Skip to main content

JEREMIA 31:31-34

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JEREMIA 31:31-34

Ons lees die teks in konteks.

27 “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek in die huis van Israel en in die huis van Juda die saad van mense en diere sal saai. 28 En soos Ek daarop bedag was om hulle uit te ruk en af te breek, plat te slaan, ten gronde te laat gaan en skade aan te rig, so sal Ek daarop bedag wees om hulle op te bou en te plant,” is die uitspraak van die Here. 29

“In daardie tyd sal hulle nie meer sê, “‘Die ouers het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword’ nie. 30 “Maar elkeen sal vir sy eie sondeskuld sterf. Elke mens wat groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31 “‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32 Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die Here. 33 “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

34 Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.” (2020-vertaling).

Teks en konteks

Hierdie gedeelte is ingebed in die vier hoofstukke van die Boek van Vertroosting – hoofstukke 30-33. Dit bevat ’n boodskap van hoop midde-in die chaos van die ballingskap wat die volk weens hulle ongehoorsaamheid tref. Die grondkooptransaksie van Jeremia 32 is ‘n konkrete gestalte van die toekoms wat God hier belowe.

Die Here beplan ‘n omvattende lotverandering vir Israel en Juda ná die ballingskap.  Dit sluit die volgende vyf aspekte in:

  1. Jeremia 31:23-26 – Die herstel van hulle grondgebied – die Here wil hê dat mense weer gedy in hulle eie woonplek: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.”
  2. Jeremia 31:27-30 – Die herstel van die gemeenskapslewe – die Here wil hê dat mens en dier vrugbaar sal wees in die land, soos dit met die skepping bedoel is, en besluit om hulle te bou en te plant, die metafore van Jeremia se roepingsopdrag.  Hy sal spesifiek individuele verantwoordelikheid instel, sodat die “groen druiwe” nie die hele oes sal benadeel nie (vgl. ook Eseg. 18)!
  3. Jeremia 31:31-34 – Die sluit van ’n Nuwe Verbond – die Here wil die gebreke van die Ou Verbond herstel waarin die volk dit kon verbreek, al was God getrou aan hulle.  Hy skrywe nou die wet van die verbond as ’n interne werklikheid in hulle harte en binneste (gedagtes) wat hulle op ’n onverbreekbare manier aan Hom sal verbind.  God gee dus die innerlike motivering en krag wat nodig sal wees vir die nakoming van die wet in die nuwe verbond.  Nie dat dit nie nog altyd die droom van God vir sy mense was nie (Deut. 6:6 – “hierdie woorde moet in jou hart wees”), maar God maak self die droom nou ’n werklikheid.  “Their memories, desires, and decisions will be brought into conformity with God’s self-revelation to Israel,” sê Keown (Word kommentaar).  Elkeen sal deel in dié werklikheid, sowel as in die vergifnis van die sondes van die verlede.  Dieselfde tipe gedagtes sal herhaal word in hoofstukke 32-33, asook in Esegiël 34-37.  En in die NT word die vervulling hiervan natuurlik met Jesus Christus verbind, soos veral die Hebreërskrywer dit vir ons duidelik interpreteer (Hebr. 8:8-12; 10:16-17).
  4. Jeremia 31:35-37 – Die bevestiging van die onverbreekbare band tussen die Here en die nasie Israel – die Here is aan die nasie van Israel só verbonde soos Hy aan die skepping verbonde is.  Hy sal nooit die hele nageslag van Israel in totaliteit verwerp “oor alles wat hulle gedoen het” nie.  Maar onthou die herstel van die individuele verantwoordelik in die tweede belofte wat saam met hierdie vierde belofte gelees moet word.  Die geestelike verbintenis met God is noodsaaklik om die werklikheid hiervan te kan geniet.
  5. Jeremia 31:38-40 – Die herbou van die stad Jerusalem (vgl. Neh. 3) – die Here sal Jerusalem herbou sodat dit weer sy heilige plek sal wees.  En onthou, selfs in die nuwe hemel en aarde, bly Jerusalem die fokus van die belewenis van God se teenwoordigheid, soos die Openbaring aan Johannes dit veel later steeds sal bevestig.

Let op dat die belofte van die Nuwe Verbond – die teks vir vandag – die hart van hierdie vyf beloftes uitmaak.  Die eerste en vyfde belofte is geografies van aard en het met die grondgebied en die stad te make.  Die tweede en vierde belofte is sosiaal van aard en het met die gemeenskapslewe en God se verbintenis aan hulle as nasie te make.  Die derde belofte vorm dus die kern van die belofte van ’n omvattende lotsverandering, dit is die geestelike belofte van ’n nuwe verbond van vergifnis en vernuwing. 

’n Mens sou daarom kon sê dat die Nuwe Verbond die geografiese en sosiale dimensies van God se transformasie van die volk beslissend bepaal.  Sonder die deelname aan dié verbond, kom die geestelike en godsdienstige betekenis van die ander beloftes in gedrang.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van God wat ’n omvattende lotsverandering teweegbring vir sy volk, troon bó die vorige boodskappe van die onafwendbare oordeel oor die volk uit.  Dít is die klein stukkie genade waarvoor Jeremia gebid het in die oordeel wat eintlik só groot uittroon bo die oordeel, dat die oordeel inderdaad verdwerg word.

Dit is heerlik om aan dié boodskap van heil vas te gryp.  Dit is heerlik om die innerlike motivering en krag wat God deur sy Gees in ons gee, te kan ervaar.  Dit maak alles die moeite werd en bring ’n sekerheid wat nie op eie vermoë gebaseer is nie, maar op God wat binne ons werk.  “How great is our God, how great is our God!” (Chris Tomlin).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…