Skip to main content

MARKUS 12:28-34

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 12:28-34

VRAAG OOR DIE BELANGRIKSTE GEBOD

(Matt 22:34-40; Luk 10:25-28)

28Een van die skrifkenners wat hulle hoor redeneer het, het nader gekom. Toe hy sien dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy Hom: “Watter gebod is die belangrikste van almal?” 29Jesus het geantwoord: “Die eerste is, ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag’. 31Die tweede is dit, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is belangriker as dié nie.”

32Die skrifkenner het vir Hom gesê: “Uitstekend, Meester, dit is waar wat u sê, dat ‘Hy die Enigste is en dat daar geen ander is as Hy nie’. 33‘Om Hom lief te hê met jou hele hart, jou hele verstand en met al jou krag, en om jou naaste lief te hê soos jouself’, is belangriker as al die brandoffers en diereoffers.” 34Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom iets te vra nie. (2020-vertaling)

Teks en konteks

12:28 Na drie belangrike gesprekke met die Joodse leiers die dag fokus Markus op ‘n volgende vraag van ‘n skrifkenner (grammateus) aan Jesus oor die grootste gebod in die Skrif. Dit is die enigste skrifkenner waarvan die Evangelies vertel wat in ‘n positiewe gesprek met Jesus betrokke was.

Hy het die gesprek met die Sadduseërs gehoor en was beïndruk met Jesus se antwoord aan hulle. Trouens, volgens sy eie verstaan van die Skrif het Jesus hulle “goed” geantwoord. Hy wil dus dieper ingaan op Jesus se teologie, en nie net oor die toekomstige opstanding praat nie, maar oor wat hier en nou die belangrikste is.

Die twee vrae hou uiteraard verband. Hoe ons hier lewe het ‘n invloed op hoe ons deel het aan die opstanding. Daarom vra die skrifkenner vir Jesus watter gebod is die eerste of belangrikste (prōtos) van alles, dws die een wat die grootste gewig dra.  Onthou dat daar 613 wette net in die Pentateug alleen was – 365 negatiewes en 245 positiewes.

12:29-30 Jesus kon sien dat die man ‘n eerlike vraag vra en antwoord hom onmiddellik met die Sjema uit Deuteronomium 6:4-5, die sentrale Joodse belydenis uit die wet. Dit behels die erkenning dat daar net een Here is, die Here ons God, sowel as die liefde vir Hom wat jou hele wese, wil en lewe in beslag neem (vgl Jos 22:5).

Jesus vul die tradisionele drie aspekte van die liefde vir God uit Deuteronomium – met jou hele hart (wil), hele siel (wese) en al jou krag – aan deur ook ‘n liefde met jou hele denke (dianoia – “mind”) by te voeg. Liefde met jou denke dui op ‘n gewilligheid om jou hele gedagtewêreld op God te rig. Hy lewer daarmee heel moontlik ook kommentaar op die gebrekkige wysheid van die Sadduseërs in hulle hantering van die Bybel.

12:31 Hierby voeg Jesus die gebod tot die liefde vir die naaste uit Levitikus 19:18 wat gelyk moet wees aan die liefde vir jouself. Jesus verklaar dat geen ander gebod groter as die twee gebooie is nie.

12:32 Die skrifgeleerde (skrifkenner – dit is dieselfde Griekse woord grammateus) was beïndruk met Jesus se antwoord en herhaal dit met ‘n eie aanhaling uit Deuteronomium 4:23 om sy instemming met Jesus te betuig. Uitstekend, sê hy met erkenning van Jesus se status in sy eie oë as Leermeester (didaskale). Jesus se beklemtoning van God se eenheid en uniekheid is in die kol, soos dit in die Joodse monoteïsme veral na die ballingskap konsekwent geleer is op grond van Deuteronomium 4:23.

12:33 Hy omhels Jesus se verklaring van die Sjema deur ook die Godsliefde in terme van jou hele hart en al jou krag soos Jesus uit te lê, te beklemtoon, maar dan boonop Jesus se verdere beklemtoning van Godsliefde met jou gedagtes as legitieme uitleg van die Sjema te aanvaar, hoewel hy dit met ‘n sinonieme Griekse woord doen (sunesis).

Hy verklaar ook dat Jesus korrek is met sy insig dat die naasteliefde saam met Godsliefde in rangorde gestel kan word, en voeg by dat naasteliefde belangriker is as die brandoffers en offerandes wat heeltemal verbrand is (vgl Ps 40-5-6; Lev 1). Jesus het dit self al gesê dat barmhartigheid belangriker as offerandes is (Matt 9:13; 12:7; vgl Hos 6:6). Die Hebreërskrywer sal later dieselfde sê van die OT offers en self uit Psalm 40 aanhaal, soos die skrifkenner (Hebr 10:7-9).

12:34 Toe Jesus sien hoe verstandig en wys die skrifkenner Jesus se antwoord ontvang en geïnternaliseer het, verklaar Hy dat die skrifkenner nie ver van die koninkryk van God is nie. Wat natuurlik nog nodig sou wees vir die skrifkenner is om die koninkryk van God binne te gaan deur sy lewe aan Jesus toe te vertrou.

‘n Mens wens Markus het meer detail hieroor verskaf, dat ‘n mens die uitkoms van dié gesprek in die lewe van die skrifkenner te wete kon kom! 

Ons lees egter nie dat die man tot bekering kom nie, net maar dat die vrae opgedroog het. Niemand het meer gewaag om aan Hom vrae te stel nie. En Jesus sou hierna nie net aan die skrifkenners vrae stel nie, maar oorgaan tot ‘n oordeel oor hulle wat nie net die Skrif nie reg uitgelê het nie, maar ook dinge gedoen het wat lynreg teen die Skrif ingedruis het.

Boodskap en betekenis

Die vrae wat jy vra, is nooit onskuldig nie. Dit wys wat jy dink. Dit geld die Sadduseërs wat Jesus probeer uitvang het. Dit geld ook hierdie skrifkenner wat Jesus beter wou verstaan.

Jesus het die sinisme oor die koninkryk van God in die Sadduseërs se vrae oor die opstanding uitgewys en die soeke daarna in die skrifkenner se vrae oor God se gebod. Dit is waarom die Sadduseërs ver van die koninkryk was, en hierdie skrifkenner naby.

Die feit dat ons nie weet hoe hy uiteindelik op Jesus gereageer het nie, bring ons elkeen voor die vraag of ons reeds die stap geneem het om in te stap op die weg na die koninkryk van God. Want, Jesus is daardie Weg. Geloof en vertroue op Hom gee ons die reg om kinders van God te word.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…