JEREMIA 31:31-34

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JEREMIA 31:31-34

Ons lees die teks in konteks.

27 “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek in die huis van Israel en in die huis van Juda die saad van mense en diere sal saai. 28 En soos Ek daarop bedag was om hulle uit te ruk en af te breek, plat te slaan, ten gronde te laat gaan en skade aan te rig, so sal Ek daarop bedag wees om hulle op te bou en te plant,” is die uitspraak van die Here. 29

“In daardie tyd sal hulle nie meer sê, “‘Die ouers het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword’ nie. 30 “Maar elkeen sal vir sy eie sondeskuld sterf. Elke mens wat groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31 “‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32 Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die Here. 33 “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

34 Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.” (2020-vertaling).

Teks en konteks

Hierdie gedeelte is ingebed in die vier hoofstukke van die Boek van Vertroosting – hoofstukke 30-33. Dit bevat ’n boodskap van hoop midde-in die chaos van die ballingskap wat die volk weens hulle ongehoorsaamheid tref. Die grondkooptransaksie van Jeremia 32 is ‘n konkrete gestalte van die toekoms wat God hier belowe.

Die Here beplan ‘n omvattende lotverandering vir Israel en Juda ná die ballingskap.  Dit sluit die volgende vyf aspekte in:

  1. Jeremia 31:23-26 – Die herstel van hulle grondgebied – die Here wil hê dat mense weer gedy in hulle eie woonplek: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.”
  2. Jeremia 31:27-30 – Die herstel van die gemeenskapslewe – die Here wil hê dat mens en dier vrugbaar sal wees in die land, soos dit met die skepping bedoel is, en besluit om hulle te bou en te plant, die metafore van Jeremia se roepingsopdrag.  Hy sal spesifiek individuele verantwoordelikheid instel, sodat die “groen druiwe” nie die hele oes sal benadeel nie (vgl. ook Eseg. 18)!
  3. Jeremia 31:31-34 – Die sluit van ’n Nuwe Verbond – die Here wil die gebreke van die Ou Verbond herstel waarin die volk dit kon verbreek, al was God getrou aan hulle.  Hy skrywe nou die wet van die verbond as ’n interne werklikheid in hulle harte en binneste (gedagtes) wat hulle op ’n onverbreekbare manier aan Hom sal verbind.  God gee dus die innerlike motivering en krag wat nodig sal wees vir die nakoming van die wet in die nuwe verbond.  Nie dat dit nie nog altyd die droom van God vir sy mense was nie (Deut. 6:6 – “hierdie woorde moet in jou hart wees”), maar God maak self die droom nou ’n werklikheid.  “Their memories, desires, and decisions will be brought into conformity with God’s self-revelation to Israel,” sê Keown (Word kommentaar).  Elkeen sal deel in dié werklikheid, sowel as in die vergifnis van die sondes van die verlede.  Dieselfde tipe gedagtes sal herhaal word in hoofstukke 32-33, asook in Esegiël 34-37.  En in die NT word die vervulling hiervan natuurlik met Jesus Christus verbind, soos veral die Hebreërskrywer dit vir ons duidelik interpreteer (Hebr. 8:8-12; 10:16-17).
  4. Jeremia 31:35-37 – Die bevestiging van die onverbreekbare band tussen die Here en die nasie Israel – die Here is aan die nasie van Israel só verbonde soos Hy aan die skepping verbonde is.  Hy sal nooit die hele nageslag van Israel in totaliteit verwerp “oor alles wat hulle gedoen het” nie.  Maar onthou die herstel van die individuele verantwoordelik in die tweede belofte wat saam met hierdie vierde belofte gelees moet word.  Die geestelike verbintenis met God is noodsaaklik om die werklikheid hiervan te kan geniet.
  5. Jeremia 31:38-40 – Die herbou van die stad Jerusalem (vgl. Neh. 3) – die Here sal Jerusalem herbou sodat dit weer sy heilige plek sal wees.  En onthou, selfs in die nuwe hemel en aarde, bly Jerusalem die fokus van die belewenis van God se teenwoordigheid, soos die Openbaring aan Johannes dit veel later steeds sal bevestig.

Let op dat die belofte van die Nuwe Verbond – die teks vir vandag – die hart van hierdie vyf beloftes uitmaak.  Die eerste en vyfde belofte is geografies van aard en het met die grondgebied en die stad te make.  Die tweede en vierde belofte is sosiaal van aard en het met die gemeenskapslewe en God se verbintenis aan hulle as nasie te make.  Die derde belofte vorm dus die kern van die belofte van ’n omvattende lotsverandering, dit is die geestelike belofte van ’n nuwe verbond van vergifnis en vernuwing. 

’n Mens sou daarom kon sê dat die Nuwe Verbond die geografiese en sosiale dimensies van God se transformasie van die volk beslissend bepaal.  Sonder die deelname aan dié verbond, kom die geestelike en godsdienstige betekenis van die ander beloftes in gedrang.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van God wat ’n omvattende lotsverandering teweegbring vir sy volk, troon bó die vorige boodskappe van die onafwendbare oordeel oor die volk uit.  Dít is die klein stukkie genade waarvoor Jeremia gebid het in die oordeel wat eintlik só groot uittroon bo die oordeel, dat die oordeel inderdaad verdwerg word.

Dit is heerlik om aan dié boodskap van heil vas te gryp.  Dit is heerlik om die innerlike motivering en krag wat God deur sy Gees in ons gee, te kan ervaar.  Dit maak alles die moeite werd en bring ’n sekerheid wat nie op eie vermoë gebaseer is nie, maar op God wat binne ons werk.  “How great is our God, how great is our God!” (Chris Tomlin).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: