PSALM 107:1-3, 17-22

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 107:1-3, 17-22

Weereens kan jy net die 10 verse lees wat hierbo aangegee is. Ek plaas egter die hele Psalm om vir jou dit in konteks te plaas.

107:1 “Dank die Here, want Hy is goed; 

ja, vir ewig duur sy troue liefde,” 

2 moet hulle sê wat deur die Here vrygekoop is, 

hulle wat Hy vrygekoop het uit die hand van teenstanders, 

3 en byeengebring het uit alle lande, 

uit die ooste en die weste, uit die noorde en vanaf die see. 

4 Hulle het in die woestyn rondgedwaal, 

in die wildernis was hulle op pad; 

‘n stad, ‘n woonplek, kon hulle nie kry nie. 

5 Honger en dors was hulle; 

die lewenskrag in hulle het weggekwyn. 

6 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; 

uit hulle benoudheid het Hy hulle gered. 

7 Hy het hulle op ‘n gelyk pad gelei 

om na ‘n stad, ‘n woonplek, te gaan. 

8 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, 

vir sy wonders aan mensekinders; 

9 want Hy het die dors van hulle kele geles, 

en die honger van hulle kele het Hy gestil met wat goed is. 

10 Hulle wat in donkerte en digte duisternis gesit het, 

was gevangenes in ellende en ysterboeie, 

11 omdat hulle teen God se woorde in opstand was 

en die raad van die Allerhoogste verontagsaam het. 

12 Hy het hulle harte deur swaarkry nederig gemaak. 

Hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. 

13 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; 

uit hulle benoudheid het Hy hulle verlos. 

14 Hy het hulle uit donkerte, uit digte duisternis gelei; 

hulle boeie het Hy stukkend gebreek. 

15 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, 

vir sy wonders aan mensekinders; 

16 want Hy het deure van brons stukkend gebreek, 

die sluitbalke van yster stukkend gekap. 

17 Dwase het, deur hulle pad van oortreding 

en deur hulle sondeskuld, 

hulle eie teistering veroorsaak. 

18 Aan alle kos het hulle kele gewalg, 

hulle het tot by die poorte van die dood gekom. 

19 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; 

uit hulle benoudheid het Hy hulle verlos. 

20 Hy het sy woord gestuur en hulle genees; 

Hy het hulle laat vrykom uit hulle vangkuile. 

21 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, 

vir sy wonders aan mensekinders. 

22 Hulle moet aan Hom dankoffers bring 

en met jubelkrete van sy dade vertel. 

23 Dié wat by die see in bote klim, 

hulle wat handel dryf op die groot waters, 

24 hulle het self die dade van die Here beleef, 

sy wonders op die diepwater. 

25 Hy het gepraat en ‘n stormwind laat opsteek; 

dit het die see se golwe laat uittroon. 

26 Hulle het opgerys na die hemel, 

afgesak na die dieptes; 

in die ramp het hulle moed hulle begewe. 

27 Hulle het rondgeslinger, 

en gesteier soos ‘n dronk mens; 

al hulle vernuf was waardeloos. 

28 Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; 

uit hulle benoudheid het Hy hulle uitgelei. 

29 Hy het die storm stil gemaak en die golwe het bedaar. 

30 Hulle was bly toe die golwe kalm word. 

Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het. 

31 Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, 

vir sy wonders aan mensekinders. 

32 Hulle moet Hom verheerlik 

in die byeenkoms van die volk, 

Hom loof waar die oudstes saam sit. 

33 Hy het riviere verander in ‘n woestyn, 

waterbronne in ‘n dorsland, 

34 vrugbare aarde in brak grond – 

vanweë die boosheid van dié wat daar woon. 

35 Hy het ‘n woestyn verander in ‘n waterryke vleiland, 

droë aarde in waterbronne. 

36 Hongeres het Hy daar laat woon, 

hulle kon ‘n stad, ‘n woonplek, vestig. 

37 Hulle het lande gesaai 

en wingerde geplant 

wat die vrug van die oes gelewer het.

38 Hy het hulle geseën, 

hulle baie meer laat word; 

hulle vee het Hy nie minder laat word nie. 

39 Toe hulle minder geword 

en gebuk gegaan het onder die druk van rampe 

en bekommernis, 

40 het Hy wat minagting uitstort oor vooraanstaandes, 

en hulle laat ronddwaal in ‘n woesteny sonder paaie, 

41 behoeftiges beskerm teen ellende, 

en hulle familiegroepe so talryk soos kuddes kleinvee gemaak. 

42 Opregtes sien dit en is verheug; 

maar almal wat onreg doen, 

hou hulle monde toe.

43 Wie wys is, moet hierop ag slaan 

en op die troue liefde van die Here let. 

Teks en konteks

Psalm 107 is ‘n inleiding van die vyfde en laaste Psalmboek (Ps. 107-150). Die Psalmboek werk met die veronderstelling dat die terugkeer uit ballingskap al plaas gevind het (vgl Ps. 107:2-3: “2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.”), en loof God vir sy heerskappy oor die nasies (Ps. 108) en fokus op die toekoms wat deur Hom moontlik word vir die volk. Psalm 107 funksioneer dus as ’n inleiding vir hierdie deel en loof die Here vir sy goedheid en liefde waaraan daar geen einde is nie.  Dit is ook ‘n dankpsalm

Daarom begin die Psalms dan ook met ‘n  refrein wat gelowiges as lewensmotto kan gebruik. Dit sluit mense in wat reeds bewus is van die vryheid en veiligheid wat die Here bring.  Dit sluit egter ook mense in wat maar al te bewus is van die uitdagings wat daar steeds bestaan. Dinge waarvoor die Here nog uitkoms moet bewerk.  Dinge waarvoor Hy nog hulle gebede moet verhoor.

Die refrein is dan ook die inleiding van die hele vyfde Psalmboek:

“Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde!”

Daarmee gee die Psalmis vir gelowiges van alle tye beide ‘n belydenis en ‘n gebed, ‘n danksegging en ‘n herinnering, ‘n stelling oor God se karakter en ‘n sug na God se ingrype in hierdie wêreld.  Iets wat jy vandag kan neerskryf of memoriseer en as gebed die volgende tyd kan gebruik: “Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde!

Met hierdie inleiding kan jy die Psalm nou lees en fokus op wat jou tref.  Ek sal in die boodskap die twee dinge uitlig wat vir my sentraal staan in die Psalm.

Om jou te help, kan jy my indeling van die struktuur van die Psalm in gedagte hou:

  • GOD IS GOED – 107:1-3.  Die Psalm begin met die motief van die terugkeer na hulle land as bewys van God se getrouheid.  Dit bewys dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie.  Dit is daarom ook ‘n dankpsalm.
  • GOD SE LIEFDE HET GEEN EINDE NIE – 107:4-43.  Die Psalm beskrywe God se goedheid aan ses groepe wat Hom daarvoor moet prys.  Sy liefde het immers geen einde nie.
    • God het verdwaaldes by die regte pad uitgebring (vers 4-9).  Waar verdwaaldes in die woestyn gesmag het na water om te drink en kos om te eet – moontlik met die Eksodus uit Egipte as agtergrond – het God hulle hulpgeroep gehoor en hulle uit hulle ellende gered.  Hy het hulle op die regte pad gebring (vgl. Ps. 1).  “Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het.
    • God het gevangenes bevry (vers 10-16).  Die beskrywing van die donker, die diep duisternis, die feit dat hulle gevangenes in ellende en in boeie was, dui waarskynlik op die ervaring van die ballingskap.  Die rede daarvoor word ook aangegee: hulle verset teen die bevele van God.  “Hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan.”  In hulle nood het hulle egter om hulp geroep en God het hulle bevry uit hulle ellende.
    • God het dwase rebelle tot inkeer gebring (vers 17-22).  In ‘n voortsetting van die vorige beskrywing word gefokus op die dwaasheid van ‘n rebelse optrede teenoor God.  Dit laat jou selfs aan kos walg, só swaar is die ellende van rebelle.  Maar, God hoor selfs rebelle se hulpgeroep en maak hulle met een woord gesond.  Interessant dat rebellie hiermee eintlik as ‘n soort siekte geteken word!
    • God het seevaarders veilig uit hulle nood gelei (vers 23-32).  ‘n Mens het al by die profeet Jona kennis geneem van die nood wat seevaarders kan ervaar op die oop see, en hier word hulle nood geteken as dinge swaar gaan op die groot waters.  Maar, soos dit God is wat wonderdade op die diep waters doen, só kan Hy hulle ook na veiligheid en vryheid lei.  Waar God ‘n mensestem hoor roep, dáár luister Hy, maak die stormwind stil en gee kalmte: “God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom.” Jare later sou Jesus dit konkreet illustreer vir sy eie dissipels (Mark 4:30-41; Matt 8). Ook Paulus sou dit ervaar dat God IN die storm bewaring skenk (Hand 27).
    • God het die dorre aarde en sy mense weer geseën (vers 33-38).  Waar God is, daar kan die woestyngebied eintlik nie anders as om ‘n rietvlei, ‘n fonteinwêreld te word nie.  God se goedheid sluit dus selfs die omgewing in.  Daar kan honger mense hulle vestig en floreer omdat hulle gedy in die seën wat die Here skenk.
    • God het magtiges verneder en armes beskerm teen verdrukking (vers 39-41).  Die Psalmis is egter ook bewus van die feit dat mense, veral armes, dit soms hotagter het waar magtiges hulle verdruk, al het die armes geen skuld daaraan nie.  Waar mense dus verminder en wegkwyn onder die druk van teëspoed en moeilikheid, daar bring die Here ook omkeer, beskerming en seën.
  • GOD IS GETROU – 107:42-43.  Die Psalm eindig met die waarneming dat waar opregtes dié dinge sien, is hulle bly. Die NAV vertaal die tweede deel van vers 42 regtig problematies: “alle onreg het tot ‘n einde gekom”.  Dit is regtig nie ‘n goeie vertaling van die weliswaar moeilike frase nie.  Die OAV het dit gehad as: “maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe”, wat al beter is.  Die nuwe 2020-vertaling vertaal uitstekend: “maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe.” Dit beteken dat God se getrouheid die monde van die onregverdiges snoer. Ek het veral gehou van dié vertaling: “Good people see this and are glad; bad people are speechless, stopped in their tracks.” (The Message).  Opregtes is dus bly omdat die dade van God se getrouheid wys dat God in staat is om die onreg en verdrukking om te keer. Die punt is dat God se goedheid en getrouheid bose mense en onreg stilmaak.  Daarom moet ons sonder ophou daaroor praat en God daarvoor loof.

Let op hoe God se liefde in die middelste deel van die Psalm al die bekende ruimtes van dié tyd insluit: die aarde en die see, die ballingskap en die beloofde land, die magtiges en die armes, hoewel die magtiges dit nie besonder positief sou ervaar het nie! 

Let ook op hoe God se genade telkens kom waar daarvoor gebid en gesmeek word.

God is goed.  Hy is regtig goed.  Aan sy liefde is daar geen einde nie.  Hom kan jy vertrou.  Loof die Here!

Boodskap en betekenis

Ek wil fokus op twee goed in die Psalm wat my tref.

Let in die eerste plek op hoe Psalm 107:7 vir Psalm 1:6 in herinnering roep. 

  • Psalm 107:7 sê: “Hy het hulle op die regte pad gebring en by ’n bewoonde stad laat uitkom”. 
  • Psalm 1:6 sê: “die Here lei die regverdiges op hulle pad” wat eintlik ’n vertaling is van die Hebreeuse frase: “die Here ken die pad van die regverdiges”.  Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous”. 

Die feit dat God met die Godsvolk in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm, beteken dat hulle bestemming die gevolg is van God se beskerming.  Daarvan is Psalm 107 se belewenis gebou op Psalm 1 se belydenis. 

Let in die tweede plek op na die insig wat opdaag in dié Psalm.  Die wysheid wat die Psalmis aan ons wil deurgee, word in vers 43 só opgesom:

Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou.” 

Daar gaan nog baie uitdagings wees, beide in terme van veiligheid en verhoring soos dit in die volgende twee Psalms aangeroer gaan word. Maar, die wyses, die verstandiges, fokus hierop.  Hulle gee ag op die bewys van God se trou in die verlede as ‘n inspirasie en motivering om God vir die hede en die toekoms te vertrou.

Geen wonder dat dié God geprys moet word nie, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het: Dank die Here …

 Hoekom? 

“Want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde!”

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d