Skip to main content

RUT 3:1-5; 4:13-17

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

RUT 3:1-5; 4:13-17

Ek gee albei hoofstukke ter wille van konteks.

RUT OP DIE DORSVLOER

31Naomi, Rut se skoonmoeder, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou ‘n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? 2Nou ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons. Hy gaan vanaand by die dorsvloer gars uitwan. 3Was jou, smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan. Dan gaan jy af dorsvloer toe. Maar moenie dat die man weet jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4En as hy gaan slaap, maak seker van die plek waar hy lê. Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar. Hy sal dan self vir jou sê wat jy moet doen.” 5Rut het geantwoord: “Ek sal alles doen wat u sê.”

6Sy het na die dorsvloer toe afgegaan en alles gedoen wat haar skoonmoeder haar voorgesê het. 7Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, het hy aan die kant van die hoop graan gaan lê. Sy het stilletjies nadergegaan, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. 8In die middel van die nag skrik Boas wakker. Iets raak aan hom, en sowaar, daar lê ‘n vrou by sy voete! 9“Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.” 10Hy sê toe: “Mag jy geseën word deur die Here, my dogter. Jou trou aan die familie blyk nou nog duideliker as voorheen, aangesien jy nie agter jong mans, of hulle arm of ryk is, aanloop nie. 11Moet dus nie bang wees nie, my dogter. Alles wat jy vra, sal ek doen. Al my mense in die dorp weet immers dat jy ‘n deugsame vrou is. 12Dit is nou wel waar dat ek ‘n losser is, maar daar is ook ‘n losser wat nader familie is as ek. 13Bly vannag hier. En môreoggend, as hy jou wil loskoop, goed, laat hy jou dan loskoop. Maar as hy jou nie wil loskoop nie, dan sal ek, so waar as die Here leef, dit self doen. Bly nou maar lê tot môreoggend.” 14Sy het tot die môre toe by sy voete bly lê.

Nog voordat ‘n mens iemand anders sou kon herken, het sy opgestaan, want hy het gesê: “Dit mag nie bekend word dat ‘n vrou na die dorsvloer gekom het nie.” 15Boas sê toe vir haar: “Gee die sjaal wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars daarop afgemeet en dit op haar skouer getel. Daarna is hy die dorp in.

16Toe sy by haar skoonmoeder kom, vra sy vir haar: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het. 17Sy het ook gesê: “Hierdie ses mate gars het hy vir my gegee, want hy het gesê, ‘Jy mag nie met leë hande by jou skoonmoeder aankom nie.’ ” 18Naomi antwoord: “My dogter, wag nou maar totdat jy weet hoe die saak uitval. Die man sal nie tot rus kom tensy hy die saak vandag nog afhandel nie.”

BOAS AS LOSSER

41Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie hy gepraat het, daar verby. “Draai af hierheen, kom sit hier!” sê Boas vir hom. Die man het afgedraai en gaan sit. 2Boas kry toe nog tien manne, van die dorp se oudstes, en sê vir hulle: “Kom sit hier!” Nadat hulle gaan sit het, 3sê hy vir die losser: “Die deel van die grond wat aan Elimeleg, ons familielid, behoort, word verkoop deur Naomi, wat teruggekom het van die gebied van Moab. 4Ek het gedink ek moet jou inlig en vir jou sê: Neem die grond oor in die teenwoordigheid van diegene wat hier sit en oudstes van my volk. As jy as losser wil optree, doen dit dan. Maar as jy nie as losser wil optree nie, sê dit vir my, sodat ek dit weet; want daar is niemand behalwe jy wat as losser kan optree nie, en ek is die volgende ná jou.” Die man sê toe: “Ja, ek sal as losser optree.” 5Daarop sê Boas: “Maar die dag wanneer jy die grond by Naomi oorneem en ook by Rut die Moabiet, wat die weduwee van die oorledene is, dan neem jy dit oor, sodat die oorledene se naam oor sy familiebesit kan voortleef.”

6Toe sê die losser: “Nee, dan kan ek dit nie as losser vir my verkry nie, anders bederf ek daarmee my familiebesit. Neem jy my lossingsreg oor, want ek wil nie as losser optree nie.”

7Wanneer dit gegaan het oor lossingsreg en ruiltransaksies, was dít vroeër in Israel die gebruik om enige saak te bevestig: ‘n Persoon moes sy sandaal uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het dan in Israel as bekragtiging van die saak gegeld. 8Toe die losser vir Boas sê: “Neem die lossingsreg vir jou oor,” het hy sy sandaal uitgetrek.

9Daarop sê Boas vir die oudstes en al die mense: “Vandag is julle getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kiljon en Maglon behoort, by Naomi oorneem. 10En ook Rut, die Moabiet, die vrou van Maglon, neem ek vir my oor as vrou om die naam van die oorledenes oor hulle familiebesit te laat voortleef, en sodat die naam van die oorledenes nie onder die familie en uit die poort van sy woonplek verdwyn nie. Julle is vandag getuies daarvan.” 11Al die mense wat by die dorpspoort was en die oudstes sê toe: “Ons is getuies. Mag die Here gee dat die vrou wat in jou huis inkom soos Ragel en Lea sal wees, die twee wat die huis van Israel gebou het. Mag jy van krag tot krag gaan in Efrata en roem verwerf in Betlehem! 12Mag, uit die nageslag wat die Here vir jou uit hierdie jong vrou gee, jou huis wees soos dié van Peres wat Tamar vir Juda in die wêreld gebring het.”

GEBOORTE VAN OBED

13Boas het Rut by hom geneem en sy het sy vrou geword. Hy het by haar ingegaan, en die Here het haar swanger laat word. Sy het aan ‘n seuntjie geboorte gegee. 14Die vroue het vir Naomi gesê:

“Die Here moet geprys word!

Hy het jou vandag nie sonder

‘n losser gelaat nie.

Mag dié losser beroemd wees in Israel.

15Mag hy jou lewenslus herstel

en jou versorg op jou oudag.

Jou skoondogter, wat jou liefhet,

het hom in die wêreld gebring,

sy wat vir jou meer werd is

as sewe seuns.”

16Naomi het die kind geneem en op haar skoot gesit en sy pleegmoeder geword. 17Die buurvroue het vir hom ‘n naam gegee. Hulle het gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore”, en hom toe Obed genoem.

GESLAGSREGISTER VAN KONING DAWID

Obed was die vader van Isai, en Isai die vader van Dawid. 18Hier volg die geslagsregister van Peres:

Peres het Gesron verwek

19Gesron het Ram verwek

Ram het Amminadab verwek

20Amminadab het Nagson verwek

Nagson het Salmon verwek

21Salmon het Boas verwek

Boas het Obed verwek

22Obed het Isai verwek

Isai het Dawid verwek.

Teks en konteks

Rut 3 – God werk deur Naomi se strategie

Waar in die vorige hoofstuk Rut die inisiatief geneem het om kos op die lande te gaan optel, is dit nou Naomi wat verantwoordelikheid neem vir haar skoondogter.  Sy werk ‘n fyn strategie uit om Rut se behoefte aan ‘n losser onder die aandag van Boas te bring.

Wanneer Boas die nag by die dorsvloer wakker word met Rut by sy voete, vra sy hom dan ook om haar onder sy beskerming te neem.  En hy is onmiddellik gereed om sy deel te doen.  Hy waarborg dit met die groot geskenk van gars wat hy met haar saamstuur huistoe.

Die spanning neem toe met die vermelding van ‘n familielid wat die eerste verantwoordelikheid het om as losser op te tree.  Maar Naomi lei die volgende hoofstuk in met haar fyn waarneming dat Boas ‘n man met ‘n plan is en nie sal rus voor die saak afgehandel is nie.

Wat my tref is hoe hierdie fyn uitgewerkte strategie van Naomi, die uitvoering daarvan deur Rut en die reaksie van Boas alles meewerk om God se werk tot uitvoering te bring.

Rut 4 – God gee ‘n wonderlike uitkoms

Die verhaal bereik sy hoogtepunt met die ontknoping wat plaasvind in die stadspoort, die plek waar alles van belang, van handel- tot regsake voltrek is. 

Let op hoe Boas ‘n fyn strategie uitwerk waarin dit nie net die losser-gebruik is wat in spel kom nie, maar ook die gebruik van die sogenaamde swaershuwelik (vgl ook die Juda-Tamar-verhaal  in Gen 38 waarna later in die hoofstuk verwys word).

Hierdie gebruik het volgens Deut 25:5–10 bepaal dat as iemand sonder kinders sterf, een van sy broers verplig was om met sy weduwee te trou. Die eerste seun uit hierdie “swaershuwelik” geld dan as die seun en erfgenaam van die oorledene.

Die broer kon die verpligting ontduik deur ’n verklaring voor die oudstes van die dorp af te lê.  Dit is egter as oneerbaar beskou. Die weduwee kon dan sy skoen uittrek en hom in sy gesig spoeg omdat hy nie sy broer se huis in stand hou nie.

Let op hoe Boas klem lê op haar Moabitiese afkoms, waarmee hy natuurlik hoop dat die familielid nie verder sou belang stel nie.  Die nader familielid het inderdaad nie hiervoor kans gesien nie, en daarmee slaag Boas in sy doel om met Rut in die huwelik te tree.

Let ook op hoe dit die Here is wat haar die voorreg van swangerskap gee, waarmee duidelik bely word dat die gelukkige uitkoms van dié verhaal aan Hom toegeskryf kan word.  Obed se naam beteken dienaar.

Boodskap en betekenis

Rut is ‘n uitnemende verhaal van God se getrouheid

Die verhaal van Rut is uiteindelik ‘n uitnemende verhaal van God se getrouheid, maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. En wat veral van betekenis is, is dat hierdie klein verhaal van Rut se lojaliteit en Naomi en Boas se waagmoed deur God ingesluit word in sy groter verhaal met hierdie wêreld.

Hierdie kind, Obed, is van baie groter betekenis as wat hulle in hulle wildste drome sou kon droom. Obed se naam beteken “dienskneg”. En uit sy nageslag sou die Groot Dienskneg gebore word. Jesus wat gebore is in ‘n stal in Bethlehem, soos Matteus 1 ons vertel in aansluiting by die geslagsregister aan die einde van die boek Rut.

Jesus is egter ook die nageslag van Elimelek, Naomi se oorlede man, wie se naam die ander kant van die betekenis van die verhaal voorspel: “my God is koning”. Jesus sou as Messias nie net die Dienskneg wees wat getrou sou bly tot aan sy kruisdood nie, maar ook as Koning van die wêreld die troon van sy Vader sou bestyg en die koninkryk van God sou vestig.

God weef dus ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Die boodskap van die verhaal van Rut is ten diepste ‘n bevestiging dat ons die pad van God met sy mense kan vertrou. Soos Rut, die vreemdeling, ‘n tuiste vind by Naomi, Boas en in die geloofsgemeenskap van Israel, só kan ons Hom ook vertrou vir ons eie plekkie in die son, ook hier in SA.

Die verhaal van Rut is egter nie net ‘n bevestiging van God se voorsiening vir ons self en ons situasie nie, maar ook van sy voorsiening vir die toekoms, selfs van die voorsiening van ‘n uitkoms vir die wêreld. Ons kleiner verhale word opgeneem in sy groter verhaal met die mensdom.

Dat Naomi en Rut ‘n losser (go’el) in Boas gevind het, is wonderlik. En dit is ‘n woord vir my en jou vandag. Dat God vir ons ook op ‘n baie praktiese wyse dinge sal laat meewerk, ‘n losser vir ons sal gee. Ook in terme van land, gemeenskap en ‘n nageslag.

Maar daar is ‘n dieper boodskap. Dit is, dat hierdie verhaal vir ons van die groter losser in Dawid, en die grootste Losser van almal, Jesus Christus, vertel, die Losser waarvan ook Job gedroom het (Job 19:25). Dit is die breër en dieper boodskap van hierdie boek. Ons verhale is ingebed in die groter verhaal van God se betrokkenheid in hierdie wêreld. Wat met ons gebeur, het daarom ook ‘n impak op die wêreld.

En dit is groter as maar net dat die Here vir ons sorg. Deur vir my en jou te sorg, sorg Hy vir die wêreld. Dit is waarskynlik die boodskap wat ons in hierdie tydsgewrig in ons land die meeste oor moet nadink.

Ons moet God as die groot Go’el leer raaksien, soos Hy Homself in Rut bewys

Dit is immers hoe Hy beskryf word in al die groot uitkomste wat Hy vir die volk voorsien het. Dit was hierdie belofte – dat Hy die Losser is – wat die volk gemotiveer het om Moses te vertrou toe hy die boodskap van verlossing aan hulle gebring het: “Ek sal julle van julle verknegting verlos.” (Eks 6:6). Dit is vir hierdie eienskap van Hom waarvoor Hy geloof is toe Hy die belofte aan hulle vervul het met die verlossing deur die Rietsee: “Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is.” (Eks 15:13).

Hierdie eienskap van God word daarom in die Psalms besing. Hy is geloof reg deur die eeue as die Losser – die groot Go’el – wat die volk vir Homself gekoop het (Ps 74:2). Hierdie gedagte van die Groot Verlosser  het die boodskap van die profete gestruktureer (Jes 41:14; 43:14; 44:6; 47:4; 60:16; Miga 4:10; Jer 50:34). Israel word daarom die Verlostes genoem (Jes 35:9; 62:16), ‘n titel wat ons ook vir onsself kan toeëien in Christus Jesus, die Groot Verlosser.

Maar terug dan by ons eie kleiner situasies.

Hierdie God, wat die groter bewegings van die geskiedenis beheer, is ook die Verlosser in die persoonlike ruimte van die gelowige in nood. Daarom kan Hy aangeroep word in nood: “Kom red my lewe, bevry/verlos my van my vyande.” (Ps 69:18). Dit is immers Hy: “wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon.” (Ps 103:4; vgl Ps 107:2). Dit is van Hom wat ‘n mens verlossing kan verwag: “Behartig tog my saak en bevry my, hou my in die lewe volgens u belofte.” (Ps 119:154). In elke praktiese situasie waarin ons ons mag bevind.

Soos Job sê: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (Job 19:25). Dit bly in elke en alle situasies waar.

Datering maak saak

Ek dink min van julle het al ooit gedink oor die datering van die boek Rut. Dit is só ‘n pragtige verhaal, op soveel vlakke, dat die datering waarskynlik vir jou van minder belang is. Waarom sou die tyd wat ‘n boek geskryf is, van enige belang wees? Maak dit enigsins saak? Verander jou keuse dan aan die boodskap van die boek?

Wel, ja. Datering maak saak. Want dit bepaal vir wie die boek geskryf is. Dit bepaal vir wie die boodskap van die Bybel in die eerste plek bedoel is. En as jy dít weet, wat Rut vir daardie gehoor beteken het, kan jy baie beter bepaal watter boodskap die boek dan ook vir jou het, al is die boek in ‘n ander tyd en vir ander mense geskryf.

Die geheim in die lees van die Bybel is om eerstens goed te verstaan wat dit vir die eerste gehoor ingehou het, sodat jy met integriteit die kloof tussen toeka en vandag kan oorbrug en die boodskap van die Bybel vir vandag vars en nuut kan hoor.

Wanneer is die boek Rut dus geskryf?

Op linguistiese gronde is daar ‘n saak uit te maak daarvoor dat Rut vóór die ballingskap geskryf is. Daar is effens meer ooreenkomste met Standaard Bybelse Hebreeus, dws die Hebreeus wat vóór die ballingskap gebruik is. Dit maak dit waarskynlik dat die boek Rut vóór die ballingskap geskryf is.

Dat daar ook ‘n paar ooreenkomste met Laat Bybelse Hebreeus is in die boek, beteken moontlik dat die verhaal later opgedateer is, eerder as dat dit later geskryf is.

Wat my egter laat kies vir ‘n vóór ballingskap datering is nie die tipe taal wat gebruik is nie. Dit is eerder inhoudelike kriteria.

1. Die eerste inhoudelike feit is dat die skrywer self die verhaal in die tyd van die Rigters plaas (Rut 1:1). Daaroor is daar geen dispuut nie. Die tydperk wat die karakters geleef het, was êrens in die laat 11de eeu vC. Vóór Dawid.

2. Die tweede inhoudelike feit is dat die wyse waarop die vererwing en die leviraatshuwelik hier werk, op punte verskil van die wetgewing van Levitikus 25, Numeri 5 en Deuteronomium 25 (vgl ook Jer 32). Dit veronderstel ‘n situasie waar dinge nog vloeibaar was en die tempel in Jerusalem nog nie sy bepalende rol in die wel en wee van die volk kon speel nie. Presies hoe die tyd in Rigters beskryf word.

3. Die belangrikste argument vir ‘n vroeë datering is egter die derde feit, dat daar iets heeltemal unieks is in die wyse waarop die verhaal van Rut vertel word. Die hele verhaal van Rut loop uit op ‘n geslagsregister. Geen ander boek in die Bybel eindig só nie.

Normaalweg begin geslagsregisters ‘n boek om die verdere verloop van ‘n verhaal te bevestig, soos ons dit in Numeri kry as deel van die Pentateug en in Kronieke as deel van die verhaal van die koningskap.

Só is dit terloops ook in Matteus 1 met Jesus se geslagsregister. Dit is vóór sy geboorteverhaal geplaas. Want, die geslagsregister begrond en bepaal wat verder aan gaan gebeur. Jesus word in die Messiaanse linie gebore. So sê die geslagsregister.

En in Lukas 3 word die geslagsregister weer vóór sy openbare bediening geplaas, want Hy gaan optree as die Messias, soos sy geslagsregister dit begrond. Só sê die geslagsregister.

4. Dit hang saam met die vierde feit, die plek wat die boek Rut in ons Bybel beklee. Dit is net vóór die boek Samuel in die Bybel geplaas. Hoekom? Want, die boek bevestig die verhaal van Dawid wat in die boek 1&2 Samuel vertel gaan word. Die boek pas dus in die tydsgewrig wat dit beskryf. Dit pas in die orde wat dit in ons kanon gekry het. Net vóór Dawid en net vóór die Messiaanse verwagting wat hierna sou ontwikkel waarin Dawid so ‘n groot rol speel.

En dié feite is van fundamentele belang. Hierdie geslagsregister het Dawid se koningskap gesag gegee, ‘n skriftelike, Goddelike gesag, ‘n gesag ingebed in die storie van God en sy mense.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar