Skip to main content

JAKOBUS 2:1-10, (11-13) 14-17

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JAKOBUS 2:1-10, (11-13) 14-17

BEOORDELING VOLGENS UITERLIKE

1My broers, julle geloof in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie. 2As daar ‘n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook ‘n arm man met vuil klere aan, 3en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op ‘n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” 4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie?

5Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? 6Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? 8As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. 9As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. 10Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. 

11Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy ‘n oortreder van die wet. 12Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. 13Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.

GELOOF EN DADE

14Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? 15As ‘n broer of ‘n suster sonder klere en daaglikse kos is, 16en een van julle sê vir hulle, “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? 17So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood.

18Maar as iemand sê, “Jy het geloof en ek het dade,” wys dan vir my jou geloof sonder dade, en ek sal jou uit my dade my geloof wys. 19Glo jy dat God Een is? Goed so. Ook die demone glo dit, en hulle bewe. 20Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Is Abraham, ons vader, nie op grond van sy dade regverdig verklaar, omdat hy sy seun Isak op die altaar geplaas het nie? 22Kan jy sien dat die geloof meegewerk het met sy dade, en dat vanuit die dade die geloof volkome geword het? 23En die Skrif is vervul wat sê: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.” 24Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie. 25Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie? 26Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood. (2020-vertaling)

Teks en konteks

2:1-12 – Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie

LEEF ONPARTYDIG EN IN DEERNIS: Dit is só belangrik, omdat in die proses om die woord van God te doen en daaraan gehoorsaam te word, kan juis dié deernis met mense in gedrang kom as ‘n mens verlei word om met slegte oorwegings, d.w.s. vooroordele of partydigheid, na ander te kyk.  Dan kom jou naasteliefde in gedrang.  Wanneer ‘n mens onderskeid tref tussen rykes en armes net op grond van hulle uiterlike, stel jy jouself boonop as ‘n regter oor mense aan.  Dit is iets wat net God toekom.

Jakobus begrond dit in die feit dat die Here Jesus Christus die Here van die heerlikheid is.  Hy is die kurios, die Here, die soewereine God, die een wat baie hoër in status as die aardse kurios is, die keiser.  Jesus se heerlikheid bestaan egter, anders as die keiser, in diens aan en deernis met sy naaste.  Dieselfde diensbaarheid en deernis moet dus die geloofslewe van die geloofsgemeenskap kenmerk.  Ryk mense mag nie bevoordeel word bó armes nie.

Trouens, Jakobus gee ‘n verdere rede waarom dit belangrik is.  Hy verwys na die uitspraak in Jesus se Bergrede waar Hy hulle geleer het: “Geseënd is dié wat geestelik arm is, want hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3).  Of soos Lukas dit weergee: “Geseënd is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle.” (Luk. 6:20).  Jakobus lê dit uit as aanduiding van God se keuse vir armes in die wêreld om ryk in die geloof te wees.  Hy bevoordeel dus armes om hulle afhanklikheid van Hom beter te besef.  Rykes daarenteen is baie keer juis dié mense wat armes uitbuit en voor die gereg sleep.  Daardeur word die goeie Naam van die Here belaster wat oor hulle uitgeroep is.

Jakobus gee nog ‘n verdere rede.  Partydigheid of voortrekkery dwarsboom ook God se wet van naasteliefde.  En dit is nie iets wat ongestraf sal bly nie.  Jakobus is duidelik daaroor dat God se oordeel: “genadeloos is oor wie nie deernis betoon nie.”  Die voordeel van deernis is daarby dat dit op sigself jou gerus kan stel met die oog op die Wederkoms, soos in die gelykenis van die skape en die bokke reeds aan die orde gestel is deur Jesus, nog ‘n verwysing wat moontlik agter hierdie gedagte lê (Matt. 25:31-46): “Deernis triomfeer oor die oordeel.

2:13-26 – Doen wat jy glo

GEE VIR DIÉ WAT NODIG HET: Jakobus gaan verder met sy tema van deernis en koppel dit aan geloof.  Dade bewys nie net deernis nie.  Dade bewys geloof.  Trouens: geloof sonder dade is sonder meer dood, sonder enige lewe.  Geloof moet bevestig word met dade.  Dit help nie om vir ‘n broer of suster sonder klere en daaglikse kos – onthou die Ons Vader se bede: “Gee óns vandag ons daaglikse brood,” (Matt. 6:11) – weg te stuur met mooi woorde en nie in hulle behoefte te voorsien nie.

Jakobus illustreer hierdie dooie geloof met die bekende voorbeeld van die duiwels se geloof wat per se nutteloos is.  Daarby voeg hy twee voorbeelde uit die Skrif – ‘n man en ‘n vrou: Abraham wat bereid was om sy seun Isak te offer en Ragab wat die boodskappers gasvry ontvang en beskerm het – om te wys hoe geloof meegewerk het met hulle dade en “dat vanuit die dade die geloof volkome geword het.

Abraham het die voorreg ontvang om ‘n vriend van God genoem te word, en Ragab, die prostituut, het een van die voorouers van Jesus geword: “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.

Boodskap en betekenis

Jakobus onderstreep vir my twee sake in dié gedeelte. 

  • Luister met volle aandag tot jy weet wat God sê sodat jy dit kan doen.  As jy te gou praat of te gou kwaad word, sal dit in jou pad staan om regtig te kan luister.  WEES FLINK OM TE LUISTER EN DOEN DIE WOORD.
  • Leef in deernis met alle mense, maar veral teenoor weeskinders, weduwees en armes, mense wat nie vir hulleself kan sorg nie.  LEEF ONPARTYDIG EN IN DEERNIS EN GEE VIR DIÉ WAT NODIG HET.

Dit is ‘n wonderlike opsomming van die twee tafels van die wet van God – liefde vir God, en liefde vir ons naaste – dié wet wat ons aan die een kant vrymaak van sonde en aan die ander kant vrymaak om God te en ons naaste met aandag en deernis te dien. Dit is die evangelie in ‘n neutedop.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.