Skip to main content

PSALM 20

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 20

1 Vir die musiekleier . ‘n Psalm. Van Dawid. 

2 Mag die Here u antwoord 

op die dag van benoudheid; 

mag die Naam van die God 

van Jakob u beskerm. 

3 Mag Hy vir u hulp stuur 

uit die heiligdom, 

en u uit Sion ondersteun. 

4 Mag Hy al u offergawes 

in gedagte hou, 

u brandoffers aanvaarbaar vind. Sela

5 Mag Hy aan u gee wat u hart verlang, 

en elkeen van u planne laat slaag. 

6 Ons wil juig oor u verlossing, 

in die Naam van ons God 

die vaandel hoog hou. 

Mag die Here aan al u versoeke voldoen! 

7 Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos; 

Hy sal hom antwoord 

uit sy heilige hemel 

met kragtige verlossingsdade 

van sy regterhand . 

8 Party beroem hulle op strydwaens, 

ander weer op perde, 

maar ons, ons beroem ons op die Naam 

van die Here ons God. 

9 Hulle sak inmekaar en val, 

maar ons, ons staan op en bly staande. 

10 Here, verlos tog die koning! 

Mag Hy ons antwoord op die dag 

wanneer ons roep! (2020-vertaling).

Teks en konteks

Psalm 20 is gebruik in die tempel as voorbereiding vir die koning om te gaan oorlog maak – soos wat die inhoud dit duidelik maak (vgl 2 Kron 20). Vandag sal ons dit waarskynlik gebruik in enige situasie waar ons lewens bedreig word, of waar ons in metaforiese sin teenstand teen die evangelie moet hanteer.

Let op dat die Psalm deur die geloofsgemeenskap gesing word waarmee hulle hul solidariteit uitspreek met die uitdaging wat wag – al gaan hulle nie self nie – en hulle hul afhanklikheid van God bely. Oorlog was nooit net ’n politiese saak nie. Dit was altyd ingebed in die geloofsverstaan en veral Godsbelewenis van Israel as Godsvolk.

Hulle vermeld ook in die Psalm dat hulle liturgies alles gedoen het wat die Here hulle voorgeskryf het in die proses van oorlog maak – dws hulle het al die offers gebring wat hulle moes, soos vers 4 dit uitspel. Hierdie liturgie en die offer wat gebring is, was ’n integrale en baie belangrike deel van die hele proses van oorlogvoering.

Jy kan lees in 1 Samuel 7 waar Samuel op die regte manier die offers bring wat tot oorwinning lei by Mispa. En dan die omgekeerde daarvan in 1 Samuel 13 waar Saul nie wag vir hierdie liturgiese handeling nie, en voortstorm op sy eie pad. Dit lei tot sy verwerping as koning.

Terloops: Lees gerus 1 Samuel 7, want dit was seker die eerste keer waar ’n kategeet se kategese ’n oorlog gewen het … laat ’n mens dink!

Let ook op dat die Psalm en die gebed om oorwinning sterk verbind is aan die Naam van God, wat die belofte inhou dat Hy in ooreenstemming met Homself en hoe Hy Hom openbaar het in die verlede, sal optree. God se Naam word in die Psalm dus gebruik as beroep op sy beskerming (Naam = God self – vers 2), om as vaandel vir die veldtog te dien (in u Naam – vers6) en om hulle vertroue op Hom uit te spreek dat Hy sy beloftes sal nakom (Naam = God self – vers 8).

Die geloofsgemeenskap bely daarom dat die oorwinning nie sal afhang van die strydwaens en perde nie (vers 8) – hoewel dit steeds nie sonder hulle geveg gebeur nie – maar van God wat die oorwinning gee (vers 8-9), wat dan ook die spits is van hulle gebed: “Here, gee tog aan die koning die oorwinning” (vers 10). Dit is vandag nog waar – ons moet doen wat ons moet doen, maar die sukses hang uiteindelik af van God wat optree.

Boodskap en betekenis

Psalm 20 is ’n besondere Psalm om te bid in aanloop tot een of ander stryd in jou lewe, “the day of trouble” soos ’n kommentaar dit stel. Let op die rol van gebede en planne maak wat lei tot die ondersteuning van die geloofsgemeenskap en ’n oproep tot medestryders wat vanuit die gemeente in die stryd gebruik kan word. Onthou, jy staan nie alleen nie!

Sorg daarom ook dat jou eie lewe onberispelik is en dat jy “volgemaak” is deur die Woord. Dit is al manier om vas te staan vir die oorwinning wat God sal bring.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm