Skip to main content

JOHANNES 2:13-22

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 2:13-22

13 Die Pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.

14 In die tempel het Hy mense gevind wat beeste en skape en duiwe verkoop, met die geldwisselaars wat daar sit. 15 Nadat Hy ’n sweep uit toutjies gemaak het, het Hy almal uit die tempel uitgedryf, asook die skape en die beeste; die munte van die geldwisselaars het Hy uitgegooi en die tafels omgekeer. 16 Vir dié wat die duiwe verkoop, het Hy gesê: “Vat hierdie weg van hier af; hou op om die huis van my Vader ’n mark te maak.”

17 Sy dissipels het onthou dat daar geskryf is: “Die ywer vir u huis sal my verteer.” (Ps 69:10)

18 Die Jode het toe geantwoord en vir Hom gesê: “Watter wonderteken wys jy vir ons dat jy hierdie dinge doen?” 19 Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig.” 20 Die Jode het toe gesê: “In ses en veertig jaar is hierdie tempel gebou, en jy sal dit in drie dae oprig?”

21 Maar Hy het gepraat oor die tempel van sy liggaam. 22 Toe Hy egter uit die dode opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dít gesê het, en hulle het die Skrif geglo en die stelling wat Jesus gemaak het. (ASV)

Teks en konteks

2:13 Let op dat Johannes van hoofstuk 2 af hoofsaaklik fokus op Jesus se bewegings en bediening. Die voorloper Johannes die Doper se voorbereidende werk is voltooi. Die Verlosser loop nou voor. Selfs sy volgelinge, die dissipels wat al op sy roepstem gereageer het, word in die eerste deel van die evangelie net half terloops by getrek. Jesus staan in die sentrum.

Let ook op dat Johannes van die Pasga “van die Jode” praat, wat aandui dat hy as Christen skryf, dws na die dood en opstanding van Christus. Die Christene het na die opstanding ‘n ander inhoud aan die hele Paasgebeure gegee met die viering van die nagmaal.

2:14 Jesus vind mense in die tempel wat handel drywe met beeste, skape en duiwe. Dié diere is gebruik vir die offerandes. Daar was ook ‘n klomp geldwisselaars. Hierdie geldwisselaars was nodig omdat die Jode nie toegelaat is om hulle eie geldeenheid te gebruik nie. Die Jode kon egter ook nie die Romeinse geldeenheid by die tempel gebruik nie, omdat dit die kop van die keiser vertoon het. Hulle was bang dat hulle daarmee teen God sou laster, want die keiser is deur die Romeine met goddelike eienskappe bejeën. Die Jode het daarom hulle Romeinse geldstukke geruil vir die geldeenheid van Tirus wat nie dieselfde lasterlike tekens vertoon het nie, sodat hulle offerdiere kon koop (Beasley-Murray).

2:15 Jesus se optrede om almal – mens en dier – uit die tempel te dryf met ‘n selfgemaakte sweep van toutjies is duidelik nie gemik teen die aanbidders as sodanig nie, maar teen die verkopers en geldwisselaars wat volgens Hom van God se huis ‘n mark gemaak het. Hy laat die duiweverkopers boonop toe om self hulle duiwe te verwyder sodat daar nie skade aan die voëls kom nie.

2:16-17 Let op dat Jesus sy optrede in die tempel motiveer deur van God as sy Vader te praat. Sy optrede is gemik daarop om die huis van God sy ware doel te laat dien, al bring dit teenstand. Dit het sy dissipels herinner aan Psalm 69:10 waar Dawid op dieselfde manier gepraat het van sy ywer vir die huis van God, ‘n ywer wat ook met teenstand begroet is. Trouens, die “verteer” het ‘n dubbele betekenis. Dit dui aan die een kant op die toewyding en aan die ander kant op die teenstand. Beide kante van die ywer is verterend van aard.

Geen wonder dat die OAV dié Psalm die titel van “Martelaar” gegee het nie. Dit word nou op Jesus van toepassing gemaak. Hy beleef die verdere vervulling van die boodskap van die Psalm. Sy ywer vir God se huis lok teenstand uit van die Joodse leiers. Dit “verteer” Hom uiteindelik aan die kruis.

2:18-20 Hierdie verklaring van God as Jesus se Vader laat die Jode vra na die gesag waarmee Hy sulke uitsprake kan maak en die handelaars kan uitdryf. Hulle vra ‘n teken om agter te kom of Jesus die gesag het om te doen wat Hy doen, en te sê wat Hy sê.

Jesus antwoord met ‘n teken: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig.”

Hy gebruik dus ‘n woordspel, ‘n raaisel. Daarmee nooi Jesus hulle dus in om ‘n bietjie dieper te dink oor wat hier aan die gebeur is. Maar in plaas daarvan dat die Jode dieper in die betekenis van die raaisel invra, kies hulle om sy raaisel letterlik te interpreteer.

Dit is heel verstaanbaar, want die ironie was dat die bouwerk aan die tempel baie onlangs voltooi is. Herodes het 46 jaar aan die tempel gebou. Die bouwerk is in 19 vC begin en in 27 nC voltooi. Hulle kan dus nie verder dink as die letterlike betekenis nie. Hoe gaan Jesus hierdie tempel kan afbreek en in drie dae weer oprig?

2:21-22 Jesus het egter nie gepraat van die fisiese tempel nie. Hy het gepraat van sy liggaam, ‘n verskuilde voorspelling van sy kruisdood en opstanding. Dit sou selfs die dissipels egter eers ná sy opstanding regtig kon verstaan. Die Jode het egter geen begrip daarvoor gehad nie.

Let op dat Johannes die latere insig van die dissipels verbind aan die feit van die opstanding. Dit was die liggaamlike opstanding van Jesus wat hulle oortuig het dat hulle die Skrif kan glo sowel as hierdie stelling van Jesus. Die opstanding het hulle geloof in die Skrif en in die woorde van Jesus begrond.

Hierdie uitspraak van Jesus oor die tempel sou ‘n verdere nadraai hê in die lewe van Stefanus. Hy word die eerste Christen martelaar toe hy valslik beskuldig is dat Hy verkondig het dat Jesus die tempel sou afbreek (Hand 6:14) en word daarvoor gestenig.

Betekenis en boodskap

Die opstanding van Jesus Christus is die hart van die Christelike godsdiens. As Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het, maak ons geloof sin; Is die Bybel die Woord van God; Is die woorde van Jesus die woorde van God. Sonder die liggaamlike opstanding uit die dood maak niks sin nie; Nie die Skrif nie; Nie die woorde van Jesus nie.

“Die ywer vir u huis sal my verteer.” Wat van Jesus waar was, behoort ook van ons waar te wees. Die huis van God is egter nie meer die tempel in Jerusalem nie, maar die liggaam van elke gelowige (1 Kor 6:19), sowel as die gesamentlike liggaam van die plaaslike geloofsgemeenskap (1 Kor 3:16-17; 2 Kor 6:16; Ef 2:21).

Dit plaas ‘n dure plig op ons om aan die een kant persoonlik te sorg dat ons heilig lewe deur die krag van die Heilige Gees wat die werke van ons sondige liggame wil doodmaak (Rom 8:13). Aan die ander kant moet ons alles in die stryd werp om as geloofsgemeenskap heilig te lewe deur mekaar te bemoedig en te vermaan, aan te spoor en tereg te wys (1 Tess 5:14; Hebr 13:22; Judas 3), sodat ons kan groei in die volwassenheid van die geloof (Kol 3:16).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar