Skip to main content

2 SAMUEL 6:1-5, 12b-19

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 SAMUEL 6:1-5, 12b-19

Oorbring van die ark na Jerusalem 

1 Dawid het weer al die uitgesoekte manne in Israel byeengebring, dertigduisend van hulle. 2 Dawid en al die manskappe wat by hom was, het toe gereedgemaak en na Baäla in Juda vertrek om daarvandaan die ark van God te bring, die ark waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, wat troon op die gerubs. 3 Hulle het die ark van God op ‘n nuwe wa gelaai, nadat hulle dit uit die huis van Abinadab, wat op die heuwel is, gedra het. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die nuwe wa begelei, 4 met die ark van God daarop. Agjo het voor die ark geloop. 5 Dawid en die hele huis van Israel was uitbundig voor die Here met die klank van allerlei instrumente van sipreshout, en met liere (driehoekige snaarinstrumente met vier snare), harpe (Driehoekige snaarinstrumente met ‘n klankbord), tamboeryne, sistrums (slaginstrumente uit die antieke tyd) en simbale.

6 Toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgegryp, want die osse het gestruikel. 7 Die toorn van die Here het teen Ussa ontbrand, en God het hom net daar getref oor dié oneerbiedigheid. Hy het daar by die ark van God gesterf. 8 Dawid was ontsteld daaroor dat die Here Ussa stukkend gebreek het, en hy het daardie plek Peres-Ussa genoem. Dit is vandag nog die naam. 9 Dawid het daardie dag bang geword vir die Here, en hy het gesê: “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” 10 Dawid wou toe nie die ark van die Here na hom by die Stad van Dawid laat afdraai nie. Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, ‘n man uit Gat, laat wegdraai. 11 Die ark van die Here het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die man uit Gat, gebly. Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën. 12 Aan koning Dawid is berig gebring: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God.”

Dawid het toe gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die Stad van Dawid geneem. 13 Wanneer die draers van die ark van die Here ses treë gestap het, het hy ‘n bul en ‘n vetgemaakte kalf geoffer. 14 Dawid self het met volle oorgawe gedans voor die Here. Dawid het ‘n efod van linne aangehad, 15 en hy en die hele huis van Israel het met uitroepe van vreugde en die geluid van ramshorings die ark van die Here na die Stad van Dawid l opgeneem. 16 Toe die ark van die Here die Stad van Dawid binnekom, het Migal, die dogter van Saul, deur die venster afgekyk en koning Dawid gesien spring en dans voor die Here. Sy het hom in haar hart verag. 17 Hulle het die ark van die Here ingeneem en dit op sy plek neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Toe het Dawid brandoffers en maaltydoffers voor die Here gebring. 18 Toe Dawid die brandoffer en maaltydoffers klaar gebring het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte. 19 Hy het aan die hele volk, die hele menigte van Israel, aan man en vrou, aan elkeen, ‘n ringbrood, ‘n dadelkoek en ‘n rosynekoek uitgedeel. Daarna is die hele volk, elkeen van hulle, terug na sy huis. 

20 Toe Dawid teruggaan om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul, Dawid buite tegemoetgegaan en gesê: “Hoe eerbaar het die koning van Israel hom vandag nie gedra nie! Dat hy hom vandag voor die oë van die slavinne van sy amptenare ontbloot het soos enige leeglêer hom sou ontbloot!” 21 Dawid het vir Migal gesê: “Dit was voor die Here, wat my gekies het bo jou pa en sy hele familie, deur my aan te stel as leier oor die volk van die Here, oor Israel. Ek sal voor die Here uitbundig wees, 22 al verneder ek my nog verder. Ek mag laag daal in jou oë, maar by die slavinne waarvan jy gepraat het, by hulle wil ek graag geëer wees.” 23 En Migal, die dogter van Saul, het tot die dag van haar dood nie ‘n kind gehad nie. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Interessant dat Dawid met militêre mag optrek om die ark te gaan haal by Baäla, ‘n ouer naam vir Kirjat-Jearim (Jos 15:9). Dawid maak aanvanklik die fout om die ark op die “Filistynse manier” op ‘n nuwe wa aan te ry, terwyl Numeri 4 se voorskrifte is dat die ark alleen deur Leviete met draaghoute gedra mag word. Dit lei tot die tragiese dood van Ussa wat probeer keer dat die ark van die wa afval. Sy dood is nie net die gevolg van sy ongeoorloofde aanraking van die ark nie, maar ook moontlik omdat God met die struikeling van die osse gewys het dat dit nie die regte manier is om die ark te hanteer nie (vgl die gebeure in die tempel met Dagon – 1 Sam 5).

Dawid is aanvanklik diep ontsteld oor die Here se optrede (só ‘n ontsteltenis oor die Here word baie min in die OT vertel – net Kain [Gen 4:5], Samuel [1 Sam 15:11], Dawid en Jona [4:1]), maar besef uiteindelik dat hy nie die Here geken het in die proses nie (1 Kron 15:13 – ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie), soos hy telkens voorheen gedoen het.

Na 3 maande, wat die ark van God (wisselend ark van God en ark van die Here genoem in die gedeelte) by Obed-Edom (moontlik uit die Filistynse stad Gat, maar kan ook ‘n Leviet gewees het – 1 Kron 15:18) gestaan het, maar net vir hom voorspoed gebring het, bring Dawid die ark op die regte manier die Stad van Dawid, Jerusalem, in (1 Kron 15:11-15).

Dawid offer ‘n bul en vetgemaakte kalf (heel moontlik net aan die begin van die prosessie en nie elke 6 tree nie, volgens die meeste geleerdes), dans met groot vreugde, soos vrouens dit baie keer gedoen het wanneer oorwinnings gevier is.

Dit kan een van die redes wees vir Migal se misnoeë, dat hy saam met die vroue gedans het, hoewel uit die latere gesprek dit eerder blyk dat sy hooghartig en trots was, en so ‘n uitbundigheid as ‘n vernedering beskou het. Let op hoe Migal as Saul se dogter, eerder as die vrou van Dawid, beskryf word, waarmee haar veragting van Dawid geïnterpreteer word as ‘n aantasting van Dawid se koningskap. Haar kinderloosheid sorg dat Saul nie voortleef in die nageslag van Dawid nie.

Boodskap en betekenis

Hierdie gedeelte leer ons dat God se wil in alles die deurslag moet gee. Oor alles moet Hy geraadpleeg word. Dit is waar Dawid verkeerd gegaan het. En dit is waar die verandering gekom het. Toe hy die Here geraadpleeg het, het die Here hom voorspoedig laat wees in die werk om die ark weer in die sentrum van die geestelike lewe in Jerusalem te plaas.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…