Skip to main content

MARKUS 10:34-45

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 10:34-45

DERDE LYDENSAANKONDIGING

(Matt 20:17-19; Luk 18:31-34)

32Terwyl hulle op pad was om na Jerusalem op te gaan, het Jesus voor hulle uit geloop. Die dissipels was verbaas, en dié wat hulle gevolg het, was bang. Hy het die twaalf weer opsy geneem en begin om hulle te vertel van die dinge wat met Hom gaan gebeur. 33“Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die Mens sal aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word, en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. 

34Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”

VERSOEK OOR JAKOBUS EN JOHANNES

(Matt 20:20-28)

35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” 36Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”37Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” 38Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” 39Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.”

41Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. 42Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 43So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 44en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. 45Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”

Teks en konteks

10:32 Dit wil voorkom asof Jesus begin haastig raak om in Jerusalem te kom. Daarom loop Hy voor die dissipels uit tot hulle ontsteltenis en vrees. Dit noop Hom om ‘n derde keer oor sy naderende dood en opstanding met die twaalf te praat (vgl Mrk 8:31-33; 9:32-33).

10:33 Hierdie keer doen Jesus dit nog meer volledig as die vorige twee keer. Hy identifiseer Homself as die Seun van die mens (Dan 7:13) wat aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer sal word. Hulle sal Hom ter dood veroordeel en dan aan die heidene oorlewer.

10:34 Hulle sal Hom spot en spoeg (vgl Mrk 14:65; 15:19) en slaan (Jes 50:6), maar daarna sal Hy uit die dood uit opstaan. Ná drie dae – ‘n Hebreeuse idioom wat vir enige kombinasie van ‘n deel van drie verskillende dae gebruik is – sal Hy uit die dood opstaan.

10:35-37 Die twee “seuns van die donder” (Boanerges – Mark. 3:14), Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, is aangevuur deur die boodskap van die opstanding en vra van Jesus dat hulle graag aan sy regterkant en linkerkant onderskeidelik wil sit in sy heerlikheid. Natuurlik voorkeur posisies. Matteus vertel vir ons dat hulle ma eintlik die woordvoerder was (Matt 20:20).

10:38 Jesus wil egter weet of hulle regtig die pad na die heerlikheid – sy lydenspad – verreken het in hulle opgewondenheid. Hy vra daarom of hulle regtig die lydensbeker wat vir Hom voorlê sal kan drink (vgl Jesus se gebed in Getsemane – Matt 26:39 – en sy voorneme om dié beker uit sy Vader se hand te aanvaar – Joh 18:11) en met sy doop (van dood) gedoop sal kan word (vgl Rom 6:5).

10:39 Hulle antwoord laat Jesus besef dat hulle dieper hieroor gedink het en dat hulle inderdaad bereid is om die lydenspad te loop. Hy erken hulle offervaardigheid, want hulle sal inderdaad sy beker drink en sy doop ondergaan. Jakobus is deur Herodes Agrippa I met die swaard doodgemaak (Hand 12:1-2) en Johannes het nie net ‘n ballingskap (moontlik twee keer) op die eiland Patmos deurstaan nie (Openb 1:9), maar is volgens van die kerkvaders tydens sy verhoor in Rome gemartel deur hom in kokende olie te laat sak, sonder dat hy op wonderbaarlike manier egter iets oorgekom het.

10:40 Dié feit beteken egter nie dat Hy hulle versoek kan toestaan nie, want dit is God se prerogatief om dié posisies van gesag en eer uit te deel.

10:41 Die ander tien dissipels was egter verontwaardig hieroor wat verdere lering hieroor genoodsaak het.

10:42-4 Jesus roep hulle daarom nader en leer die dissipels dat die hiërargie van gesag in die samelewing – die regeerders oor nasies, die grotes wat mag uitoefen – nie ‘n plek in die geloofsgemeenskap het nie. As ‘n mens groot wil wees in die geloofsgemeenskap moet jy die ander se dienaar word. Jesus praat eintlik van ‘n “slaaf” – ‘n “bond-servant”- wat homself verkoop om in diens van iemand anders te wees.

10:44 Jesus herhaal dit en wys dat eerstes doelbewus laastes moet wees. Dat hy wat eerste wil wees, almal se slaaf moet wees.

10:45 Jesus illustreer dit dan met sy eie lewe as voorbeeld. Hy as die Seun van die mens (Dan 7:13) het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. En Hy sal die radikaliteit daarvan demonstreer deur sy lewe as ‘n losprys vir baie – dws vir dié wat in Hom glo – te gee (Jes 53:10-12). Die gedagte agter die losprys kom van die losprys wat volgens die wet voorgeskryf is in verskillende situasies (Eks 21:29-30; 30:11-16; Num 3:11-13). Jesus sal gelowiges loskoop van die skuld van hulle sonde deur sy kruisdood.

Boodskap en betekenis

Let op hoe Jesus aan die een kant sy voorspellings begrond in wat reeds in die OT oor Hom geopenbaar is. Maar, dat Hyself ook meer inligting oor sy toekomstige lyding, sterwe en opstanding openbaar. Hy is waarlik die Seun van die mens sowel as die Seun van God.

‘n Mens moet altyd fyn lees wat in die teks staan, want die versoek van Jakobus en Johannes kom nie soseer uit hoogmoed nie, maar uit hulle radikale verbintenis aan Jesus. Hulle het inderdaad ook gedoen waaraan hulle hulle hier verbind het. Hulle misverstand het met die omgekeerde waardes van die koninkryk te make. Hulle het nog nie diep genoeg die beginsel van eerste wat laastes is, en laastes wat eerstes is, verstaan nie.

Daarom leer Jesus hulle met deernis, maar ook duidelik. Sodat hulle kan leer en in geestelike volwassenheid kan groei.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.