JESAJA 50:4-11

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JESAJA 50:4-11

Ons lees weereens die perikoop saam met die vorige een ter wille van konteks.

1 So sê die Here:

“Waar is julle moeder se skeibrief 

dan nou waarmee Ek haar 

weggestuur het?

Of wie van my skuldeisers is daar 

aan wie Ek julle verkoop het? 

Kyk, oor julle sondeskuld 

is julle verkoop,

en oor julle oortredings 

is julle moeder weggestuur.

2 Waarom het Ek gekom, 

en daar was niemand nie, 

het Ek geroep, en niemand 

het geantwoord nie?

Was my hand werklik te kort 

om te red?

Of was daar geen krag in My 

om uit te red nie? 

Kyk, deur my dreigende woord 

laat Ek die see opdroog – 

Ek maak van riviere ‘n woestyn. 

Die visse daarvan stink 

weens ‘n gebrek aan water – 

hulle sterf van dors. 

3 “Ek beklee die hemelruim 

met donkerte; 

Ek bedek dit met ‘n roukleed.” 

Dienskneg van die Here

4 Dit is my Heer, die Here,

wat aan my ‘n vaardige tong gegee het,

sodat ek kan weet 

hoe om vermoeides 

met ‘n boodskap op te beur.

Elke oggend maak Hy my wakker; 

Hy wek my oor om soos ‘n leerling 

te luister. 

5 My Heer, die Here,

het my ore oopgemaak, 

en ek, ja, ek was nie opstandig nie; 

teruggedeins het ek nie.

6 My rug het ek gehou 

vir hulle wat slaan, 

en my wange vir hulle wat baard uitpluk. 

My gesig het ek nie verberg 

vir beledigings en spuug nie. 

7 Dit is my Heer, die Here, wat my te hulp kom; 

daarom voel ek nie verneder nie; 

daarom het ek my gesig 

soos vuurklip gemaak. 

Ek het geweet dat ek nie beskaamd 

sou staan nie. 

8 Hy wat my reg handhaaf, is naby. 

Wie sal teen my ‘n regstryd voer? 

Laat ons saam plek inneem! 

Wie is die teenstander in my saak?

Laat hy naderkom! 

9 Kyk, my Heer, die Here, kom my te hulp. 

Wie is dit wat my skuldig 

sal verklaar? 

Kyk, hulle sal almal 

soos ‘n kleed verslyt,

motte sal hulle wegvreet. 

10 Wie is daar onder julle 

wat ontsag het vir die Here,

wat luister na die stem 

van sy dienskneg? 

Hy wat in duisternis verkeer, 

wat geen lig het nie, 

moet op die Naam 

van die Here vertrou, 

moet op sy God steun.

11 Kyk, julle almal wat vure aansteek, 

wat julle met brandpyle bewapen, 

loop dan in die gloed van julle vuur, 

ja, tussen die brandpyle 

wat julle aangesteek het!

Deur my hand het dit met julle gebeur; 

in ‘n plek van pyniging sal julle lê. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Jesaja wei in vers 1-3 weer uit oor die redes vir die ballingskap. Dit is weens hulle sondeskuld en oortredings dat Hy hulle “geskei” het en hulle soos aan “skuldeisers” verkoop het. Maar, die Here verklaar dat dit net tydelik was. Die finale skeibrief is nooit uitgereik nie. Daar was in elk geval nooit enige skuldeisers wat kon aanspraak maak op hulle nie.

Die Here is egter uiters verbaas dat niemand onder die ballinge na Hom geroep het nie. Hulle kan tog nie onkundig wees oor hoe magtig die Here is nie? Hy het immers hemel en aarde beweeg in die verlede om sy liefde vir hulle te illustreer. Dit het Hy tog geïllustreer met sy redding uit Egipte. Vergelyk die verwysing na die plae in Egipte (vgl die eerste plaag – visse vrek – en die negende plaag – donkerte) en die tog deur die Rietsee in vers 3.

Daarna volg in vers 4-11 die derde gedeelte in Jesaja wat handel oor die Dienaar van die Here. Hier is Hy in ‘n selfgesprek oor sy ervaringe in sy bediening en die boodskap wat dit gee vir elkeen wat die Here wil dien.

Die Dienaar van die Here dink na oor God wat Hom deur die regte toerusting in staat gestel het om dié wat moeg is, moed in te praat. Elke oggend het God Hom wakker gemaak om Hom te leer. Om na God te luister het sy hele bediening en lewe gestruktureer. En die Dienaar het nooit nee gesê of teruggedeins vir wat God van Hom gevra het nie. Selfs nie toe Hy fisiese pyn verduur het en ontsettende beledigings moes trotseer nie.

Hy kon volhard in die ontsettende lyding in die uitvoering van sy bediening, omdat die Here in die pyn Hom gehelp het om staande te bly, selfs al moes Hy onregverdige aanklagtes verduur.

Wat Hom veral gehelp het, is die besef dat die Een wat sy reg handhaaf nie sal stilbly nie. Dat Hy uiteindelik aan Hom reg sal laat geskied. Dan sal niemand eers probeer om sy teenstander te wees nie! Nie met die Here as sy hulp nie. Sy teenstanders sal soos mis voor die son verdwyn.

Trouens, dit is presies die boodskap wat elkeen wat die Here dien, moet omhels. As jy ontsag het vir die Here, as jy luister na sy stem, moet jy volhard om op Hom te vertrou selfs al beleef jy duisternis. Elkeen wat volhard in die duisternis sal uiteindelik die lig sien aanbreek in sy lewe. Die Here sal die donker laat wyk.

En dié wat die brandpyle aangesteek het, dié wat in die gloed van die vuur wat hulle vir ander aangesteek, geloop het, sal deur die hand van die Here getref word: “in ‘n plek van pyniging sal julle lê.” ‘n Duidelike verwysing na die ewige plek van pyniging.

Laat ‘n mens dink aan die eerste hoofstuk van Johannes se evangelie waar Hy oor die Woord van God praat – Jesus – wat die lig vir die mense is (Joh 1:1-14).

Boodskap en betekenis

Die raakpunte met Jesus se bediening is onteenseglik. Maar, die raakpunte met elke kind van God wat volhard in gehoorsaamheid is net so duidelik. Soos Paulus in Romeine 8:31-39 uitroep: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” En dan lys hy ‘n klomp negatiewe ervarings waarvan nie eers een naby kom daaraan om ‘n skeiding tussen ons en die liefde van die Here vir ons te bewerk nie. Wat ‘n wonderlike stuk bemoediging om te volhard! God sal lig bring in die duisternis, selfs in die diepste duisternis wat jy op die oomblik ervaar.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: