Skip to main content

PSALM 124

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 124

1‘n Pelgrimslied. Van Dawid.

As die Here nie vir ons was nie – laat Israel dit sê –

2as die Here nie vir ons was toe mense teen ons opgestaan het nie,

3dan het hulle ons lewendig ingesluk toe hulle toorn teen ons ontbrand het;

4dan het die water ons oorspoel, ‘n stroom ons oorweldig;

5dan het die tierende waters ons lewens oorweldig.

6Die Here moet geprys word, Hy wat ons nie as prooi aan hulle tande oorgegee het nie.

7Ons, net soos ‘n voël het ons ontvlug uit die net van voëlvangers:

Die net is gebreek en ons, ons het ontvlug.

8Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Teks en konteks

Dit is een van die vreugdes van die lees van die Psalms om jou te probeer indink in die omstandighede waarin dit die eerste keer gesing is.  Want dit gee jou ‘n beter idee van hoe dit ook op jou eie lewe van toepassing is.

‘n Mens kan jou voorstel dat dié Psalm aan die einde van ‘n gevaarlike tog gesing is (vgl. Ps. 122:2: “My voete staan in jou poorte, Jerusalem.”).  Die gevare is getrotseer en die belydenis dat die Here vir hulle was, het geblyk nie net teoreties waar te wees nie, maar in die praktyk van die lewe.  Hulle voel soos ‘n klomp voëls wat in ‘n net vasgevang was, maar die net is gebreek en hulle kon ontvlug.

Nou is hulle hier in Jerusalem by die tempel en die liturg begelei hulle om die vreugde van verlossing te bely: “laat Israel dit sê”.  En almal neem die refrein waarmee die liturg begin op, en sê saam met hom (of haar – onthou vir Heman wat sy dogters in die liturgie begin gebruik het!): “As die Here nie vir ons was nie … dan het hulle ons lewendig ingesluk toe hulle woede teen ons ontbrand het.

Die verlossing van die Here was in situasies van opstand en woede waar dit gevoel het asof hulle lewendig ingesluk word in ‘n vernietigende konflik, asof ‘n stroom tierende waters besig was om hulle lewens te oorweldig.

Maar, nou kan hulle hier in die tempel die Here kom prys dat Hy hulle nie oorgegee het aan die verskeurende tande van woedende mense nie, en hulle laat ontvlug het van die valstrik wat vir hulle gespan is.

Daarom kan hulle met nog meer oorgawe bely: “Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Inderdaad!

Onthou, elke keer dat jy weer ‘n predikant dié vers hoor opsê aan die begin van ‘n erediens, dít is die agtergrond van dié belangrike bevestigende belydenis.  God se hulp kom IN die konflik van die lewe tot sy reg.  En ons almal kan daarvan getuig, waar ons getrou bly aan die Here, ons oë gerig is op sy hand (Ps. 123:2), ons in afhanklikheid van Hom lewe: “As die Here nie vir ons was nie …

Boodskap en betekenis

Dit laat my met nuwe waardering Romeine 8:31-38 se gloeiende loflied onthou wat aan die teenwoordigheid van die Here Jesus Christus in ons lewe gekoppel word.  Ek plaas dit hier as ‘n ekstra versterking vir jou dag:

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood

ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape

behandel word.” u

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.


u Vgl. Ps. 44:23

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.