JAKOBUS 5:13-20

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JAKOBUS 5:13-20

GELOWIGE GEBED

13As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. 14As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die •gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. 15Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word,en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. 16Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n •regverdige is baie kragtig in sy uitwerking. 17Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. 18Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.

19My broers, as enigeen van julle afdwaal van die waarheid, en iemand hom laat terugdraai, 20moet hy weet dat wie ‘n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, sy siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.

Teks en konteks

Jakobus sluit sy brief af met vier verdere bydraes wat die uitdagings van die lewe met die voorsiening van die Here verbind.  Hy rig dié boodskappe aan die rykes om hulle te waarsku, aan die lydendes om hulle tot geduld in lyding aan te spoor, en aan die hele geloofsgemeenskap om met integriteit te lewe, en veral nie op te hou om te bid nie, want dit is kragtig en effektief.  Ek deel dit as volg in:

  • Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae – 5:1-6
  • Wees geduldig in lyding – 5:7-11
  • Leef met integriteit – 5:12
  • Bid gelowig – dit is kragtig en effektief – 5:13-20

Ons hanteer net die laaste perikoop.

5:13-20 – Bid gelowig – dit is kragtig en effektief

Jakobus sluit af met ‘n uitbreiding van die gedagtes oor gebed waarmee hy sy brief begin het.  Daar het hy klem gelê op die wysheid wat van God gevra moet en kan word.  Hier brei hy daarop uit en betrek gebed op ‘n verskeidenheid situasies in die geloofsgemeenskap se lewe:

  • As jy swaarkry, moet jy bid.
  • As jy opgeruimd is, moet jy sing.
  • As jy siek is, moet die ouderinge gelowig bid vir genesing en vergifnis.
  • As jy sondig teenoor mekaar, moet dit bely en voor gebid word, sodat dit uitgesorteer, “gesond”, kan word.

Dié oproep word ondersteun met ‘n skets van Elia – “’n mens net soos ons” – wat vurig gebid het vir die weer, en God het hom telkens geantwoord.  “Die gebed van ‘n regverdige is kragtig en effektief.”  ‘n Voorbeeld wat ons kan, trouens, móét navolg.

Boodskap en betekenis

Dit tref my hoe Jakobus sy brief afsluit met ‘n opeenstapeling van eienskappe van die Here as motivering waarom hy hulle tot geduld, volharding, integriteit en gebed oproep.  En onthou, Jesus is die Here, soos Jakobus reeds in Jak. 1:1 bevestig het:

  • Jesus is dus die Here – die een wat gesag het oor alles. 
  • Jesus is die Heerser oor die magte – die een wat mag het oor alles. 
  • Jesus is die een wat weer kom – wat ons geduld sal beloon. 
  • Jesus is die Regter – die een wat nie net hoor nie, maar sal optree om dinge reg te stel.
  • Jesus is die een wat vol medelye en ontferming is – die een wat na ons luister.  
  • Jesus is die een wat genesing gee – daarom kan daarvoor gebid word. 
  • Jesus is ook die een wat vergewe – daarom kan ons ons sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid, want só ‘n gebed is kragtig en effektief.

Met dié Here Jesus Christus kan ‘n mens enduit gaan.  Op Hóm kan ‘n mens wag en Hom vertrou vir uitkoms in alles.  Sela.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: