Skip to main content

JOB 42:1-6, 10-17

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOB 42:1-6, 10-17

JOB SE ANTWOORD AAN DIE HERE

421Job het die Here geantwoord; hy het gesê:

2“Ek weet dat U alles kan vermag,

dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

3Wie is die een wat ‘n plan verberg,

terwyl hy geen kennis het nie?

Daarom het ek, sonder begrip,

ja, sonder kennis, my mening gegee

oor dinge wat vir my te wonderbaar is.

4Luister, en ek sal praat!

U het gesê,

‘Ek sal jou ondervra,

lig jy My dan in!’

5Op hoorsê het ek van U verneem,

maar nou het my oog U gesien.

6Daarom herroep ek dit,

en het ek berou –

in stof en as.”

NASKRIF

7Nadat die Here hierdie woorde vir Job gesê het, het die Here vir Elifas uit Teman gesê: “My toorn het ontbrand teen jou en jou twee vriende; want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie. 8Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, gaan na my dienskneg Job, en bring ter wille van julleself ‘n •brandoffer. My dienskneg Job moet vir julle bid, dat Ek julle nie iets onbehoorliks aandoen nie. Ek sal net teenoor hóm goedgesind wees, want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie.” 9Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, het toe gegaan en gedoen wat die Here vir hulle gesê het, en die Here was Job goedgesind.

10Die Here het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het. Die Here het alles wat Job besit het, vermeerder – dubbeld soveel. 11Al sy broers en susters en al sy vorige kennisse het na hom gekom en saam met hom in sy huis brood geëet. Hulle het met hom meegevoel betuig en hom getroos oor al die onheil wat die Here oor hom laat kom het. Elkeen van hulle het vir hom een kesita en een goue ring gegee.

12Die Here het die einde van Job meer geseën as sy begin. Hy het veertienduisend stuks kleinvee, sesduisend kamele, ‘n duisend pare beeste en ‘n duisend donkiemerries besit. 13Hy het ook sewe seuns en drie dogters gehad. 14Job het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Happoeg. 15In die hele land kon daar nie vroue so mooi soos Job se dogters gevind word nie. Hulle vader het aan hulle ‘n erfdeel saam met hulle broers gegee.

16Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank geleef. Hy het sy kinders en sy kinders se nageslag gesien – vier geslagte. 17Job het gesterf, oud en versadig van lewensdae.

Teks en konteks

Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie – Job 42:1-6

Job reageer op die beskrywing van God se mag op land en see met ‘n diep bewondering vir die feit dat die Here: “tot alles in staat is”, en dat Hy kan uitvoer wat Hy besluit.  God se mag is nie beperk deur enigiets nie behalwe sy eie soewereine besluit.

Job besef daarom dat hy regdeur sy gesprekke met sy drie vriende oor dinge gepraat het wat hy nie regtig begryp het nie, en daarmee God se bedoelinge verduister het met sy lewe.  Sy lewe was ‘n vertoonvenster aan beide die hemel (Satan) en die aarde (sy vrou en vriende) van God se bedoelinge, en hoewel hy aan sy vroomheid vasgehou het, en volhard het ten spyte van alles, het hy nie genoegsaam God as sodanig aan die orde laat kom in sy lewe nie, en bygedra daartoe dat God se bedoelinge deur sy eie besware bevraagteken is.

Daarom bring hierdie eerstehandse ervaring van God se mag, maar ook sy moeite om met Job in gesprek te tree, vir Job tot inkeer, want, “nou het ek U self gesien.” (42:5). 

Hy sit dus op die ashoop, nie meer van sy verlies nie, maar die ashoop van sy berou, sy erkenning dat hy in alles van God afhanklik is, en dat die enigste doel van sy lewe is om God se bedoelinge met hom te openbaar.

Die Here verander die omstandighede van Job – Job 42:7-17

Hierdie laaste hoofstuk vorm eintlik die sesde en sewende toneel van die prosa vertelling wat reeds in hoofstuk 1-2 aan die orde gestel is.  Dáár was vyf tonele wat  afwisselend uit Job en God se perspektief geskryf is.  Hier kom dié twee wêrelde bymekaar en praat God direk met Job se drie vriende – nogal ‘n bonus vir hulle! – en verander hulle almal se lot.  God gebruik nie net vir Job om versoening vir sy drie vriende te doen nie (42:7-9), maar verander ook sy situasie heeltemal (42:10-17).

My dienaar Job sal vir julle bid – Job 42:7-9

Let op hoe God uiteindelik vir Job tog in die gelyk stel teenoor sy vriende en Job as God se dienaar beskrywe.  Die Here is kwaad vir Elifas en sy twee vriende – Elihu word nie genoem nie – en beveel hulle om Job as priester te gebruik om deur offers in die reine te kom met God, en sy vergifnis te ontvang.  Twee maal word gesê dat hulle nie die waarheid oor God gepraat het nie, maar Job wel.

Hulle doen wat die Here vra en word vergewe ná Job vir hulle gebid het.

Die Here verander die omstandighede van Job – Job 42:10-17

Die Here verander Job se omstandighede en gee vir hom twee keer soveel as wat hy gehad het, en onthou, Job was verstommend ryk om mee te begin – veertien duisend stuk kleinvee in plaas van sewe duisend, ses duisend kamele in plaas van drie duisend ensomeer!

Sy materiële voorspoed word geëggo in die herstel van sy familie en sosiale verhoudinge: “al sy broers en susters en vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet.  Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het.” (42:11).  Hy het ook duur geskenke van hulle gekry.

Job se vrou se lot word natuurlik ook verander, omdat dié nuwe stel van tien kinders waarskynlik by haar was.  Hy het immers geen ander vrou of byvrou gehad nie.  Dus, hoewel haar naam nie genoem word nie, deel sy in die lotsverandering.  Hulle einde was selfs beter as hulle begin.

Job was reeds aanvanklik baie ryk en ook invloedryk: “Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man”! (Job 1:3).  Ná sy lyding het dié rykdom en invloed egter nog verder toegeneem: “Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste.” (Job 42:12). 

Veral sy drie dogters wat ná sy worsteling gebore is, was merkwaardig.  Nie net word hulle name genoem nie: Jemima (= duif), Kesia (= Kassia – die bas waarvan ons kaneel kry), Keren-Puk (= oogskadu of maskara) – die seuns se name word verswyg! – en was hulle besonder mooi nie, maar hulle het ook saam met hulle broers geërf, soos die geval later ook was met die dogters van Selofgad, as gevolg waarvan dié reëling in die wet ingeskryf is (Num. 27; 36).

Boodskap en betekenis

Hierdie lotsverandering van Job is dus ook waarskynlik die rede waarom Jakobus – een van die skeptiese broers van Jesus wat tot inkeer kom – in die NT vir Job aanhaal as ‘n voorbeeld van volharding.   Ons lees in Jakobus 5 hoe hy die gelowiges aanspoor om die Here se koms te bly verwag, om nie moeg te word en nie moed te verloor nie, ook nie oor mekaar te kla nie, en te volhard totdat die Here die uitkoms stuur aan die hand van die voorbeeld van Job. 

Job word dus as voorbeeld van volharding vir hulle voorgehou, veral met die oog daarop dat sy verhaal wys waarop die Here dit laat uitloop het, naamlik, dat die Here gewys het dat Hy ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

Jakobus se verwysing na Job as die een wat volhard, wys vir ons daarom ook nie net iets van Job nie, maar van die karakter van God self.  Geseënd is dié, sê Jakobus, wat ten spyte van hulle pyn en lyding, ten spyte van die onreg wat hulle moet verduur, steeds geduldig volhard in hulle verwagting van die koms van die Here. Want hulle sal, soos Job, ervaar dat die Here ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

Job het nog honderd en veertig jaar gelewe.  Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien.” (42:16).  Hy was dus ‘n groot-groot-groot-grootoupa voor sy oë toegemaak is!  Geen wonder die boek sluit af met die opsomming:

Hy het ‘n vol lewe gehad.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar