MARKUS 5:21-43

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 5:21-43

Genesing van ‘n vrou en opwekking van ‘n dogter 

(Matt 9:18-26; Luk 8:40-56 ) 

21 Nadat Jesus weer met die boot na die oorkant gevaar het, het ‘n groot skare om Hom saamgedrom waar Hy langs die see was. 22 Een van die leiers van die sinagoge , met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer 23 en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” 24 Jesus het saam met hom vertrek. ‘n Groot skare het Hom gevolg en teen Hom gedruk. 25 Daar was ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26 Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. 27 En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, 28 want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” 29 Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is. 30 Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit Hom uitgegaan het. Hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bokleed geraak?” 31 Maar sy dissipels het vir Hom gesê: “U sien dat die skare van alle kante af teen U druk, en tog vra U, ‘Wie het aan My geraak?’” 32 Hy het om Hom bly rondkyk om die een te sien wat dit gedoen het. 33 Toe die vrou besef wat met haar gebeur het, het sy bewend van vrees voor Hom kom neerval en Hom die volle waarheid vertel. 34 Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.” 35 Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter het gesterf. Waarom val u die leermeester nog lastig?” 36 Jesus het egter in die verbygaan gehoor toe die berig oorgedra word, en sê toe vir die leier van die sinagoge: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” 37 En Hy het niemand toegelaat om met Hom saam te gaan nie, behalwe Petrus , Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. 38 Toe hulle by die leier van die sinagoge se huis kom, sien Hy ‘n geroesemoes, en mense wat huil en erg weeklaag. 39 Hy gaan toe in en vra vir hulle: “Waarom gaan julle so tekere en huil julle? Die kindjie het nie gesterf nie, maar slaap net.” 40 Hulle het Hom egter uitgelag. Maar nadat Hy almal uitgejaag het, het Hy die vader van die kindjie, haar moeder en dié wat by Hom was, saamgeneem en ingegaan na waar die kindjie was. 41 Hy neem toe die kindjie se hand en sê vir haar, “Talita koem!” wat, as dit vertaal word, beteken ‘Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!’ 42 Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop. Sy was twaalf jaar oud. Hulle was stom van verbasing. 43 Hy het hulle streng opdrag gegee dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat hulle vir haar iets te ete moes gee. (2020-vertaling).

Teks en konteks

5:21 Markus fokus op die groot skare wat by Jesus bymekaarkom ná Hy van die Geraseners terug is. Moontlik het hulle Hom ingewag op die strand naby die hawe van Kapernaum.

5:22-23 Markus teken Jaïrus as een van die sinagogehoofde. Hy was dus nie al leier van die geestelike gemeenskap nie. Hy val in ‘n gebaar van aanbidding voor Jesus neer en smeek Hom om sy hande op sy dogtertjie te kom lê dat sy gesond kan word en lewe. Daarmee illustreer hy sy geloof in Jesus.

5:24 Elkeen wat al ’n dodelike siek kind gehad het, sal weet wat hierdie situasie aan ’n ouer kan doen. Jesus reageer dus onmiddellik en gaan saam met Jaïrus terwyl die groot skare ook die pad vat na Jaïrus se huis.

5:25-27 Die vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing (menoragie) gely het, het deur die skare gebeur en sy bo-kleed aangeraak. Markus wy ‘n bietjie meer as Lukas uit oor haar uitmergelende lyding met dokters wat haar nie kon help nie. Sy het alles verloor in die proses. Dit het haar niks gebaat nie, en sy was eerder slegter daaraan toe. Haar toestand was wel nie direk lewensbedreigend nie, maar in terme van die chroniese permanente aard daarvan het dit enige lewensvreugde uit haar getap.

5:28 Markus verklaar ook vir ons die rede vir haar optrede. Sy het gedink as sy selfs net sy klere kan aanraak, sal sy gesond word. Daarmee illustreer sy haar geloof in Jesus. Let op dat sy nie van die soom van sy kleed praat nie.

5:29 Dit is dan ook presies wat gebeur het. Haar bloedvloeiing het opgedroog en sy het aan haar liggaam agtergekom dat sy genees was van die siekte.

5:30 Markus verklaar ook vir ons die rede vir Jesus se reaksie. Hy het “in Homself” geweet dat krag van Hom uitgegaan het. Dit is hoekom Hy in die skare omdraai en vra wie het sy klere aangeraak.

5:31-33 ‘n Mens kan duidelik die ooggetuie karakter van hierdie verhaal agterkom in die fokus op die dissipels wat verward rondkyk en dink Jesus speel seker as Hy sê iemand het Hom aangeraak. Daar was ‘n groot samedromming rondom hulle. Jesus het egter geweet wat gebeur het, maar voor Hy haar kon opspoor, het sy bang geword en bewend voor Hom neergeval en met die volle waarheid vorendag gekom.

5:34 Markus fokus in Jesus se gesprek met haar ook op haar geloof, maar anders as Lukas staan haar genesing vir hom in die eerste plek voorop. In die tweede plek praat hy egter ook van die vrede wat sy nou kan hê op haar verdere lewenspad. Hy voeg by dat dit nie net ‘n korttermyn oplossing sou wees nie: “Wees genees van hierdie siekte van jou.” Sy wou nie weer daaraan ly nie.

5:35 Markus vertel met meer detail as Lukas dat Jesus nog aan die praat was met die vrou toe daar “mense” van die sinagogehoof (se huis) aankom. Hulle het die nuus kom oordra dat sy dogter gesterf het en dat hy daarom nie die leermeester verder moet pla nie.

5:36 Interessant is dat Markus sê dat Jesus “toevallig gehoor het wat vertel word”. Die Griekse frase kan egter ook vertaal word dat Jesus “geïgnoreer (parakouō) het wat vertel word” of soos die NET Bible dit vertaal: “paying no attention to what was said”. Dit maak sy opdrag aan Jaïrus nog meer spesifiek dat hy nie moet steur aan wat ander sê aan die gang is nie, maar wat Jesus besig is om te doen: “Moenie vrees nie, glo net.”

5:37 Terstond sorg Jesus dat niemand meer met hulle saamloop nie, slegs die drie binnekring dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, die twee “seuns van die donder”. Soos Markus die verhaal vertel, waarskynlik om te keer dat daar nog mense met Jaïrus praat en sy geloof ondergrawe.

5:38-40 Jesus kom toe by die huis en sien die rumoer en mense, waarskynlik roubeklaers, wat baie huil en weeklaag, selfs binne die huis. Hy gaan toe in en betig hulle dat hulle ontsteld is en huil, want in sy oë het die kind nie gesterf nie, maar slaap sy net (vgl Joh 11:11-14). Toe hulle hom uitlag – ‘n teken van hulle ongeloof – het Hy almal uitgestuur en net die pa en ma en sy dissipels – waarskynlik die binnekring – in die kamer waar die kind was, toegelaat.

5:41 Jesus vat toe die kind se hand en sê vir haar in Aramees: “Talita koem!” Dit beteken “Dogtertjie, staan op!” Talita was ‘n aanspreekvorm van ‘n klein dogtertjie wat ook met iets soos “kleintjie” weergegee kan word.

5:42 Die dogtertjie het onmiddellik opgestaan en kon weer soos ‘n normale twaalfjarige rond(hard)loop. Almal was uitermate verbaas.

5:43 Jesus het hulle uit deernis met die dogtertjie egter streng opdrag gegee om haar nie in die publiek bloot te stel deur oral daarvan te vertel nie, en vir haar te sorg deur vir haar iets te gee om te eet.

Boodskap en betekenis

Die twee verhale leen hulle uitstekend om te praat oor hoe geloof prakties werk. Die tekste fokus op die rol van geloof in die genesing – beide die amper outomatiese geloof van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die amper sterwende geloof van Jaïrus, soos ons veral in die volgende perikoop sal raaksien.

Die sleutel tot genesing lê egter op ’n ander plek, in die verhouding met en afhanklikheid van Jesus self. Wanneer geloof op Hom gerig is, kom God se krag in werking.

Só nooi die twee verhale ons uit om te bly glo in die Een wat ons lewe in sy hande hou. Of ons lewe, genees word, uit ‘n ernstige siekbed opstaan en huis toe terugkeer, of nie. God is ons troos. In lewe en in sterwe.

Alan Cole (kommentaar op Markus) beskryf dit so:

“The one condition of God’s working is that we trust him: this is not an arbitrary demand, but a demand necessarily springing from the very nature of the relation between Godhead and humanity. We are called to trusting, dependent love and obedience, for this is the biblical meaning of faith, not merely intellectual assent. Such faith is the only fitting expression of our helplessness, and the only fitting acknowledgment of God’s power; and so it is an essential to salvation, though it is only the means of God’s working, and not the source. This is what distinguishes the miracles of Jesus from so-called ‘faith healings’ brought about by mechanical psychological means alone: this is also what distinguishes them from mere magic, with no moral or religious content.”

Hier is ‘n verhaal uit die lewe van Joni Eareckson Tada in gesprek met iemand wat haar van ‘n gebrek aan geloof beskuldig het. Dit help ons die ander kant van geloof – om God te vertrou selfs al word jy nie genees nie:

Joni Eareckson Tada

Die verhaal van Joni Eareckson Tada (Joni. The unforgettable story of a young woman’s struggle against quadriplegia & depression, wat ook die basis vir ’n rolprent oor haar lewe gevorm het) is vir baie van u bekend. Sy het op 18 jarige ouderdom in ’n duik-ongeluk ’n kwadrupleeg geword (1967), en uiteindelik na 2 jaar se ontwrigtende worsteling, haar gebrek te bowe gekom en ’n loopbaan van skilder en skryf gevolg, met baie groot sukses. Sy is ’n gewilde spreker wat haar geloof in Jesus op innemende manier verwoord en baie mense aangeraak het met haar boodskap van hoop.

Sy is onlangs deur ‘n volgende fase van toetsing, met borskanker, waarna sy die boek – A Place of Healing: Wrestling with the mysteries of suffering, pain and God’s Sovereignty – geskryf het. Sy vertel in dié nuwe boek van ’n jongman David wat haar een oggend na ’n diens bygedam het, vir haar gebid het, en toe verras was dat sy nie genees is nie. In die gesprek wat daarna gevolg het, het hy haar beskuldig dat sy sonde in haar lewe moes hê, anders sou sy gesond geword het. Joni het op haar kenmerkende innemende manier geantwoord, nee, dit is nie die geval nie.

Hy het egter volhard en toe vir haar van ongeloof beskuldig. Sy het geantwoord: dit kan wees, maar dan het dit met jou geloof te make en uit Lukas 5 aangehaal waar Jesus die verlamde man genees toe hy die geloof van sy vriende sien (vers 20)!

Inderdaad! Soos sy self sê: “The focus is always on Jesus Christ and His will for those who suffer. To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: