2 SAMUEL 11:26-12:13a

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 SAMUEL 11:26-12:13a

11:26 Toe die vrou van Urija hoor dat Urija, haar man, dood is, het sy oor haar eggenoot gerou. 27 Nadat die routyd verby was, het Dawid haar laat haal en in sy paleis ontvang. Sy het sy vrou geword en vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. Maar dit wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Dawid se straf 

12:1 Die Here het Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom kom, het hy vir hom gesê: “Daar was twee mans in ‘n sekere dorp. Die een was ryk en die ander was arm. 2 Die ryk man het besonder baie kleinvee en beeste gehad,3 en die arm man het niks behalwe een klein ooilam gehad nie, wat hy gekoop het. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het by hom grootgeword saam met sy kinders. Sy het selfs van sy stukkie brood geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Sy was vir hom soos ‘n dogter. 4 Toe daar ‘n besoeker by die ryk man opdaag, was hy te jammer om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom opgedaag het, iets voor te berei. Hy neem toe die ooilam van die arm man, en berei ‘n ete voor vir die man wat by hom aangekom het.” 5 Dawid het baie kwaad geword vir daardie man. Hy het vir Natan gesê: “So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, verdien die dood. 6 Die ooilam moet hy viervoudig vergoed, omdat hy hierdie daad gedoen het en nie die arm man a jammer gekry het nie.” 7 Toe sê Natan vir Dawid: “Jy is die man! So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat jou as koning gesalf het oor Israel, en Ek is die Een wat jou gered het uit die hand van Saul. 8 Ek het vir jou die huis van jou heer gegee, en die vroue van jou heer in jou arms. Ek het vir jou die huis van Israel en Juda gegee. As dit te min was, sou Ek vir jou soveel meer kon byvoeg. 9 Waarom het jy die woord van die Here geminag deur kwaad te doen in my oë? Urija, die Hetiet, het jy met die swaard neergevel. Sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, en hom het jy deur die swaard van die Ammoniete vermoor. 10 Daarom sal die swaard nooit van jou huis wyk nie, omdat jy My geminag het en die vrou van Urija, die Hetiet, geneem het om jou vrou te word.’ 11 “So sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan onheil teen jou verwek uit jou eie huis. Ek sal jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee. Hy sal openlik by jou vroue slaap. 12 Omdat jy dit in die geheim gedoen het, sal Ek hierdie gebeure voor die hele Israel laat plaasvind en voor die volle son.’ ” 13 “Ek het gesondig teen die Here, ” het Dawid vir Natan gesê,

waarop Natan toe vir Dawid sê: “Die Here self het jou sonde opsy geskuif. Jy sal nie sterf nie; 14 maar omdat jy deur hierdie gebeure heeltemal oneerbiedig opgetree het teenoor die Here, sal die kind wat vir jou gebore is, sonder twyfel sterf.” 15 Toe het Natan huis toe gegaan. Die Here het die kind wat die vrou van Urija vir Dawid in die wêreld gebring het, getref, en hy het ernstig siek geword. 16 Dawid het by God gepleit vir die seuntjie. Dawid het streng gevas, hy het na binne gegaan en die nag deurgebring deur op die grond te lê. 17 Die oudstes van sy huishouding het by hom gaan staan en probeer om hom van die grond af te laat opstaan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle iets geëet nie. 18 Op die sewende dag het die kind gesterf. Die dienaars van Dawid was bang om vir hom te vertel dat die kind dood is, want hulle het gesê: “Kyk, terwyl die kind geleef het, het ons met hom gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe moet ons dan vir hom sê die kind is dood? Hy sal iets onverantwoordeliks doen.” 19 Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: “Is die kind dood?” Hulle het gesê: “Ja, hy is.” 20 Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. 21 Sy dienaars het vir hom gevra: “Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.” 22 Hy het geantwoord: “Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. 23 Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” 24 Dawid het sy vrou, Batseba, getroos. Hy het na haar toe gegaan, by haar geslaap, en sy het vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. Hy het hom Salomo genoem. Die Here was lief vir hom 25 en het deur Natan, die profeet, ‘n boodskap gestuur. Hy het hom Jedidja genoem op aandrang van die Here.

Oorwinning oor die Ammoniete 

26 Intussen het Joab teen Rabba van die Ammoniete geveg en die koninklike stad omsingel. 27 Joab stuur toe boodskappers na Dawid en laat hom weet: “Ek het teen Rabba geveg en ook beheer geneem oor die watervoorsiening. 28 Bring nou die res van die manskappe byeen, plaas die stad onder beleg en neem dit in; anders neem ek self die stad in, en dan word my naam daaroor uitgeroep.” 29 Dawid het toe al die manskappe byeengebring, na Rabba gegaan, teen die stad geveg en dit ingeneem. 30 Hy het hulle koning se kroon van sy kop afgehaal. Die gewig daarvan was ‘n kikkar goud, en daar was edelstene in. Dit is op Dawid se kop geplaas. Die buit van die stad wat hy weggevoer het, was besonder groot. 31 Die mense wat daarin was, het hy uitgebring. Hy het hulle geplaas by klipsa, ysterpikke en ysterbyle. Daarna het hy hulle oorgeplaas na die steenvorms. So het hy met al die dorpe van die Ammoniete gemaak. Toe het Dawid en al die manskappe teruggekeer na Jerusalem. 

Teks en konteks

Attah ha-ish – Jy is die man – weerklink nog steeds in my ore soos toe my Hebreeuse dosent dit jare terug in die klas in Hebreeus gelees het. Natan bring Dawid tot inkeer met die verhaal van die ryk man wat die klein ooilammetjie van ’n arm man gesteel en voorgesit het vir sy gaste.

Op Dawid se verontwaardiging identifiseer Natan Dawid as die sondaar: “Jy is die man!”

Let op dat die Here Dawid verkwalik dat hy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë. Omdat Dawid lewens geneem het, is dit die manier waarop die Here hom ook nou straf.

Daarby, omdat Dawid iemand anders se vrou geneem het, sal ander ook Dawid se vroue neem, iets wat met Absalom gebeur het. En omdat Dawid God se Naam in diskrediet gebring het by sy vyande, sal die kind wat hy by Batseba verwek het, sterf.

Dawid reageer op die enigste manier wat ’n sondige mens kan voor ’n heilige God. Hy bid en vas en verootmoedig hom voor God in ’n smeking van vergifnis en herstel.

Toe die kind egter sterf na sewe dae het hy daardie deel van God se antwoord aanvaar en voortgegaan om sy verantwoordelikhede in die oorlog na te kom op Joab se versoek.

Boodskap en betekenis

Uit Dawid se verbintenis met Batseba word nog ’n seun gebore. Hulle het hom Salomo genoem – vrede. Die Here het hom deur die profeet Jedidja genoem – geliefde van die Here. Hoewel die gevolge van sy sonde nog gruwelike dinge in sy eie lewe en sy familie tot gevolg sou hê, is die geboorte van Salomo ‘n ligpunt in ‘n andersins donker verhaal.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: