Skip to main content

2 SAMUEL 6:1-5, 12b-19

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 SAMUEL 6:1-5, 12b-19

Oorbring van die ark na Jerusalem 

1 Dawid het weer al die uitgesoekte manne in Israel byeengebring, dertigduisend van hulle. 2 Dawid en al die manskappe wat by hom was, het toe gereedgemaak en na Baäla in Juda vertrek om daarvandaan die ark van God te bring, die ark waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, wat troon op die gerubs. 3 Hulle het die ark van God op ‘n nuwe wa gelaai, nadat hulle dit uit die huis van Abinadab, wat op die heuwel is, gedra het. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die nuwe wa begelei, 4 met die ark van God daarop. Agjo het voor die ark geloop. 5 Dawid en die hele huis van Israel was uitbundig voor die Here met die klank van allerlei instrumente van sipreshout, en met liere (driehoekige snaarinstrumente met vier snare), harpe (Driehoekige snaarinstrumente met ‘n klankbord), tamboeryne, sistrums (slaginstrumente uit die antieke tyd) en simbale.

6 Toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgegryp, want die osse het gestruikel. 7 Die toorn van die Here het teen Ussa ontbrand, en God het hom net daar getref oor dié oneerbiedigheid. Hy het daar by die ark van God gesterf. 8 Dawid was ontsteld daaroor dat die Here Ussa stukkend gebreek het, en hy het daardie plek Peres-Ussa genoem. Dit is vandag nog die naam. 9 Dawid het daardie dag bang geword vir die Here, en hy het gesê: “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” 10 Dawid wou toe nie die ark van die Here na hom by die Stad van Dawid laat afdraai nie. Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, ‘n man uit Gat, laat wegdraai. 11 Die ark van die Here het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die man uit Gat, gebly. Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën. 12 Aan koning Dawid is berig gebring: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God.”

Dawid het toe gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die Stad van Dawid geneem. 13 Wanneer die draers van die ark van die Here ses treë gestap het, het hy ‘n bul en ‘n vetgemaakte kalf geoffer. 14 Dawid self het met volle oorgawe gedans voor die Here. Dawid het ‘n efod van linne aangehad, 15 en hy en die hele huis van Israel het met uitroepe van vreugde en die geluid van ramshorings die ark van die Here na die Stad van Dawid l opgeneem. 16 Toe die ark van die Here die Stad van Dawid binnekom, het Migal, die dogter van Saul, deur die venster afgekyk en koning Dawid gesien spring en dans voor die Here. Sy het hom in haar hart verag. 17 Hulle het die ark van die Here ingeneem en dit op sy plek neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Toe het Dawid brandoffers en maaltydoffers voor die Here gebring. 18 Toe Dawid die brandoffer en maaltydoffers klaar gebring het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte. 19 Hy het aan die hele volk, die hele menigte van Israel, aan man en vrou, aan elkeen, ‘n ringbrood, ‘n dadelkoek en ‘n rosynekoek uitgedeel. Daarna is die hele volk, elkeen van hulle, terug na sy huis. 

20 Toe Dawid teruggaan om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul, Dawid buite tegemoetgegaan en gesê: “Hoe eerbaar het die koning van Israel hom vandag nie gedra nie! Dat hy hom vandag voor die oë van die slavinne van sy amptenare ontbloot het soos enige leeglêer hom sou ontbloot!” 21 Dawid het vir Migal gesê: “Dit was voor die Here, wat my gekies het bo jou pa en sy hele familie, deur my aan te stel as leier oor die volk van die Here, oor Israel. Ek sal voor die Here uitbundig wees, 22 al verneder ek my nog verder. Ek mag laag daal in jou oë, maar by die slavinne waarvan jy gepraat het, by hulle wil ek graag geëer wees.” 23 En Migal, die dogter van Saul, het tot die dag van haar dood nie ‘n kind gehad nie. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Interessant dat Dawid met militêre mag optrek om die ark te gaan haal by Baäla, ‘n ouer naam vir Kirjat-Jearim (Jos 15:9). Dawid maak aanvanklik die fout om die ark op die “Filistynse manier” op ‘n nuwe wa aan te ry, terwyl Numeri 4 se voorskrifte is dat die ark alleen deur Leviete met draaghoute gedra mag word. Dit lei tot die tragiese dood van Ussa wat probeer keer dat die ark van die wa afval. Sy dood is nie net die gevolg van sy ongeoorloofde aanraking van die ark nie, maar ook moontlik omdat God met die struikeling van die osse gewys het dat dit nie die regte manier is om die ark te hanteer nie (vgl die gebeure in die tempel met Dagon – 1 Sam 5).

Dawid is aanvanklik diep ontsteld oor die Here se optrede (só ‘n ontsteltenis oor die Here word baie min in die OT vertel – net Kain [Gen 4:5], Samuel [1 Sam 15:11], Dawid en Jona [4:1]), maar besef uiteindelik dat hy nie die Here geken het in die proses nie (1 Kron 15:13 – ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie), soos hy telkens voorheen gedoen het.

Na 3 maande, wat die ark van God (wisselend ark van God en ark van die Here genoem in die gedeelte) by Obed-Edom (moontlik uit die Filistynse stad Gat, maar kan ook ‘n Leviet gewees het – 1 Kron 15:18) gestaan het, maar net vir hom voorspoed gebring het, bring Dawid die ark op die regte manier die Stad van Dawid, Jerusalem, in (1 Kron 15:11-15).

Dawid offer ‘n bul en vetgemaakte kalf (heel moontlik net aan die begin van die prosessie en nie elke 6 tree nie, volgens die meeste geleerdes), dans met groot vreugde, soos vrouens dit baie keer gedoen het wanneer oorwinnings gevier is.

Dit kan een van die redes wees vir Migal se misnoeë, dat hy saam met die vroue gedans het, hoewel uit die latere gesprek dit eerder blyk dat sy hooghartig en trots was, en so ‘n uitbundigheid as ‘n vernedering beskou het. Let op hoe Migal as Saul se dogter, eerder as die vrou van Dawid, beskryf word, waarmee haar veragting van Dawid geïnterpreteer word as ‘n aantasting van Dawid se koningskap. Haar kinderloosheid sorg dat Saul nie voortleef in die nageslag van Dawid nie.

Boodskap en betekenis

Hierdie gedeelte leer ons dat God se wil in alles die deurslag moet gee. Oor alles moet Hy geraadpleeg word. Dit is waar Dawid verkeerd gegaan het. En dit is waar die verandering gekom het. Toe hy die Here geraadpleeg het, het die Here hom voorspoedig laat wees in die werk om die ark weer in die sentrum van die geestelike lewe in Jerusalem te plaas.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem