JOHANNES 18:1-19:42

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 18:1-19:42

Dit is die dag voor Goeie Vrydag. Lees vandag die hele kruisigingsverhaal van tien episodes soos Johannes dit vir ons vertel. Ek gee ‘n bietjie kommentaar tussen-in.

Van Getsemane tot Gabbata

Die verhaal van die tuin in Getsemane tot by die regterstoel van Pilatus in Gabatta net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.

JOHANNES 18:1-11

1 Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels uitgegaan oorkant die winterstroom, die Kedron, waar daar ’n tuin was, waarin Hy self en sy dissipels ingegaan het.

2 En Judas, wat Hom sou verraai, het ook die plek geken omdat Jesus dikwels daar met sy dissipels saamgekom het.

3 Nadat Judas die afdeling soldate en dienaars van die leierpriesters en die Fariseërs geneem het, kom hy daar met fakkels en lampe en wapens.

4 Aangesien Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uitgegaan en vir hulle gesê: “Wie soek julle?”

5 Hulle het Hom geantwoord: “Jesus die Nasarener.” Hy sê vir hulle: “Dit is Ek.” En Judas wat Hom sou verraai, het ook by hulle gestaan.

6 Toe Hy dan vir hulle gesê het: “Dit is Ek,” het hulle teruggedeins en op die grond geval.

7 Hy het toe weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” en hulle het gesê: “Jesus die Nasarener.”

8 Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat húlle toe om weg te gaan,”

9 sodat die woord waar sou word wat Hy gesê het: “Ek het niemand van hulle wat U My gegee het, verloor nie.”

10 Simon Petrus wat ’n swaard gehad het, het dit toe getrek en die slaaf van die hoëpriester getref en sy regteroor afgekap; en die naam van die slaaf was Malgus.

11 Jesus het toe vir Petrus gesê: “Sit die swaard in sy skede; sal Ek die beker wat die Vader vir My gegee het, dan werklik nie drink nie?”

Kommentaar

Let op dat Jesus nie terugdeins vir die inhegtenisneming nie, en Homself identifiseer aan die soldate en wagte.  Sy beheer van die situasie blyk ook uit die toegestane versoek dat die dissipels nie ook gevange geneem sal word nie.

Hy kies dus om dié roete van die kruis te volg, en nie met geweld die koninkryk van God te  vestig nie.  Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig.  Hy moet die lydensbeker drink – dit is sy opdrag en daaraan wil Hy gehoorsaam wees.

Let ook op hoe beide Judas en Petrus steeds ’n prominente rol speel soos in hoofstuk 13.  Judas verraai Jesus, en verwerp daarmee die genade.  Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ’n verkeerde manier. 

JOHANNES 18:12-14

12 Die afdeling soldate, die bevelvoerder en die dienaars van die Jode het Jesus toe gevange geneem en Hom geboei

13 en eers na Annas toe gelei; hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was.

14 Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf.

Kommentaar

Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester en skoonpa van die huidige hoëpriester Kajafas.  Hy was ’n besondere invloedryke man wat ook 5 seuns gehad het wat almal op ’n stadium hoëpriester was.

JOHANNES 18:15-18

15 En Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was goed bekend aan die hoëpriester en het saam met Jesus in die binnehof van die hoëpriester ingegaan,

16 maar Petrus het buite by die deur gestaan. Die ander dissipel wat goed bekend was aan die hoëpriester het toe uitgegaan en met die deurwag gepraat en Petrus ingebring.

17 Die diensmeisie, die deurwag, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie man nie?” Hy sê vir haar: “Ek is nie.”

18 En die slawe en die dienaars – nadat hulle ’n koolvuur gemaak het omdat dit koud was – het gestaan en hulle warm gemaak; en Petrus het ook by hulle gestaan en hom warm gemaak.

Kommentaar

Petrus en Johannes (die “ander dissipel”) gaan agter Jesus aan, maar Petrus verloën Jesus dan wanneer die deurwagter diensmeisie hom konfronteer by die vuurtjie.

JOHANNES 18:19-24

19 Die hoëpriester het Jesus toe gevra oor sy dissipels en oor sy leer.

20 Jesus het hom geantwoord: “Ek het openlik met die wêreld gepraat, Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaarkom, en Ek het niks in die geheim gesê nie.

21 Waarom vra jy My? Vra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het; kyk, hulle weet wat Ek gesê het.”

22 En toe Hy dit gesê het, het een van die dienaars wat daarby gestaan het, vir Jesus ’n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23 Jesus het hom geantwoord: “As Ek verkeerd gepraat het, gee bewys van die verkeerde; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24 Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoëpriester, toe gestuur.

Kommentaar

Dit is waarskynlik steeds Annas wat Jesus ondervra oor sy leer (vgl vers 24).  Jesus verwys hom egter net na dié wat sy lering al tevore gehoor het, onder ander natuurlik Nikodemus, en wil niks meer daarby voeg nie.  Let op hoe Jesus die onregverdige hou van die wag hanteer – hy slaan nie terug nie, maar vra na die logika daaragter en stel so die onreg daarvan bloot.

JOHANNES 18:25-27

25 En Simon Petrus het gestaan en hom warm gemaak. Hulle het toe vir hom gesê: “Jy is tog nie ook een van die dissipels van hom nie?” Hy het dit ontken en gesê: “Ek is nie.”

26 Een van die slawe van die hoëpriester, wat familie was van hom wie se oor Petrus afgekap het, sê: “Het ek jou nie in die tuin saam met hom gesien nie?”

27 Weer het Petrus dit ontken, en dadelik het ’n haan gekraai.

Kommentaar

Petrus verloën Jesus nog twee keer teenoor mense wat saam met hom hulself warmmaak by die vuurtjie, waarvan die laaste een familie was van Malgus, en in die tuin teenwoordig was met Jesus se inhegtenisneming.

JOHANNES 18:28-40

28 Hulle lei toe vir Jesus van Kajafas af na die goewerneurswoning toe; en dit was vroeg in die môre; en hulle het nie in die goewerneurswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie, maar die Pasga kon eet.

29 Pilatus het toe buitentoe uitgegaan na hulle toe en gesê: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30 Hulle het geantwoord en vir hom gesê: “As hy nie ’n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan jou oorhandig het nie.”

31 Pilatus het toe vir hulle gesê: “Neem julle hom en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode het vir hom gesê: “Dit is nie vir ons toelaatbaar om iemand dood te maak nie,”

32 sodat die woord van Jesus waar sou word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het watter soort dood Hy sou sterf.

33 Pilatus het toe weer in die goewerneurswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die koning van die Jode?”

34 Jesus het geantwoord: “Sê jy dit uit jou eie of het ander dit vir jou oor My gesê?”

35 Pilatus het geantwoord: “Ek is tog nie ’n Jood nie? Jou volk en die leierpriesters het jou aan my oorhandig. Wat het jy gedoen?”

36 Jesus het geantwoord: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie; maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37 Pilatus het toe vir Hom gesê: “Is jy dan tog ’n koning?” Jesus het geantwoord: “Jy sê dat Ek ’n koning is. Ek is hiervoor gebore en Ek het hiervoor na die wêreld gekom, sodat Ek oor die waarheid kan getuig; elkeen wat van die waarheid is, luister na my stem.”

38 Pilatus sê vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer uitgegaan na die Jode toe en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.

39 Maar dit is julle gebruik dat ek vir julle een persoon tydens die Pasga loslaat; wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode moet loslaat?” 40 Hulle het toe weer almal geskreeu en gesê: “Nie vir hóm nie, maar Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Kommentaar

Die verskyning voor Kajafas word nie vertel nie, wel die volgende verskyning voor Pilatus die Romeinse goewerneur van 26-36 nC.  Let op hoe skynheilig die Jode optree – hulle gee nie om om iemand ter dood ter veroordeel nie, maar is wel bekommerd dat hulle onrein sal word as hulle die ampswoning sou betree wat dan sou beteken hulle dan nie die paasmaaltyd kon eet en vir 7 dae nie aan die Paasfees kon deelneem nie.

Pilatus vra uit oor die aanklag, soos die wet vereis, maar kry nie baie detail by die Jode nie, net ’n verdediging van hulle optrede.  Uit Jesus se skrapse antwoorde kan Pilatus ook nie sin maak nie, hoewel dit vir die ingeligte leser duidelik blyk dat Jesus ’n sinopsis gee van sy bediening, soos Johannes in die proloog (Joh 1:1-14) al bekend gemaak het.  Hy praat oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie, van die waarheid waarvan Hy kom getuig het, dat Hy van God af gekom het, en dat almal wat aan die waarheid behoort (onthou Jesus is self die Waarheid!) sal luister na wat Hy sê.

Pilatus vind – soos te verwagte – geen skuld in Jesus nie.  Maar, sy oordeel laat hom liederlik in die steek.  Hy wil nie moeilikheid van die Jode af hê nie, wat die gramskap van Rome sou kon ontlok, en kies om hulle tevrede te probeer stel, deur hulle ’n keuse tussen Barabbas, ’n bewese misdadiger, en Jesus te gee.  Hy meen dat hy ’n uitweg vir homself gekry het uit die dilemma met hierdie troefkaart.  Pilatus se keuse boemerang egter lelik deurdat die Jode kies om Barabbas los te laat word en nie Jesus nie.   Dit beteken dat die tafel gedek is vir die kruisiging.  Die Jode se keuse vir Jesus bevestig egter ook hulle eie misdadigheid.

Watter opeenstapeling van verspilde kanse.  Judas verspeel sy kans op inkeer.  Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.  Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee.  En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen.  Hy gaan nie die verraaier teë nie.  Hy dwing die Jode nie tot verering nie.  Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie.  Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.

Van Gabbata tot Golgota

In vier bedrywe word die kruisigingsverhaal vertel:

  • Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – 19:1-16;
  • Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – 19:17-27;
  • Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – 19:28-37;
  • Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – 19:38-42.

JOHANNES 19:1-16

1 Daarom het Pilatus Jesus toe geneem en Hom laat gésel.

2 En nadat die soldate ’n kroon uit dorings gevleg het, het hulle dit op sy kop gesit en Hom ’n pers mantel aangetrek

3 en hulle het herhaaldelik na Hom gekom en gesê: “Wees gegroet, koning van die Jode!”; en hulle het Hom herhaaldelik geklap.

4 En Pilatus het weer buitentoe uitgegaan en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5 Jesus het toe uitgegaan buitentoe terwyl Hy die doringkroon en die pers mantel dra. En hy sê vir hulle: “Kyk die mens.”

6 Maar toe die leierpriesters en die dienaars Hom gesien het, het hulle geskreeu en gesê: “Kruisig hom, kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Neem julle hom en kruisig hom, want ek vind nie skuld in hom nie.”

7 Die Jode het hom geantwoord: “Ons het ’n wet en volgens die wet behoort hy te sterf omdat hy homself voorgedoen het as Seun van God.”

8 Toe Pilatus egter hierdie woord gehoor het, het hy nog banger geword,

9 en hy het weer in die goewerneurswoning ingegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is jy?” Maar Jesus het hom nie ’n antwoord gegee nie.

10 Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek mag het om jou los te laat en mag het om jou te kruisig nie?”

11 Jesus het hom geantwoord: “Jy sou geen mag oor My gehad het, indien dit nie van bo vir jou gegee was nie; daarom het hy wat My aan jou oorgegee het, groter sonde.”

12 Hieroor het Pilatus probeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu en gesê: “As jy hom loslaat, is jy nie ’n vriend van die keiser nie; elkeen wat homself as koning voordoen, opponeer die keiser.”

13 Toe Pilatus dus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en gaan sit op die regterstoel op die plek wat Klipplaveisel genoem word, in Hebreeus Gabbata.

14 En dit was voorbereiding vir die Pasga; dit was ongeveer die sesde uur (Ongeveer twaalfuur die middag). En hy sê vir die Jode: “Kyk, julle koning!”

15 Toe het hulle geskreeu: “Vat hom weg, vat hom weg, kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie ’n koning behalwe die keiser nie.”

16 Daarom het hy Hom toe oorgegee aan hulle sodat Hy gekruisig kon word.

Kommentaar

Jesus moet die pyn van die kruisigingsproses deurstaan (die geseling was met ’n sweep wat uit ’n klomp rieme bestaan het, waaraan stukkies been en metaal vasgewerk is), sowel as die ekstra vernedering van die doringkroon en die pers mantel met die soldate wat met Sy koningskap spot.  Hy kies ook om nie Pilatus se onskuldigbevinding en duidelike ongemaklikheid met die situasie uit te buit tot sy voordeel.  Die uitlewering van ’n onskuldige Jesus aan die Jode is eintlik ’n verkragting van die Romeinse regstelsel.  Selfs wanneer Pilatus egter bang raak vir die dreigemente van die Jode, en dit duidelik blyk dat hy ’n manier soek om Jesus los te laat, staan Jesus nie die boosheid van die Jode en die wispelturigheid van Pilatus teë nie.

Wat ’n mens dus raaksien tussen die weifelende maar ook strategiese Pilatus (sy amnestie prosedure met Barabbas het nie gewerk nie, nou probeer hy lyfstraf om hulle simpatie met Jesus te probeer ontlok, wat ook nie werk nie) en die moorddadige skynheilige Jode, is ’n kalm roepingsbewuste Jesus wat die rol wat God Hom gegee het, tot die einde toe speel.  Dít is waarvoor Hy na die wêreld gekom het – om sy lewe te gee vir sy skape, dié wat in Hom glo – en dít is waarvoor Hy Homself nou oorgee.  Let op, Hy wys Pilatus (en voor dit ook die Jode) op die betekenis van wat hulle doen, maar Hy keer hulle nie om hulle planne en keuses uit te voer nie.

En hoe verskriklik klink die woorde van die Jode nie: “Ons het nie ’n koning nie, ons het net die keiser.”  En daarmee voltrek hulle ook die oordeel oor hulleself, want hulle verwerp dié
Een wat vir hulle die lewe kon gee (soos Israel destyds in Samuel se tyd – 1 Sam 8:7).

Terloops: Johannes gebruik waarskynlik die Romeinse stelsel om na die ure te verwys, soos hy dit op ander plekke ook doen (Joh 1:39; 4:6). Die Romeine het die “burgerlike” ure getel vanaf middernag tot middernag soos ons dit bv by Gaius Plinius Secundus in sy Natural History uit die 1ste eeu lees . Die sesde uur in Johannes 19:14 is dus 06:00 die Vrydagoggend. ‘n Mens moet dit onderskei van die ander evangelies wat die Joodse stelsel gebruik het om na die ure te verwys. Hulle het die ure getel van die oggend 06:00 af. In Markus 15:25 verwys Markus na die derde uur as die tydstip van die kruisiging, dws 09:00 die Vrydagoggend. In Lukas 23:44, Markus 15:33 en Matteus 27:45 gebruik hulle almal ook die Joodse manier waar hulle van die duisternis praat wat op die sesde uur oor die aarde gekom het, dws 12:00 die Vrydagmiddag.

JOHANNES 19:17-27

Hulle het Jesus toe saamgeneem,

17 en terwyl Hy sy kruis dra, het Hy uitgegaan na wat genoem word Plek van die Skedel, wat in Hebreeus genoem word Golgota,

18 waar hulle Hom gekruisig het, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel.

19 En Pilatus het ook ’n opskrif laat skryf en dit op die kruis laat sit; en daar was geskryf: Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.

20 Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is naby die stad was; en dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks.

21 Die leierpriesters van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: Die koning van die Jode nie, maar dat hy gesê het: Ek is die koning van die Jode.”

22 Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

23 Die soldate het Jesus toe gekruisig, sy bo-kleed gevat en in vier dele verdeel, ’n deel vir elke soldaat; en die onderkleed. Maar die onderkleed was sonder naat, van bo af as ’n geheel geweef.

24 Hulle het dus vir mekaar gesê: “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp wie s’n dit sal wees;” sodat die Skrif waar sou word wat sê:

“Hulle het my klere

onder mekaar verdeel

en oor my klere

die lot gewerp.” (Ps 22:19)

Die soldate het dit dan gedoen.

25 Maar sy moeder, asook die suster van sy moeder, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena het by die kruis van Jesus gestaan.

26 Toe Jesus dan sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het wat daar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, daar is jou seun.”

27 Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” En van daardie uur af het die dissipel haar in sy eie huis geneem.

Kommentaar

Die reis van Gabbata na Golgota begin.  Dit is ’n reis vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe.  Die een kies om sy lewe te behou, en sal dit verloor.  Die Ander kies om sy lewe te gee, en sal dit uiteindelik behou.

Die moordenaars wat langs Jesus gekruisig is, word wel genoem, maar Johannes kies om nie meer detail oor hulle te vertel nie.  Ironies genoeg verklaar die opskrif oor Jesus presies wie Hy in werklikheid is, al het Pilatus min daarvan besef.

Die vier soldate se verdeling van sy klere word deur Johannes as vervulling van Ps 22:19 beskou, ’n Psalm waarin ’n hele paar Messiaanse betekenisse gehoor kan word. Ironies genoeg staan daar ook vier vroue – saam met Johannes – by die kruis: 1 Maria, Jesus se ma, 2) haar suster (waarskynlik Salomé – Mark 15:40), 3) Maria, die vrou van Klopas (waarskynlik dieselfde persoon as Kleopas waarvan ons in Luk 24 lees), en 4) Maria Magdalena (van Magdala), dié een wat die voorreg sou hê om die eerste die leë graf te beleef (hfst. 20).

Let op in hoe ’n kontras Johannes Jesus teenoor Pilatus plaas.  Pilatus het uit vrees opgetree en Jesus onskuldig laat sterwe.  Jesus het uit liefde opgetree en hier in sy sterwensuur nog ’n liefdesdaad vir sy ma verrig, deur haar aan Johannes toe te vertrou – die eerste kruiswoord waarvan Johannes ons vertel.

JOHANNES 19:28-37

28 Hierna, aangesien Jesus geweet het dat alles reeds voltooi is, sodat die Skrif waar sou word, sê Hy: “Ek is dors.” (Ps 22:15-16; 69:22)

29 ’n Kan vol suur wyn het daar gestaan; nadat hulle ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit het, het hulle dit na sy mond gebring.

30 Toe Jesus dan die suur wyn geneem het, het Hy gesê: “Dit is afgehandel,” en nadat Hy sy kop gebuig het, het Hy die gees oorgegee.

31 Die Jode dan – aangesien dit voorbereiding was, sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie, want daardie Sabbat was belangrik – het vir Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem mag word.

32 Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig is,

33 maar toe hulle by Jesus gekom het, het hulle gesien dat Hy reeds dood is en nie sy bene gebreek nie,

34 maar een van die soldate het met ’n spies sy sy gesteek, en dadelik het bloed en water uitgekom.

35 En hy wat dit gesien het, het dit bevestig, en sy getuienis is waar, en hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo.

36 Want dit het gebeur sodat die Skrif waar kon word: “Nie ’n been van Hom sal gebreek word nie.” (Eks 12:46; Num 9:12; Ps 34:21)

37 En ’n ander Skrif sê weer: “Hulle sal kyk na Hom wat hulle gesteek het.” (Sag 12:10)

Kommentaar

Dit bly moeilik om oor Jesus se dood te skrywe – al besef ’n mens dat Hy dit gekies het, dat God Hom daarvoor gestuur het, en dat dit die lewe vir my en duisende ander beteken het. 

Die twee kruiswoorde wat Johannes beskryf vat egter vir my op pynlik-inspirerende wyse vas wat hier gebeur. 

  • Jesus is volledig mens wat pyn en lyding ervaar presies soos wat ek dit doen: “Ek is dors” (’n aanhaling uit Ps 69:22 wat hier ’n Messiaanse betekenis kry).  En ten spyte van sy dors volhard Hy onwrikbaar op die lydenspad.
  • En met ’n laaste woord voltooi Hy sy missie en lewensroeping: “Dit is volbring”.  Hy het die wenstreep behaal en die geloof behou.

Die gebruik was om gekruisigdes se bene te breek om die dood te verhaas. Anders kon gekruisigdes vir ’n paar dae lank so lank as moontlik probeer regop staan om die dreigende versmoring (long- en hartversaking) as hulle aan hulle arms sou hang, te vermy.  Vir Jesus was dit egter nie nodig nie, omdat Hy Homself aan die kruisdood oorgegee het en reeds dood was.  Johannes verbind dit aan Ps 34:21 (hy sou ook na Eks 12:46; Num 9:12 kon verwys waar die Paaslam se bene ook nie gebreek is nie) en haal ook Sag 12:10 aan wat van die “deurboring”  praat, soos die soldate dit inderdaad uitgevoer het.

JOHANNES 19:38-42

38 En hierna het Josef van Arimatea, wat in die geheim, uit vrees vir die Jode, ’n dissipel van Jesus was, Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem; en Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gekom en sy liggaam weggeneem.

39 En Nikodemus het ook gekom, hy wat die eerste maal in die nag na Hom gekom het, en ’n mengsel van mirre en aalwyn gebring, so honderd litras (Ongeveer 30 liter).

40 Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met linnedoeke toegebind saam met geurmiddels, soos dit die gebruik van die Jode is om vir ’n begrafnis voor te berei.

41 En daar was in die plek waar Hy gekruisig is, ’n tuin, en in die tuin was ’n nuwe graf waarin nog nooit iemand neergelê is nie;

42 daar het hulle Jesus toe neergelê, vanweë die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.

Kommentaar

Josef van Arimatea en Nikodemus, die twee geheime dissipels, vra vir Jesus se liggaam en begrawe Hom in ’n tuin naby aan Golgota teen die aand van die Vrydag, Goeie Vrydag.

Ons het baie voorbeelde van helde wat volhard het met hulle opdragte of enduit volgehou het met ’n spesifieke lewenstaak.  Maar daar is niemand wat meer gedoen het as Jesus nie, veral as ’n mens die blote vernedering van menswees vir God, en die afgryslike vernedering van ’n onskuldige kruisdood in ag neem.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: