HANDELINGE 4:5-12

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HANDELINGE 4:5-12

Lees gerus die teks in die konteks van die hele episode met die Joodse leiers.

Petrus en Johannes voor die Joodse Raad 

4:1 Terwyl hulle nog besig was om die volk toe te spreek, het die priesters en die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op hulle afgekom,2 hewig ontsteld omdat hulle die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig. 3 Hulle het hulle toe gevange geneem en onder bewaking geplaas tot die volgende môre, omdat dit reeds aand was. 4 Baie van die mense wat die toespraak gehoor het, het egter tot geloof gekom, sodat die getal manne tot ongeveer vyfduisend aangegroei het. 

5 Die volgende dag het hulle leiers en familiehoofde en skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom – 6 ook Annas, die hoëpriester, en Kajafas en Johannes en Aleksander, en almal wat tot die hoëpriesterlike familie behoort het. 7 Hulle het Petrus en Johannes in die middel laat staan en vir hulle gevra: “Deur watter krag of deur watter naam het julle dit gedoen?” 8 Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, 9 as ons vandag verhoor word oor ‘n goeie daad aan ‘n siek man waardeur hy gesond geword het, 10 moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret “wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. 11 “Hy is “‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is, 12 “Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”

13 Toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien en besef dat hulle ongeleerd en leke is, was hulle verbaas en het hulle hulle herken as mense wat saam met Jesus was.14 Maar omdat hulle die man wat gesond gemaak is, by hulle sien staan het, kon hulle niks daarteen sê nie. 15 Hulle het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat, en met mekaar beraadslaag:16 “Wat gaan ons met hierdie mense doen? Dit is immers vir al die inwoners van Jerusalem duidelik dat ‘n onmiskenbare teken deur hulle toedoen plaasgevind het. Ons kan dit nie ontken nie. 17 Maar om te verhoed dat dit verder onder die volk versprei, laat ons hulle dreig, sodat hulle nie meer met enige mens in hierdie Naam praat nie.” 18 Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. 19 Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; 20 want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” 21 Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle, as gevolg van die volk se houding nie ‘n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.22 Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Dit tref my hoe ’n belangrike rol die wonders en tekens speel in die eerste fase van die gemeente van Jerusalem se getuienis na hulle Joodse gemeenskap. Petrus en Johannes, twee baie gewone eenvoudige mense, vissermanne nie geleerdes nie, bring daarmee die boodskap van Jesus se liefde aan ‘n wêreld wat dit nodig het.

Hy en Johannes het gaan bid by die tempel, so 3-uur die middag, die tweede gebed van die dag (godvresende Jode het 3 keer ‘n dag gebid by die tempel, 9-uur, 3-uur en 6-uur) en op pad die verlamde man genees, omdat Jesus hom liefhet.

Petrus (en Johannes – sy stille vennoot) het sommer die geleentheid gebruik om hulle “Pinksterdag preek” voort te sit by die Pilaargang van Salomo. “Hoekom is julle hieroor (die genesing) verbaas? … Deur die geloof in sy Naam het Hy (Jesus) die bene van hierdie man … sterk gemaak. God … (het) Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ‘n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Die boodskap konfronteer die mense en veral die leiers met die aktiewe teenwoordigheid van God in die voortgang van die bediening van Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Daarop reageer ’n hele paar duisend Jode met oorgawe deur hulle tot die Here te bekeer en deel van die gemeenskap van gelowiges te word.

Dit is egter nie die geval met die Joodse leiers nie. Hulle reageer met onthutste woede en sluit die apostels op. Uit Josefus se geskrifte weet ons dat die Joodse Raad ‘n raadsaal direk aan die westekant van die tempelterrein gehad het, vanwaar hulle die preek seker kon hoor en waar die verhoor die volgende dag waarskynlik ook plaasvind het.

Die volgende môre het die Joodse Raad (Sanhedrin) vergader. Die Joodse Raad was die hoogste regsprekende en godsdienstige liggaam van die Jode. Hulle het bestaan uit 71 lede, afkomstig uit invloedryke families, en saamgestel uit die geledere van die priesters en die Sadduseërs (wat die liggaam gedomineer het), met die hoëpriester aan die hoof. Dit was die politieke en religieuse elite van die Jode. Hulle het oor alle sake wat op die godsdienstige en algemene lewe van die Jode betrekking gehad het, die beslissende sê gehad.

Ons lees hier van die familiehoofde (letterlik “die oudstes”), die senior priesters, en die skrifgeleerdes. In vers 6 word enkele leidende priesters by die naam genoem. In hierdie stadium het Annas al afgetree as hoëpriester (hy het van 6-14 n.C. as sulks gedien) en het Kajafas die amp beklee (18-36 n.C.). Annas het steeds groot aansien geniet as patriarg van die familie waaruit die meeste hoëpriesters gekom het.

Terloops, Kajafas se been-kis is onlangs opgegrawe. Die Johannes wat hier vermeld word, het hoëpriester geword in 37 n.C. Aleksander is onbekend.

Die apostels het voor die raad verskyn wat in ‘n halfsirkel gesit het. Die vraag wat die raad wou ondersoek, was deur watter krag en in wie se naam die apostels die wonders verrig het wat hulle gedoen het.

Lukas vertel dan dat Petrus onder die leiding van die Heilige Gees geantwoord het (vers 8): “vol van die Heilige Gees”. Só word Jesus se woorde in Matteus 10:17-20 waar, dat die dissipels nie sou hoef bang te wees wat hulle moes sê as hulle voor hooggeplaastes oor Hom moet getuig nie.

Let op hoe beleefd Petrus begin (vers 8). Hy maak dit egter duidelik dat die apostels verhoor word oor ‘n goeie daad wat hulle verrig het (vers 9). Hy bely vervolgens dat hy die verlamde man in die Naam van Jesus gesond gemaak het (vers 10). Hy het dit reeds in Handelinge 3:16 aan die skare verklaar, so dit was nie ‘n geheim nie.

Hy maak dit nou ook duidelik dat dit dié Jesus is wat die raad laat doodmaak het, in wie se naam die apostels optree. Die uitspraak moes die spanningsvlakke in die vertrek opgejaag het! Dis nie meer die Petrus wat vir ‘n slavin skrik nie.

Dan haal Petrus uit Psalm 118:22 aan (vers 11). Dié Psalm is telkens deur die vroeë Christene op Jesus se optrede van toepassing gemaak (vgl. Ef. 2:20; 1 Pet 2:4-6). Die Psalm getuig dat God vir Jesus, wat deur die Jode verwerp is, verhoog en verheerlik het.

Petrus insinueer dus dat hulle oordeel oor wie in die naam van God optree, in die verlede verkeerd was. Dit is daarom ook eerder die Joodse Raad wie hier verhoor word en nie hy nie.

Petrus gaan voort en sê dat net Jesus nou mense in die regte verhouding met God kan bring (vers 12). Daar is letterlik geen ander een na wie toe mense kan draai nie. “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”

Dit het die Sadduseërs en die priesters wat die tempel beheer het, ernstig ontstel. Jesus maak dus nie net siekes gesond, soos die verlamde man by die Mooipoort nie (in vers 10 sê Petrus letterlik dat die man nou “heel” is). Jesus se dood en opstanding bied nou ook hoop en verlossing vir almal (nie net die Jode nie) wat ver van God af leef. Jesus se Naam bring dus universele redding.

Na Petrus se skerp woorde aan die Joodse Raad, was hulle almal verbaas oor sy vrymoedigheid omdat hy en Johannes geen formele opleiding in die wet van Moses by een van die amptelike rabbynse skole ondergaan het nie. Lukas verbind hierdie vrymoedigheid egter aan die werk van die Heilige Gees, iets wat ons weer sal sien in die gesamentlike gebed na hierdie episode.

Die Joodse leiers kon ook nie veel aan die apostels doen nie, want die verlamde man van vroeër het immers nou gesond langs hulle gestaan as die lewende bewys van Petrus se woorde (vers 14)! Uiteindelik kon hulle net die apostels dreig en hulle loslaat.

Boodskap en betekenis

Ek dink ons begryp nie altyd hoe sentraal Jesus in die wêreldgeskiedenis is nie.

‘n Mens word soms verlei deur die agnostici en ateïste in die media se uitsprake oor geloof in die algemeen en Jesus se boodskap in die besonder om te dink dat geloof as sodanig en meer spesifiek geloof in Jesus eintlik iets is wat net in jou huis gehoor moet word, en darem ook in die kerk.

Maar die media en die regering en die ekonomiese – en vermaaklikheidswêreld is van meer belang op die publieke terrein en eintlik van groter historiese belang.

Nou dit is bog. H.G. Wells, die beroemde skrywer en geskiedkundige, was een van die grootste kritici van die Christendom, maar hy het wel gesê: “I am an historian, I am not a believer, but I must confess as an historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very centre of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.

Nog dieper as dit, Petrus maak dit duidelik dat Jesus nie net nóg ‘n weg na God en vergifnis is nie. Hy is volgens sy getuienis die enigste weg.

Dit is nie ‘n populêre standpunt vandag nie. Dit klink vir baie net te kompromieloos, te kontroversieel, te eksklusief. Kan dit regtig so wees dat verlossing net in een Naam beskikbaar is: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”?

Daar is immers 10 000 onderskeibare godsdienste, waarvan ‘n 150 meer as ‘n miljoen volgelinge het (Barrett). Kan dit wees dat net 1 godsdiens reg is en 9 999 verkeerd?

Wat sit Petrus op die tafel vir sy standpunt wat geloof in Jesus die enigste verlossende geloof maak?

Drie goed:

  1. Die opstanding van Jesus uit die dood.
  2. Die goeie dade, wat in Jesus se Naam gedoen word, soos met die wonder-genesing van die verlamde man geïllustreer is.
  3. Die inspirasie en oortuiging van die charisma wat kom van die Heilige Gees (Hand 4:8), en wat duidelik sigbaar was in die welsprekende en oortuigende getuienis wat hy voor die Joodse Raad kon lewer.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: