Skip to main content

JOB 38:1-7 (34-41)

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOB 38:1-7 (34-41)

GOD SE ANTWOORD AAN JOB

381Die Here het Job uit ‘n stormwind geantwoord; Hy het gesê:

2“Wie is hierdie een wat ‘n plan

vertroebel met woorde sonder kennis?

3Omgord maar jou heupe soos ‘n man!

Ek sal jou ondervra,

lig jy My dan in!

4Waar was jy toe Ek

die fondamente van die aarde

gelê het?

Maak dit bekend

as jy die insig verwerf het!

5Wie het die afmetings daarvan bepaal?

Sê as jy dit weet!

Of wie het ‘n maatband daaroor gespan?

6Waarop is sy voetstukke ingesink?

Of wie het die hoeksteen daarvan gelê

7terwyl die oggendsterre saam gejubel,

en al die hemelwesens gejuig het?

8Wie het met dubbeldeure die see ingeperk

toe dit uitgebreek,

uit die baarmoeder voortgekom het,

9toe Ek wolke sy bokleed gemaak,

en hom in ‘n diepe duisternis toegedraai het,

10toe Ek my grens bo hom

oopgebreek het,

en ‘n sluitbalk en dubbeldeure

in plek geplaas het,

11en toe Ek gesê het,

‘Tot hier mag jy kom,

maar nie verder nie;

hier word my grens geplaas

teen jou trotse golwe!’?

12“Het jy op enige van jou lewensdae

‘n opdrag aan die oggend gegee,

vir die rooidag sy plek aangewys

13deur die some van die aarde vas te vat,

sodat goddeloses daarvan afgeskud word?

14Die aarde verander

soos klei onder ‘n rolseël,

sodat alles vorm kry

soos ‘n bokleed.

15Goddeloses word van hulle lig ontneem,

en ‘n opgehefde voorarm word gebreek.

16“Het jy al gekom tot by

die bronne van die see,

en in die onbekende dele

van die diep waters rondgeloop?

17Is die poorte van die dood

vir jou blootgelê,

en die poorte van die pikdonkerte –

het jy dit gesien?

18Het jy al ag geslaan

op die uitgestrektheid van die aarde?

Vertel, as jy dit alles weet!

19Waar is die pad na waar die lig woon;

en die donker, waar is sy plek,

20dat jy hom na sy gebied kan neem,

en die paaie na sy tuiste onderskei?

21Jy moet dit weet,

want jy was toe al gebore,

en die getal van jou lewensdae is baie!

22“Het jy al in die voorraadkamers

van die sneeu ingegaan,

en die voorraadkamers van die hael –

het jy dit al gesien,

23dit wat Ek gereedhou

vir ‘n tyd van angs,

vir die dag van stryd en oorlog?

24Waar is die pad na waar

die weerlig verdeel word,

na waar die oostewind

dit oor die aarde versprei?

25Wie het vir die vloedwaters

‘n voor oopgekloof,

‘n pad vir die harde donderslae,

26om dit te laat reën op ‘n land

sonder mense,

op ‘n woestyn waarin daar

geen mens is nie,

27om so die wildernis

en woesteny te versadig,

en groen grasspriete te laat uitspruit?

28Het die reën ‘n vader,

of wie het geboorte gegee

aan die doudruppels?

29Uit wie se moederskoot

het die ys te voorskyn gekom,

en die ysryp uit die hemel –

wie het daaraan geboorte gegee,

30wanneer water

asof in klip skuilgaan,

en die oppervlakte

van die diep waters dig sluit?

31“Kan jy die koorde

van die Sewester knoop,

of die bande van Orion losmaak?

32Kan jy ‘n sterrebeeld uitlei op sy tyd,

die Beer met haar kleintjies begelei?

33Ken jy die wette

van die hemelruim,

kan jy die invloed daarvan

op die aarde vasstel?

34Kan jy jou stem na die wolke rig,

sodat ‘n watervloed jou bedek?

35Kan jy weerligte vrylaat,

sodat hulle gaan

en vir jou sê, ‘Hier is ons!’?

36Wie plaas wysheid

in die wit wolke,

of wie gee insig

aan die wolke wat wegdryf?

37Wie kan met wysheid

die wolkemassa aftel,

en die waterkruike van die hemel –

wie keer hulle om,

38wanneer die grond

soos gegote metaal verhard,

en die kluite saamklont?

39“Kan jy vir ‘n leeuwyfie prooi jag,

die honger van jong leeus bevredig

40wanneer hulle in lêplekke hurk,

onder ‘n blaredak gereed sit

vir die hinderlaag?

41Wie voorsien aan die kraai sy kos

wanneer sy kuikens aanhoudend

na God roep,

ronddwaal sonder kos? (2020-vertaling)

Teks en konteks

Uiteindelik antwoord die Here vir Job uit ‘n stormwind, presies soos Elihu voorspel het (37:13).  En God se antwoord is ‘n vraag: “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?” (38:2).  ‘n Vraag waarop Job uiteindelik moet antwoord: “Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het?  Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie.”  (42:3).

God se bedoelinge moet dus in ons lewe sigbaar raak.  Die vraag na geregtigheid is nie ‘n vraag wat ‘n aparte antwoord nodig het nie. Dit is ingebou in God se bedoelinge.  Hy staan daarvoor in.

Ons kan egter God se bedoelinge dwarsboom deur op meer insig aanspraak te maak as wat vir ons beskore is.  Ons moet Hom toelaat om God te wees en saam met Hom vreugde vind in sy werke, en uiteindelik in God self, in die verhouding met Hom.

Dié boodskap word in twee gesprekke van God met Job verkondig:

  1. God beskryf die infrastruktuur (Clines) van die wêreld in terme van die ontstaan van die fisiese wêreld (vgl. Gen. 1) en die onderhouding van die dierewêreld (vgl. Gen. 2) aan die hand van ‘n reeks vrae aan Job wat Job laat besef dat hy nie opgewasse is om met die Here daaroor in gesprek te tree of, behoede hom, God tereg te wys nie – 38:1-39:38.
  2. God beskryf twee van die lewensvorms op aarde – die Behemot en die Leviatan, normaalweg geassosieer met die seekoei en die krokodil, hoewel die woorde ook mitologiese betekenisse in spel bring – in terme van hulle ontwerp wat ontsag by almal afdwing, nie net vir die diere self nie, maar vir die Een wat hulle gemaak het. Die gesprek mond uit in Job se berouvolle bekering tot die Here – 40:1-42:6.

Daarmee verkondig die Here dat daar ‘n intrinsieke orde in die skepping en onderhouding van alles is, gebaseer op sy wyse bedoelinge en omvattende vermoë.  Daar is niks waarby God nie op ‘n integrale wyse betrokke is nie, want Hy ken alles in die intiemste detail daarvan.

  • Daarom word elke dag as ‘n nuwe skepping van God voorgestel (38:12-14).  
  • Daarom word leeus as afhanklik van God vir hulle prooi geteken (39:1-2), soos trouens elke ander skepsel (kraaie, klipspringers, wildsbokke, wildedonkies, buffels, volstruise, perde, valke, en aasvoëls. 

Daar is dus niks fout met die wêreld wat God geskep het nie, want God is betrokke in die fynste detail daarvan.  Die geskape werklikheid is nie net vir hom van onskatbare vreugdevolle belang nie, maar moet ook die mense tot ontsag vir Hom beweeg.

Interessant genoeg word die skepping van die mens nie op soortgelyke wyse in God se gesprek met Job beskryf nie, wat ‘n mens laat dink dat God eintlik vir Job, as goddelike verteenwoordiger, wil intrek in die vreugde oor die skepping, as’t ware uitnooi om soos God ‘n intense vreugde in God se wêreld te hê.

God het die fisiese wêreld gemaak – 38:1-38

God beskryf die infrastruktuur van die wêreld in terme van die ontstaan van die fisiese wêreld aan die hand van ‘n reeks van drie en dertig vrae aan Job afgewissel met kort verklarings van God se werk in die wêreld.  Dit sal opgevolg word met sewentien vrae oor God se onderhouding van die dierewêreld in hfst. 39.

Die vrae dek die detail van die ontstaan van die aarde, waarvan die fondamente in die see gelê is; die see wat opgedam is om plek te maak vir die bewoonde aarde; die skep van dag en nag wat as ‘n nuwe skepping elke dag beskryf word; die doderyk, die siklusse van sneeu, hale, reën, doudruppels, ys, en ryp, om maar net ‘n paar te noem.

Kortom, die Here gee ‘n voëlvlug van die hele bekende wêreld soos die eerste skeppingsverhaal in Genesis 1 dit ook in hoofsaak beskrywe. 

Tussendeur vra die Here die retoriese vraag: “Kan jy ‘n beeld vorm van die groot wye wêreld?” (38:18).  Die antwoord daarop is natuurlik, nee, nie eers naastenby nie.

Die Here gaan voort om vrae oor die hemelse ligte te vra, die Sewester, die Orion, die Beer, al die hemelliggame. Weereens vra die Here ‘n retoriese vraag so tussendeur: “Weet jy hoe die hemelliggame werk?  Stel jy hulle invloed op die aarde vas?” (38:33).  Die antwoord daarop is natuurlik ook nee, nie eers naastenby nie.

Boodskap en betekenis

Die punt van hierdie eerste deel van God se gesprek met Job is dat dít alles deur God gemaak is, en dat Hy alleen daarvoor verantwoordelik is.  God het die fisiese wêreld gemaak en alles wat daarin is.  Hy het dus soewereine gesag daaroor.

Terloops, die NAV se vertaling van die ibis wat mense oor vloede waarsku en die haan wat die dagbreek aankondig (38:36) is net een interpretasie van die twee onbekende Hebreeuse woorde.  Die waarskuwing oor vloede en die aankondiging van die dagbreek is ook net ‘n interpretasie. 

Ek verkies die OAV se interpretasie wat die woorde met wysheid en verstand verbind en sonder ander byvoegings vertaal: “Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte?”  Of die NET: “Who has put wisdom in the heart,50 or has imparted understanding to the mind?”  Vergelyk hier onder hulle motivering.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.


50 tn This verse is difficult because of the two words, טֻחוֹת (tukhot, rendered here “heart”) and שֶׂכְוִי (sekhvi, here “mind”). They have been translated a number of ways: “meteor” and “celestial appearance”; the stars “Procyon” and “Sirius”; “inward part” and “mind”; even as birds, “ibis” and “cock.” One expects them to have something to do with nature—clouds and the like. The RSV accordingly took them to mean “meteor” (from a verb “to wander”) and “a celestial appearance.” But these meanings are not well-attested.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar