pleit hy eintlik vir die onmoontlike hoop, dat God se liefde sy oordeel sal troef en daaroor sal triomfeer.  Dit is die gebed wat ons kan aangryp en vir onsself en vir ons mense kan bid.  Die hoop op God se onverdiende guns alleen.

En die bloed het op Golgota geloop om dít vir ons almal reg te kry … daarin lê ons verlossing.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…