Skip to main content

JESAJA 40:12-31

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

12 Wie kan die waters in die holte 

van sy hand afmeet, 

die hemel met sy handspan peil, 

met ‘n derde van ‘n efa die stof van die aarde opvang, 

met ‘n handskaal die berge weeg, 

die heuwels met ‘n weegskaal? 

13 Wie kan die Gees 

van die Here peil, 

wie is die mens wat aan Hom 

sy raadsbesluit bekend maak?

14 Met wie beraadslaag Hy, 

en wie hou Hom op hoogte, 

wie onderrig Hom oor die verloop 

van ‘n regsaak? 

Wie dra aan Hom kennis oor, 

en die pad van wyse beskikking, 

wie maak dit aan Hom bekend?

15 Kyk, nasies is soos ‘n druppel 

uit ‘n leersak; m hulle word beskou as net 

‘n lagie stof op ‘n weegskaal. 

Kyk, eilande weeg Hy 

asof dit fyn stof is. 

16 Die Libanonbos se hout 

is nie genoeg 

om ‘n vuur te maak, 

en sy wilde diere nie genoeg 

vir ‘n brandoffer nie. 

17 Al die nasies is soos niks 

voor Hom; 

deur Hom word hulle beskou as 

minder as iets niksseggends, 

minder as ‘n nietigheid. 

18 Met wie wil julle God vergelyk? 

Watter afbeelding wil julle 

langs Hom stel? 

19 ‘n Afgodsbeeld wat ‘n vakman 

gegiet het, 

wat ‘n smid met goud 

oorgetrek het, 

‘n smid met silwer beslaan het? 

20 As ‘n wydingsgeskenk 

kies mens ebbehout, hout wat nie verrot nie. 

‘n Vaardige vakman 

soek hy vir hom 

om ‘n afgodsbeeld te maak 

wat nie omkantel nie.

21 Weet julle nie? 

Hoor julle nie? 

Is dit nie van die begin af 

aan julle bekend gemaak nie? 

Het julle nie begrip van die aarde 

se fondamente nie? 

22 Dit is Hy wat troon 

bo die ronde skyf van die aarde; 

die bewoners daarvan 

is soos koringkrieke. 

Dit is Hy wat die hemel oopspan 

soos ‘n doek, 

dit oopsprei soos ‘n tent,

sodat mense daar kan woon. 

23 Dit is Hy wat maghebbers 

tot niks maak; 

die regeerders van die aarde 

maak Hy ‘n nietigheid. 

24 Skaars is hulle geplant, 

skaars is hulle gesaai, 

skaars skiet hulle steggies 

wortel in die grond, 

of Hy het reeds op hulle geblaas, 

en hulle verdor; 

dan lig ‘n stormwind hulle op 

soos strooi. 

25 “Met wie wil julle My vergelyk, 

sodat Ek net soos hulle sal wees?” 

vra die Heilige. 

26 Kyk boontoe en sien! 

Wie het hierdie dinge geskep? 

Dit is Hy wat die hemelse leër 

een vir een uitlei, 

hulle almal op die naam roep. 

Deur die toedoen van Hom 

wat groot vermoëns 

en geweldige krag het, 

ontbreek nie een nie. 

27 Waarom sê jy dan, Jakob, 

en beweer jy, Israel: 

“My lewenspad is verborge 

vir die Here, my reg gaan by my God verby”? 

28 Weet jy dit nie? 

Het jy dit nie gehoor nie? 

‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes 

van die aarde. 

Hy word nie moeg nie, 

Hy raak nie afgemat nie – 

ondeurgrondelik is sy insig. 

29 Dit is Hy wat vermoeides krag gee, 

wat lewenskrag vermeerder 

vir dié wat geen vermoëns het nie. 

30 Jong seuns word moeg 

en raak afgemat; 

jong manne struikel en val. 

31 Maar wie op die Here wag, 

herwin hulle krag; 

hulle kry nuwe vere soos arende. 

Hulle hardloop, 

maar raak nie afgemat nie, 

hulle loop, 

maar word nie moeg nie. 

Teks en konteks

Hoofstuk 40 begin in die eerste perikoop met die boodskap dat dit God se inisiatief is wat die uitkoms bring vir Jerusalem (Jes 40:1-11).  Die goeie tyding moet aan die ballinge van Juda gebring word.  God gaan weer as hulle herder optree: “Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” (OAV)

In die tweede perikoop van hoofstuk 40 – die deel wat ons gelees het – word die beloofde verlossing verbind aan God se onvergelyklike skeppingsmag en wysheid.  Let op die pragtige beskrywings wat Jesaja gebruik om God se skeppingsmag uit te druk – die waters wat Hy in die holte van sy hand afmeet; die hemel wat Hy met sy handspan peil; die handskaal waarmee Hy die berge weeg.

God se wysheid word aan die onpeilbare diepte van die Gees verbind. Daar is niks wat God nie weet nie. Daar is niemand wat vir Hom raad kan gee nie.

In vergelyking met Hom is die nasies soos ‘n laaste druppel uit ‘n leersak; soos ‘n lagie stof op ‘n weegskaal. Dieselfde geld die afgode wat nie eers op hulle eie regop kan staan sodat hulle nie omkantel nie.

Jesaja vra dan vir die volk hoe dit dan is dat hulle hierdie God se mag en wysheid kan betwyfel. Hulle is immers deur Hom uitgekies om dié dinge aan hulle bekend te maak. En Jesaja gebruik nog ‘n paar skeppingsbeelde om God se majesteit te beklemtoon. Hy bepaal wie lewe en wie sterwe.

Daar is doodgewoon niemand om Hom mee te vergelyk nie. Nie op die aarde nie. Ook nie in die hemel nie. Hy sorg dat elke deel van die skepping sy plek vind en sy sorg geniet.

Daarom is dit so onverstaanbaar dat die volk kan twyfel aan God se sorg. Selfs in ballingskap weet Hy presies wat met hulle gebeur. Hulle lewenspad is nie verborge vir God nie.

Maar, Jesaja verwyt hulle nie vir hulle terneergedruktheid nie. Nee, hy roep hulle op om hierdie God se belofte van ‘n omkeer aan te gryp, om Hom te vertrou.

God word nie moeg nie en kan daarom vermoeides krag gee. Selfs dié wat geen vermoëns het nie, kan hy soos arende met nuwe vere (vlerke) die hoogtes in laat sweef.

Dit is die God waarop hulle moet wag, op wie hulle moet vertrou. Dan sal hulle hardloop, maar nie afgemat raak nie, loop, maar nie moeg word nie!

Die volk hoef dus nie meer te kla dat God hulle nie raaksien nie, trouens hulle mag nie meer kla nie, want dié God sien hulle nie net raak nie, maar sal nooit moeg word om vir dié wat op Hom vertrou nuwe krag te gee nie.

Boodskap en betekenis

Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Dit is die boodskap van Jesaja 40.

Neem gerus vandag een van die gedagtes oor God wat jou getref het in hierdie gedeelte – bv die skeppingsbeskrywings –  en spandeer tyd om daaroor na te dink en die Here daarvoor te loof. En plaas weer jou vertroue op dié God wat nie net weet van jou nie, maar vir jou sorg.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…