MARKUS 3:20-35

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 3:20-35

Jesus en Beëlsebul 

(Matt 12:22-32 ; Luk 11:14-23 ; 12:10 ) 

20 Hy het ‘n huis binnegegaan, maar die skare het weer so om Hom saamgedrom dat hulle selfs nie eers brood kon eet nie. 21 Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. 22 Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. 23 Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? 24 As ‘n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, 25 en as ‘n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. 26 En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. 27 Bowendien, niemand kan in die huis van ‘n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof. 28 Amen, Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, 29 maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan ‘n ewige sonde.” 30 Want hulle het gesê: “Hy het ‘n onrein gees.”

Jesus se moeder en broers 

(Matt 12:46-50 ; Luk 8:19-21 ) 

31 Sy moeder en sy broers het daar aangekom, en terwyl hulle buite bly staan, het hulle iemand na Hom gestuur om Hom te roep. 32 ‘n Skare het rondom Hom gesit, en hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters is daar buite en soek U.” 33 Maar Hy antwoord hulle en vra: “Wie is my moeder en my broers?” 34 Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. 35 Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” (2020-vertaling).

Teks en konteks

3:20-21 In Markus se weergawe van hierdie verhaal is Jesus terug by die huis in Kapernaum war die skare hom só besig hou dat Hy selfs nie eers ‘n stukkie brood kon eet nie. Jesus se familie is duidelik ontsteld oor wat met Jesus gebeur. Hulle kom om Hom te verwyder – die Griekse woord kan ook “arresteer” beteken – want hulle dink Hy het van sy kop af geraak. Dit kan beteken dat hulle dink Hy is irrasioneel of “mal”. Soos dit in Engels vertaal kan word: “He has lost his mind” (NET).

Sy familie was waarskynlik bang vir die politieke en godsdienstige implikasies van Jesus se boodskap. Daarom probeer hulle Hom stil maak, aan die een kant sodat Hy nie verwerp word deur die gemeenskap nie, maar aan die ander kant ook sodat hulle nie self op die koop toe lei onder sy verwerping nie.

3:22 Hulle speel dus in die hand van die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het en gee hulle skietgoed om Hom te beskuldig. Sommige het Hom beskuldig dat Hy besete is: “Hy het Beëlsebul” (Satan). Ander dat Jesus deur die owerste van die demone ander demone uitdryf.

3:23-27 Dit is waarom Jesus vir hulle hierdie vier kort gelykenisse vertel om die punt te maak dat die Satan kan nie vir Satan uitdryf nie.

  1. ‘n Koninkryk wat teen homself verdeel is, kan nie staande bly nie.
  2. ‘n Huishouding wat teen homself verdeel is, kan nie staande bly nie.
  3. Satan kan nie teen homself in opstand kom nie, want dan is hy innerlik verskeurd, en sal nie kan staande bly nie.
  4. Wat inderdaad hier gebeur, is dat Jesus in die huis van die “sterke” ingegaan het om sy goed te roof. Jesus het die Satan vasgebind en die mense verlos wat in sy greep krepeer het van ellende. Jesus sê ook hiermee dat Hy die eerste veldslag teen die duiwel in die woestyn gewen het, en dat Hy nou sy huis kan beroof, soos Hy geïllustreer het met die kies van die twaalf dissipels en die bediening van genesing en duiweluitdrywing wat Hy begin het.

3:28-30 Dan openbaar Jesus dat die eintlike Een waarteen hulle in opstand is, is die Heilige Gees. Hulle het Hom beskuldig dat Hy ‘n “onrein gees” is.

Hulle opstand teen Jesus se bediening van bevryding, is dus ‘n opstand teen die Gees van God. Dit is die “ewige sonde”, die sonde wat tot in ewigheid nie vergewe kan word nie. Alles kan jou vergewe word – enige sonde of laster – maar wie teen die Heilige Gees laster – aan Hom dinge toeskryf wat boos is of Hom ‘n “onrein gees“ noem – se skuld kan nie uitgewis word nie.

3:31-32 ‘n Deel van dié naby Hom – Jesus se moeder en broers (waarskynlik van sy susters ook, vgl Mark 3:35) – druk deur om Hom te probeer keer om met sy bediening voort te gaan. Hulle kom na die huis waar Hy besig is en laat Hom roep na hulle toe. Hulle wou Hom waarskynlik steeds uit die openbare oog verwyder dat Hy tot sy sinne kan kom. Die skare wat rondom Hom gesit het, het die boodskap van sy familie aan Hom oorgedra.

Volgens Markus 6:3 was Jesus se broers se name: Jakobus, Joses, Judas en Simon.  Jesus het ook susters gehad, hoewel hulle name nie genoem word nie.  Aangesien sy vader, Josef, nie genoem word nie, word veronderstel dat hy reeds oorlede was.

Jesus se moeder Maria bly egter aan sy sy regdeur die evangelie tot by die kruis en graf (Mark 15:47). Sy bid ook saam met die gemeente vir die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 1:18) en neem deel aan die verspreiding van die evangelie daarna tot in Efese, soos die kerkgeskiedenis ons leer. Sy broers kom eers later tot bekering en raak ook deel van die uitbreiding van die evangelie.

3:33-35 Jesus reageer egter baie skerp op dié versoek. Hy vra ‘n retoriese vraag na wie nou eintlik sy moeder en broers is, kyk na dié wat in ‘n kring rondom Hom sit, en verklaar dat hulle sy moeder en broers is. Dit is dié wat die wil van God doen – en let op die enkelvoud – wat sy moeder en broer en suster is. Wie ook al dit waag om te doen wat God wil – individue uit die skares of uit sy bloedfamilie – dit is daardie mens wat waarlik deel is van sy familie.

In die geestelike lewe is die belangrike dus nie om in te pas by die verwagtinge van die samelewing nie, nie eers by dié van die godsdienstige leiers of jou eie familie nie. Dit is net belangrik om in te pas by die verwagtinge van God self. God skep eintlik ‘n nuwe alternatiewe gemeenskap met dié wat bereid is om sy wil te doen, en hulle nie steur aan dié van die samelewing of godsdienstige leiers nie.

Boodskap en betekenis

Baie mense het al oor die sonde teen die Heilige Gees gewonder, en veral of hulle nie moontlik dit al gepleeg het nie.

Drie dinge moet in gedagte gehou word:

  1. die wese van hierdie sonde is om die duidelike werk van die Heilige Gees (soos hier, om mense van demone te bevry) aan Satan self toe te skryf;
  2. hierdie sonde is nie net ‘n oomblik van twyfel of ‘n sondige houding nie, maar is inderdaad ‘n aktiewe teenstand teen die werk van die Gees, soos die skrifkenners dit hier gedoen het;
  3. iemand wat hieroor besorg is, het hierdie sonde waarskynlik nooit gepleeg nie, want die skrifkenners wat hierdie sonde hier pleeg is nie die minste bekommerd oor Jesus se waarskuwing nie.

Die inherente konflik tussen dié wat God se wil doen en dié wat dit nie doen nie

Let op hoe die mense hier drie sirkels rondom Jesus vorm. Sy bloedfamilie staan buite en probeer Hom keer om aan te gaan met sy bediening. Die skares sit rondom Hom, maar – soos ons nog sal agterkom – raak nooit werklik volgelinge van Jesus nie. Die dissipels sit egter in ‘n kring rondom Jesus, want hulle wil nie net luister na wat Jesus sê nie, maar dit leef.

Natuurlik is daar ook bewegings tussen dié drie sirkels. Van Jesus se familie kom van buite af en raak deel van die binnekring van sy dissipels. Van die dissipels verlaat die kring rondom Hom en verraai Hom uiteindelik, soos ons dit later van Judas sal lees.

Maar, dit is net diegene wat in ‘n kring rondom Jesus bly sit, wat doen wat Hy sê, wat deur Jesus sy moeder en broers en susters genoem word. Die boodskap is duidelik. Bly deel van die binnekring van Jesus se dissipels. Luister en Leef!

Jesus is helder oor die feit dat Hy met hierdie werk van Hom besig is om die huis van die sterk man, die duiwel, te beroof. Daar is dus ‘n inherente konflik tussen dié wat die wil van die God doen, en dié wat nie bereid is om dit te doen nie, weens die implikasies wat dit vir hulle inhou in die gemeenskap.

“Jesus identifies his family on the basis of the response to him rather than on natural kinship.  The response of his natural family who sought to take him into their custody reflected their rejection of his ministry regardless of their motivation, which in Mark is given as concern for his mental stability. The response of the crowd who sought his presence and gathered around him, doubtless to hear his teaching, reflected their acceptance of him.” (Guelich).

Let ook op hoe Jesus nie noodwendig sê dat dié wat rondom Hom sit sy familie is nie, maar dié wat die wil van sy Vader doen. Daar is immers ook ‘n onderskeid tussen die skares rondom Hom en die dissipelkring.

Die band wat jou deel maak van die nuwe dissipel- en daarom familiekring is die doen van die wil van God.

Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus as persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar.

Ons sien hierdie inherente konflik op ander plekke in die evangelies ook:

  • Jesus as 12-jarige wat verbaas is dat sy ma nie weet dat Hy met Sy Vader se dinge besig moet wees nie (Luk 2:49–50).
  • Jesus wat die dissipels leer dat die evangelie altyd die potensiaal het om verdeeldheid te bring binne ‘n huisgesin, want Jesus dwing keuses af by mense (Matt 10:34–36; Luk 12:51–53).
  • Jesus se antwoord op Petrus se vraag of hulle ‘n beter lot as die ryk jongman kan verwag omdat hulle, anders as die jongman, alles verlaat het ter wille van die evangelie. Jesus leer hulle dat dié wat alles verlaat ter wille van die evangelie in hierdie lewe al reeds ‘n honderd keer meer ontvang, saam met vervolging, en in die bedeling wat kom die ewige lewe (Mark 10:28–30).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d