1 JOHANNES 5:9-13

Dit is vandag Hemelvaart. Jy is welkom om by ngkerksomerstrand.co.za my preek vir Hemelvaart ook te lees. Ons gaan egter aan met die leesprogram wat verbind is aan die keuses van die RCL vir hierdie Sondag.

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 JOHANNES 5:9-13

My perikoop indeling is anders as die 2020-vertaling, maar ek plaas die teks soos dit daarin aangegee word.

1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. 2 Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. 3 Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; 4 want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof.

Die ware Getuie oor die Seun

5 Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? 6 Hy, Jesus Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het – nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid. 7 Want daar is drie wat getuig: 8 die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens.

9 As ons die getuienis van mense aanvaar – die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het. 10 Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself; wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11 En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 12 Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.

Sekerheid van geloof

13 Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo.

14 En ons het dit aanskou, en ons getuig daarvan, dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. 15 Wie ook al bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. 16 Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het.  God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom. 17 Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons in hierdie wêreld ook soos Jesus is. 18 In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. 19 Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. 20 As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy ‘n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. 21 En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Teks en konteks

Dit is eintlik só logies wat Johannes se aanpak in hierdie laaste hoofstuk van sy “preek” aan die gemeente in Efese is. Hy het tot dusver in die brief uitvoerig uitgebrei oor God se liefde en die wyse waarop dit gestalte kry in ons liefde vir mekaar binne die geloofsgemeenskap. In ’n laaste nadenke daaroor bind hy die liefde vir God en mekaar aan ons geloof in Jesus Christus.

Oor hierdie geloof skryf hy dan uit drie perspektiewe.

Vers 1-6 – Ons is uit God gebore

Dit is omdat ons in Jesus Christus glo dat ’n mens kan weet dat jy uit God gebore is. Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe. Dit is soos die spreekwoordelike leë hand waarmee ons God se gawe in ontvangs neem. Dit is dié geloof wat ons motiveer om nie net almal lief te hê wat soos ons uit God gebore is nie, maar ook God in alles te gehoorsaam, omdat dit binne ’n liefdesverhouding met God nie swaar is om te doen wat Hy vra nie. En dit is hierdie oortuiging van God se keuse vir ons, wat dit moontlik maak om in hierdie lewe oorwinnend, ten spyte van die aanslae van die wêreld wat God nie wil aanvaar nie, te lewe.

Vers 7-12 – Die Heilige Gees getuig in ons lewe oor die betekenis van Jesus Christus se bediening en kruisdood vir ons

Hierdie geloof word bewerk deur die Heilige Gees se getuienis in elke gelowige, in samewerking met die getuienis van die water (Jesus se doop as die begin van sy bediening, waar God Hom met Jesus as sy geliefde Seun geïdentifiseer het – Mark. 1:9-11; Joh. 1:32-34) en die bloed (Jesus se kruisdood – Joh. 19:33-37). Ons moet dit helder verstaan, sê Johannes. Dit is God wat geloof in ons hart werk deur die getuienis van die Heilige Gees op grond van die werk van die Here Jesus Christus. Elkeen wat in Jesus Christus glo, het daarom dié getuienis in hom- of haarself. En die inhoud daarvan is dat die ewige lewe in Jesus Christus vir ons gegee is as geskenk. “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”

Vers 13-21 – Ons sekerheid oor God gee ons groot vrymoedigheid voor Hom

Hierdie geloof gee daarby ’n helder sekerheid in ons verhouding met God. Ons kan weet dat ons die ewige lewe het, omdat ons in die Seun van God glo. Dit gee ons ook ’n ongelooflike stuk vrymoedigheid teenoor God wanneer ons in gebed voor Hom kom. Ons het die versekering: “Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.” Dit gee ons ook vrymoedigheid om vir medegelowiges te bid dat God hulle vergewe as hulle sonde doen of onreg pleeg (vgl. Jak 5:19-20 waar spesifiek gebid moet word vir mense wat van die waarheid afgedwaal het).

Die enigste uitsondering is die “sonde tot die dood”. Johannes dink hier waarskynlik aan gevalle soos dié waarvan Paulus skryf in 1 Kor. 5:1-5 (growwe onsedelikheid) en 11:30 (swakkes, sieklikes en dié wat sterf) waarin dié gelowiges steeds gered word, al lei hulle sonde of lewenstyl tot hul dood. Let op dat daar nie hier gesê word dat só ’n sonde nie vergewe kan word nie of dat ’n mens nie daarvoor kan bid nie. Johannes sê net dat daar nie ’n verpligting is op ons om sodanige gebed te bid nie.

Johannes praat hier dus nie oor van die ander nog erger sondes nie, wat bv. opsetlik gedoen word om God te tart (vgl. Hebr. 6:4 vv – waar die skrywer praat oor die feit dat iemand wat die gawe van die Heilige Gees en die goeie woord van God leer ken het en nogtans afvallig geword het, nie weer tot bekering sal kom nie), óf om die Heilige Gees te laster (Matt. 12:31 – waar die werk van die Heilige Gees weerstaan word deur daarteen op te staan).

Hy sluit af met die vertroue dat mense wat uit God gebore is in elke geval nie sal aanhou met sonde doen nie. Daarvoor sorg die Seun van God, die ander Een wat uit God gebore is, sodat die duiwel nie ’n houvas op gelowiges kan kry nie. Omdat ons die waarheid ken, die ware God (in die oorspronklike word die woord “Waaragtige” gebruik), kan ons verseker leef van die ewige lewe en onsself beskerm teen die afgode.

Boodskap en betekenis

Hierdie perspektief op geloof en die werk van die Heilige Gees is iets wat ons deeglik ter harte moet neem. Dit beteken dat dié getuienis van die Heilige Gees iets dinamies en lewend is, gebaseer op die historiese feite van Jesus se bediening en kruisdood. Die Gees se werk in ons is die persoonlike kant van God se werk, soos Jesus se bediening en kruisdood die publieke kant daarvan was. Dit beteken ook dat die herkenning van die gesag van die Woord ’n dinamiese persoonlike werk van die Heilige Gees is. Dit is iets waarvan Hy ons oortuig.

Om die Bybel as die Woord van God te aanvaar, is ook nie soseer iets wat deur die kerk van die eeue in besluite vasgelê is nie, maar eerder iets wat ons herken as die werk van God. Kerkvergaderings het die konsensus op grond van die getuienis van die Heilige Gees in die geloofsgemeenskappe oor die wêreld heen verwoord in die wyse waarop hulle die kanon erken het. Die gesag van die Woord is dus afgeleide gesag, gebaseer op die getuienis van die Gees in die harte van God se mense oor Jesus se bediening en betekenis vir ons.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: