MARKUS 6:1-13

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 6:1-13

Verwerping in Nasaret 

(Matt 13:53-58 ; Luk 4:16-30 ) 

1 En Hy het van daar af vertrek en na sy tuisdorp gegaan. Sy dissipels het Hom gevolg. 2 Toe die Sabbat aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer, en baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Hulle het gesê: “Waar kom hy aan hierdie dinge, en watter wysheid is aan hom gegee , dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? 3 Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” Hulle het aan Hom aanstoot geneem. 4 Jesus het toe vir hulle gesê: “’n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp , en binne sy familiekring en in sy huis.” 5 En Hy kon nie ‘n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy ‘n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. 6 Hy was verbaas oor hulle ongeloof. 

Uitstuur van die twaalf 

(Matt 10:1 , 5-15 ; Luk 9:1-6 ) 

Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig. 7 Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die onrein geeste gegee. 8 Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net ‘n wandelstok – nie brood of ‘n reissak of geld in die gordel nie. 9 Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” 10 Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in ‘n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. 11 Maar as ‘n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle.” 12 Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. 13 Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak. (2020-vertaling).

Teks en konteks

6:1 Jesus gaan doelbewus na sy tuisdorp. Dit is Nasaret, al word die dorp se naam nie eksplisiet genoem nie. Sy dissipels het Hom gevolg, hoewel dit onseker is of hulle deel was van dié gebeure in Nasaret. Indien hulle was, vertel Markus ons van ‘n tweede keer wat Jesus hier aangedoen het.

6:2 Sabbat het Vrydagaand begin tot Saterdagaand. Hierdie gebeure vind dus waarskynlik die Vrydagaand 18:00 plaas: “toe dit Sabbat word”. Jesus het in die sinagoge onderrig gegee met groot wysheid sodat die mense verwonderd was en gevra het waar Hy aan hierdie dinge kom. Hulle het ook gewonder oor die kragtige dade wat deur sy hande plaasgevind het.

6:3 Die feit dat Jesus egter aan hulle bekend was van kindsdae af, en as skrynwerker (ambagsman) daar gewerk het, het beteken dat hulle Hom kon etiketteer en gevolglik ignoreer, tot hulle ewige skade. Hulle het sy ma, Maria, geken – Josef word nie genoem nie, waaruit ‘n mens aflei dat hy moontlik al oorlede is – en sy vier broers – Jakobus, Joses (die wisselvorm Josef word in Matt 13:35 vir hom gebruik), Judas, en Simon – sowel as sy susters.

Die dorpsmense neem dus aanstoot aan Jesus, omdat Hy uitstyg bó hulle evaluasie van Hom as ‘n doodgewone man, een van hulle. Sy wysheid en wonders het net nie ingepas met hulle taksering van Hom nie. Daarom neem hulle aanstoot uit blote jaloesie.

6:4 Jesus antwoord sy dorpsmense reguit dat hulle die spreekwoord gestand doen dat ‘n profeet nie in sy tuisdorp, en onder sy familielede, en selfs in sy eie huis, geëer word nie, al kry hy eer van buite af. Daarmee verwys Hy waarskynlik na die eer wat Hy geniet onder die skares wat Hom volg, en uiteindelik, dat Hy deur God self geëer word.

6:5 Die gevolg van hulle vooroordele was dat Jesus geen kragtige daad daar kon doen nie, behalwe vir ‘n paar siekes wat deur handoplegging genees is.

6:6 Die eintlik rede vir hulle vooroordele was dat hulle ongelowig was. Dat hulle die openbaring van God in Jesus se woorde en werke nie wou aanvaar nie. Daarom het hulle aanstoot geneem en Hom verwerp.

Ons sal nog verder lees van hierdie tipe vooroordele wat uit ongeloof gebore word. Want, selfs Jesus se broers wou nie in Hom glo nie (Joh 7:5). Trouens, sy familie was op ‘n punt bekommerd dat Hy van lotjie getik was (Mark 3:21). Wat Jesus laat opmerk het dat nét dié wat God se wil doen, is sy familie (Mark 3:31-35).

Dit is eers ná sy dood en opstanding dat sy broers in Hom begin glo het, en regtig deel van die geloofsfamilie geword het. Jakobus en Judas raak uiteindelik belangrike leiers in die gemeente van Jerusalem en ook skrywers van twee van die briewe in die NT.

Hierdie vooroordele en ongeloof het Jesus egter nie van stryk gebring nie. Hy het doodgewoon vertrek van Nasaret af en sy onderrig voortgesit by die ander dorpe van die omgewing. Hy het nie veel tyd spandeer aan mense wat Hom in ongeloof verwerp nie. Hy het gegaan na waar daar ‘n ontvanklikheid was vir sy boodskap, sodat al hoe meer mense die vrug van bekering en gehoorsaamheid in hulle lewens kon geniet, en hulle deel kon raak van sy missie om die wêreld met die evangelie te bereik.

6:7 Jesus stuur die twaalf dissipels uit vir ‘n drie-ledige bediening – die verkondiging van die boodskap van bekering (vers 12), die bediening van bevryding (vers 8,13), en bediening van genesing (vers 13). Hy gee vir hulle volmag oor onrein geeste wat waarskynlik die volmag oor siektes ingesluit het, soos Lukas dit het. Die feit dat hulle in pare sou werk, was ter wille van onderlinge ondersteuning sowel as bevestiging van die aanvaarding of verwerping van hulle boodskap. Die wet het immers twee getuies nodig gehad om iets te waarmerk (Deut 17:6; 19:15).

6:8-9 Die opdrag om niks vir die pad saam te vat nie – selfs nie geld nie – was om beide van God se voorsiening en die gasvryheid van die Joodse mense afhanklik te wees. Dit was deel van hulle opleiding. Dit sou hulle leer dat hulle God kon vertrou. En die gasvryheid van die mense sou alreeds vir hulle ‘n aanduiding wees of hulle boodskap aanvaarbaar sou wees of nie. Volgens Markus het Jesus wel ‘n kierie toegelaat, terwyl Lukas en Matteus dit anders vertel. Dit kan wees dat die ander twee evangeliste bedoel dat daar nie ‘n ekstra kierie saamgevat moet word nie. Hoe dit ook al sy, die idee was dat hulle “lig moes reis”. Dit is natuurlik nie ‘n reël vir alle uitreike nie, want Jesus gee later in ‘n ander situasie die opdrag dat hulle wel voorbereid moet wees met ekstra klere en geld (Luk 22:36).

6:10 Die dissipels moes die gasvryheid van mense erken en nie vir beter akkommodasie soek en veral nie van huis tot huis bedel nie, soos reisende filosowe van daardie tyd gewoond was om te doen.

6:11 Die opdrag om die stof van hulle voete af te skud van die plekke waar die mense hulle nie gasvry ontvang of na hulle luister nie, sluit aan by die gebruik van Jode om ná hulle reise in heidense gebied die stof van daardie gebied van hulle voete af te skud as teken dat hulle die “onheilige” grond verlaat en weer op “heilige” grond is. Dieselfde geld hier met ‘n effense verskil. Die aksie was ‘n getuienis dat sulke Jode in feite God verwerp en soos heidene optree al is hulle op “heilige” grond.

6:12-13 Die dissipels het die opdrag uitgevoer en bekering en bevryding gepreek en gedoen, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak. Die olie is as ‘n geestelike simbool van die genesing gebruik, nie as ‘n genesingsmiddel nie. Dit lê waarskynlik agter die gebruik om olie as simbool in gebed om genesing te gebruik in die vroeë kerk (Jak 5:14).

Betekenis en boodskap

Dit is só maklik om iemand te etiketteer en te beperk tot wat jy bereid is om van hom of haar te glo. En om dan aanstoot te neem as só ‘n persoon uitstyg en meer doen as wat van hom of haar verwag word. Jou vooroordele kan jou blind maak vir die openbaring van God wat deur sy boodskappers na ons toe kom. En jou eie ongeloof openbaar. Só kan jy die wysheid van God misloop en die wonders wat Hy doen.

Dit was van die mense van Nasaret waar. Ook van Jesus se eie familie. Dit kan ook van jou waar wees.

Trouens, dit is die lot van menige profeet wat die woord van God vir hierdie wêreld bring en deur God gebruik word om wysheid te bring en wonders te doen, maar dan verwerp word deur die einste mense vir wie die boodskap bedoel is.

Die toets vir enige profeet is dat hy of sy binne die openbaring van God bly en of sy of haar boodskap bewaarheid word.

  • In die OT is profete se boodskap gemeet aan die ooreenkoms met die geopenbaarde waarheid veral in die wet (Jer 9:13).
  • En aan die uitkoms van die woorde, soos dit die geval wat met Jeremia toe die ballingskap wat hy aangekondig het, inderdaad gebeur het: “Jerusalem is so ingeneem …” (Jer 39:1).

Dit is hoe jy ook profete vandag kan uitken. Die ooreenkoms van hulle boodskap met die Woord van God. En die ooreenkoms van hulle boodskap met wat gebeur in hierdie wêreld.

Versigtig dus met jou vooroordele. Dit kan eerder van ongeloof getuig. Toets alles aan die Woord van die Here en aan die vrug wat dit oplewer.

Die toegespitse aandag aan die dissipels begin in hierdie gedeelte met die drie-ledige opdrag van Jesus in alle erns. Dit tref my hoe Jesus die twaalf twee-twee uitstuur. Dit bly die voorkeur patroon van enige werk vir die Here, om dit in gemeenskap met ander te doen. Dit tref my ook dat hulle nie in detail voorsiening moes maak vir die werk nie, maar afhanklik moes wees van God sowel as van die ontvangs deur mense van al die plekke waar hulle sou kom.

Dit tref my ook dat dié mense wat hulle nie ontvang of na hulle luister nie, doodgewoon verlaat word, om uit te kom by dié wat die bediening nodig het. Weliswaar met ‘n finale boodskap dat dit ewige gevolge het, gesimboliseer met die stof afskud aksie.

Maar dan is daar ook die vreugde dat talle mense tot bekering kom; dat mense met bose geeste bevryding ontvang; dat talle siekes gesond gemaak word. Dit is waarvoor ons ook geroep is!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: