2 KORINTIËRS 5:6-10 (11-13), 14-17

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 KORINTIËRS 5:6-10 (11-13), 14-17

1 Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het wat van God kom, ‘n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. 2 En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word. 3 As ons net nie ontklee en nakend gevind sal word nie! 4 Want ons wat nog in die tentwoning is, sug as mense wat swaarkry, omdat ons nie ontklee nie, maar geklee wil word; sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5 Hy wat ons juis hiervoor voorberei het, is God, wat aan ons die Gees as waarborg gegee het.

6 Daarom is ons altyd vol moed, al weet ons dat, terwyl ons nog in die aardse liggaam woon, ons nie by die Here woon nie; 7 want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie. 8 Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon. 9 Daarom, of ons reeds inwoon, of nog nie inwoon nie, streef ons daarna om vir Hom welgevallig te wees. 10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was. 

Bediening van versoening 

11 Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig. Maar by God is ons deeglik bekend, en ek hoop om ook in julle gewete so bekend te wees. 12 Ons is nie weer besig om onsself by julle aan te beveel nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teen dié wat hulle op die uiterlike voorkoms beroem, en nie op wat in die hart is nie. 13 As ons buite onsself is, is dit vir God; as ons by ons verstand is, is dit vir julle.

14 Die liefde van Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; 15 en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek 16 Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.

18 En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. 19 Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. 20 Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! 21 Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Paulus sit sy beskrywing van die evangelie en die impak daarvan in ons lewe voort deur te fokus op Christene as nuwe mense of skeppings van God wat die bediening van die versoening ontvang het en nou God se gesante of ambassadeurs is.

Hy doen dit teen die agtergrond van sy teenstanders wat beswaar maak teen sy bediening. Sommige skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Praat nou van ‘n “catch 22” situasie!

Hy antwoord daarop deur te wys dat innerlike bedoelings belangriker is as uiterlike prestasies, hoewel daar darem ook baie van sy prestasies is waarop hulle trots sou kon wees. Dit is die liefde van Christus wat hom dring – en nie die oorweging van geldmaak wat by sy teenstanders die hoofmotivering was nie (2 Kor. 2:17).

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar.

Maar let op:

  • dit is God se program van versoening waarby Paulus-hulle inskakel – en dit is ook hoe ons die taak van versoening moet behartig, as medewerkers van God, as sy ambassadeurs;
  • dit is bedoel vir die hele wêreld, en moet deur ons na almal geneem word.

Daarmee deel Christene reeds in die nuwe skepping wat God gaan bring, en is eintlik ook reeds nuwe skepsels of skeppinge van God (2 Kor 5:17) deur hulle verhouding met Christus. Daarom kyk ons ook nou na mekaar uit die hoek van ons Christenskap en die waarde van ons lewe vir die koninkryk en nie meer uit die hoek van ons menslike eienskappe en prestasies en die waarde vir hierdie lewe nie.

Paulus spel dan in die res van die hoofstuk die praktiese implikasies hiervan uit. Hierdie genade van God, die aanbod van die versoening, is so ‘n groot gawe dat dit omhels moet word, anders kan dit heeltemal verniet wees.

Boodskap en betekenis

Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe, dws: al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10).

Dit is die paradoks van die Christelike bediening – die dood van die bedienaar is die lewe van die wat bedien word. Hy stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees (vers 8), want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.   

Soos Chrisostomus, die groot prediker van Antiogië, later hieroor sou skryf: “Just as what brings heat makes things expand, so it is the gift of love to stretch hearts wide open; it is a warm and glowing virtue.” (Concerning the Statues 13.1-2) Dit was Jesus se dryfveer … dit was Paulus se dryfveer … en dit is die enigste dryfveer wat ook ons lewens moet rig – die liefde vir God en vir ons naaste.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: