Skip to main content

MARKUS 7:1-8, 14-15, 21-23

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 7:1-8, 14-15, 21-23

MENSLIKE TRADISIE

(Matt 15:1-20)

1Die Fariseërs en sommige van die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het toe by Hom byeengekom. 2Hulle merk toe dat sommige van sy dissipels brood eet met onrein, dit is met ongewaste, hande. 3Die Fariseërs en al die Jode eet immers nie tensy hulle hulle hande deeglik gewas het nie, omdat hulle vasklou aan die tradisie van die voorouers. 4En wanneer hulle van die markplein af kom, eet hulle nie voordat hulle hulleself gewas het nie. Daar is nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle vasklou: die was van bekers, kruike, koperhouers en eetbanke. 5Toe vra die Fariseërs en skrifkenners Hom: “Waarom tree u dissipels nie op in ooreenstemming met die tradisie van die voorouers nie, maar eet hulle brood met onrein hande?” 6En Hy antwoord hulle: “Jesaja het tereg oor julle skynheiliges geprofeteer, soos daar geskryf staan,

“ ‘Hierdie volk eer My met die lippe,

maar hulle harte is ver van My af.

7Tevergeefs vereer hulle My,

want hulle onderrig as leerstellings

die voorskrifte van mense.’

8“Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.”

9Hy het ook vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en sodoende julle tradisie te handhaaf. 10Want Moses het gesê, ‘Eer jou vader en jou moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ 11Maar julle sê, ‘As ‘n mens vir jou vader of moeder sê, “Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, dit is korban” – dit is ‘n offergawe – 12dan hoef ‘n mens hoegenaamd niks meer vir sy vader of moeder te doen nie.’ 13So ontneem julle die woord van God sy gesag deur die tradisie wat julle oorgelewer het, en julle doen ook nog baie soortgelyke dinge.”

14Hy het die skare weer nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal na My en verstaan! 15Daar is niks wat van buite af in ‘n mens ingaan wat jou onrein kan maak nie, maar die dinge wat uit ‘n mens uitkom, dit is wat jou onrein maak.”

17En toe Hy ‘n huis binnegegaan het, weg van die skare af, het sy dissipels Hom oor die gelykenis uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “Is ook julle so sonder begrip? Verstaan julle nie dat niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, jou onrein kan maak nie? 19Die kos gaan immers nie na jou hart nie, maar na jou maag, en word dan in die privaat uitgewerp.” So het Hy alle kos rein verklaar. 20Maar Hy het gesê: “Wat uit ‘n mens uitgaan, dit maak ‘n mens onrein. 

21Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en maak ‘n mens onrein.”

Teks en konteks

7:1 Die Fariseërs en sommige van die skrifgeleerdes van Jerusalem kom in ‘n afvaardiging by Jesus bymekaar. Hulle is  heel moontlik gestuur om getuienis teen Jesus in te win.

7:2-4 Hulle kry heel gou iets om Jesus mee aan te vat.

Hulle het nou al vir Jesus aangevat oor die feit dat Hy op die sabbat mense genees wat Jesus maklik kon troef met die Skrif rondom die kalf in die put. Hulle het probeer om Hom voor stok te kry oor sy bediening van bevryding, wat Hy baie maklik kon troef om die onsinnigheid in hulle argument uit te wys dat Hy dit deur die “hoof”-duiwel doen. 

Hierdie keer vat hulle Hom aan oor iets wat eintlik ‘n baie algemene ding is, die was van hande voor ete, want hulle kon sien die dissipels het met ongewaste hande geëet, waarskynlik in elk geval weens die druk van hulle bediening, nie omdat hulle noodwendig onwillig was om hande te was nie.

Omdat die voorgeslagte dit geleer het, het die Fariseërs verwag dat Jesus en sy dissipels dit in alle gevalle ook sal doen, maak nie saak onder watter druk hulle verkeer nie.

Nou, handewas is uiteraard ‘n goeie gebruik, maar die Fariseërs het dit met godsdienstige betekenis gevul. Waar die wet wel reiniging voorgeskryf het as jy bv aan ‘n lyk raak (Lev 11:32; 15:4–12; Num 19:18), het hulle dit uitgebrei dat jy jou hande ook voor ete moet was. Anders is jy ritueel onrein. Dit het ook die was van talle gewone gebruiksartikels ingesluit.

7:5 Die Fariseërs vat Jesus toe skerp aan oor die feit dat Hy nie optree volgens die oorlewering van die voorgeslagte nie in die hoop dat die skare sal insien hoe legitiem hierdie beswaar van hulle teen Jesus is. Almal was mos hande voor ete, nie waar nie?!

7:6-7 Jesus se reaksie wys duidelik dat die probleem met hulle lering oor die was van hande nie geleë was in die feit of dit ‘n goeie (of slegte) gebruik is nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het.  Jesus wys daarom hulle tradisie af as skynheiligheid met ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13.

Soos Jesaja oor die Joodse volk geprofeteer het, vereer die Fariseërs God wel met die lippe, maar hulle hart is ver van Hom verwyderd. Dit maak dat hulle aanbidding tevergeefs is, want hulle maak bepalings van mense leerstellings van God waaraan mense hulle moet hou.

Die geestelike leiers het dus in die praktyk van die lewe eerder vasgehou aan sulke oorgelewerde gebruike, en mense so geleer, en daarvolgens veroordeel, maar uiteindelik glad nie self die Here gedien soos Hy in die Skrif voorskryf nie. 

7:8-9 Daarmee, sê Jesus, gee julle die gebod van God prys omdat julle vashou aan die oorlewering van die mense. Hoe raak is Jesus se beskrywing van hierdie manier van doen nie: “Julle skuif die gebod van God netjies opsy sodat julle julle tradisie in stand kan hou.”

7:10-12 Jesus illustreer die dodelike effek van hulle leringe met die wyse waarop hulle die korban(dit beteken offergawe) hanteer het. Dit is wanneer jy goed waarmee jy vir jou ouers kon gesorg het, vir die Here offer, en só jou verantwoordelikheid, soos die wet van God in die vyfde gebod dit spesifiek uitspel, teenoor hulle kan vermy (vgl 1 Tim 5:4 waar Paulus die riglyn handhaaf om vir jou ouers te sorg).  Hulle gebruike is dus vir hulle belangriker as God en sy wet. As jy net offer, dan kan jy jou pa en ma slegs sê en sleg behandel, sonder dat jy die wet oortree.

7:13 So, sê Jesus, maak die Fariseërs die Woord van God ongedaan deur hulle oorgelewerde tradisie. En hoewel Jesus hier net die een voorbeeld uitlig, is daar baie soortgelyke voorbeelde wat Hy sou kon opnoem.

7:14 -15 Jesus rig Hom dan weer tot die skare, en brei verder uit op die valse lering dat ongewaste hande jou onrein kan maak. Dit gaan nie oor wat ingaan in jou liggaam nie. Dit kan jou nie onrein maak nie. Dit gaan egter oor wat uitgaan uit jou hart uit. Dit kan jou onrein maak.

7:17-19 Jesus rig Hom dan tot sy dissipels in ‘n huis weg van die skare om hulle frustrerende onbegrip aan te spreek. Hulle het nog onder die effek van die leringe van die Fariseërs gely tot Jesus se ontsteltenis: “Is julle ook net so sonder insig?!” Hy verduidelik sy lering nog meer prakties. Kos gaan nie in jou hart in nie. Kos gaan in jou maag in en vandaar word dit in die toilet uitgeskei. Platter kan ‘n mens dit nie stel nie! So, kos kan jou nie onrein maak nie. Of jy nou jou hande was of nie, die kos kan jou nie onrein maak nie.

Onthou ook, onreinheid is ‘n godsdienstige begrip. Dit gaan oor die feit dat jy ritueel onrein raak en nie die tempel kan bywoon of aan die geloofsgemeenskap kan deelneem as jy onrein is nie. Daarom kan kos jou nie onrein maak nie, want dit het geen effek op ander nie.

Markus maak daaruit ook die volgende gevolgtrekking, wat in die res van die NT nagevolg sou word, dat Jesus met dié beeldspraak en onderrig alle kos rein verklaar het.

7:20-23 Dan vervolg Jesus om uit te spel wat jou wel onrein maak. Dit is die slegte en bose gedagtes wat uit jou hart kom wat jou onrein maak. Let op dat die lysie van 12 slegte dinge volledig met die tweede tafel van die wet verbind kan word.

  • Dit het reeds begin met die verwysing na die korban in die vorige perikoop – 5de gebod.
  • Daarby kom moord en boosheid – 6de gebod;
  • Onsedelike dade (porneia – enige seks buite die huwelik), sowel as owerspel en losbandigheid – 7de gebod;
  • Diefstal – 8ste gebod;
  • Bedrog en laster (kwaadpratery) – 9de gebod;
  • Hebsug en die “bose oog” (afguns) – 10de gebod.

Hoogmoed, wat volgens die Bybel ‘n ding is wat God haat (Spr 8:13), en dwaasheid (ligsinnigheid – “lack of moral sense” – Jes 32:6) oortree eintlik alles in die wet. Dit is om jouself en jou gebruike en gedagtes hoër te ag as God se geopenbaarde wil, presies die probleem met die skynheiligheid van die Fariseërs se tradisies.

Terloops, die NT het verskeie sulke lysies wat hierdie lering van Jesus verder onderstreep: Rom 1:29–31; 1 Kor 5:10–11; 2 Kor 2:20–21; Gal 5:19–21; Kol 3:5–8; 1 Tim 1:9–12; 2 Tim 3:2–5.

Boodskap en betekenis

Dit is glashelder dat die Fariseërs Jesus op alle maniere wil bykom. En dit het eintlik alles te doene met die feit dat Hy aan die Skrif vashou, soos Hy al in die woestyn gewys het in die versoeking van die duiwel.

Die Fariseërs wil eerder aan hulle interpretasie van die Skrif vashou met leringe wat hulle dink belangrik is, selfs al verskil dit van die Skrif self. Só kan hulle die boodskap van die Skrif mak maak en laat inpas by hulle idee van wat reg en verkeerd is.

Daardeur het hulle ook mag gekry oor die mense, want oral waar mense hulle leerstellings begin glo het, het hulle volgelinge bygekry, en kon hulle ‘n bestaan maak. Hulle skynheiligheid het dus ook ‘n diep gierigheid weggesteek.

‘n Mens kan dit nie skerp genoeg stel nie. Die Skrif is God se Woord en kan op geen manier verander of verwerp word nie. As jy dit doen en jou eie interpretasie in die plek daarvan stel, stel jy jouself teen God en sy wil vir die lewe op.

Dit bly vir my verstommend hoe maklik mense vergeet hoe geheg Jesus aan die wet van God was. Waarteen Hy dit gehad het, is mense wat hulle eie interpretasies as die Woord van God verkondig het. En daarin moet ons Hom navolg.

Maar, as ons wil weet watter slegte en bose gedagtes ons van verlos moet word, is daar net een manier om dit agter te kom. Dit is uit die wet van die Here, veral die Tien Gebooie, soos Jesus dit toepas in die NT. En dit sluit die negatiewe leringe daaroor in soos hier in Markus 7 (en Matteus 15) sowel as die positiewe leringe daaroor soos in die Bergrede in Matteus 5.

Moderne Fariseërs kan ons uitken aan die wyse waarop hulle ook tradisies vestig wat die boodskap van die Skrif ontkrag. Dit is uiteraard steeds, soos in die NT tyd, leringe oor etiese en morele sake. Soos Jesus dit gedoen het, moet ons die leringe aan die kaak stel, en veral fokus op die uitreik na gelowiges wat meegesleur word deur die valse leringe wat as die waarheid voorgehou word.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem