Skip to main content

MARKUS 6:14-29

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 6:14-29

14 Koning Herodes het dit gehoor, want sy Naam het bekend geword, en hulle het gesê: “Johannes die Doper is opgewek uit die dood. Dáárom werk die kragte in hom.” 15 Ander het egter gesê: “Hy is Elia,” maar nog ander het gesê: “Hy is ’n profeet soos een van die profete.” 16 Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Johannes wat ek onthoof het, hy is opgewek.” 17 Want Herodes self het soldate gestuur en Johannes laat arresteer en hom in die gevangenis geboei oor Herodias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het. 18 Johannes het immers vir Herodes gesê: “Dit is nie toelaatbaar vir jou om jou broer se vrou te hê nie.” 19 Herodias het egter ’n wrok teen hom bly koester en sy wou hom doodmaak, maar sy kon nie. 20 Want Herodes was bang vir Johannes omdat hy hom geken het as ’n regverdige en heilige man en hom beskerm het, en wanneer hy na hom geluister het, was hy baie onseker; tog het hy graag na hom geluister. 21 Maar ’n geskikte dag het aangebreek toe Herodes met sy verjaarsdagvierings vir sy vername mense en hooggeplaaste offisiere en hoëlui van Galilea ’n feesete gegee het, 22 en die dogter van Herodias het ingekom en sy het gedans. Sy het Herodes behaag, asook dié wat saam aan tafel was. Die koning het vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy ook al begeer en ek sal dit vir jou gee.” 23 En hy het dit herhaaldelik met ’n eed aan haar bevestig: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, tot die helfte van my koninkryk.” 24 Sy het toe uitgegaan en vir haar moeder gesê: “Wat moet ek vra?” Sy het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.” 25 Onmiddellik het sy haastig ingegaan na die koning toe en gevra: “Ek wil dat u dadelik vir my die kop van Johannes die Doper op ’n bord gee.” 26 Toe het die koning baie hartseer geword, maar ter wille van sy eed en dié wat aan tafel was, wou hy haar dit nie weier nie. 27 Die koning het onmiddellik ’n laksman gestuur en beveel om sy kop te bring. En hy het gegaan en hom in die tronk onthoof. 28 Toe het hy sy kop op ’n bord gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar moeder gegee. 29 Toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk geneem en dit in ’n graf neergelê. (ASV)

Teks en konteks

6:14 Markus verwys waarskynlik direk na die werk van die dissipels wat tot gevolg gehad het dat die Naam van Jesus bekend geword het. Koning Herodes (hy is in die omgangstaal koning genoem, maar amptelik was hy ‘n viervors) het dit gehoor en kennis geneem dat daar gespekuleer word dat Jesus Johannes die Doper is wat uit die dood opgewek is.

Geen wonder dan, as hy inderdaad uit die dood opgewek is, dat die kragtige dinge deur hom, dit is Johannes, kan gebeur nie. Want dit was bekend dat Johannes nooit wonderwerke gedoen het nie (Joh 10:41). Dit kon egter nou verander het as hy inderdaad uit die dood opgewek is.

6:15 Sommige het egter gedink dat Jesus eerder met Elia of ‘n ander profeet verbind word.

6:16 Herodes maak egter sy eie afleiding en dink dat Jesus waarskynlik Johannes die Doper is wat opgewek is, die een wat hy onthoof het. In die volgende perikoop in Markus sal die verhaal dan van Johannes die Doper se onthoofding vertel word.

6:17-18 Markus herroep die verhaal van Herodes wat self teen Johannes die Doper opgetree het. Hy het soldate gestuur om hom te arresteer, en in boeie gevange gehou in die gevangenis by Machaerus by die Dooie See aan die onderkant van die Jordaan. Aan die een kant was dit omdat Johannes hom aangespreek het oor sy troue met sy broer se vrou, Herodias, en Herodias wraak gesweer het. Die wet het dit immers eksplisiet verbied (jy mag nie met jou broer se vrou trou nie – Lev 18:16; 20:21) soos Herodes goed geweet het. Aan die ander kant kon Herodes daar ongehinderd na Johannes luister en hy het die kans om na hom te luister gereeld benut.

Herodias was ‘n dogter van Herodes Antipas se halfbroer Aristobulus. Herodes was dus Herodias se oom. Sy was getroud met ‘n ander halfbroer van Herodes, Filippus, ook haar oom. Herodes wou egter ten alle koste met Herodias trou. Sy het daarom van Filippus geskei, Herodes weer van sy eie vrou, en só het hulle in die huwelik getree. ‘n Flagrante spul oortredings van die wet wat van ‘n totale gebrek aan gesonde oordeel getuig het.

6:19-20 Herodias het egter ‘n wrok teen Johannes bly koester, want Johannes se teenstand het haar politieke en sosiale status bedreig. Sy wou hom doodmaak, want sy het geweet dat sy nie sy goedkeuring sou kry nie. Maar sy het nie ‘n wettige manier gehad om dit reg te kry nie.

Herodes was ook van min hulp, want Herodes was bang vir Johannes. Nie net omdat Johannes ‘n regverdige en heilige man was nie, maar ook omdat Herodes gereeld na Johannes geluister het, en gehou het van wat hy sê. Herodes het Johannes dus op ‘n manier beskerm, al het hy hom in die tronk gegooi om hom dood te maak. Hy het egter terselfdertyd die geleentheid benut om verder te luister na Johannes.

Let op hoe die feit dat Herodes geluister het, maar nie wou doen wat Johannes sê, hom onseker gemaak het. Onsekerheid kom baie keer van ‘n onwilligheid om gehoorsaam te wees.

6:21-23 Maar die geskikte tyd het met ‘n feesete op een van Herodes se verjaarsdae aangebreek. Al die “who’s who” van Galilea was daar. Skielik verskyn Herodias se dogter, Salome (volgens Josephus), en dans vir Herodes en sy gaste. Dit was baie ongehoord, want die tipe danse was bedoel om uitlokkend te wees, en nie iets wat gepas het by haar status in die huishouding nie.

Herodes en sy gaste was egter baie beïndruk met haar en in ‘n gebaar van magsvertoon bied Herodes aan om haar ryklik te beloon, selfs hiperbolies tot die helfte van sy koninkryk. Herhaaldelik!

6:24-25 Dat Salome haar ma vir raad gaan vra, dui waarskynlik op haar jeugdigheid, maar dat sy die versoek van Herodias om die kop van Johannes die Doper gaan oordra, dui op ‘n sameswering met haar ma om hierdie onuitspreeklike wrede ding van haar pa te vra. Johannes se kop op ‘n bord.

6:26-28 Die feit dat Herodes hartseer was, is eintlik net verswarende getuienis teen hom, want hy voldoen aan haar bose wrede versoek. Herodes wou nie sy eed verbreek nie, sodat hy nie gesig verloor voor sy gaste nie, maar breek só die sesde gebod, jy mag nie moord pleeg nie. Johannes die Doper verloor dus sy lewe, sodat Herodias haar sin kan kry en hom uit die weg kan ruim.

6:29 Die emosies van Johannes die Doper se dissipels word nie vir ons vertel nie, maar uit eerbied vir hom en sy bediening het hulle gekom en hom ‘n ordentlike begrafnis gegee. Al het dit waarskynlik die einde van hulle dissipelskapsgroep in Galilea beteken.

Volgens Matteus het hulle vir Jesus gaan vertel daarvan wat die moontlikheid laat dat hulle van daar af vir Jesus gevolg het. Later tref ‘n mens wel nog Johannes die Doper volgelinge aan in Turkye wat finaal deur Paulus en ander deel van die Christus beweging gemaak word (Apollos – Hand 18:25; die twaalf dissipels in Efese – Hand 19:3).

Boodskap en betekenis

Let weereens op hoe elkeen sy eie prentjie van Jesus op ‘n afstand probeer vorm. Sommige dink dat die vorige groot publieke geestelike figuur, Johannes die Doper, herleef het. Ander probeer op ‘n onbeholpe manier die Skrif gebruik om Jesus se werk te verstaan, maar sonder sukses. Nog ander, soos Herodes, se verskroeide gewete laat hulle verkeerde gevolgtrekkings maak. In plaas daarvan om maar die moeite te doen, soos ‘n Nikodemus, om self te gaan vasstel wie Jesus nou eintlik is. Voor dit te laat is, en die geleentheid homself nie meer sal voordoen nie.

Dit is ontstellend hoe een sonde ‘n hele waardestelsel op sy kop kan draai. Herodes wil met Herodias trou, alreeds ‘n oortreding van die tiende gebod, jy mag nie begeer nie. Dit beteken egter dat die drie van hulle – Herodes, Filippus, en Herodias – almal die sewende gebod moet oortree, jy mag nie egbreuk pleeg nie. Dit lei onvermydelik tot ‘n oortreding van die sesde gebod, jy mag nie moord pleeg nie. Op die koop toe word Salome se gehoorsaamheid aan haar ma se opdrag ‘n sonde, want dit oortree ook die sesde gebod.

Wat die verhaal nog meer ontstellend maak, is dat die gaste waarskynlik die moord goedgekeur het, omdat Herodes met groot hartseer gesê het dat hy sy woord gegee het, en sy woord sal hou. Hoe koninklik is dit nie, het hulle miskien gesê!

Dit leer ‘n mens dat ‘n mens geen plek vir die duiwel moet gee nie, nie eers ‘n duimbreedte van jou lewe nie (Ef 4:27). Een sonde lei noodwendig tot ‘n volgende sonde met onvoorsiene gevolge. Dit leer ‘n mens ook dat jy nie een sonde teen ‘n ander moet afspeel nie. Dit help nie jy hou jou woord ter wille van jou eie belang, maar in die proses vernietig jy iemand anders se lewe nie.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar