Skip to main content

2 SAMUEL 23:1-7

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 SAMUEL 23:1-7

DAWID SE LAASTE WOORDE

1Dit is die laaste woorde van Dawid:

“Die uitspraak van Dawid,

seun van Isai,

die uitspraak van die man

wat hoog geplaas is,

die gesalfde van die God

van Jakob,

die geliefde van die liedere

van Israel.

2Die Gees van die Here spreek deur my,

sy woord is op my tong.

3“Die God van Israel het met my gepraat,

die Rots van Israel het gesê,

‘Hy wat regverdig heers onder mense,

hy wat in die vrees

van die Here heers,

4is soos die môrelig teen sonop

op ‘n wolklose oggend;

deur die helderheid

wat die reën bring,

spruit groen gras uit die aarde.’

5“Ja, is dit nie soos my huis

by God is nie?

Want Hy het ‘n ewige verbond

met my gevestig,

in alle opsigte georden

en beskerm.

Ja, al my heil en alle wense,

sal Hy dit dan nie laat uitspruit nie?

6“Maar skurke –

soos dorings word hulle almal

uitmekaar gewaai;

want mens vat nie met die hand

daaraan nie.

7Wie aan hulle raak,

het in sy hand ‘n yster,

of die steel van ‘n vegspies;

en hulle word net daar

heeltemal verbrand.” (2020-vertaling)

Teks en konteks

Hoofstuk 22 kom amper woordeliks ooreen met Psalm 18, op ‘n paar uitsonderings na. Dawid besing daar die wonder van God wat in die moeilikste situasies denkbaar uitkoms gegee het.

Na hierdie Psalm word die laaste woorde van Dawid weergegee in hoofstuk 23, net soos dit met Moses die geval was (Deut 32-33).  Waar die Psalm in hoofstuk 22 veral op die verlede gekonsentreer het, is hierdie laaste woorde veral gemik op die vestiging van sy koningskap vir altyd, dws die toekoms.

Let op hoe Dawid klem lê op die status wat God aan hom verleen het, dat hy die gesalfde van God is, en daarom die geliefde van die liedere van Israel. Sy status onder die volk het van God self af gekom.

Dawid erken ook die deurlopende begeleiding van die Gees van die Here. Die dinge wat hy gesê en geskryf het, het van God self af gekom. Dit was die Gees se woorde op sy tong.

Die inhoud van daardie spreke wentel hier om God se regverdigheid wat Hy deur Dawid in Israel wou vestig. Waar die koning God se regverdigheid gehandhaaf het, was hy soos die môrelig teen sonop op ‘n wolklose oggend; of soos die helderheid wat die reën bring, en groen gras uit die aarde laat spruit.

Dit bring Dawid by die wonder van die ewige verbond wat God met hom gevestig het en waarvoor die Here hom ook beskerm het. Hy het die skurke almal soos dorings uitmekaar gewaai heeltemal verbrand.

Boodskap en betekenis

Dit is baie belangriker wat God van jou dink as wat mense van jou dink. Selfs waar mense jou lof besing, gaan dit ten diepste oor wat God oor jou sê en dink.

Let op hoe koning Dawid hier ook as profeet geteken word. Omdat hy ook priesterlike funksies van tyd tot tyd verrig het, sien ‘n mens iets in hom van die drie-voudige amp van Christus: koning, priester en profeet.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.