1 KONINGS 8:(1, 6, 10-11) 22-30, 41-43

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 KONINGS 8:(1, 6, 10-11) 22-30, 41-43

INWYDING VAN DIE TEMPEL

81Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem by hom byeen laat kom om met die verbondsark van die Here vanuit die Stad van Dawid, dit is Sion, op te trek. 

2Al die manne van Israel het toe by koning Salomo byeengekom in die feestyd, in die maand Etaním, dit is die sewende maand. 3Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. 4Hulle het die ark van die Here, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die priesters en Leviete het dit gedra.

5Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie. 

6Die priesters het die verbondsark van die Here na sy plek geneem, na die heiligdom van die tempel, na die Allerheiligste, na sy plek onder die vlerke van die gerubs; 

7want die gerubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark. Die gerubs het die ark en sy draaghoute van bo af beskut. 8Die draaghoute was lank, en die punte van die draaghoute was sigbaar uit die heilige deel aan die voorkant van die heiligste deel. Van buite af was dit egter nie sigbaar nie. Hulle is daar tot vandag toe. 9Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses daarin geplaas het op Horeb, toe die Here met die Israeliete ‘n verbond gesluit het tydens hulle uittog uit Egipteland.

10Toe die priesters uitkom uit die heiligdom, het ‘n wolk die tempel van die Here gevul. 11Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here gevul.

12Toe het Salomo gesê:

“Die Here het gesê dat Hy

in diepe duisternis vertoef.

13Ek het inderdaad ‘n vorstelike

woning vir U gebou,

die plek vir U om in te woon

in alle ewigheid.”

14Die koning het omgedraai en die hele geloofsgemeenskap van Israel geseën. Terwyl die hele geloofsgemeenskap van Israel daar staan, 15het hy gesê: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word, wat met sy mond met my vader Dawid gepraat het, en met sy hand die volgende woorde vervul het, 16‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte gelei het, het Ek onder al die stamme van Israel nie ‘n stad gekies om ‘n tempel te bou, sodat my Naam daar sou wees nie; maar Ek het Dawid gekies om oor my volk Israel te wees.’ 17My vader Dawid was van voorneme om ‘n tempel te bou vir die Naam van die Here, die God van Israel. 18Maar die Here het vir my vader Dawid gesê, ‘Jy het jou voorgeneem om vir my Naam ‘n tempel te bou. Dit was goed van jou dat jy jou dit voorgeneem het. 19Jy is egter nie die een wat die tempel sal bou nie, maar jou seun wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal die tempel vir my Naam bou.’ 20En die Here het sy woord wat Hy gespreek het, gestand gedoen, sodat ek in die plek van my vader Dawid opgestaan het en op die troon van Israel gaan sit het, soos die Here gesê het. Ek het die tempel vir die Naam van die Here, die God van Israel, gebou. 21Ek het daar ‘n plek ingerig vir die ark waarin die verbond van die Here is, wat Hy met ons voorouers gesluit het toe Hy hulle uit Egipteland gelei het.”

22Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel. Hy het sy hande na die hemel uitgestrek 23en gesê:

“Here, God van Israel,

daar is geen god soos U

in die hemel daar bo

of op die aarde hier onder nie;

U wat die verbond en troue liefde

in stand hou vir u diensknegte

wat met hulle hele hart

voor U leef;

24U wat ter wille van u dienskneg,

my vader Dawid,

gehou het by dit wat U hom

beloof het.

U het dit met u mond gesê

en met u hand volbring,

soos dit vandag is.

25Daarom, Here, God van Israel,

hou nou ter wille van u dienskneg,

my vader Dawid,

by wat U hom beloof het

toe U gesê het,

‘Daar sal nooit iemand

vir jou ontbreek

wat voor my aangesig

op die troon van Israel sit nie,

as jou seuns maar net ag slaan

op hulle optrede

deur voor My te leef

soos jy voor My geleef het.’

26Daarom, o God van Israel,

laat u belofte wat U

aan u dienskneg,

my vader Dawid, gemaak het,

tog waar word.

27“Maar kan God werklik op aarde woon?

Kyk, die hemelruim en die hoogste

hemele kan U nie omvat nie –

hoeveel minder hierdie tempel

wat ek gebou het?

28U moet aandag gee aan die gebed

van u dienskneg,

aan sy smeekbede,

Here my God,

deur te luister

na die klaagroep,

na die gebed wat u dienskneg

vandag voor U bid,

29dat u oë dag en nag oop sal wees

na hierdie tempel,

na die plek waarvan U gesê het,

‘My Naam sal daar wees,’

sodat U sal luister na die gebed

wat u dienskneg in die rigting

van hierdie plek rig.

30Luister dan na die smeekbede

van u dienskneg

en van u volk Israel wat hulle

in die rigting van hierdie plek bid.

U self moet dit hoor tot by die plek

waar U woon, tot in die hemel.

U moet dit hoor,

en U moet vergewe.

31“Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié ‘n verwensing uitspreek om ‘n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, 32moet U self hoor in die hemel en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige skuldig te verklaar, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien.

33“Wanneer u volk Israel deur ‘n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle na U terugkeer, u Naam prys en bid en by U smeek in hierdie tempel, 34moet U self hoor in die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle voorouers gegee het.

35“Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, 36moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het.

37“Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiektes uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane, kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – 38en daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel wat elkeen die teistering van sy eie hart ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, 39moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en optree en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van alle mensekinders – 40sodat hulle vir U ontsag mag hê solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het.

41“En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit ‘n ver land kom ter wille van u Naam – 42ja, hulle sal hoor van u groot Naam en u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, 43moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, dat hulle vir U ontsag mag hê, soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het.

44“Wanneer u volk uittrek vir oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die Here in die rigting van die stad wat U gekies het, en van die tempel wat ek vir u Naam gebou het, 45moet U in die hemel hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf.

46“Wanneer hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie – en U toornig is op hulle en hulle oorgee aan ‘n vyand, en hulle ontvoerders hulle wegvoer na die land van die vyand, ver of naby, 47en hulle tot inkeer kom in die land waarheen hulle weggevoer is en hulle bekeer en by U om genade smeek in die land van hulle ontvoerders, met die woorde, ‘Ons het gesondig en afgedwaal, ons is skuldig,’48en hulle dan met hulle hele hart en siel na U terugkeer in die land van hulle vyande wat hulle weggevoer het, en hulle tot U bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorouers gegee het, die stad wat U gekies het, en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, 49moet U in die hemel, die plek van u verblyf, hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. 50Vergewe dan u volk dit wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredings waarmee hulle teen U oortree het. Gee dat daar vir hulle barmhartigheid sal wees by hulle ontvoerders, sodat dié barmhartig sal optree teenoor hulle. 51Hulle is immers u volk en u erfdeel wat U uit Egipte, uit die ystersmeltoond, uitgelei het.

52“Laat u oë dan oop wees vir die smeekbede van u dienskneg en die smeekbede van u volk Israel, sodat U na hulle sal luister in alles waaroor hulle U aanroep; 53want dit is U wat hulle vir U afgesonder het as erfenis onder al die volke van die aarde, soos U beloof het by monde van Moses, u dienskneg, toe U ons voorouers uit Egipte uitgelei het, Here, my Heer.”

54Toe Salomo hierdie hele gebed en smeekbede tot die Here klaar gebid het, het hy dadelik opgestaan voor die altaar van die Here waar hy gekniel en sy handpalms na die hemel uitgestrek het. 55Hy het gaan staan en die hele geloofsgemeenskap van Israel hardop geseën deur te sê: 56“Die Here moet geprys word, Hy wat aan sy volk Israel ‘n rusplek gegee het, net soos Hy beloof het. Nie een van al sy goeie beloftes wat Hy by monde van sy dienskneg Moses gemaak het, het onvervuld gebly nie. 57Mag die Here ons God met ons wees, soos Hy met ons voorouers was. Mag Hy ons nie verlaat nie, ons nie in die steek laat nie, 58sodat Hy ons harte na Hom sal wend om al sy paaie te volg en sy gebooie, vaste voorskrifte en bepalings na te kom wat Hy ons voorouers beveel het. 59Mag hierdie woorde van my waarmee ek voor die Here smeek, dag en nag by die Here ons God wees, sodat Hy die reg van sy dienskneg en van sy volk Israel sal handhaaf, volgens die eis van elke dag, 60sodat al die volke van die aarde mag besef dat die Here, dat Hy, God is, niemand anders nie. 61En mag julle harte volkome by die Here ons God wees, deur sy vaste voorskrifte te volg en sy gebooie na te kom soos dit vandag is.”

62Die koning en die hele Israel saam met hom was besig om offers te slag voor die Here. 63Salomo het die offers geslag wat hy aan die Here opgedra het: twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee. So het die koning en al die Israeliete die huis van die Here ingewy.

64Op daardie dag het die koning die binnekant van die voorhof wat voor die huis van die Here was, geheilig; want daar het hy die brandoffers en graanoffers gebring, asook die vet van die •maaltydoffers, omdat die bronsaltaar wat voor die Here was, te klein was vir die brandoffers, graanoffers en die vet van die maaltydoffers.

65Salomo het in daardie tyd die Huttefees gevier. Die hele Israel was saam met hom, ‘n groot byeenkoms uit die hele land, van Lebo-Hamat af tot by die Spruit van Egipte, saam voor die Here ons God, sewe dae lank en toe nog sewe dae lank, veertien dae altesaam. 66Op die agtste dag daarna het hy die volk laat gaan; en hulle het die koning geseën. Hulle het na hulle woonplekke gegaan, verheug en met opgeruimde harte oor al die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienskneg Dawid, en aan sy volk Israel. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Met die ark se skuif binne die tempel in, vul die wolk van die Here, sy magtige teenwoordigheid, die huis van die Here, sodat die priesters nie hulle werk behoorlik kan doen nie (vgl 2 Kron 5:2-14 waar meer inligting oor die priesters gegee word).  Salomo spreek dan die volk toe waarna hy ’n roerende gebed bid, die langste opgetekende gebed in die Bybel. 

In sy toespraak fokus hy op die belofte wat die Here teenoor Dawid nagekom het in terme van die bevestiging van Salomo se koningskap. 

In sy gebed fokus hy op die transformatiewe krag wat gebed sal hê, selfs van vreemdelinge af.  Oral waar mense die Here dien en sy aangesig soek, sal Hy ontvanklik wees vir hulle gebede.  Laat ‘n mens dink aan Jesus wat van die tempel as ‘n huis van gebed gepraat het (Mark 11:17 en Jes 65:7).

Nadat Salomo die volk geseën het, is daar 14 dae lank fees gevier met ’n geweldige hoeveelheid beeste en kleinvee.

Die tempelwyding word afgesluit met ’n waarskuwing van die Here dat Hy gehoorsaamheid wil hê, anders sal Hy sy beskermende hand terugtrek van die volk.  Dit demp ’n bietjie die uitbundige atmosfeer wat in die vorige hoofstuk geskep is.  Die hoogtepunt van Salomo se regering, die bou van die tempel, word immers in hoofstuk 11 gevolg deur sy laagtepunt, die dien van afgode.

Boodskap en betekenis

Hiermee het Salomo die godsdiensbeoefening van Israel verenig waarmee die Intog in Kanaän uiteindelik afgehandel is.  Wat my egter tref van sy gebed is dat dit wel fokus op die tempel en God se teenwoordigheid daar, maar dat dit nie tot ’n verheerliking van die tempel as sodanig lei nie.  Jy hoef nie eers by die tempel te wees om te bid nie,  Jy kan op enige plek bid na die God wie sy teenwoordigheid deur die tempel bevestig word, en geantwoord word.  Salomo is ook baie duidelik daaroor dat God nie beperk word deur die tempel nie: “selfs die hoogste hemel kan U nie bevat nie.” (1 Kon 8:27)

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: