2 KORINTIËRS 4:3-6

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 KORINTIËRS 4:3-6

Ons lees 2 Korintiërs 4:3-6 in die konteks van Paulus se hele boodskap van ‘n lewe soos God dit wil (2 Korintiërs 4:1-5:10).

Paulus se bediening – ‘n skat in kleipotte 

4:1 Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die ontferming wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. 2 Ons het egter afstand gedoen van geheime skandelike dinge, en tree nie slinks op, of verdraai die Woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons onsself voor God aan by die gewete van elke mens.

3 As ons evangelie dan tog nog versluier is, is dit versluier vir dié wat verlore gaan, 4 vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie. 5 Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. 6 Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.

7 Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie. 

8 In alles word ons verdruk, maar nie oorweldig nie; 

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 

9 ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; 

ons word platgeslaan, maar nie vernietig nie. 

10 Die sterwe van Jesus dra ons altyd in ons liggaam met ons saam, sodat ook die lewe van Jesus in ons liggaam sigbaar kan word. 

11 Want ons wat leef, word voortdurend aan die dood uitgelewer ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. 12 So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.

13 Maar aangesien ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskryf staan, “Ek het geglo, daarom het ek gepraat” – glo ons ook, en daarom praat ons.

14 Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek, en julle voor Hom sal stel. 15 Want dit gebeur alles ter wille van julle, sodat die genade, wat steeds meer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God. 

Die tydelike teenoor die ewige 

16 Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. 17 Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ‘n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, 18 terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig. 

5:1 Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het wat van God kom, ‘n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. 2 En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word. 3 As ons net nie ontklee en nakend gevind sal word nie!

4 Want ons wat nog in die tentwoning is, sug as mense wat swaarkry, omdat ons nie ontklee nie, maar geklee wil word; sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5 Hy wat ons juis hiervoor voorberei het, is God, wat aan ons die Gees as waarborg b gegee het. 6 Daarom is ons altyd vol moed, al weet ons dat, terwyl ons nog in die aardse liggaam woon, ons nie by die Here woon nie; 7 want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie.

8 Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon. 9 Daarom, of ons reeds inwoon, of nog nie inwoon nie, streef ons daarna om vir Hom welgevallig te wees. 10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was. 

Teks en konteks

Paulus is besig om te skryf oor die verandering in sy reisplanne. In hoofstuk 2:14 het hy homself onderbreek om eers oor die evangelie self te skryf. In hoofstuk 7:5 sal hy weer terugkom na sy reisplanne.

Om die onderbreking ter wille van die evangelie goed te verstaan, help dit om na die metafore te kyk wat hy gebruik. In sy beskrywing van die triomf van die evangelie en die wonder van die nuwe verbond het hy drie metafore gebruik om die rol van die evangelie in ons lewens te beskrywe: ons is soos wierook, briewe en spieëls.

Hier gaan hy nou verder om die evangelie en sy impak in gelowiges se lewe te beskrywe aan die hand van drie ander metafore: 1) die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn (2 Kor. 4:1-6); 2) die evangelie is ‘n skat wat in erdepotte opgesluit is, potte wat egter maklik breek (2 Kor. 4:7-15); 3) die evangelie skep in ons ‘n verlange na ons vaste gebou in die hemel (ons hemelse liggaam – vgl 1 Kor. 15) wat God belowe vir ons wat nou net ‘n tentbestaan (ons aardse liggaam) voer (2 Kor. 4:16-5:10).

1. Met die eerste metafoor van die lig van die evangelie spel hy die implikasie daarvan vir die gelowiges se lewe na buite, in die wêreld uit – mense van die lig kan die praktyke van die duisternis nie verdra nie, veral nie dinge soos bedrog en vervalsing nie. Die resultaat: ‘n eerlike lewe laat die lig van Jesus vanuit jou hart regdeur jou skyn.

2. Met die tweede metafoor van die skat in kleipotte, spel Paulus die effek van die evangelie op die omstandighede van die gelowige uit – ons lot is verdrukking, verleentheid oor raad en vervolging wat fisiese leed insluit. Tog laat die krag van God nooit toe dat ons terneergedruk, radeloos, God-verlate of vernietig word nie. Die lewe van Jesus word in ons sigbaar, juis in ons gebrokenheid en weerloosheid. Daarom dat ons volhard omdat God se genade só steeds meer en meer mense kan bereik. Hierdie gedagtes sal Paulus nog verder in die brief aan die Filippense uitwerk (Fil. 2).

3. Met die derde metafoor van die gebou in die hemel, spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra. Die swaarkry van hierdie lewe gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan. Dit het ‘n tweërlei uitwerking op ons: aan die een kant sug ons dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef, en aan die ander kant het ons die Gees wat ons moed gee om te wag op God se tyd (vgl. Rom. 8). Let op dat anders as met die Grieke, wat net aan ‘n voortbestaan van die siel gedink het, Paulus steeds aan ‘n gebou dink, d.w.s. aan ‘n liggaam wat voortbestaan, soos ook in 1 Korintiërs 15.

In dit alles, sê Paulus, het ons net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil (let weer op die ooreenkomste met die brief aan die Filippense, hierdie keer hfst. 1:20 vv).

Boodskap en betekenis

2 Korintiërs is een van die aangrypendste briewe van Paulus. Hy ontbloot homself as mens soos nêrens in sy ander briewe nie. Ons kry ‘n baie eerlike prentjie oor hom en sy uitdagings.

Hy was ook maar net ‘n gewone mens van vlees en bloed, maar een met ‘n besondere roeping – soos alle gelowiges vandag. Paulus beklemtoon daarom hier dat sy apostelskap nie in sy eie krag of mag gesetel is nie, maar in die bediening wat hy van die Here ontvang het. Daarom kan hy nie anders nie as om Jesus Christus as die Here te verkondig.

Ons leefstyl moet ook die nuwe lewe reflekteer wat ons in Jesus Christus ontvang het. Die boodskap wat Paulus verkondig, het te doen met die lig waaroor hy in vers 6 skryf. Uit Christus straal die lig van heerlikheid. Ons weerkaats hierdie lig wat tot binne ons diepste wese skyn. Deur die lig wat uit Jesus skyn, kan gelowiges met nuwe, ander oë na God se skepping en mense kyk.

God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening van die lig aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ‘n eerlike gewete het.

Hoe goddelik sal dit nie wees as ons almal in elke geloofsgemeenskap hierdie woorde hoor en dit kreatief begin uitleef nie!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: