2 SAMUEL 1:1, 17-27

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 SAMUEL 1:1, 17-27

Ek plaas die hele hoofstuk 1 hier ter wille van konteks.

Berig oor Saul en Jonatan se dood 

1 Ná die dood van Saul het Dawid teruggekom van sy oorwinning oor die Amalekiete. Dawid het twee dae lank in Siklag gebly.

2 Op die derde dag kom daar onverwags ‘n man van Saul af, van die leër af. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid aankom, het hy op die grond neergeval en diep neergebuig. 3 Dawid vra hom toe: “Waar kom jy vandaan?” Hy het geantwoord: “Van die leër van Israel af – ek het ontvlug.” 4 Dawid sê vir hom: “Wat het gebeur? Vertel my, asseblief!” Hy sê toe dat die manskappe uit die geveg gevlug het, dat ook baie van die manskappe geval en gesterf het, en dat selfs Saul en sy seun Jonatan dood is. 5 Dawid vra toe vir die jong man wat die berig vir hom bring: “Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?” 6 Die jong man sê toe: “Ek was heel toevallig op die berg van Gilboa, en sowaar, daar leun Saul op sy vegspies, terwyl die strydwaens en die perderuiters al op hom is! 7 Toe hy omdraai en my sien, roep hy na my. Ek het geantwoord, ‘Ek is tot u diens!’ 8 Hy vra my toe, ‘Wie is jy?’ En ek antwoord hom, ‘Ek is ‘n Amalekiet.’ 9 Toe sê hy vir my, ‘Kom staan tog hier by my en maak my dood, want ‘n duiseligheid oorval my, al is daar nog lewe in my.’ 10 Ek het by hom gaan staan en hom doodgemaak, want ek het geweet dat hy nie sou leef as hy eers geval het nie. Ek het die kroon wat op sy kop was en die armband wat aan sy arm was, geneem, en dit hierheen vir my heer gebring.” 11 Dawid het sy klere gegryp en dit geskeur; so ook al die manne wat by hom was. 12 Hulle het gerou en gehuil, en tot die aand gevas oor Saul en sy seun Jonatan, en oor die manskappe van die Here en die huis van Israel, omdat hulle deur die swaard geval het. 13 Dawid het vir die jong man wat die berig vir hom gebring het, gevra: “Waar is jy vandaan?” Hy het gesê: “Ek is die seun van ‘n vreemdeling , ‘n Amalekiet.” 14 Daarop sê Dawid vir hom: “Hoe is dit dan dat jy nie eers bang was om jou hand uit te steek en die gesalfde van die Here te vernietig nie?” 15 Dawid roep toe een van die jong manne en sê: “Kom hier! Val hom aan!” Hy het toe die man neergevel, en hy het gesterf. 16 Dawid het nog vir die Amalekiet gesê: “Jou bloed is op jou kop, want jou eie mond het teen jou getuig toe jy gesê het, ‘Ek het self die gesalfde van die Here doodgemaak.’” 

Dawid se treurlied oor Saul en Jonatan 

17 Daarna het Dawid hierdie treurlied gesing oor Saul en sy seun Jonatan. 18 Hy het die nageslag van Juda aangesê om dit, Die Booglied, te leer. Kyk, dit staan geskryf in die Boekrol van die Opregte.

19 “Die uitnemendste, o Israel, lê deurboor op jou hoogtes. Hoe het die helde geval! 

20 “Maak dit nie in Gat bekend nie, versprei die nuus nie in die strate van Askelon nie; anders verheug die dogters van die Filistyne hulle, anders jubel die dogters van die onbesnedenes.

21 “Berge by Gilboa, mag daar geen dou, geen reën op julle val nie, mag daar nie landerye wees wat wydingsgeskenke lewer nie. Want daar is die skilde van helde besoedel, die skild van Saul, sonder dat dit gesalf is met olie.

22 “Vir die bloed van gesneuweldes, vir die vet van helde, het die boog van Jonatan nooit teruggedeins nie; die swaard van Saul het nooit leeg teruggekeer nie. 

23 “Saul en Jonatan, geliefd en innemend, is in lewe en dood nie geskei nie. Hulle was vinniger as arende, sterker as leeus. 

24 “Dogters van Israel, huil oor Saul, hy wat julle in karmosynrooi geklee, met juwele versier het, wat julle klere met goue juwele getooi het. 

25 “Hoe het die helde geval midde in die stryd! Jonatan is op jou hoogtes deurboor. 

26 Ek is terneergedruk oor jou, Jonatan, my broer. Jy was baie dierbaar vir my. Wonderlik was jou liefde vir my, nog meer as die liefde van vroue. 

27 “Hoe het die helde geval, en is die oorlogswapens verloor!” (2020-vertaling).

Teks en konteks

Dit tref my in hoofstuk 1 dat Dawid so geroer is deur die dood van Saul. Oor Jonatan kan ek dit verstaan. Hulle was baie lief vir mekaar. Maar oor Saul, die een wat verantwoordelik was vir soveel van Dawid se ontberinge? Dit is merkwaardig.

Die verklaring lê in Dawid se beskrywing van Saul as die gesalfde van die Here, soos hy dit vroeër ook al gedoen hett. Sy respek vir die amp van Saul is dus ten diepste respek vir die Here. En dié grens sou hy nooit oorsteek nie, om die reg in eie hande te neem, die gesalfde van die Here te vernietig, selfs al bedreig die einste gesalfde Dawid se lewe.

Dat die Amalekiet dit moet ontgeld, is grusaam, maar tekenend van Dawid se integriteit en lojaliteit. Niemand mag hulle hand aan die lewe van die gesalfde van die Here slaan nie. Selfs nie aan sy familie nie, sal ons later in hoofstuk 4 sal lees. Die jongman se weergawe verskil ook van die ander berig oor die geveg (1 Sam 31), so Dawid was moontlik in elk geval suspisieus dat die man sy aandeel in die dood van Saul vergroot om ‘n beloning van Dawid te kry.

Dawid bewys sy goeie gesindheid teenoor Saul se familie deur later Mefiboset, seun van Jonatan in sy sorg te neem (hoofstuk 9), hoewel daar egter nog later ook die grusame verhaal van die seuns van Rispa en Merab sou kom (hoofstuk 21).

Dawid treur in sy treffende klaaglied roerend oor die verwoesting van die trots van Israel, Saul en Jonatan. Drie keer verwoord hy sy pyn met die frase: hoe het die helde geval. Veral oor Jonatan, die een na aan Dawid se hart, is sy hartseer groot.

Dawid sing dié lied dus met ‘n waarderende gesindheid. Hy verlekker hom nie in die ongeluk wat Saul oor sy swakhede en booshede getref het nie, maar laat die volk die goeie oor Saul en Jonatan onthou.

Interessant dat die lied in die Boek van die Opregte opgeteken is (vgl ook Jos 10:13) en aan die volk geleer is. Dit is een van die boeke waaruit die verhale in die OT opgeteken is, maar wat in die loop van die geskiedenis verlore geraak het.

Boodskap en betekenis

Dawid se optrede teenoor Saul lê ‘n paar grondbeginsels neer vir die hantering van vyande en vervolgers.

1. Dawid het nie een keer sy hand opgelig teen Saul nie, al was hy ‘n paar keer in ‘n situasie waar hy dit maklik kon doen. Dit was uit respek vir die Here wat Saul aangestel het. Dawid het wel sy saak teenoor Saul by die Here bepleit – in roerende Psalms (Ps 18:1; 52:2; 54:2; 57:1; 59:1) – en van die Here optrede gevra. Maar dit enduit in God se hand gelaat om te doen wat Hy goed vind.

2. Daarby het Dawid geen Schadenfreude nie – vreugde oor die skade wat Saul beleef. Hy treur oor die verlies, beide van Saul as van Jonatan. En hy loof hulle vir dié dinge wat hulle wel goed gedoen het, en verkies om die verhale van vervolging doelbewus uit te laat. Almal het in elk geval geweet wat gebeur het. Hy hoef dus nie homself te verlekker het in hulle dood nie, al het veral Saul se dood beteken dat God Dawid se reg gehandhaaf het.

3. Jesus gaan in die NT nog ‘n stappie verder deur ons tot vyandsliefde op te roep. Dawid was al ‘n goeie voorbeeld daarvan, maar Jesus het nog verder gegaan en die kruispad gekies om van vyande vriende te maak. Nou word elkeen wat in Hom glo, nie net van sy verlorenheid gered nie, maar van ‘n ewige lewe saam met Hom by God verseker.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: