Skip to main content

SPREUKE 22:1-2, 8-9, 22-23

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

SPREUKE 22:1-2, 8-9, 22-23

1‘n Goeie naam is verkieslik

bo groot rykdom,

egte innemendheid

bo silwer en goud.

2Rykes en armes het dít gemeen:

Die Here het hulle almal gemaak.

3‘n Slim mens sien gevaar en skuil,

maar onverstandiges gaan voort

en betaal die prys.

4Die beloning vir nederigheid

en ontsag vir die Here

is rykdom, eer en lewe.

5Dorings en wippe is op die pad

van ‘n vals persoon;

wie sy lewe wil beskerm,

bly ver daarvan weg.

6Rig die jongmens af

ooreenkomstig die pad

wat hy moet loop;

selfs wanneer hy oud geword het,

sal hy nie daarvan afwyk nie.

7‘n Ryke heers oor armes,

en wie leen, is ‘n slaaf van die man

wat uitleen.

8Wie onreg saai, sal boosheid oes,

en die lat van sy woedebui

sal tot niet gaan.

9Wie ruimhartig is,

sal geseën word,

want hy gee van sy brood

aan die hulpelose.

10Dryf ‘n spotter weg,

dan is stryd by die deur uit,

en eise en skandalige optrede hou op.

11Wie ‘n rein hart liefhet,

wie innemend praat,

sal ‘n koning as sy vriend hê.

12Die oë van die Here

bewaak kennis,

en die sake van ‘n bedrieër

werp Hy omver.

13Die luiaard sê:

“Daar is ‘n leeu buite!

Binne-in die dorpspleine

sal ek doodgemaak word!”

14Die mond van vreemde vroue

is ‘n diep vangkuil;

wie deur die Here verdoem is,

sal daarin val.

15Sotheid wat vas is aan die hart

van ‘n jong seun –

‘n lat wat straf,

neem dit ver van hom weg.

16Wie ‘n arm mens uitbuit

om vir homself meer te kry,

en aan ‘n ryk mens geskenke gee –

dit lei net tot gebrek.

DERTIG SPREUKE VAN WYSES

17Spits jou oor en luister

na die woorde van wyses!

En jou hart, stel dit in op my kennis!

18Want dit is aangenaam

as jy dit in jou binneste bewaar,

as dit alles gereed lê op jou lippe.

19Met die oog daarop

dat jou vertroue

op die Here sal wees,

maak ek dit vandag

aan jou bekend, ja, aan jou.

20Het ek nie vir jou dertig spreuke

opgeskryf met raad en kennis

21om aan jou die waarheid,

betroubare woorde,

bekend te maak,

sodat jy betroubare antwoorde

kan gee aan dié

wat jou gestuur het nie?

22Moenie ‘n arme beroof

omdat hy arm is nie,

en moenie die magtelose vertrap

in die poort nie,

23want die Here

sal hulle regstryd voer

en van hulle plunderaars

die lewe plunder.

24Moenie vriende maak

met ‘n humeurige mens nie,

en met ‘n opvlieënde man

moet jy nie saamgaan nie;

25anders raak jy vertroud

met sy paaie

en stel jy só ‘n valstrik vir jouself.

26Moenie onder dié wees

wat hand gee,

wat vir skulde borg staan nie.

27As jy dalk niks het om te betaal nie,

waarom moet iemand jou bed

onder jou uit neem?

28Moenie ou grense verskuif

wat jou voorouers gelê het nie.

29Sien jy ‘n man wat knap is

in sy werk?

Voor konings sal hy in diens staan;

hy sal nie in diens

van onaansienlikes staan nie. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Die eerste deel van hoofstuk 22 is deel van die eerste bundel van Salomo se eie spreuke (Spr 10:1-22:16). Die spreuke is veral sinteses. Sinteses is verbindings of samevoegings van afsonderlike elemente tot ‘n nuwe geheel. Byvoorbeeld in Spreuke 15:30 kry jy die stelling: “Stralende oë bring blydskap”. En dan volg die tweede deel, die ooreenstemmende bevestigende stelling: “Goeie tyding verkwik ’n mens.”

Vanaf Spreuke 22:17 is ‘n volgende deel van Spreuke. Dit staan bekend as die 2 bundels van die gesegdes van die wyses (Spr 22:17-24:22; 24:23-34).

  • Die eerste bundel het ‘n inleiding (Spr 22:17-19) en dan 30 spreuke van wisselende lengte, afhangende van hoe jy die spreuke indeel.
  • Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding (Spr 24:23) en bevat 5 spreuke.

Ter wille van volledigheid bespreek ek die hele hoofstuk. Jy kan egter fokus net op die fokusteks.

Spreuke 22:1

 ’n Goeie naam of reputasie is meer werd as groot rykdom. Ander se goedgesindheid is meer werd as silwer en goud.

Spreuke 22:2-4

Vers 2 stel die fundamentele beginsel van die gelykheid voor God van alle mense, ryk en arm. Almal het dié status in gemeen. Dat God hulle gemaak het. Interessant is dat Spreuke in die eerste frase sê: “rykes en armes ontmoet mekaar” wat beide beteken “rykes en armes het dít in gemeen” (dat die Here hulle gemaak het), en dat hulle gelykheid voor God die basis is waarop hulle in gemeenskap met mekaar kan tree. ‘n Mens kan nie die betekenis van hierdie beginsel oorskat nie!

Hierdie beginsel van gelykheid voor God word regdeur die Bybel gehandhaaf. Job verklaar sy status voor God as gelyk met sy slaaf – God het hulle albei gemaak – wat beteken dat Job sy slaaf – en trouens, armes, weduwees, wese, en alle behoeftiges, soos hy dit uitspel – met dieselfde respek hanteer as wat hyself op geregtig is (Job 31:13-22). Job verklaar dit ook in terme van politieke en sosiale status dat God nie vorste of vernames voortrek bó armes nie, want Hy het almal gemaak (Job 34:19).

Spreuke verklaar ook dat hy wat hom oor die behoeftige ontferm, God eer (Spr 14:31). Jesus kan daarom verklaar dat God vir almal sorg, die goeies en die slegtes (Matt 5:45). Dit is waarom Spreuke ook kan sê dat ons niemand mag beledig nie (Spr 17:5), en Jakobus dit kan eggo in die NT dat ons almal gelyk moet hanteer (Jak 2:2-4). Maar, dié gelykheid voor God beteken nie dat Spreuke nie ook bewus is van die harde werklikheid van die relatiewe ongelykheid in die samelewing nie (Spr 22:7).

Vers 3. Een van die redes vir die ongelykheid in die samelewing is dat verstandiges onheil kan vermy, omdat hulle dit beter raaksien as onervarenes.

Vers 4. Die belangrikste rede is egter dat rykdom ‘n geskenk is van God aan die nederiges wat in ontsag vir Hom lewe. Hy deel rykdom, eer en lewe uit. Ons sal goed doen om in alles vir Hom te eer en ons naaste soos onsself.

Spreuke 22:5-6

Vers 5. ’n Vals persoon – pervers, moreel krom en skeef, oneerlik, onopreg, skynheilig – se pad is besaai met uitdagings. Dit is vol dorings en wippe (vangnette). As jy jou lewe wil beskerm, moet jy wegbly van valsheid. Vers 6. Rig ’n jongmens af in die weë van die Here – “die pad wat hy moet loop” beteken die pad van die regverdige – en dit sal gewoontes skep wat tot in sy oudag sal hou.

Spreuke 22:7

Die harde ekonomiese werklikheid is dat rykdom mag gee oor armes. Dieselfde geld ‘n lening. Die lener is die slaaf van die een van wie hy leen. Dit is aan die een kant ’n waarskuwing. Moenie lui wees nie. Moenie leen nie. Dit is aan die ander kant ’n aanmoediging. Verlig armoede. Red mense wat vasgevang is in ’n situasie van uitbuiting. Ons almal is immers gelyk voor die Here (Spr 22:2).

Spreuke 22:8-9

Vers 8. Die woord koning kom nie in die Hebreeuse teks voor nie. Ek sal dus eerder nie die 1983-vertaling hier gebruik nie. Hier is ’n meer letterlike vertaling na aanleiding van die 1933/53-vertaling: “Wie onreg saai, sal onheil maai; en die stok van sy woede sal misluk.” Die “stok van sy woede” dui op die straf wat hy uitdeel. Dit sal tot niks kom nie. Vers 9. Wie arm mense met ’n “goeie oog” bejeën – dws mededeelsaam is deur hulle kos te gee – word geseën.

Spreuke 22:10-12

Vers 10. Harmonie word herstel wanneer respekloses – ligsinnige spotters – in die pad gesteek word. Dit bring die getwis en beledigings tot ’n end. Vers 11. Hy wat reinheid van hart liefhet en sorg dat sy woorde vriendelik is – die koning is sy vriend. Die punt is, selfs konings hou van opregte aangename mense. Skynheiligheid is vir hulle ’n bedreiging. Vers 12. Die Here hou sy oë oor die behoud van kennis, en dwarsboom die woorde van verraaiers. Dit wil sê, God sorg self vir die behoud van die wysheid, wanneer onbetroubare mense dit bedreig. Dit is ‘n groot belofte om aan vas te klou!

Spreuke 22:13

Lui mense waag nie en gebruik absurde verskonings om hulleself te verskoon – daar is ’n leeu daarbuite; hy sal my in die middel van die straat doodmaak (vgl Spr 26:13-16). 

Spreuke 22:14

Owerspel is ‘n straf van die Here vir diegene wat Hom nie dien nie. Dit klink nogal vreemd, en veral die gebruik van die woord vervloek, val vreemd op. Maar, dit is presies wat Paulus in Romeine 1:18-32 skryf dat God mense, wat Hom nie eer nie, oorgee aan seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes en korrupte gedagtes en gedrag. Soos Tom Wright sê, wanneer jy die Here nie die sentrum van jou lewe maak nie, is dit die tipe dinge wat met jou sal gebeur.

Spreuke 22:15

Dwase giere kom diep uit die hart van ’n kind. Dit is waarom die dissipline van die roede – ’n stok wat gebruik is as wandelstaf (bevestiging), herderstaf (begeleiding) sowel as om mee te straf (tugtiging) – so noodsaaklik is vir jongmense. “Knocking the nonsense out!” (Kidner). Anders neem dwaasheid só ’n kind se lewe oor en kan jy dit later op geen manier bedwing nie (Spr 26:1-12).

Spreuke 22:16

Selfverryking ten koste van armes, en selfverarming ten bate van rykes, is ewe dwaas.

Daarmee kom ons aan die einde van die eerste bundel van Salomo se eerste 375 gesegdes. Hierna  vervolg die 30 spreuke van die eerste bundel van die gesegdes van die wyses.

Spreuke 22:17-19

Let op die persoonlike gesprekstyl waarin die spreuke aangebied word – “wat ek jou wil leer”. Op dieselfde wyse as wat die seun deur sy pa in Spreuke 1-9 onderrig is om:

  1. na sy pa, en sy ma te luister om die regte pad te kies, en
  2. veral Vrou Wysheid aan hom voorgehou is in die as die stem van die Here self (Spr 9),
  3. só word die woorde van die wyses aan die seun voorgehou as ‘n stem om na te luister.

Die luister na wysheid is nie net voordelig nie, maar doodgewoon lekker.

Spreuke 22:20-21

Spreuk 1 – Spits jou ore vir die woorde van wyses.

Dit is noodsaaklik om jou ore vir wysheid te spits, want dit is help jou om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap. Dit is ook die primêre manier waarop ‘n mens leer om op die Here te vertrou. Dit is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid. Die bevestiging van die wysheid lê in die vrug wat dit oplewer.

Spreuke 22:22-23

Spreuk 2 – Tree met deernis op teenoor arm en hulpelose mense.

Deernis met arm en hulpelose mense is ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan. God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses.

Spreuke 22:24-25

Spreuk 3 – Wees baie versigtig vir opvlieënde mense.

Die probleem van opvlieënde mense is dat jy baie maklik soos hulle kan word. Daarom moet jy baie versigtig wees om vriende met só iemand te wees. Dit kan jou in lewensgevaar laat beland. Soos Spreuke 22:19 gesê het, dit is selfs ‘n probleem om só iemand met sy woede te help, omdat dit baie gou ‘n konstante verantwoordelikheid word.

Spreuke 22:26-27

Spreuk 4 – Moenie borg staan vir ‘n ander se skuld nie.

Dié spreuk kom in verskillende vorms regdeur die boek Spreuke voor (vgl Spr 6:1-5; 11:15; 17:18; 20:16). Dit het veral met die borgstaan vir vreemdes te make. Die punt is dat ’n mens versigtig moet wees aan wie jy jou verbind, veral uit die hoek van die mag wat ander dan oor jou kan hê. Dit geld uiteraard nie wanneer ’n mens iemand anders iets kwytskeld of as ’n geskenk gee nie. Dit het die pa reeds in sy vierde lewensles vir sy seun geleer, dat hy nie ’n weldaad moet weerhou van iemand wat dit toekom nie (vgl Spr 3:27-28).

Spreuke 22:28

Spreuk 5 – Moenie antieke grense verlê nie.

Die boek Genesis werk met die kernwaarheid dat God ons gemaak het om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. God se bedoeling met die aarde was en is dat almal ‘n plek daarop vind, ‘n habitat, ‘n tuiste. Dit geld mense, diere en plante.

Dit sien ons reeds in die feit dat die Bybel diere en plante nie klassifiseer volgens hulle anatomie en morfologie nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly (Gen 1-2), die voëls in die lug, die visse in die see. Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef.

God se bedoeling met die mens was, en is nou hieraan verwant. God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig (Gen 1:26), om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (Gen 2:15). Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën. Dit beteken ook dat bewoon, bewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.

Dit is waarom ’n mens nie antieke grense moet verlê nie, want jy ontneem mense hulle verbintenis aan die grond, aan die plek waar hulle ’n ruimte het om tot hulle reg te kom, om God se opdrag na te kom, om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar (vgl Lev 25:23).

Die volk is byvoorbeeld met die Intog in Kanaän gewaarsku dat hulle nie in die beloofde land hulle bure moes mislei deur grenspale te verskuif om vir hulleself meer grond te gee nie (vgl Deut 19:14; 27:17; Jes 5:8; vgl ook Spr 23:10-11).

Netso mag ‘n mens nie sommer so van jou geboortegrond afstand gedoen het nie. ’n Mens hoor daarom in hierdie spreuk ook die wysheid wat agter die baie belangrike verhaal van Nabot se wingerd sit, waar koning Agab hom van sy grond wou vervreem, en so grense wou verlê wat al lankal daar is nie (vgl 1 Konings 21).

Hierdie spreuk in Spreuke 22:28 is ’n belangrike teks om oor na te dink in ons land.

Spreuke 22:29

Spreuk 6 – Verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed.

Hoe mooi sê die wyse nie: “Jy sien self …”. Dit is tog ‘n algemene waarheid dat vaardige mense se invloedsfeer groei. Hulle kom in die diens van konings en mense van aansien. Daarom is die onuitgesproke aanbeveling van dié vers: verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed (vgl Spr 27:18).

Boodskap en betekenis

Jy sal genoeg stof hierbo hê om lank oor na te dink!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar