Skip to main content

MARKUS 8:31-9:1

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 8:31-9:1

31 Toe het Hy begin om hulle te leer dat die Seun van die mens baie moet ly en dat Hy deur die oudstes en die leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak moet word en na drie dae opstaan. 32 En Hy het reguit daaroor gepraat. Toe het Petrus Hom eenkant toe geneem en begin om Hom te vermaan. 33 Hy het egter omgedraai en na sy dissipels gekyk en Petrus vermaan en gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense.”

34 En Hy het die skare saam met sy dissipels nadergeroep en vir hulle gesê: “As iemand My wil volg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 35 Want wie ook al sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie ook al sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. 36 Want watter voordeel hou dit vir ’n mens in om die hele wêreld as wins te verkry, maar sy lewe te verloor? 37 Want wat sou ’n mens kon gee in ruil vir sy lewe?  38 Want wie ook al hom skaam vir My en my woorde in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy saam met sy heilige engele in die heerlikheid van sy Vader kom.” 9:1 En Hy het vir hulle gesê: “Amen, Ek sê vir julle: Daar is sommige van hulle wat hier staan wat beslis nie die dood sal smaak totdat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie.” (ASV)

Teks en konteks

8:31 Markus vertel ons ook van die wending wat in die verhaal intree na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus. Die dissipels het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as die Lydende Messias leer ken (vgl Jes 52-53), dat Hy deur die gemeenskap, die kerk, en die teoloë verwerp moet word. Hulle sal Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy opstaan.

Op ‘n ander plek sê Markus egter dat Jesus “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58). Ek sal later meer aandag hieraan gee, maar dit is duidelik uit die wyse waarop in daardie tyd na dae verwys is, dat ‘n deel van ‘n dag ook as ‘n dag getel het. Joodse dae is immers van sononder tot sononder getel wat ‘n vloeibaarheid in die verwysing na ‘n dag tot gevolg gehad het. Daarom kon Markus sê “na drie dae” en “binne drie dae”. Dit het vir hom dieselfde betekenis gehad.

8:32 Jesus het hierdie aankondiging gemaak sonder om enige doekies om te draai. Dit word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en vermaan Hom.  Petrus se woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie.

8:33 Jesus het egter skerp op dié vermaning gereageer, want die een ding wat ‘n mens nie kan bekostig op ‘n lydenspad is dat iemand jou ‘n kortpad daaruit probeer wys nie. Hy vermaan Petrus verder in die teenwoordigheid van al sy dissipels, omdat dit ‘n ernstige waarskuwing aan hulle ook is.

Let op hoe skerp Jesus Petrus aanspreek. Hy spreek Hom as Teenstander, dws Satan, aan. Iemand wat nie die dinge van God bedink nie, maar dié van die mense. Hy wys uit in hoe ‘n groot kontras hierdie optrede van Petrus is met sy pas afgelope belydenis dat Jesus die Christus is. Daarom sê Hy, “Gaan weg agter My, Satan!”

8:34 Jesus gaan voort om die dissipels dieper in te lei oor die betekenis van sy Messiasskap. Soos Hy ‘n Lydende Messias is, só sal van hulle ook gevra word om alles prys te gee om Jesus te volg. Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig. Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie, hoewel dit martelaarskap kan insluit) en navolging. 

8:35-37 Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou.  Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe nie.

8:38 Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaamkoppel: Wie Hom nou skaam vir Jesus se woorde tussen owerspelige en sondige mense, vir Hom sal die Seun van die mens hom dan skaam tussen die heilige engele wanneer Jesus terugkeer in die heerlikheid van sy Vader.

Owerspelig word hier gebruik in ‘n figuurlike sin vir iemand wat nie getrou bly aan die ware geloof nie, die geloof soos dit deur God aan ons oorgelewer is. Sondig beteken hier om ongehoorsaam aan God se wil en wet op te tree. Die punt wat Jesus maak, is dat sy dissipels ‘n keuse sal moet maak of hulle aan sy wil en woorde in hierdie lewe gehoorsaam gaan lewe óf aan die wêreld se wil en woorde. Die keuse sal hulle lot beseël by die wederkoms.

9:1 Jesus sluit die lering af met die verklaring dat baie van dié wat daar staan, in hulle lewe die koninkryk van God met krag sal sien kom.  Dit verwys heel waarskynlik na die opstanding uit die dood, wat nie vir almal beskore was om te sien nie (Rom 1:4; Hand 10:41). Judas sou bv selfmoord pleeg vóór Jesus se opstanding.

Boodskap en betekenis

Ons het ‘n ingebore weerstand teen lyding, veral as ons dit as onregverdig en onvanpas beskou. Jesus leer ons hier egter dat dissipelskap lyding inhou, en dat die taak van dié wat saam met ons die pad stap, nie is om ons te help om die lyding te vermy nie, maar om die lyding te kan dra.

Dit is immers hoe God lyding in die lewe van Jesus gebruik het. Hy het gehoorsaamheid aan God geleer uit die dinge wat Hy gely het (Hebr 5:8). As lyding dus noodsaaklik was vir Jesus, hoeveel te meer nie ook vir ons nie.

Ignatius, ‘n biskop van Antiogië in die begin van die tweede eeu n C, het dit goed besef. Hy was op pad na Rome.  Hy was ter dood veroordeel weens sy geloof in Christus.  Op pad deur Turkye word hy besoek deur gelowiges uit Rome wat hulle invloed wou gebruik om hom van sy vonnis te onthef.

Sy hele lewe het hy geleef vir die Here Jesus, het hy Hom aanbid, en hy was gereed om sy getuienis met sy lewe te beseël.  Daarom het hy nie gedink dat die Romeinse Christene hom ‘n guns sou bewys nie.  Inteendeel.  Dit sou hom verhinder om Jesus te volg tot die einde toe.

Daarom skryf hy in sy brief aan die Christene in Rome, interessant genoeg uit die stad Smirna, hedendaagse Izmir, waar ons gemeente, Somerstrand, se sendelinge, Gerrit en Sonja Brink, op ‘n tyd gedien het, die volgende aangrypende woorde: 

“I fear your kindness, which may harm me.  You may be able to achieve what you plan.  But if you pay no heed to my request it will be very difficult for me to attain unto God.”

Al wat hy wil hê van sy mede Christene is dat hulle sal bid dat hy getrou bly, met sy hele hart, aan die pad wat die Here vir hom gegee het:

“If you remain silent about me, I shall become a word of God.  But if you allow yourselves to be swayed by the love in which you hold my flesh, I shall again be no more than a human voice.” (Letter from Ignatius, Romans 1,2-2.1)

Geen wonder dat Ignatius bekend geword het as die “Draer van God” en dat die legende ontstaan het dat hy die jong kind was wat Jesus gebruik het om te illustreer hoe ‘n mens die koninkryk van die hemele binnegaan (Matt 18:1-5).

Jesus spel dissipelskap dus hier uit as ‘n bereidheid om sy wil en woorde te volg ten spyte van die teenstand wat mens in die wêreld sal ervaar. Dit sal selfverloëning, kruis dra en gehoorsaamheid vra. Dit vra ‘n groot offer, maar die verlies in die ewigheid as Jesus Hom vir jou gaan skaam, sal baie groter wees as dit wat jy hier kan ly.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…