FILIPPENSE 2:5-11

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

FILIPPENSE 2:5-11

Ons lees die teks in die konteks van die hele perikoop.

Aansporing tot volharding en eensgesindheid

1:27 Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van Christus waardig is,  sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees vasstaan, en een van hart en siel saam stry vir die geloof in die evangelie, 28 en julle in geen opsig deur julle teenstanders laat afskrik nie. Vir hulle is dit ‘n teken van ondergang, maar vir julle is dit ‘n teken van verlossing – en dit kom van God.

29 Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly. 30 Julle stry dieselfde stryd wat julle my sien stry het, en waarvan julle nou hoor dat ek nog steeds stry.

2:1 Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige meelewing en ontferming, 2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees (siel), een in denke; 3 deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;  4  deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.

5 Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:

6 Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,  7 maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.  En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,

8 het Hy Homself verneder,

deurdat Hy gehoorsaam

geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.

9 Daarom het God Hom

ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is,

10 sodat in die Naam van Jesus

elke knie sal buig –

van diegene in die hemel

en op die aarde

en onder die aarde –

11 en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!”

tot eer van God die Vader. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Hierdie intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon). Die oudste tradisie hieroor is dat Paulus die brief uit Rome skrywe, wat klop met die interne getuienis in die brief self: die “keiserlike wag” (Fil. 1:13), “die huis van die keiser” (Fil. 4:22), en natuurlik dat hy uit die gevangenis skryf (Fil. 1:7). Dit beteken dat Paulus die brief waarskynlik in die vroeë sestigjarige van die eerste eeu geskryf het, so 10 jaar na die stigting van die gemeente.

Die brief word aan die gemeente in Filippi gerig, die eerste gemeente op Europese bodem. Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig, ongeveer 50 n.C. Dit was die direkte gevolg van die gesig wat Paulus in Troas (Turkye) van die Masedoniese man gesien het wat hom gesmeek het om hulle te kom help (Hand. 16:8-10). Hy sou hulle later op sy derde sendingreis weer besoek, in die tyd van die Paasfees van 55-56 n.C. – die fees van die ongesuurde brode (Hand. 20:6) – voor hy Jerusalem toe vertrek het.

Ons sien hier ook dat Paulus se evangelie bo alles ’n evangelie van eenheid was. Vandaar nie net sy teologiese motivering daarvan later in Efesiërs 2-3 nie, maar ook sy vroeëre baie praktiese stryd om die Joodse en heidense Christene in Galasië aan een tafel te kry in Antiogië (Gal. 2). Ons sien in sy briewe:

  • dat waar hierdie eenheid deur verskillende legitieme opinies oor die gebruik van kos en wyn, die hantering van werknemers en die nakom van dagritmes bedreig is (1 Kor. 8-10; Rom. 14-15) sy raad was om die eenheid te bewaar deur nie wedersyds te veroordeel of te verag nie, en mekaar toe te laat om eie opinies te hê.
  • Wanneer daar egter kwessies opgeduik het waaroor daar net een legitieme opinie kon bestaan, bv oor Jesus Christus se opstanding (1 Kor. 15), of etiese vraagstukke soos bloedskande (1 Kor. 6), is die eenheid juis beskerm deur op te tree teen die verkeerde opinies of lewenstyl.

Oor al die ander kwessies waaroor gelowiges kon verskil, was die uitdaging egter altyd om nie net verdraagsaam te wees nie, maar “to welcome one another; to rejoice in each other’s presence and the rich diversity of God’s people; and, ultimately, to worship together with one heart, mind and voice” (Wright), presies dit wat nou hier in Filippense aangeroer word.

Hierdie eenheid moet tot sy reg kom in ’n evangeliese lewenstyl na buite

Paulus roep die gemeente van Filippi op om in hulle onderskeiding van wat regtig belangrik is, te fokus op hulle lewenswandel na buite. Die prioriteit moet wees dat hulle publieke gedrag in ooreenstemming sal wees met die evangelie van Jesus Christus. En dit moet hulle onverskrokke en kompromieloos doen. Dit gaan vir hom nie in die eerste plek of hulle reg glo, of dit reg kan verwoord nie – hoe belangrik dit ook al mag wees – maar of hulle lewenstyl die evangelie waardig is, al beteken dit ook dat hulle daarvoor moet ly. Lyding is immers ’n voorreg, en ’n teken van ware geloof. Die rede hoekom dit vir hom so belangrik is, het met die publieke getuienis van die evangelie te make. Die woord wat hy hier in vers 27 gebruik vir lewenswandel kom van politeuomai af (die woorde politiek en polities is daarvan afgelei) wat gewoonlik gebruik is om die gepaste burgerlike gedrag uit te druk, d.w.s. om soos ’n ware Griek of Romein op te tree.

Paulus roep die gemeente in Filippi dus op om soos burgers van die hemelse koninkryk op te tree (vgl Fil. 3:20 waar hy dit eksplisiet sê: “Ons is burgers van die hemel …”), om in vennootskap met mekaar na buite op te tree. Niks rand immers mense se geloof in die evangelie so ernstig aan, as gelowiges wie se lewens nie die waarheid en wonder daarvan sigbaar maak in hierdie lewe nie. Daarom roep Paulus die gelowiges op om een van gees en siel saam te stry vir “die geloof in die evangelie”, al is daar ook hoeveel teëstand teen die evangelie. Hulle lewenswandel moet ’n kragtige getuienis wees wat mense aan die waarheid van die geloof kan blootstel, sodat die Gees sy oortuigingswerk kan doen.

Hierdie eensgesind moet ook na binne gehandhaaf word

Saam met hierdie publieke eensgesindheid is dit net so belangrik om eensgesind na binne toe te wees. Paulus roep die gemeente op om “eensgesind te wees: een in liefde, een van gees (siel), en een in denke” (2:2). Die frase wat met eensgesind vertaal word (auto phronête) beteken letterlik “om dieselfde te dink”, of like-minded te wees, soos ’n paar Engelse vertalings dit het. Die woord phronête dui nie net op intellektuele denke nie, maar sluit emosies, houdings en die wil in. Dit beteken dat die like-mindedness nie net intellektueel kan wees nie, d.w.s. om dieselfde te dink nie. Dit is eerder, soos Hawthorne dit pragtig sê: “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”. Hierdie eengesindheid word met drie frases gekwalifiseer wat die betekenis verder uitspel: deur “dieselfde liefde (agape – liefde ten spyte van) te hê” (vgl. Fil. 1:9), deur “een van siel te wees” (sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie – moontlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het), en deur “een van denke” (phronountes – denke in harmonie) te wees. Hulle word dus hier opgeroep om eenheid in Christus te soek, en nie in hulle eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie, en dit veral nie te gebruik as ’n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie. Hiervoor het ’n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!

Ondersteun en geïnspireer deur Christus en die Gees

Daarvoor het hulle die ondersteuning en inspirasie van Christus – sy troos (paraklesis – ’n woord wat ook veral vir die Gees se werk gebruik word) en, die aansporing van Sy liefde – en sy Gees – die gemeenskap (koinonia) en innige meegevoel en meelewing van sy Gees. Dit is die dinge wat selfsug en eersug laat plek maak om aan ander se belange te dink.

Eensgesindheid sal net ’n droom bly, as elkeen ingestel sal bly op hulle eie belange. Waar moeite gedoen word om eie belange of voordeel te bevorder, eerder as ander s’n, bly eenheid altyd in die slag. Let egter op dat Paulus nie hier sê dat ’n mens jouself en jou eie belange moet ontken of vermy nie, maar juis nederig in diens moet stel van ander se belange.

Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld

Vers 5-11 is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi. Dit is ‘n teks waaroor ‘n mens nooit uitgepraat kan raak nie, en oor en oor moet lees en oor moet nadink, tot dit deel raak van die praktyk van jou lewe.

Jesus ontledig Homself en word deur God verhoog

Die lied in Filippense 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11). In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf. Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis. Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ‘n Naam bo elke naam, en derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.

Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie hoewel. “Hoewel Hy in die gestalte van God was …” Dit kan egter ook vertaal word met omdat. “Omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder (ekenôsen) deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”

As ‘n mens dit só vertaal, is hierdie antieke lied dan nie net ‘n nuwe perspektief op wie Jesus is nie. Dit is ‘n nuwe verstaan van God self. Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie. Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ‘n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (Gorman)! Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie – “not getting but giving” (Moule). Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet.

Dieselfde gesindheid van selfontlediging moet ook in ons wees

Daar is ‘n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh. 13:3-17: 1) Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig; 2) voete gewas soos ‘n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword; 3) Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef; 4) Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is. Dit lyk nie asof dit toevallig is nie, veral weens die feit dat Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê, net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê. Voetewas is dus ‘n praktiese metafoor waarmee ‘n mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.

Boodskap en betekenis

Paulus roep ons hier op om ons eenheid in Christus te soek. “Een in liefde, een van siel, en een in denke” (Fil 2:2). Hierdie eenheid is “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”.

Agter hierdie beeld lê moontlik die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het. Iets daarvan is waar in ons verhouding met die Here Jesus. Soos ons groei in ons verhouding met Hom raak ons een van gees met Hom. Want, dit is presies wat die Gees in ons doen. Iets daarvan is ook waar in ons verhoudings met mekaar. Soos ons groei in gemeenskap met mekaar kom ons al hoe meer in gelid met mekaar, groei ons in liefde, groei ons in samehorigheid, groei ons in eensgesindheid.

Dink net watter effek só ‘n eensgesindheid op ons ervaring van ons onderlinge gemeenskap sal hê om nie te praat van die getuienis wat ons na ander sal uitdra nie!

Daar is net een manier om dit te kan vestig in ons Christelike gemeenskap en dit is om dieselfde gesindheid te hê wat daar in Christus Jesus is. Wat Homself ontledig het. Wat nederig genoeg was om nie vas te hou aan alles wat vir Hom kosbaar was as God nie, maar dit te gebruik om ons met God te verenig deur sy kruisdood en opstanding.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (7)

  • Beste Chris: ” Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige meelewing en ontferming,…”
    Jammer, dis weer ek met die nuwe vertaling. “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing, maak dan nou my blydskap volkome…”
    “….as daar enige innige meelewing…” maak geen sin nie. As dit is hoe hul die Bybel wil skryf, onverstaanbaar, dan hou ek by die oue. Direkte vertalings is goed, maar dit moet sin maak en ek glo nie alles kan direk vertaal word nie, net soos jy nie Eng en Afr direk kan vertaal nie.
    Of was dit ‘n drukfout? Die vers maak meer sin in die ou vertaling.

    • Hi Petrus, die 1933/53-vertaling het “innige tederheid en ontferming”, die 1983-vertaling het “innige meegevoel en meelewing”, en die 2020-vertaling het “innige meelewing en ontferming”. Die eerste Griekse woord splanchna het met ‘n diep gevoel vir mekaar, ‘n omgee wat jou binneste in beroering bring (amper soos derms wat in jou binneste roer, want die woord kan ook “dunderm” of “intestines” beteken) te make. Die tweede Griekse woord oiktirmoi het met barmhartigheid en ‘n sensitiwiteit vir ander te make, in Engels “compassion”. Ek dink eintlik aldrie vertalings dra die betekenis goed oor. Die 2020-vertaling se “ontferming” is presies dieselfde as die 1933/53-vertaling. Die 1983-vertaling se “meegevoel” is ook in die kol. Die 2020-vertaling se “meelewing” is weer presies dieselfde as die 1983-vertaling met die 1933/53-vertaling wat “ontferming” het. Ek sou persoonlik eerder kies vir “ontferming”, maar as jy barmhartig is teenoor iemand dan leef jy tog ook empaties saam met só iemand. So, ek kan my eintlik in aldrie vertalings se keuses vind. Weereens, kies die vertaling wat vir jou werk. Groete, Chris.

      • “as daar enige innige meelewing en ontferming, 2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees ”
        Dankie Chris. Ongelukkig het nie alles aangeheg. Die gedeelte van “…en ontferming, 2 maak dan my blydskap…” is my eintlike vraag. Daar kort ‘n voorsetsel of iets, want daai oorskakeling van ontferming na “maak dan” klink nie reg nie.

        • Hi Petrus, miskien help dit om die sinne op te deel in bysinne:

          Daarom,

          * as daar enige aansporing in Christus is,
          * as daar enige troos uit die liefde,
          * as daar enige gemeenskap van die Gees,
          * as daar enige innige meelewing en ontferming,

          maak dan my blydskap volkome

          * deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke;
          * deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;
          * deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.

  • Middag Chris
    Net n vraag rondom Filippense 2:10.
    10: Sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel, op die aarde en onder die aarde. 1: en elke tong sal bely – “Jesus Christus is die Here”
    Die bybel leer dat die wat alreeds gesterf het ons nie vooruit sal gaan na die hemel to nie maar dat die wat alreeds gesterf sal opstaan en ons sal binne ‘n oogwink verander om Jesus in die wolke te ontmoet.
    Die mense wat alreeds dood is is onder die “aarde”, is dit hulle wat hier van gepraat word. Kan die mense wat afgesterf is dan ook tot Jesus bid en hom prys. Ek verstaan Jesus het ook in die drie dae wat hy “dood” was afgegaan doderyk toe en die siele van die profete soos ‘n wolk saam hom opgebring hemel toe.
    Sal waardeer as jy my duidelikheid kan gee asseblief.
    Dankie
    Pieter

    • Hi Pieter, die ontslapenes in die Here se gees/siel is reeds in die hemel in die teenwoordigheid van God (Luk 16:22; 23:43; Openb 6:9). Wat Paulus daaroor skrywe, is dat dié wat reeds daar is, ons nie “voor” sal wees in terme van die liggaamlike opstanding in die ewigheid nie. Ons sal saam met hulle nuwe liggame ontvang wanneer ons tyd kom om in God se teenwoordigheid te verskyn, hetsy deur ons dood of deur die transformasie aan die einde van die tyd (1 Tess 4:15; vgl egter ook Matt 27:52-53 wat reeds van ‘n eerste liggaamlike opstanding praat; dit is onseker of dit met hulle bestaande liggame soos Lasarus was of met ‘n verheerlikte liggaam). Paulus sê in Filippense 2 van die “dooies” – waar hulle ook al is (in die hemel, nog op die aarde, of in die doderyk waar die geeste/siele van die ongehoorsames bewaar word) – dat hulle almal die knie sal buig (sommige in aanbidding, ander in afgryse), en sal moet erken dat Jesus die Here is (weereens, sommige met vreugde, ander met verwyt).

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: