Skip to main content

EFESIËRS 2:1-10

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

EFESIËRS 2:1-10

In Christus van die dood na die lewe 

2:1 Julle was dood deur die oortredings en sondes 2 waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. 3 Ons almal het vantevore soos hulle opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel. 4-5 Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! 6 Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, 7 sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. 9 Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. 10 Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Paulus skryf sy brief aan die gemeente in Efese tydens sy gevangenskap in Rome in die vroeë sestiger jare nC, net na hy ‘n soortgelyke brief aan die gemeente in Kolosse geskryf het. Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

“Julle was dood …”

“Julle was dood …” Dit is die beskrywing van mense wat geleef het volgens die bose lewenswyse van hierdie wêreld. Dit is die beskrywing van mense wat die heerser van hierdie wêreld dien, die gees wat nou aan die werk is in die wêreld. Dit is die beskrywing van mense wat “kinders was van die ongehoorsaamheid”.

Paulus draai dus geen doekies om oor wie die mense van Efese was nie. Hulle was vasgevang in die begeertes van hulle sondige aard. Hulle het eenvoudig die sondige aard van hulle gedagtes uitgeleef.

Maar, dit het ook beteken dat hulle kinders was van die toorn. God se toorn het op hulle gerus. Trouens, Paulus self was uiters godsdienstig, maar self ‘n kind van die toorn van God, omdat Hy nie die verlossing in Christus Jesus aanvaar het nie. Hy was ‘n vervolger van Jesus en sy dissipels tot op daardie dag op die pad na Damaskus wat Jesus hom met homself gekonfronteer het en sy lewe gered het.

Daarom kan hy sê, ons almal het destyds so opgetree, volgens ons sondige aard, volgens ons sondige gedagtes. Ons het almal het nodig gehad dat God ons verlos van ons sonde. In sy groot liefde het Hy ons lewend gemaak in Christus. Hy het ons gered van ons sondige aard. Hy het ons gered van ons sondige gedagtes. Hy het ons deur sy genade verlos, sodat ons nie langer kinders van die ongehoorsaamheid sou wees nie, maar kinders van God.

Watter vreugde dat hulle nou die vryheid van Christus kan ervaar. Skoongewas deur sy bloed. Sonder enige skuld van die sonde. Vry om God te dien in die goeie werke wat Hy vir ons voorberei het.

Maar, hoekom herinner Paulus hulle hieraan? Hoekom herinner hy hulle aan hoe hulle was – kinders van die ongehoorsaamheid, kinders van die toorn van God?

Omdat hulle telkens die gevaar geloop het om opgeslurp te word deur die kultuur van die dag. Om te vergeet dat hulle uit ‘n dodelike situasie gered is en weer verlief kan raak vir hulle sondige aard en vir hulle sondige gedagtes.

Die kinders van die ongehoorsaamheid en die kinders van God

Dit is waarom Paulus hulle herinner aan wie hulle was, en wie hulle nou in Christus is. Daar is ‘n diep kontras tussen mense wat leef volgens die waardes en beginsels van die gees van hierdie wêreld, die duiwel, en die waardes en beginsels van die Gees van God.

  • Die gees van die wêreld lei ons om ongehoorsaam aan God te wees. Om te wees soos al die ander kinders van die ongehoorsaamheid. Die Gees van God lei ons om aan sy Woord gehoorsaam te wees. Om te leef as die maaksel van God, as sy nuwe skepsels.
  • Die gees van die wêreld lei ons om net te doen waartoe ons sondige aard en ons begeertes ons lei en wat in ons gedagtes opkom. Die Gees van God lei ons om ons sondige aard te kruisig, en ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het.

Daar is ook ‘n diep kontras in die uitkoms van ‘n lewe wat in ongehoorsaamheid gelewe word, en ‘n lewe wat juis in alles gehoorsaam aan God wil lewe.

  • Die toekoms van dié wat die pad van die gees van die wêreld volg, is die ewige dood. Die toekoms van dié wat die pad van die Gees van God volg, is die ewige lewe.
  • Die pad van die gees van die wêreld gee ons ‘n plek in die hel, die straf wat God gee aan dié wat aan Hom ongehoorsaam is – die kinders van die toorn. Die pad van die Gees van God gee ons ‘n plek in die hemel, die genade wat God gee aan dié wat aan Hom gehoorsaam is – die kinders van die genade.

Dit is waarom Paulus hulle herinner aan wie hulle was, en wie God hulle gemaak het, want dit is lewensbelangrik dat hulle vasstaan in die lewe van gehoorsaamheid. Dat hulle nie van koers af gaan. Dat hulle nie terugval in hulle sondige aard, hulle sondige begeertes, hulle sondige gedagtes nie.

En ons maak dié keuse nie net eenmaal nie. Ons maak dié keuse elke dag. Om óf ons begeertes en ons gedagtes te volg, soos die gees van die wêreld ons lei. Of om die Woord van die Here te gehoorsaam, soos die Gees van die Here ons lei.

Dit beteken dat jou geestelike lewe nooit aan die gang sal kom sonder dat jy lewend gemaak is in Christus nie. Sonder Hom sal jy nooit oorwinning oor sondige begeertes en gedagtes ervaar nie.

Ons is God se handewerk

Maar, dit is ook maar net die begin van die reis met God. Iets waaraan ons van tyd tot tyd herinner moet word, maar waarby ons nie kan stilstaan nie. Want, Hy verlos ons om in ons ‘n proses te begin van vernuwing sodat ons werklik sy handewerk, sy meesterstuk, sal word.

Dit is wat ons lees in vers 10. ’n Mens kan vers 10 ook soos volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”

Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe. Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie. Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.

Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4:34).

Boodskap en betekenis

Paulus herinner ons hier aan twee dinge. Ons is God se maaksel, ons is kinders van God. Ons is nie kinders van die ongehoorsaamheid nie. Ons durf nie terugval in gewoontes wat ons in ongehoorsaamheid sal laat verval nie.

Maar, dit is maar net die begin. Ons is God se maaksel, sy meesterstuk. Geskape vir die uitnemende projekte wat Hy deur ons wil uitvoer in hierdie lewe. Ons is geskep vir die goeie werke wat God deur ons wil doen.

Vind uit in sy Woord deur gebed wat dit hierdie week / maand / jaar vir jou gaan inhou. En leef as God se handewerk.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.