ESEGIËL 37:1-14

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

ESEGIËL 37:1-14

Visioen van doodsbeendere

1 Die hand van die Here was op my. Hy het my deur die Gees van die Here uitgelei en my neergesit in die laagte – dit was vol beendere. 2 Hy het my keer op keer daar rondom laat loop; en kyk, daar het geweldig baie versprei oor die laagte gelê, en hulle was heeltemal verdroog!

3 Hy vra toe vir my: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Ek het geantwoord: “My Heer, Here, net U weet dit.” 4 Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here. 5 So sê my Heer, die Here vir hierdie beendere: “Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. 6 Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”’”

7 Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was ‘n geluid net toe ek profeteer – ‘n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. 8 Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie.

9 Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.”

10 Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Die wind het in hulle ingegaan en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan – ‘n buitengewone groot leër!

11 Hy sê toe vir my: “Mensekind, hierdie beendere, hulle is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê, ‘Ons beendere is verdroog, ons hoop is verlore, ons is afgesny.’

12 Daarom, profeteer en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek maak julle grafte oop, en Ek sal julle uit julle grafte laat opkom, my volk! Ek sal julle terugbring na die grond van Israel. 13 Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, my volk. 14 Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen.” Dit is die uitspraak van die Here. (Die Bybel 2020-vertaling).

Teks en konteks

Op soortgelyke wyse as wat Esegiël aan die begin van sy bediening na ‘n laagte geneem is – Esegiël 3:22 – neem die mag van die Here weer van Esegiël besit, waarskynlik so 10 jaar ná die eerste gebeure, en bring hom deur die Gees van die Here uit en sit hom neer in ‘n laagte. Dit is waarskynlik dieselfde plek, omdat dieselfde Hebreeuse woord gebruik word.

Waar met die eerste besoek aan die plek die Here vir Esegiël ‘n gesig van Homself in sy heerlikheid gegee het wat hom op die grond laat neerval het, gee die Here hier vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle.

Waar Esegiël die eerste keer nie enigiets mag gesê het vir die “weerbarstige” volk nie, word hy dié keer ‘n opdrag gegee om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat in opdrag van die Here om op tree (Eseg 37:1-14).

Onthou dat die Here tot op hierdie punt vir Esegiël ‘n klomp visioene gegee het – hoofstuk 1-36. Maar, die meeste van die tyd was dit visioene van oordeel. Nou is dit die tyd vir visioene van hoop en verlossing.

Let op hoe beide die woord van God sowel as die Gees van God die lewe bring.  Die profetiese “prediking” skep die verwagting en bereidheid om te luister.  Die profetiese “gebed” – by gebrek aan ‘n beter woord om die gesprek met die Gees te benoem – laat mense in beweging kom as direkte resultaat van die Gees wat lewe bring.  Só bewerk die praat met mense en die praat met God die hernuwing wat nodig is. 

Albei is nodig, maar die praat met mense kan nie slaag sonder die praat met God nie.  Soos John Taylor sê: “What preaching by itself failed to achieve, prayer made a reality.” (Ezekiel).

Die belofte van God is dus dat die volk uit die doodsbestaan in die vreemde – die duisternis dooie bene dui op die volk en die grafte op die ballingskap – verlos sal word en na hulle eie land teruggebring sal word.  “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.”

Boodskap en betekenis

Die evangelie van Johannes gebruik waarskynlik perspektiewe uit hierdie gedeelte op ten minste twee plekke.  In Jesus se gesprek met Nikodemus is Jesus verbaas dat hy nie verstaan dat ‘n mens van bo-af gebore moet word nie – hfst. 3.  En in Joh. 5:25 verwys Jesus op soortgelyke wyse na die lewe wat Hy bring vir dooies: “Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe.” Dit is inderdaad iets wat Jesus ook fisies geïllustreer het met die opstanding van Lasarus en natuurlik uiteindelik van Homself.

Geen wonder dat hierdie gelykenis van volksherstel in die tyd van Esegiël uiteindelik ‘n gelykenis en belofte van geestelike geboorte en ook herstel in die tyd van die kerk geword het nie.

As jy alles opgemors het, of moedeloos geraak het met jouself, is dit wonderlik om hierdie boodskap te hoor. Hoekom? Want Esegiël paai ‘n mens nie met goedkoop troos nie.  Esegiël is trouens vlymskerp in sy eerlike analise oor wat verkeerd is.  Hy praat kaalkop God se waarheid.  Dit help immers nie om ander te blameer vir foute in jou eie lewe nie.  Jy moet self begin om die Here te dien. 

Dít is daarom egter ook ware troos.  Dán hoor ‘n mens sy boodskap van hoop as iets wat ook jou en jou mense sal insluit, al is jy in totaal ander omstandighede as die ballinge van die 6de eeu v.C.:

“‘Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe … Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,’ sê die Here.” (Eseg 37:14). 

Die wonder is dat hierdie profesie van Esegiël in vervulling gegaan hét met die terugkeer van die ballinge in 538 v.C. soos ons verlede week in Daniël 9 gelees het, en soos die boeke van Esra en Nehemia dit vir ons vertel. 

Die terugkoms en vestiging in Juda is ‘n konkrete bewys dat God sy beloftes van vernuwing. As God dit vir hulle gedoen het, kan Hy dit altyd weer doen.

Dit beteken daarom dat ons met ‘n nog groter vrymoedigheid in ons eie situasie op hierdie God kan staatmaak wat belowe: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.” (Eseg 37:4,14).

God het dit op ‘n spesifieke manier in die verlede bewaarheid.  Hy kan dit ook in die hede in nuwe situasies laat gebeur.  Esegiël teken dus vir ons ‘n prentjie van ‘n aktiewe God wat op soewereine manier intree in hopelose situasies en deur sy Woord en Gees verandering bring. Ons kan daarop vertrou en daarvoor bid, totdat ons ook ervaar wat Israel ervaar het: “’Ek het dit (immers) gesê en Ek sal dit doen,’ sê die Here.” (37:14).

Mag ons deur hierdie gedeelte in Esegiël geïnspireer word om só naby die Here te lewe, om só met Hom in gesprek te tree, dat ons inderdaad sal groei in ons onderskeiding van dié dinge wat God besig is om te doen, sodat ons ook die seën van God se teenwoordigheid kan ervaar.  Dan sal ons woorde aan mense die oortuigingskrag hê wat van die Gees self af kom.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Baie dankie ds Chris vir die duidelikheid oor hierdie gedeelte van die beendere. Ek het dit al dikwels gelees, en dit as letterlik opgeneem, en altyd gewonder waar die leër heen is na die asem in hulle geblaas is. Nou verstaan ek dit soveel beter en reg.
    Daardie lied wat ons sing “breek Die Woord vir my” kry elke keer net weer en weer betekenis vir my. Ek voel soos die man op die wat lees, maar nie altyd die uitleg verstaan nie. Baie dankie vir Die Bybelskool.

    • Ja, ek self leer ook steeds. In my voorbereiding vir die preek hieroor Sondag, het daar vanoggend nog dieper dinge oopgegaan. Oor Jesus se voortbou op Esegiël se visioen in Johannes 5. En die belang van getuienis en gebed. En hoe ons getuienis gebruik. Elke getuienis moet eintlik van ‘n gebed vergesel word, want die gebed maak die getuienis effektief, en die gebed het weer die getuienis nodig om tot sy volle werking te kom. Ag, dis heerlik om so algaande die Here net dieper en dieper te verstaan.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: